Danny Jordaan, burgemeester

  • 0

Danny Jordaan (foto: YouTube)

Die oorlogvoering in volgende jaar se plaaslike verkiesings in die Nelson Mandela Metropool tussen Danny Jordaan en Athol Trollip gaan ’n smerige stryd wees tussen die ANC en DA oor die bruin mense se stem.

Die ANC se aanstelling van Jordaan, president van die Suid-Afrikaanse Sokkervereniging (Safa), as burgemeester is ’n slim strategies-politieke besluit om veral bruines se stemme te kry. Dié party voer ook aan dat Jordaan se verkiesing dienslewering ’n hupstoot kan gee en is boonop ook daarop gemik om ’n einde te bring aan die politieke binnegevegte in die ANC se Nelson Mandela-streek.

Wel, of dit gaan gebeur, sal ons moet sien.

Die metro bestaan uit Port Elizabeth, Uitenhage, Despatch en Colchester. Dit verteenwoordig die hartklop van die Oos-Kaapse ekonomie.

As die ANC dié metro in volgende jaar se plaaslike verkiesings verloor, kan dit die party op ’n provinsiale sowel as ’n nasionale vlak erg benadeel, veral omdat die Oos-Kaap nog steeds as die ANC se hartland beskou word. Amper al die ANC se ikone, soos Nelson Mandela, Govan Mbeki, Oliver Tambo en Walter Sisulu, is Oos-Kapenaars.

Die ANC gaan dus alles in die stryd werp om die metro ANC te hou. Op die keper beskou lyk die bekende Jordaan (63) na die regte man wat die ANC deur die “Jordaanrivier” kan lei. Hy is ’n Baaienaar en het ‘n rol gespeel in die bring van die 2010-Wêreldsokkerbekertoernooi na Suid-Afrika.

Jordaan is ’n oud-UDF-aktivis, ’n voormalige onderwyser, en was dosent aan die eertydse Dower Onderwyskollege in die Baai. Na die 1994-verkiesing was hy ’n ANC-parlementslid voordat hy ’n voltydse sokkeradministrateur geword het.

Die Jordaan-familie het ’n lang geskiedenis van gemeenskapsdiens in die Baai se noordelike gebiede en het in die voorste linies teen apartheid geveg.

Jordaan is ’n harde werker wat vir homself as sokkeradministrateur ’n goeie reputasie opgebou het. Hy is ’n internasionale handelsmerk vir Suid-Afrika uit eie reg en word wyd deur alle Suid-Afrikaners gerespekteer. Sy vrou, Roxanne Jordaan, is ’n voormalige speaker van dié metro.

Of Fifa se omkoopskandaal, waarin beweer word dat Suid-Afrika R123 miljoen se omkoopgeld betaal het om die 2010-Wêreldsokkerbekertoernooi aan te bied, Jordaan se kanse gaan kelder om volgende jaar se plaaslike verkiesings vir die ANC in die metro te wen, sal ons later weet.

Intussen is die DA ook desperaat om die metro te wen. Hulle beskuldig die ANC gereeld daarvan dat dienslewering in die metro agteruitgaan. Nou en dan speel die DA die rassekaart deur die ANC te beskuldig dat hulle bruin gebiede in die Baai en op Uitenhage verwaarloos.

Die stryd tussen dié twee partye vir die bruin stem is duidelik gespanne, met Trollip (51), die DA-burgemeesterskandidaat, wat Jordaan alreeds in twee openbare briewe skerp aangeval het.

Jordaan het duidelik nie ’n aptyt vir Trollip se aanvallende politieke styl nie en het tot op hede nog nie op een van dié twee briewe gereageer nie.

Altesaam 22,6% van die metro se bevolking is bruin. Swart is 60,4% en 16,1% wit. Daarteenoor is 30% van die bevolking se huistaal Afrikaans. Bruines maak sowat 60% van alle Afrikaanssprekendes in die metro uit.

Omdat die ANC min steun het onder wittes en die DA onder swart mense is die bruin stem die koningmakers. Beide partye besef dit en het gevolglik hul groot kanonne, Jordaan en Trollip, uitgerol vir die stryd om die bruin stem.

Trollip (51), Oos-Kaapse DA-leier, is ook as federale voorsitter van die DA op dié party se onlangse federale kongres in Port Elizabeth verkies. Ironies is Trollip, ’n boer van Bedford, nie van die metro nie en het onlangs spesiaal van Oos-Londen Baai toe getrek om as burgemeesterskandidaat te staan.

Sommige bruin DA-lede is woedend en beskuldig die DA daarvan dat hulle ervare bruin en swart DA-lede oor die hoof gesien het.

Volgens hulle behoort die DA se burgemeesterskandidaat bruin te wees, omdat die meeste stemme wat die party in die metro en in die Oos-Kaap gekry het, uit die bruin gemeenskap kom.

Intussen rus die onus op die ANC, en spesifiek Jordaan, se skouers om dienslewering te versnel om veral bruines tevrede te stel in die aanloop tot die verkiesing. In 2011 se munisipale verkiesings het die ANC met 51,9% van die stemme amper die metro verloor. Tydens verlede jaar se algemene verkiesing het die ANC sowat 48% van die stemme op hom verenig. As dié tendens voortduur, gaan dié party beslis die metro verloor. Die DA weet dit en doen alles om hul bestaande steun te behou en ook om veral middelklas swart kiesers van die ANC oor te rokkel.

Die vraag is: Kan die ANC met Jordaan as burgemeester die metro behou, veral omdat werkersklasbruines geneig is om vir wit mense, soos Trollip, te stem?

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top