Dankie, Generaal
Nico Moolman
Uitgewer: Jonathan Ball
ISBN: 9781868428137
Die subtitel is "Op die spoor van ’n oorlogspeurder" en die skrywer vertel omvattend van sy wêreldwye speurtogte in museums en plaashuise om besonderhede te boek te stel. Sy reise het ook gesorg dat talle beelde en voorwerpe nou behoue is.
Vir lesers wat bekend is met die boeke oor die Anglo-Boereoorlog, is daar min nuuts. Daar word skrapsgewys (dog aangrypend) vertel van die Engelse wreedhede en die lewe in konsentrasiekampe, maar daar is min wat nuwe nuus is. Vir die verloop van die ABO en die veldslae moet ’n mens maar historici soos Thomas Pakenham (Die Boereoorlog) en Rayne Kruger se uiters skaars Good-bye Dolly Gray in die hande kry.
Die boek se grootste waarde lê in die geweldig groot aantal foto's – sommige ingekleur – waarop die skrywer-speurder op sy reise in museums en ontmoetinge met nasate van ABO-soldate aan albei kante afgekom het. Die foto's bied ook ’n intieme blik op Boerekrygers en Britse soldate te velde en die praktiese werklikhede van die ABO. Moolman het ’n manier geskep om ongepubliseerde glasnegatiewe te ontwikkel en af te druk en dis dikwels verstommend dat die "afnemers" van daardie tyd tot sulke gehalte in staat was.
Baie van die foto's is uniek en is nou vir die eerste keer te sien. Een voorbeeld is die pakhuis wat tot teen die dak gestapel was met blikkieskos vir die Boere, maar wat onderskep is. Die foto van die breë houtbrug wat die Boere by Colenso vir hul soldate oor die Tugela gebou het, vertel van iets wat voorheen aan my onbekend was. Dit mag ’n fout wees, want sover bekend het die Boere nooit die Tugela oorgesteek nie, maar ten noorde van die rivier op die Tommies gewag. Ander werke oor die ABO vermeld ook nie die voetbrug nie, hoewel die oorspronklike in ’n wit byskrif sê "Boer foot bridge". Dalk iewers anders?
Nuwe stories
’n Hospitaal in Londen het bewyse uit die oorlog opgelewer waaroor min bekend is: platgeslane koperknope om soos ’n goue pond te lyk wat dan in die donker aan swart vroue aangebied is vir seksuele gunste. In die militêre museum in Bloemfontein is daar in ’n koevert met "Do not open" knipsels uit die koerant The Friend gevind van Britse soldate wat by hul swart gesinne afgeneem is. Wat sou ná die oorlog met hulle gebeur het?
Daar was natuurlik ook weldade na weerskante, soos die geval van die Britse majoor wat deur twee verhongerde en verkluimende Boere gevange geneem is en belowe het om met voorrade terug te keer as hulle hom laat gaan. Die majoor het woord gehou en later opgedaag met twee perde met saal en toom, komberse, warm klere, stewels en kouse en blikkieskos! Hierdie storie is by ’n erg bejaarde egpaar opgespoor.
Buitelandse deelname aan die ABO is bekend en daar is ’n foto wat op St Helena geneem is wat toon hoe mense van 18 verskillende nasies ’n hut gedeel het.
’n Aangrypende verhaaltjie vertel die storie van Seuntjiie, wie se moeder in die Bethulie-kamp tydens sy geboorte gesterf het – nog ’n storie met ’n gelukkige einde!
Die skrywer beskryf ook sy lang en suksesvolle soektog na die wedervaringe van die Boeremeisie Susan Nell, die persoon oor wie hy The Boer Whore geskryf het. Sy skrywe is later verwerk en het ’n treffer geword in François Smith se boek Kamphoer.
Die uitgewersprys vir die grootformaatboek van 176 bladsye is R310.
Kommentaar
Goeie dag Nico
Ek het langspeelplate in my motorhuis ontdek, het dit baie lankgelede by iemand gekry, skoon daarvan vergeet, ek soek iemand wat dit wil he, kan dit nooit weggooi of tot niet laat gaan nie, dit sluit in goed oor die Slag van Bloedrivier, gedigte van Anna Neethling Phol kan nie nou alles onthou nie, ek woon in Pretoria as jy sou belangstel of weet van iemand - groete (het nou PretoriFM geluister en die resensie gelees op internet - baie interessant)