
- Foto’s: Daniel Rutland Manners
Wêla Kapela Productions het in Julie met die debuut van The Tramp in Johannesburg en ’n speelvlak by The Drama Factory in die Strand gehore oral in trane én ekstase gehad. Net soos met hul wegholsukses Vincent – his quest to love and be loved, is Daniel Anderson in die hoofrol en sy veelsydigheid het aan hom verskeie toekennings besorg.
Ek kon dus nie wag om hul nuutste werk by die Kunstekaap te sien nie.
Die verkeer is buitengewoon straf en die meeste mense kom met skreeuende bande om die draai om betyds te wees vir die 19:00-vertoning.
Die toneelstuk vertel die – dikwels hartseer – lewensverhaal van Charlie Chaplin – eens die bekendste man in die wêreld, wie se roem so verreikend was, dat stasies in New York gesluit moes word, omdat mense in hul duisende opgedaag het om hom te sien wanneer sy trein arriveer.
In die klein knus Arena skep die krapperige filmrol onmiddellik die atmosfeer van terugloop in tyd. Buite is die chaos van rugbyverkeer, ’n lang dag en geroesemoes.
Die Brit, Charles Chaplin, was ’n weeskind wat van kleins af ’n vermoë gehad het om mense te laat lag. Sy films waarin hy die komieklike mannetjie met die klein swart snorretjie, amper te groot skoene, bolhoedjie en kierie in die manelpak tot oorbekende karikatuur verhef het, het mense se harte regoor die wêreld gesteel.

Die toneelstuk wys hoe Charles sy alter ego (as jy sou wou, sy redeliker self) “verraai” toe die aansien hom laat glo het hy is iemand wat hy nie is nie. Sy politieke uitsprake plaas hom in die FBI se soeklig in ’n tyd wat J Edgar Hoover op ’n heksejag is om alles wat dalk na kommunisme ruik of lyk, uit te vang.
Voeg daarby die gefaalde aktrise wat skinderkolomme skryf, Hedda Hopper, en Charles word sy eie grootste vyand. Die koms van films waarin akteurs gepraat het, het in der waarheid sy ondergang beteken.
Die stuk speel die heeltyd The Tramp, Charlie Chaplin se alter ego, teenoor die ware Charles Chaplin af. Aanvanklik het ek gewonder wie die tweede karakter is, maar ek het gou besef die een was die glanspersoonlikheid wat Jan Alleman se harte gesteel het en die ander, ’n man met groot drome maar voete van klei en wat – soos wat die teks verduidelik – “net ses jaar oud was toe sy kinderdae geëindig het”.
Hy besef gou dat hy sy eie mens moet wees, ongeag wat ander van hom sê, maar tog is die stemmetjie in sy kop sy leier en hou hom vir lank op die regte pad. Hy leer gou die lewe se lelike kant en verklaar dat hy voortaan net na homself gaan luister, want almal vir wie hy lief word, “word of groot, word mal, of gaan dood”.
Die stuk is ’n mengsel van sketse wat teen ’n wit lapdoek geprojekteer word, greinerige wit en swart uittreksels uit sy films en lewe.
.......
Die vertoning is pure (uitstaande) kabaret waarvoor ek baie lief is, maar waarvan ons baie min te sien kry die afgelope paar jaar. Daniel wissel soomloos tussen hartseer, komieklik, dramaties, melankolies en ernstig. Die 90 minute in die intieme teatertjie voel asof jy letterlik saam met Charles Chaplin op sy lewenspad reis.
.......
Daniel het twee jaar terug ons voete onder ons uitgeslaan met sy uitbeelding van Vincent van Gogh. As dit nie vir teatermakers Johan van der Merwe, Ignatius van Heerden en Lihan Pretorius was nie, het ons nooit die stuk gaan kyk nie, want ingedruk in ’n manskoshuis-sitkamertjie, het dit nie ons oog op die Toyota Stellenbosch Woordfees-program getrek nie. Toe ons daar kom en die klein plekkie is tot barstens toe vol feesgangers wat net geweier het om die kans te laat verbygaan, het ons besef ons is in vir ’n ding!

Die liedjies wat die Charlie Chaplin-storie ondersteun, wissel van vrolik tot melankolies en sluit onder meer in: “As if we never said goodbye” (van Sunset Boulevard); Sting se “Englishman in New York”; “If my friends could see me now” (van Sweet Charity); “Mother” (John Lennon); “No one is alone (van Into The Woods); “The great pretender” (deur The Platters en ook bekend gemaak deur Freddie Mercury); “Break my heart again” (deur Phinneas); “Will you still love me tomorrow?” (deur Carol King); “How did we come to this?” (van Wild Party); en “Smile” (deur Charlie Chaplin).
Die vertoning is pure (uitstaande) kabaret waarvoor ek baie lief is, maar waarvan ons baie min te sien kry die afgelope paar jaar. Daniel wissel soomloos tussen hartseer, komieklik, dramaties, melankolies en ernstig. Die 90 minute in die intieme teatertjie voel asof jy letterlik saam met Charles Chaplin op sy lewenspad reis.
En so oor die tydsverloop verander Charlie Chaplin van die “geliefde loskop tot die moeilikheidmaker”.

Elke lid van Wêla Kapela verdien ’n diep buiging vir hierdie toneelstuk. Die teks, die stel, die keuse van liedjies om die storie te ondersteun, die gebruik van twee “kiste” voor op die verhoog waarteen addisionele beelde en sketse geprojekteer is en natuurlik Daniel se kostuum en grimering, wat hom voor ons oë in The Tramp verander het, is wêreldklas.
Ek dink onwillekeurig terug aan die insetsel waar ’n bejaarde Chaplin in April 1972 tydens die 44ste Academy Awards ’n ere-Oscar ontvang het en ’n 12 minute applous geniet het. Hy was só aangedaan dat die land wat hom jare tevore verban het, hom met soveel eer ontvang het. Die gesig wat op die lapskerm vasgevang is, een van bewoënheid, maar ook ’n diepliggende hartseer.
Hoe wonderlik dat Daniel meer as 53 jaar later ’n staande ovasie as Charles Chaplin kry – ampertjies 12 minute lank! – maar in gelukkiger omstandighede en met ’n belowende loopbaan voor hom.
Die deernis waarmee hy Charlie Chaplin word sal my nog lank bybly en skouer skuur met die herinnering aan dieselfde empatie wat hy vir Vincent van Gogh getoon het. Albei ranteiers wat deur die kollig verblind is.
Die speelvlak is kort, net tot Saterdag, so kry jou kaartjies vinnig, anders gaan jy armer van gees wees.

The Tramp
Met: Daniel Anderson
Teks: Amanda Bothma
Produksiespan: Amanda Bothma, Paul Ferreira en Sonwa Sakuba
Musiek: Paul Ferreira op klavier
Ontwerp: Wilhelm Disbergen
By Kunstekaap Arena, 1–11 Oktober 2025. Kaartjies by Webtickets.
Lees ook:
The Barber of Seville: prettige opera in intieme teater bied groot vermaak
Toyota Stellenbosch Woordfees: In gesprek met drie van die akteurs in Woordedief

