Gebore en getoë
Daniel Stephanus Botha (Danie) is op 28 Februarie 1947 naby De Doorns gebore. Hy word groot op ’n plaas in die Brandwachtvallei ten noorde van Worcester as die oudste van drie kinders, met ’n suster Dria en ’n broer Koos – “in verhale figureer suster Dria as Dria, maar broer Koos word Braam, omdat ek sy Jako(bus) vir my toegeëien het in die stories.” Sy ouers is PP du T Botha en Rachel Elizabeth Möller. Hulle is op 11 Mei 1945 getroud.
Danie vertel aan LitNet: “In standerd 2 in die laerskool het ek en Christo Botes al ‘koerante’ geskryf. Aan die einde van standerd vyf het mnr Seekoei van Zyl my opstelboek as voorbeeldboek ingeneem, en hy sou my roman in Croxley-boekies vir ’n uitgewer stuur.
“Ek publiseer ‘lerende’ kinderverhale vanaf my 15de jaar in Die Kerkbode tot 1968. Dis stories uit my eie ervarings of ek vertel stories oor uit ou preekbundels (met bronerkennings) of dramatiseer Bybelgedeeltes. As ek my toepassings nie te eksplisiet genoeg doen nie, klim die kinders se tannie Willa self in. (Vanaf 1994 sou ek ’n tyd lank bydraes lewer vir Die Kerkbode se “Stilhouplek”-rubriek waar dieselfde formaat gevra is: iets uit die alledaagse lewe en dan ’n godsdienstige toepassing.) In 1962 begin ek ’n rubriek vir kinders in die Worcester Standard, maar toe niemand vir ’n wedstryd inskryf nie, word dit summier gestaak!”
Van vroeg af het Danie begeer om “in die openbaar op te tree”. Hy lees voor by die skooldebatsvereniging en speel saam met onder andere Helena Conradie (tans bekend vir haar voordragte op CD’s) in tant Hanna Oosthuizen se Kersboomkonserte in die Erasmusse se plaasskuur.
“In 1962 wou ek ook soos PG du Plessis se Tiemie ‘van geweet wees’ en doen ek gratis diens op Saterdagoggende en in skoolvakansies by die Worcesterse Openbare Biblioteek. Onder leiding van mee Fergusson, Brandt, Anderson en andere doen ek waardevolle ervaring van biblioteekwese en van boeke op. Ek stap dan die ses myl terug plaas toe ná die tyd. Al lesende aan die reisboeke van Elsa Joubert of die Kadet-reeks. Het wel mettertyd ’n fiets gekry.
“Gedurende hierdie tyd neem ek deel aan die SAUK se Jeugprogram: ‘Skrywers van die toekoms’. My vyf minute lange hoorspel Drie uile word uitgesaai en ek skryf geïnspireerd elke week ’n hoorspel vir Morkel van Tonder, maar weens gebrekkige belangstelling van ander skrywers staak Daan Retief die program. Ek het my uitgedaag gevoel om George H Weideman as digter te onttroon. Toe Pieter W Grobbelaar sy kritiek op mý gedig lewer, hoes my oupa en kon ek dit nie hoor nie. (Sien Ensovoort, jaargang 11, 2007 oor Weideman.)
“Teen 1964 plaas Monica Breedt feitlik elke week ’n bespreking van Danie Botha van Russelstraat 75, Worcester (ons posadres) in die SAUK Radiobulletin oor ’n uitgesaaide hoorspel in die rubriek vir sulke luisteraarskritiek.
“Ek het altyd radio-radio gespeel. Met die opwengrammofoon en ’n voorraad ou Huisvrouens waaruit ek ds Latsky se preke voorgelees het en resepte met herhalings nes Esmé Euvrard in ‘Só maak mens’. Die uitsendings is gedoen vanaf ’n ontruimde buitekleinhuisie. Radio Buitelug was weer ’n stasie waar ek gereeld rondgeloop het en dan optogte beskryf het veral saans as ek deur die hawerland loop om vir ons melk te gaan haal by oom Jan-hulle. In ’n bloekombos was ’n groot ou staaldrom wat lekker weerklink het vir my dramas wat ek opgemaak het. In ’n ou stal het ek boeke gedramatiseerd voorgelees, met Joey de Koker en Lana Turner as van my spelers.
“Dis in die ou Huisvrouens van tant Rina le Roux dat ek die rubriek vir kinders gelees het. Het nooit geweet dis geskryf deur Audrey Blignault nie. Daarin lees ek toe van Marietjie wat so in die huis konsert gehou het. Toe het ek eers saam met Ouma en Dria saans ‘konsert’ gehou op die gras voor die koeistalle terwyl ons wag vir die vol melkemmers. Gaandeweg het die konserte groter en meer gevorderd geword, byvoorbeeld aan die einde van ’n skoolkwartaal op die punt van ’n stoep waar daar ’n plankgedeelte was. Die gehoor: Oupa, Ouma en Ma. Soms meer. Groot aardigheid om kennisgewings op te sit op die groot sipresbome langs Ouma se rotstuin.
“Uit tant Rina se ou Saries Marais het Ma voorgelees vir ons uit Alba Bouwer se Stories van Rivierplaas. Sondae het Ma uit Josef in Memfis van HJM Redelinghuys gelees. Sy’t pal vir ons saans en soggends uit Herman Scholtemeijer se Die kind se Bybel voorgelees. Ons kon selfs gedeeltes opsê: ‘Dis nog vroeg in die môre, maar die skaapwagter slaap nie meer nie. Hy staan al by sy skaapkraal en roep sy skape een vir een. Aan elkeen het hy ’n naam gegee …’
“Naas Alba Bouwer en WO Kühne se Huppelkind-reeks (wat ek vir ‘Braam’ voorgelees het) had sy styl ’n groot invloed op my. Ma het kleintyd gediggies vir my geleer en ek het selfs aandag getrek in die Voorbereidende Skool daarmee. (‘Mammie is laat/ en Pappie is kwaad/ Die meid het nie opgedaag./ Ek sal my maar was,/ dan vat ek my jas/ en maak net die voordeur oop …’) Sy sou op ’n vakansieoggend ons uit die bed kry met die oopskuif van die venstergordyne en die woorde: Cast the window wider, sonny,/ let me see the veldt,/ rolling grandly to the sunset. Internet sê dis uit ’n gedig van Percival Gibbon, dalk uit 1903. Of Red sky in the morning is the shepherd’s warning; red sky at night the shepherd’s delight. Ouma Botha was ons stiefouma, maar jy sou dit nooit sê nie. By haar het ek Boereoorlogstories gehoor terwyl sy staan en stryk. Vir haar en Oupa wat met ’n kruk en kierie geloop het, het ek soos Josef my drome van die vorige nag vertel, en Oupa het gesê hy kan sien hoe droom ek dit daar by die kombuistafel. En dit was waar! Oupa het vertel van goëlery en spoke. My nefie Niel wat seker so vier jaar ouer as ek was, het my die storie van die drie varkies geleer,” vertel Danie aan LitNet.
Toe Danie in standerd nege was het sy ouers en sy broer en suster na die plaas Alartskraal by Rawsonville getrek waar sy pa plaasbestuurder was by Ernst Stofberg. Danie loseer sy laaste twee jaar op skool aan huis van Theuns en Anneline Botha op Worcester. Hy matrikuleer in 1964 aan die destydse Hoër Jongenskool Worcester.
Op skool het Danie Saterdagoggende en gedurende skoolvakansies gratis by die Openbare Biblioteek op Worcester gewerk en só waardevolle ondervinding opgedoen van die biblioteekwese, asook boek – iets wat hom later in sy loopbaan goed te pas gekom het.
Danie vertel in die reeks “Mense agter boeke” op LitNet aan Jaco Botha dat Pieter W Grobbelaar met sy radiorubriek “By die boekrak” gepoog het om die jongmense aan die letterkunde bekend te stel. Só het hy ’n wedstrydvraag gehad: “Soos: wat was CJ Langenhoven se skuilnaam? Ek wen die prys; ek kan uit twee boeke kies.”
En toe Danie nou die pryswenner is, het hy nie geweet watter boek om te kies nie: “Ken nie boeke nie. Of nee, wag, so ’n maand vantevore het die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens vir Worcester die wonderlikheid van ’n biblioteek vir volwassenes en kinders gebring. Teen daardie tyd het die skoolbiblioteke ook ’n groter toegang tot boeke beteken. Soos die hartseer storie van Sita se Bennie-boet. Ons twee was albei kunsterig met ’n boer vir ’n pa, ’n man wat in die sweet van sy aanskyn ons kos kombuis toe gebring het en wat nie reggekom het met aansitterige seuns nie. Vir hom was sulke seuns ‘trassies’. My eie storie oor so iets staan in Die Soft Rock Klub (Tafelberg, 1995).
“My tweede versoek vir die prys is Die Ark van Margot Benary, wat ek pas by die nuwe kinderbiblioteek uitgeneem het; Hanna Hoekstra het dit uit Duits vir JL van Schaik se Libri-reeks van klassieke jeugboeke vertaal. En my eerste keuse kom vermoedelik uit juffrou Berta se lys: N P van Wyk Louw se Lojale verset. Pieter W Grobbelaar het sy gehoor gekén en Die Ark was die wenboek. Dit staan al jare lank naby die rak met my eie publikasies. Voorin ’n strokie van die SAUK wat getuig dat ek die prys gewen het.”
Hy vertel verder aan Jaco Botha dat hy in sy jeug ook die Afrikaanse letterkunde help versorg het: “Daar het ’n sepiakleurige bylaag in die Naweekpos verskyn. Ek kon nog nie in my geliefde NALN in Bloemfontein vasstel wie dit saamgestel het nie. Ek vermoed dit was die geestesskepping van Berta Smit, toe ’n redaksielid daar. Per bladsy ’n foto van die skrywer, ’n bibliografie en enkele gedagtes oor sy of haar werk. By Radio Opelug het ek Tsjaikofski se ‘Suikerfee-valse’ as kenwysie gespeel (omdat dit van die min ernstige musiek op plate was tussen die Gene Autries en Chris Blignauts in ons huis). Dan het ek, sê maar, iets oor GH Franz voorgelees. Ek het ook uittreksels uit Afrikaanse dramas opgevoer. Tussen twee damme het waterslote geloop. Naby die koeistalle het die water oor ’n rots gestort. Naby hierdie ‘waterval’ sit ek en lees uit ’n bloemlesing deur DF Malherbe. Ek lees almal se rolle en maak ‘byklanke’ met skeppe water. Dis eintlik ook agtergrondmusiek vir byvoorbeeld Malherbe se Koringboere.”
Verdere studie en werk
Ná skool gaan verrig Danie nege maande militêre diens op Oudtshoorn en Grahamstad (waaroor hy nog moet skryf). In die kapelaanskantoor op Grahamstad het hy nog van sy Kerkbode-stories geskryf. Ná sy militêre diens gaan werk hy as toesighouer by die sagtevrugte-fabriek op Worcester.
In Februarie 1966 begin hy werk in die Sentrale Naslaanafdeling van die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens in Kaapstad. Vanaf 1967 tot 1970 studeer hy aan die Universiteit Stellenbosch en behaal sy BA Honneursgraad in Afrikaans-Nederlands. Gedurende hierdie tyd bly hy steeds in diens van die Biblioteekdiens en werk vakansietye daar, terwyl hy jaarliks studieverlof neem.
Op grond van sy gedigte wat hy gedurende dié tyd geskryf het, en nie as gevolg van akademiese prestasies nie (sy eie woorde!), word hy lid van DJ Opperman se Letterkundige Laboratorium en dien hy in die redaksie van Die Matie as deel van die kunsredaksie saam met mense soos Fanie Olivier en Etienne Britz. Hy stig in 1970 saam met Fanie Olivier die letterkundige blad Penseel. Hy vertaal en verwerk Bernard Gilbert se Eldorado vir die radio; dit word op 4 Oktober 1967 uitgesaai met Wena Naudé in die hoofrol en Roelf Jacobs as regisseur.
Danie vertel dat hy as “ou man” op universiteit aangekom het in die koshuis Helderberg as gevolg van sy diensplig en die jaar se werk in “die bose stad” by die Biblioteekdiens. “Ek was steeds baie introvert, ernstig, godsdienstig. Maar veral vanaf my tweede jaar (1968) het ek in ’n mate meer ontspanne geraak, met my redakteurskap van die koshuiskoerant Die Bergkuiken (elke jaar moes die eerstejaars deelneem aan ’n militaristiese seremonie wanneer ek die eerste uitgawe van die jaar aan die inwonende hoof en die primarius oorhandig het), Burger-aflewering in die kamers soggends (o, wat moes ek nie soms aanskou en ruik nie!), kunsredaksielid van Die Matie, ensovoorts.Saam met Jan Ungerer (nou dominee op Worcester) stemmige agtergrondsmusiek opgestel vir die Sondagmiddagete, en toe sluit ons in ’n manskoshuis so waar The Sound of Music in. ’n Gekreun, dan luide protes.”
Vir die eerste keer in sy lewe het Danie ware geesgenote gevind onder die tokkelokke (hy was egter skaam om vir hulle te wys dat hy die klankbaan van The Graduate gekoop het met die omslag waarop Miesies Robinson so been wys vir die belustigde Dustin Hoffman), die dramastudente en mede-Afrikaans-Nederlandsers en Bybelkundiges. “Dit was die tyd dat ek waagmoedig was om DJ Opperman se Edms Bpk, wat so pas verskyn het, te resenseer in Die Matie … Hy stap verby ’n seminaarkamer waar ek sit en wag vir klas, draai om en sê: ‘Baie dankie vir die bespreking.’ Ek het dit nie as sarkasties ervaar nie.
“Dit was ’n tyd van agnostiese gedagtes. Van alleen sit in die donker in die gemeenskapsaal by die platespeler en luister na Gluck se ‘Reis van die Geluksalige Siele’, opkyk na die sterre deur die venster en wonder oor selfmoord. Tydens die wintervakansie in die Kaap het ek ’n homoseksuele ervaring met ’n ouer man gehad. Terug op Stellenbosch het dit tot erotiese onrus én verdere seksuele avonture gelei. In my klerekas was daar ’n voorraad Modern Adonisse wat handig was die naweke as ou kamermaat Daan Wium huis toe is, of as ek laatnag verskuil was agter ’n boekrak langs my bed. In my derdejaar ‘pomp’ ek vir ‘huiskom’. Die dag van die verkiesing besef ek dat die eerste ding wat die manne doen wanneer jy inkom, is om jou klerekas te kom omkeer. Hulle sou wéét. Ek het my hulpmiddels na die vullisdromme agter die wasgoedtannies se kamers geneem en dit daarin verbrand. Ek is nie verkies nie.”
Vanaf 1971 tot Junie 1972 is Danie voltyds Afrikaanse boeke-keurder vir die Kaapse Provinsiale Biblioteekdiens en dien hy ook in die redaksie van Die Kaapse Bibliotekaris, die Biblioteekdiens se kwartaallikse (toe maandelikse) mondstuk. Hy skryf gereeld artikels oor Afrikaanse skrywers, onder andere Berta Smit, Alba Bouwer en Audrey Blignault, en dít besorg aan hom die pos van redakteur: fiksie by Tafelberg-Uitgewers in Augustus 1972.
Gedurende die jare 1972 tot 1986 is Danie baie aktief by die NG Kerk betrokke. Hy gee katkisasie sedert sy aanneming, is bestuurslid van die KJV/KJA by die Groote Kerk, en redakteur van die vereniging se Die Blaadjie. Hy is ook diaken en later ouderling. Hy woon as alleenlopende in Kaapstad in 1966 en toe weer van 1971 tot Desember 2006 toe hy hom in Fontaine Bleau-aftree-oord in Welgelegen, Parow gevestig het. (Uitgehaal dat hy lid van die Akademie geword het)
Danie is in Augustus 1972 aangestel as redakteur by Tafelberg-Uitgewers. Enkele jare was hy ook redakteur van kinder- en jeugboeke. Dit het ’n soort spesialisasie geverg wat uitdagings gebied het. Sedert die 1980’s is hy terug by fiksie en word hy senior redakteur aldaar. Tot sy aftrede in Maart 2000 het hy as fiksieredakteur alle genres van die letterkunde hanteer en gespesialiseer in literêre kritiek, skrywersbiografieë, bloemlesings, dramas, kortkuns en gayliteratuur. Ná sy aftrede was hy nog by Tafelberg betrokke en het hy onder andere boeke vir Homeros, die afdeling vir gay skrywers, hanteer.
Danie vertel as volg aan LitNet oor sy jare as redakteur by Tafelberg-Uitgewers: “Ek het die werk van ’n boekeredakteur onder Berta Smit geleer. Sy het diplomasie, hoflikheid en lojaliteit by my ingeskerp. Hoe jy die vertroue van ’n skrywer moet verdien en dit behou. By haar erns en Christenskap het ek aansluiting gevind, wil byna sê dat ek iets van my ma by haar teruggevind het. Met verloop van tyd het ek tog maar soms krities teenoor haar geraak. Ek glo sy was absoluut die regte persoon op die regte plek op die regte tyd. Daar was aanslae van sensuur en sy het met skryfleiding en redigering dit help voorkom. Sy sou vyfuur in die oggend opstaan om ’n verdediging van Hennie Aucamp se Wolwedans op te stel sodat ons hoofbestuurder JD Pretorius iets het om die hoër gesag se aanklagte te besweer. Ná ’n middagete met genoeg wyn sou sy vir ons versamelde redakteurs eers Shakespeare opsê.
“Van die aangenaamste tye as fiksieredakteur het ek saam met Charles Fryer onder George Louw beleef. George – geordend, menslik. Hy het vir Tafelberg ’n groot guns bewys toe hy, met sy ervaring as verhaleredakteur by Die Huisgenoot, vir Ena Murray begin uitgee het. Dit was die begin van ’n suksesgeskiedenis wat tot vandag toe voortduur, selfs noudat Ena oorlede is. Hy het as afgetredene nog met haar gewerk. Dit was vir my ook baie bevredigend om haar romans te redigeer. Sy het die boeiendheid in haar verhale wat ’n mens dan met jou redigering net helderder maak. Met George se reputasie as digter en dramaturg het hy ook die vertroue van die skrywers gehad. Ek het eenkeer met die Akademiespelers ’n spellesing gedoen van sy onopgevoerde drama Komete – ’n gesinsdrama met dramatiese ironie wat nie maklik elders so lank volgehou word nie. Vandat ek in Panorama-Welgelegen woon, naby hom en Dorette, is ons huisvriende.
“Die langste het ek onder Charles Fryer as afdelingshoof gewerk. Hy en sy vrou, Loreinne, en hulle kinders en kleinkinders is ’n begrip in my lewe: die Fryers. Deur die jare het hulle my baie hulp gegee om praktiese dinge in my lewe reg te kry. Ek en Charles ken mekaar sedert 1967 toe ek as eerstejaar reg langs hom as senior aan die Helderbergse koshuisetenstafel moes sit. Hy was die agbare assistent van DJ Opperman, ’n vertrouensposisie wat hy in sy Tafelbergjare volgehou het. By Tafelberg het ek en hy tonne sakke sout verorber, koppe gestamp. Ons letterkundige smaak en oordeel het egter dikwels ooreengestem. Hy het my ook geleer om meer waagsaam te wees, meer ‘hekke oop te maak’. Dit het hý gedoen toe hy Die Soft Rock Klub geredigeer het, soms berooid in my deur met ’n vraag kom staan het. Hy het die vermoë gehad om my as Gato (die kat in Pinokkio) se siel uit te trek. (Ek en hy was berug daarvoor om byname te gee. Met sy kennis van films het hy my tot Orson Welles en Marlon Brando gedoop.) Hy kon vanoggend agtuur met ’n grappie begin en teen die aand nog steeds voortborduur. Ons het ’n liefde vir die toneel (hy had opleiding onder Fred Engelen) gedeel en was saam op die Fleur du Cap-toneelpryspaneel.
“Petra Grütter (Müller) het met haar keuring en skryfleiding baie manuskripte reggekry voordat ons met die stiplees kon begin. Ek sal nooit vergeet hoe sy die slot van Etienne van Heerden se Toorberg met die uiterste oordeelkundigheid so ’n letterkundige hoogtepunt gemaak het. Ek kon met vertroue verder werk. Ai, haar stories, haar Boeregrappe wat reguit na my dagboek gegaan het. Toe dit in 1985 nag vir my siel geword het weens uitbranding het sy my in my depressie ondersteun. ‘Erken dat dit nou sleg met jou gaan, onthou hoe wonderlik dit vroeër was, en weet dat dit weer so sal word.’
“Met Louise Steyn (innoverende hoof van kinder- en jeugboeke) het ek ook ’n lang pad saamgekom. Ai, die vrou wat my so kon dwing tot noukeurige denke en veral volledige formulerings van my gedagtes. Ons het saam by Fiksie gewerk en nadat sy afgetree het en vryskut-taalpraktisyn was, het ons mekaar gereeld gekonsulteer. Dikwels was sy al chauffeur-cum-metgesel vir my na die teater.
“Die jare sewentig en tagtig sal vir my die Goue Jare van Tafelberg-Uitgewers bly – die ‘regeringstyd’ van die ‘verligte despoot’ en groot kultuurmens, Danie van Niekerk.
“Toe ek in 2000 met vervroegde aftrede gegaan het, het hoofbestuurder Hannes van Zyl belowe dat Tafelberg nie bande met my sal verbreek nie. Hulle en Human & Rousseau het my konstant besig gehou met projekte; soms het dit amper te veel geraak! Die een wat my die meeste werk gegee het, is Riana Barnard (alias Sussie). Ons twee het deur twee uitgawes van Groot Verseboek geswoeg; teen halftien in die aand hou dié slim entjie mens nog steeds kop! Sy het my twee versamelbundels laat saamstel: PH Nortje se Op ’n hoë noot en Fanus Rautenbach se Tien uit tien. Sy het ’n paar maal as ‘mevrou Botha’ by funksies opgedaag! By Human & Rousseau het Alida Potgieter en Janita Holtzhausen vir my keuring en redigering gegee. Janita het geweet ek hou daarvan om met bundels humorverhale te werk. Van Nico Nel en Uys van der Hoven, Piet Swanepoel en Sarel Pieterse wat helaas oorlede is voor sy debuut met Boerumoer.
“Ek diskrimineer nou teen talle kollegas wat ek nie hier dek nie. (Ag, julle weet wat ek bedoel!) Daar’s Maja van Zyl, Ettie Williams, Frederik de Jager, Madaleine du Plessis, Gerda Pretorius, Jürgen Fomm, Johan Steyn, Anton Swanepoel, Klaas Steytler, Lenie Coetzee, Tonie Roux, Erne Potgieter, Anna Jonker, Denise Ohlsen, Jana Luther, Vinkie Hofmeyr, Linda Vicquery, Bobby Fourie, Nonna Weideman, Annari van der Merwe, Hugo Truter, en heelwat ander.
“En ek kan helaas ook nie verwys na al die skrywers en administratiewe dames en here met wie ek saam gewerk het nie.
“Ek is trots op die debuterendes wat ek vir Tafelberg hanteer het. Daar’s dié waarvan ek net ’n eerste boek geredigeer het: Deon Meyer, Koos Prinsloo, Charl-Pierre Naudé, Charles J Fourie, Ronel de Goede, Emile Joubert. Van ander het ek meer hanteer: François Bloemhof, Elias P Nel, François Loots, Deon Opperman, Zuretha Roos, Robert Young, Wium van Zyl, Alsoon Wessels, Annemarie Coetzer, Elza Rademeyer, Leon van Nierop, Marlee Tesselaar, Mariël le Roux, ensovoorts.
“Ek het met verskeie van JC Kannemeyer se skrywersbiografieë gewerk. Dit was dan ook geestesverrykende ervarings om voor of ná die boek se verskyning op sy en Wium van Zyl se literêre toer na die betrokke skrywer se wêreld te gaan. Heerlik om net agteroor te sit en te luister hoe ‘oom Joon’ (ek is ‘Kommandant’ en Wium ‘Troep’) sy geweldige hoeveelheid kultuurhistoriese en ander inligting oordra. Om nie te praat van die toepaslike musiek wat gespeel word en al die ‘gastronomiese’ (John se geliefkoosde woord) vreugdes op pad nie. Twee keer het John ons ook na die Lae Lande geneem. Deur John het ek op plekke gekom waar ek as iemand wat nie motor bestuur nie, nooit sou kom nie. My samewerking met prof Kannemeyer het begin met sy samestelling van C Louis Leipoldt se versamelde poësie. Toe ek my oorgehaal vir die redigering verklaar, laat hy my dadelik verstaan daar word nie aan Leipoldt gesub nie!? Hy het dan juis al soveel aantekeninge oor byvoorbeeld al die variante gelewer. John het my ’n keer of wat probeer werf as navorsingsassistent, iets wat ek enorm graag sou wou doen, maar om dit met my Tafelberg-werk te kombineer, was ’n onmoontlikheid.
“Vir JC Steyn het ek eers gehelp met die geskiedskrywing oor Tafelberg-Uitgewers, en toe was daar Van Wyk Louw deel 1 en 2 (nadat ek vroeër met Louw se versamelde prosa en poësie gewerk het). Daar is nogal druk van uitgewerskant op my geplaas om die redigering gou klaar te kry, maar dit was sulke intrigerende stof, prof Jaap se werk so goed dat ek dit nie as stresvol ervaar het nie. Toe ek een aand laat van die kantoor is ná redigering van ’n gedeelte oor die aard van poësie, is ek in Kerkstraat aangerand en beroof deur jong seuns in vaalgeel klere. Hennie Aucamp het my essay daaroor in Die Kerkbode (‘Stilhouplek’) hoog aangeslaan. Ek was ook bevoorreg om Jaap se MER-biografie en sy outobiografie Sonkyker te hanteer. Dis nog een van die genoeglikhede van Bloemfontein (naas werkery in NALN – sien later): ’n kuier saam met Jaap. Ons het ontdek dat ons ’n bewondering vir die Nederlandse en Belgiese televisie deel, veral ’n Gentse polisiereeks, Flikken. Met biografiese werk skep ek ’n aartsbehae daarin om elke liewe aanhaling te kontroleer. Doen dit ook in ander genres.
“Hennie Aucamp. Eers was hy Berta Smit en Charles Fryer se skrywer, maar vanaf Papawerwyn het ons baie, baie saamgewerk: bloemlesings, dagboeke, kortkuns, gedigte, literêre teorie, artikels vir Gay@LitNet. Hy is ook ’n onverdrote aanmoediger. Maak voorstelle vir boeke. Hy wil hê ek moet dié boek oor Worcester skryf, het al ’n bandontwerp daarvoor uitgekies. By hom kry ek die regte uitspraak van name en ander woorde. ’n Ensiklopedie van kuns en kultuur. ’n Boekesteet.
“Met PH Nortje se jeugverhale uit die Baviaanskloof het ek grootgeword. Ek kon as plaasseun my daarmee vereenselwig. Vir die eerste keer lees ek stories wat die plaaslewe uitbeeld soos ek dit ervaar: as nie heeltemal so romanties en wonderlik nie. Van my eerste boeke wat ek by Tafelberg geredigeer het was sy bundels humorsketse, en dit het ’n instelling geword. Ek het al sy werk vir volwassenes hanteer, en redakteurs soos Louise Steyn en Suzette Kotze-Myburgh sy jeugboeke. Eintlik is ons ervaringswêrelde baie verskillend. Hy is die gesins- en onderwysman. Ek kon as enkelloper huislikheid vind in sy vertellings, en sy behoudende waardesisteem bewonder. Toe Die Soft Rock Klub verskyn, het hy in enkele woorde laat verstaan hy aanvaar my gayheid. Dit het baie vir my beteken. Dit was vir my aangenaam om reeds twee keurbundels uit sy werk saam te stel.
“Engela Linde/Van Rooyen. Die laaste roman waarmee ons saamgewerk het en wat ek hoog aanslaan, was Vuur op die horison. Daar was talle ander. Dit was ook ’n voorreg om mee te werk aan die outobiografiese Met ’n eie siekspens. Sy is deur al die jare baie meelewend. Ek sal haar reaksie kry op my radiowerk, op ’n publikasie. Die toppunt was toe ek destyds in die Kerkbode-rubriek beskryf het hoe ’n seuntjie in die World of Birds by Houtbaai vrede had met die uile, maar eerder besorg was oor die psoriase op my elmboog; nie te lank nie, of ek kry ’n teer-middel in die pos van Engela. Haar kleindogter verjaar saam met my; dit laat oom Danie gelukwense met ’n familie hadidas stuur.
“Riana Scheepers het by ’n lemoenboom voor haar Seepuntse huis terstond besluit ek sal haar redakteur word. Van Dulle Griet tot haar verwerkte verhandeling oor Koos Prinsloo, ensovoorts. (Haar seun was by my in die katkisasieklas. As Adriaan Meyer maak hy jare later toe vir my en vir haar onder ons eie name karakters in sy bekroonde drama Prinsloo Versus.) In ’n stadium was ons kollegas by Tafelberg. In die tyd toe sy en Daniel Hugo nog ‘Abelard’ en ‘Héloïse’ was, neem hulle my saam op my allereerste oorsese reis: na die Lae Lande. Om haar bekroning met die Eugène Marais-prys te kon bywoon, koop ek my eerste aandpak. As sy sê ons gaan haar boek in Natal bekendstel, dan pák ek my tas; sê nie nee nie. Sien dan vir die eerste keer Durban én haar ma se feetjiestuin in Pietermaritzburg. Stormagtige tye met haar beleef, maar ook soveel weldadige menslikheid.
“My en Daniel Hugo se samewerking het lag-lag begin. ’n Dag lank het ons deur sy keuse vir Speelse Verse gewerk en net dié deurgelaat waarvoor ons ten minste ’n grinnik kon oproep. Daarna sou digbundels volg. Ai, hy was ’n vriend vir my gewees daar in ons jonger jare. Wat van die aande by André le Roux-hulle as hy skielik buitekant teen Schotschekloof ’n huilroep uit sou stuur? Met hom het ek leer kroeë besoek (en redelik vinnig afgeleer). As hy op ’n dag verveeld raak by die Seepuntse radiostasie, bel hy en moet ek hom eers vermaak met my geselskap. En altyd, dan en wanneer ons soms die pad vat êrens heen, het ek getwyfel of ek werklik sinvol met hom kan saampraat. Hy het my kanse gegee vir radio-onderhoude met skrywers. Dis ’n ou wie se vriendskap ek deesdae kwaai mis.
“Ek was bevoorreg om met Koos Prinsloo se debuut te werk. Ná Jonkmanskas was saamwerk weens allerlei omstandighede nie weer moontlik nie, maar ons het kontak behou. Hy had waardering vir my briewe. Ander s’n kom so uitgeknip voor vir nog ’n artikel in Tydskrif vir Letterkunde, maar myne was op hóm toegespits, het hy geskryf. Hy het my allereerste gayverhaal, ‘Jasper’, in Stet geplaas. Ek sou die laaste radio-onderhoud met hom voer. Sy Slagplaas het my baie ontstem. Ek onthou hoe ek sommer net laatmiddag die strate ingevaar het en gehoop het ’n seksuele kontak besweer my deurmekaarheid. Dit was tevergeefs. In Adriaan Meyer se drama vertel ek van hoe ek en Koos op ’n weeïge dag van wind in ’n Johannesburge restaurant sit en tob het oor ons wanverhoudings met ons pa’s. En meteens word ons bewus ons word omring met ballonne en vrolike gesinnetjies, want dis Vadersdag.
“’n Paar jaar lank was Ina Rousseau my buurvrou oorkant die straat. Vanaf my balkon kon ek afkyk op haar agterplaas en haar daar sien, besig met haar ‘asvaal’ takies. Ek was net die redakteur van haar (enigste) bundel kortverhale, Soutsjokolade, en van ’n vertaalde kinderboek. Het ’n groot bewondering vir haar poësie. Ons het hoofsaaklik oor die telefoon gekuier, ook later toe ek weggetrek het in 1994; Sondagmiddae het ek wel haar oë en gryse hare bo die tuinmuur gesien wanneer ek die naweek se koerante vir haar neem. Sy had die gewoonte om vinnig deur ’n koerant te kyk en dit dan op die stapel te sit vir latere sorgvuldiger lees. Daarom het ek nie ’n onmiddellike reaksie op my joernalistiek verwag nie, maar as dit dae later gekom het, was dit gewoonlik gul en bemoedigend. Deur my resensies het sy glo teater toe gegaan. (Ander digters wat waardering vir my toneelresensies gegee het, was Merwe Scholtz en MM Walters.)
“In my vryskutjare het ek al ure en maande bestee aan die werk van Annelie Botes. Die jongste Thula-thula en die outobiografiese Tabernakel. O, kan die suster dramaties en emosioneeeeel raak! Dan kry ek dit reg om haar tot besinning te bring en aanvaar sy my voorstelle. Ons hanteer mekaar met vertroue en kan ons ook oorgee aan jillery soos blyk uit ons name vir mekaar. Sy noem haarself Bassontjie, Moeder van Gertruida, Die klein Olifantjie, Lietjie wat spot met die oom en aspris in 20 pt tik ter wille van sy swak oë, Ossewania of Skinderbek van die Baai. Sy noem vir my Madala, Ouderling, Oupoot, Chuck Botha, Oom Dén, wyse man van tale, Mister Diebie. Ek noem haar Liefste Annalieee, Doggie, Godekindjie of Annelietjie. Soms is ons AB en DB.
“My jongste witbroodjie is Mariël le Roux. Sy en haar man, Jean, wat lank op Hermanus gewoon het en tans naby Durbanville, het in dieselfde jare as ek op Worcester grootgeword. Haar eerste boek, Wilhelmina, kampkind op Java, wat ek vir Protea Boekhuis geredigeer het, was vir my die openbarende verhaal oor ’n buurtannie uit my jeugjare in die Brandwachtvallei. Ons het geweet sy’s van Nederland, maar nie dat sy in ’n Javaanse krygsgevangenekamp haar jeug deurgebring het nie. Met Mariël se tweede, Die naamlose (bekroon), is ons ook op Worcester en op plase aan die suidekant van die dorp langs die Breërivier. Ná al die jare lees ek steeds met bewondering hoe kreatief ’n skrywer reageer op die redakteur se vrae oor ’n onduidelikheid, ’n logika- of konsekwentheidsfout, ’n lomp sinskonstruksie, ensovoorts. Jy as redakteur maak dikwels ’n voorstel, maar joune is net nie so sprekend en prikkelend soos die skrywer se verandering nie. Mariël sal byvoorbeeld ook deur die hele manuskrip werk en soortgelyke helder wysigings aanbring.”
In 1981 word Danie se kinderboek Uil in die pad gepubliseer. Die hoofkarakter, Jako, is nie eintlik ’n bang seun nie. Hy hou daarvan om alleen in die bos en by die dam te speel. “Maar die skrik vir die uil dié dag was só groot dat hy nooit weer in daardie Engelse boek na die uilprent wou blaai nie. En as hy alleen deur die bloekombos stap, loop hy stadig en kyk stip, want as hy net betyds die uil kon sien, sou dit miskien nie so erg wees nie,” skryf Reinette de Villiers vir Skrywers en boeke.
“Die Uil in die pad is ’n verhaal van ’n seuntjie wat sy vrees vir ’n uil moet verwerk. Danie Botha maak sy debuut met hierdie fraai verhaal waarin hy ’n sensitiewe beskrywing gee van die kindergemoed. Die verhaal word deurgaans vanuit die kind se perspektief vertel en nooit word die verteller een of ander alwetende allesverstanende grootmens nie. Ons sien die grootmense soos Jako hulle sien – Mamma met haar veilige voorskoot en Oupa, die kierieman, wat net drie maal op die vloer tok om Ouma, die kleremaakster koffiemaakster te laat word. Jako se vrees vir die uil word as ’t ware verteenwoordigend van elke mens se persoonlike vrees of probleem, iets wat hy net moet verwerk.”
Vir Joan Kruger (Transvaler, 15 Februarie 1982) is dit ’n sensitiewe juweel van ’n verhaal “met sy suiwer uitbeelding van stemming en gevoel en mooi illustrasies”. Jeanne Goosen (Hoofstad, 10 Mei 1982) het sekere voorbehoude gehad, maar die skeppende taal en “sobere” manier van vertel is baie goed. En omdat die storie die leser laat nadink, maak dit Uil in die pad ’n boek met verdienste. Ook skakel Alida Bothma se illustrasies baie mooi by die verhaal in
Oor Homeros laat Danie hom as volg uit: “Teen 1998–1999 was die gonswoord ter wille van finansiële oorlewing ‘nis-bemarking’ by Tafelberg. Ek het op ’n middag ’n helder inspirasiebeeld gekry oor ’n afdeling vir gays in alle, alle genres. Maar van die begin af is ek helaas gewaarsku om versigtig en min uit te gee; dit moet ‘onder die kombers’ gebeur uit vrees vir teenstand van die hetero’s. En toe van die grootste boekhandelgroepe die gayboeke te gevaarlik beskou vir hulle gesinsgeoriënteerde boekwinkels, was die gevaartekens dadelik daar. Omdat daar nie ’n verskeidenheid genres gepubliseer is nie, is daar byvoorbeeld hoë literêre waardes van elke publikasie verwag wat onregverdig was. Later het ek ook met vervroegde aftrede gegaan omdat daar naas redakteur wees, ook verwag is dat ek buite my aanleg moes gaan en finansiële bestuur moes doen. Die afdeling het toe doodgeloop.”
Danie het nog altyd ’n besondere belangstelling in die toneel gehad en hy speel toneel vanaf 1972 tot 1973 vir die Groote Kerk KJA (As ons twee eers getroud is, Gerhard J Beukes) en die Teubes Prinsloo-toneelgeselskap (Ai tog, die vroumense!, Joan Retief). In 1976 verwerf hy ’n lisensiaat in voordrag en dramakuns aan die Akademie van Dramakuns (ADK) in Kaapstad, en is ook dosent daar tot 1986.
In dié tyd is hy sameroeper van die afdeling vir senior voordrag by die Kaapse Eisteddfod. As ADK-student is hy Cordenbois in Die geldpot (Eugène Labiche; vertaler Chris Lombard) en generaal Alonso in Dagboek van ’n soldaat (NP Van Wyk Louw) vir die Universiteit van Kaapstad se onderwysdepartement. Vir BAT is hy die Pottebakker in Montserrat (Emmanuel Roblés; vertaler Bartho Smit, 1977).
As stigterslid, voorsitter en speler van die intussen heengegane toneelgroep die Akademiespelers was hy betrokke by talle produksies in Die Kamer en op toer vanaf 1978 tot 1986. Daar was kinderproduksies soos Die kat kom weer (Truida Louw; die Koning, 1978), Lappies die Lappiesmous (Aad Greidanus; vertaler Wilma Stockenström; Alfons de Dikkerd, 1981) en Oom Dinges se poppewinkel (Conrad Seiler; vertaler Roy Niemann; Oom Dinges, 1982). Stukke vir volwassenes sluit in Moord! Moord! (Kenneth Lillington; vertaler Pieter Grobbelaar; Charles Popham, 1978), Ons hou konsert (Melt Brink en Robert Mohr; die dominee, 1982); hy skryf die skets Kantoormoles vir Gerard Scholtz se kabaret Laat ons nie praat nie (Oktober 1982), Eskoriaal (Michel de Ghelderode; vertaler André P Brink; die Koning),Mariken van Nijmegen (vertaler Rob Antonissen; die Pous), Karnaval ( Pieter-Dirk Uys; Boytjie, 1983), Doflig (Patrick Hamilton; vertaler Marie de Kock; speurder Rough, 1983), Graf vir ’n graaf (Esta Steyn; Majoor, 1983), Bitter lied van die somer (Dick Findlay; sersant Piet Venter, 1984), T in die Blou Kamer (Mikro, Bensen, 1985) en Ek onthou vir Mamma (John van Druten; vertaler Fred le Roux; oom Chris, 1990).
Vir BAT was hy regisseur van Graf vir ’n graaf (Esta Steyn, 1986), Die lawwe lyk (Esta Steyn, 1987) en Die spook van Verlatenfontein (FW Boonzaier; musiek en lirieke François Bloemhof, 1992). Vir PAT: Ons dorp (Thorton Wilder; vertaler Fred le Roux, 1987) en Voëlvry (verkort; DJ Opperman, 1988). Vir die Akademiespelers: Die verminktes (Bartho Smit, 1980), Liebelei (Arthur Schnitzler; vertaler Karel Schoeman, 1986) en Komete (George Louw, 1986).
In 1975 is hy Faan in die eerste opvoering van Wilma Stockenström se Die laaste middagmaal onder Limpie Basson se regie in die Buiteruimte.
As radiospeler was Danie Botha vanaf 1977 byvoorbeeld huilende skurke in Springbokradio-vervolgverhale, bedremmelde mannetjies in Suzanne van Wijk se radioteaters, of ’n komiese gesinsman in Die ABC van buurmanskap vir Pierre Louw. Hy voer onderhoude met skrywers vir Daniel Hugo en Nic Swanepoel se programme en doen die volgende radioverwerkings: Eldorado (Bernard Gilbert, 1966), My spook-ontmoeting op die En-See-See (CJ Langenhoven, 1998) en Om ’n man te koop, Die harde klippe, Jy ken nie vir Pa nie en Die Woensdagmiddag van mevrou Retief (Dalene Matthee, 2009) vir Radioteater.
In 1998 het hy weer in radiohoorspele begin optree, tot 2006. In 2007, 2009 en 2010 is hy ’n beoordelaar van die Sanlam/rsg-hoorspelwedstryd. In 2009 en 2010 stel hy drie Vers en klank-programme op en bied dit aan vir rsg (Margot Luyt). Vanaf Maart 2002 is hy een van die aanbieders van die kultuurprogram Kaapse Dagboek op Fine Music Radio in Kaapstad en bevorder hy Afrikaanse teater en musiek daarin.
Kerneels Breytenbach vra Danie in 1986 om toneelresensies vir Die Burger te skryf en hy doen dit aanvanklik as Christo Behrens weens sy verbintenis met die Akademiespelers, totdat ’n kunsbladredakteur sy regte naam per abuis gebruik het en hy teen daardie tyd uit die vereniging bedank het. Sy spesialiteit was studente- en amateurwerk.
Danie geniet veral die navorsing; die voortdurende uitdaging om die opvoering helder te beskryf – alles wat gebeur as vorm van geskiedskrywing, en om dit binne 500 woorde te doen.
Hy skryf ook boekbesprekings (hoofsaaklik van toneelboeke), artikels oor skrywers, en huldigings van akteurs, kollegas en skrywers. Dit was ook iets wat hy werklik geniet het, byvoorbeeld van PH Nortje, Minnie Postma, Berta Smit, Barrie Hough, Jill Fletcher, Albert Lintveldt, Louise Steyn en talle ander. Hy lewer ook in die openbaar huldigings oor Hennie Aucamp, Marzanne le Roux van der Boon, Pieter Fourie en ander.
Danie was ook lid van die beoordelaarspaneel vir die Fleur du Cap-toneelpryse van Distell van 1987 tot Februarie 2008, en in 2004 ontvang hy erelidmaatskap van die Masque-teater in Muizenberg vir bevordering van amateurtoneel.
Later in 20017 lewer Danie wel nog boekresensies vir die boekeblad en huldigings van skrywers (in lewe en nadoods). Vroeër het hy ook verskeie akteurs nadoods gehuldig. Gelukkig het die Fleur du Cap se teaterwebruimte sy Burger-resensies gebruik en van toe af het hy groot skeppende vryheid ervaar om spesiaal net vir hulle te skryf waaroor en hoe lank hy wil.
Op LitNet vertel Danie oor sy eerste “persoonlike ontmoeting” met ’n toneelspeler, die eerste maal dat hy aan een se hand geraak het: “[Dit] was met die NTO se Jeuggroep se Wie de drommel is Paskwaal? in die Paul Biesenbach-saal op Worcester in 1962. Mense soos Cobus Rossouw, Jannie Gildenhuys, Leonora Nel, Ernst Eloff, Roelf Laubscher, Irene Durr en Damaris Loubser het toe al ons voorgeskrewe werk tot lewe gebring met ’n tafel en stoele en mimiek. Maar nou het hulle ons volledig bekendgestel aan die magiese van die teater met ’n vollengte-stuk. Kort voor pouse laat hulle vanuit die kantverhoog papierborde reën op die verhoog. Een het afgevlieg tot vlak voor my waar ek as adolessent in die heel voorste ry sit.
“Tydens die pouse bly ek sit. Ek is alleen daar, sonder ouer of vriend. Toe verskyn hy om die gordyn wat oopgebly het, loer na ons en glimlag met ons. Ek herken hom as die man wat op die reklamefoto’s so met sy héle gesig lág dat die oë klein word: Limpie Basson.
“Hy begin die borde op die verhoog optel. Gespanne sit ek. Sal ek ... sal ek die bord optel, die paar treë vorentoe stap en dit vir hom aangee? Ek weifel en weifel. Uiteindelik dóén ek dit. En die godewese van die teater neem dit by my, glimlag, en die ene tande sê hy: ‘Dankieee!’ Kon ek maar die fensie aksent en hartlikheid weergee!”
In 1995 word Danie se bundel gay-verhale Die Soft Rock Klub by Tafelberg gepubliseer. In ’n onderhoud met Rachelle Greeff in De Kat (Augustus 1995) skryf sy dat ’n leser wat begrip het vir homoseksuele mans se ewige en eensame soeke na vervulling, deernis sal hê met die skrywer. “Die vernedering, hoon en verwerping wat dié mans ervaar, word ontsettend nugter aangebied. Maar dit kan die sensitiewe leser walg, veral as jy nie ’n aanvoeling het vir ’n naakte register van manlike geslagsdele nie.
Danie het vermoed dat hy kritiek gaan kry uit die geledere van die NG Kerk, wat homoseksualiteit in daardie jare steeds verdoem het. Rachelle wou weet hoe hy hierop sal reageer as godsdienstige gelowige en Sondagskoolonderwyser aan die een kant en as nuwelingskrywer wat strewe na ’n eerlike, oortuigende teks aan die ander kant.
“Ek weet nie, ek weet nie wat my gaan tref nie. Ek is gewaarsku, maar kon tog nie stilbly nie. Ek wil aanvaar word soos almal om my, en omdat die gay nog in ’n groot mate onderdruk word, is daar ’n drang om oop te maak. Byna om ekshibisionisties te wees. Ek ly seker aan emosionele armoede, maar ek was so eerlik omdat ek nie van beter weet nie. En omdat ek nog nooit in ’n vaste verhouding was nie, is ek in ’n mate roekeloos.”
In daardie jare is Danie onverpoos ’n lojale lidmaat van die NG Kerk. By die Groote Kerk in Kaapstad was hy tot 1994 Sondagskoolonderwyser, diaken en ouderling. Daarna het hy standerd sessies gekatkiseer by die NG Kerk Tamboerskloof. “Ek is baie lief vir kinders en sou graag my eie wou gehad het. Ek gee al Sondagskool van standerd nege af en gebruik baie van my toneelondervinding in die klasgee-situasie. Dis steeds vir my fassinerend – dis soms al band wat jou aan jou geloof laat vasklou.
“Maar gelukkig is ek nie seksueel tot kinders aangetrokke nie. Ek probeer by kinders bloot ’n begrip tuisbring van homoseksualiteit. Ek sal byvoorbeeld ’n verheerlikende les gee oor die huwelik tussen man en vrou op die mees entoesiastiese manier en dan vir die kinders suggereer dat hulle nie moet spot of lag indien hulle met gays te doen kry nie. Hulle moet weet ’n homoseksueel kan gelowig wees. Die NG Kerk sê hy verwerp nie die mens nie, maar veroordeel die dade. En dis natuurlik onsin.”
Op grond van die artikel het die kerkraad hom namens verontruste ouers gevra om uit te tree.
Die boektitel Die Soft Rock Klub verwys na ’n Kaapse “draadtrekklub” waarvan hy die stigterslid was en hy skryf uit eie ervaring, vertel Danie aan Rachelle Greeff. “My boek is gerig op medegays, hoewel dit ook nie betrekking het op alle gay-belewenisse nie. Ek dink ek gee stem aan die middeljarige, Afrikaanse en juis Calvinistiese ou. Dis nie my bedoeling om mense op te sweep nie, hoewel sekere mense dit eroties prikkelend sal vind. Ander sal weer geskok wees. Baie mense kan homoseksualiteit met hul verstand beleef, maar sodra hul in direkte aanraking daarmee kom, dan kom hulle fobies uit. Dis ’n kant van die lewe waarvan die gemiddelde gelowige verkies om nie te weet nie.
“Ek wil sê: ‘Só is dit om gay te wees.’ Ek wil vra: ‘Kan ’n gay werklikwaar volkome gelukkig wees?’ En: ‘Wat maak hom anders?’ Ek wil vertel van die spanning in ’n mens om iets te wil doen, maar dit word op allerlei moreel-etiese gronde veroordeel.”
Hoe kon hy getrou bly aan ’n kerk wat ’n deel van sy menswees verwerp? Hy het byvoorbeeld ’n openhartige, pleitende artikel vir Die Kerkbode geskryf oor homoseksualiteit, ook soos beoefen binne kerkverband. Dié artikel is nie gebruik nie – net ’n swye het gevolg. “Al die wisselende uitsprake deur die eeue heen oor die aard van so ’n ‘alternatiewe’ lewenshouding, al die spannings by die gelowige homoseksueel – dui dit nie daarop dat homoseksualiteit ’n deel van God se raadsplan is wat ons nie verstaan nie? Ek dink dat ’n gelowige gay dit graag sal wil glo: dat God hom tog op een of ander manier anders beskou as wat die menslike Bybeluitleg dit wil hê.”
Die Soft Rock Klub verwys nêrens na vigs nie en dis nie dat Danie ongevoelig is daarteenoor nie; dis net dat hy geen ervaring daarvan het nie. Rachelle Greeff skryf in De Kat: “Maar hy verwoord ander gay-belewenisse op ’n manier dat dit jou dae lank bybly. Die een stuk skryfwerk wat nooit die lig gesien het nie, naamlik die gemelde rubriek wat hy aan Die Kerkbode voorgelê het, laat ’n mens óók dink. Wanneer gaan die NG Kerk die werklikheid volrond in die oë staar en sonder omhaal van woorde begin praat oor die pyn sowel as die plesier van die homoseksuele lewe?
Danie antwoord vir Rachelle: “Daar is ‘praktiserende’ homoseksuele wat gló in God. Hulle ervaar kontak met Hom. Hulle ken geestelike ekstase. As hulle hul oorgee aan promiskuïteit, sien hulle die negatiewe dinge wat met hulle gebeur – botsing met die gereg; afpersing; aanranding; gevoel van besoedeldheid, van vernedering; vrees; skuldgevoelens – as God se straf. Gelowige homoseksuele hou hulle dikwels blind vir die verdoemende Bybelse uitsprake; kleef liefs al die ander geloofswaarhede aan. Want as jy daardie uitsprake oordink, word dit nag vir jou siel.
“Maar intussen ervaar jy as homoseksueel wat in God glo, ook soveel genade van Hom. Al daardie verhoorde gebede ... Nee, soos Boerneef sal sê: Homoseksualiteit is ’n ding wat maar ammelee pla’.”
Die Soft Rock Klub se 19 kortverhale is in vier afdelings georganiseer. Die eerste afdeling, onder die hofie “1950–1964”, bestaan uit ses verhale oor die karakter Jako se kindwees, seunwees en seksuele bewuswording. Daarna word die rituele van cruising aan die hand van ses verhale in afdeling twee uitgebou. Afdeling drie sentreer rondom “die Soft Rock Klub” waarop die titel slaan, ’n private seksklub wat deur die karakter Hannes geïnisieer is. Met die laaste afdeling sluit die bundel af aan die hand van drie verhale waarin die ongeïdentifiseerde “ek” nabetragting hou oor gefrustreerde verhoudings.
Christell Stander skryf (Karring, Somer 1995): “Hoewel daar tekortkomings in die bundel is, is Die Soft Rock Klub ’n belangrike leeservaring wat nie net aspekte van seksualiteit blootlê nie, maar ook een van die min tekste in Afrikaans (en ander letterkundes) is waarin die ontwikkeling van die manlike karakter ontgin word. Dit is ook ’n teks wat, vanuit die vertoonkas van die gay letterkunde, beantwoord aan die heersende lesersbehoefte in Afrikaans om geskok te word. En Botha is bedrewe genoeg in die boekbedryf om te weet: mense wat in glashuise woon, kan nie klippe gooi nie. Daarom is dit lékker skok, skok met herkenning, skok sonder om vervreem te word.”
Lucas Malan (Afrikaans Stereo, 6 September 1995) het geskryf dat emosionele skeiding sentraal in hierdie bundel is en deurgetrek word vanaf die eerste tot by die laaste verhaal. “Dit is naamlik die sielkundige ervaring van verwerping, en reeds in die eerste verhaal lees ons hoe die jong Jako onwetend so ’n toestand tussen hom en sy pa diagnoseer. Die Soft Rock Klub is nie ontspanningsleesstof nie, maar is ’n gefragmenteerde lewensverhaal van emosionele leemtes en genadelose selfkonfrontasie.”
Volgens HP van Coller (Volksblad, 6 November 1995) is die klem in Danie se kortverhale op die traumatiese grensbestaan van die gay, soos by Koos Prinsloo en Hennie Aucamp. “Waar Prinsloo se werk verwysings na literatuur, literêre teorie, kuns en die psigologie veel meer opsigtelik gebruik, wek Botha se verhale die indruk van onmiddellike toeganklikheid.
“Tog bedrieg die skyn, want op subtiele wyse word aangesluit by talle Afrikaanse voorgangers. Verwant aan Aucamp is byvoorbeeld veral enersyds die fyn registrasie van die landelike wêreld en sy sosiale stratifikasie en andersyds die dekadente stadsbestaan. Ek bespeur ook verwantskappe met JC Steyn se Hoeke boerseuns ons was en Danie Botha se werk adem ook iets van die vroeë Leroux (veral Die eerste lewe van Colet) omdat dit nie net die ontwikkelingsgang van ’n jong sensitiewe seun skets nie, maar ook toon hoe die dinge wat verswyg en ontken word, welig tier te midde van die ‘normale’ en goeie.
“Die beskrywing van ’n traumatiese jeug waarin ’n onsimpatieke vader sentraal staan en die bykans grafiese beskrywing van homo-erotiese seks, roep weer die werk van Koos Prinsloo in herinnering, terwyl die asemtogte van Riana Scheepers en Jan Rabie in enkele verhale voelbaar is.” Van Coller noem dit ’n knap debuut.
Henning Snyman skryf in Die Burger (23 Augustus 1995) : “Die gay-paradigma moet deurentyd ook gelees word as ’n matriks waarbinne die verhaal van geestelike vereensaming en weerloosheid ontvou word. En, soos Eugène Marais se ‘Skoppensboer’, hou die ironie en die wrange humor genadiglik die wag. Die ‘goddelike komiek’ voltrek hom nie net in die gay-lewe nie, almal leer ontnugtering en ontbinding ken. Die Soft Rock Klub is ’n puik boek, en is ’n belangrike toevoeging tot sowel die Afrikaanse gay-literatuur as Afrikaanse prosa en letterkunde.”
Danie vertel in ’n onderhoud met Theunis Engelbrecht (Beeld, 31 Julie 1995) dat die stories in Die Soft Rock Klub almal outobiografies is. “Dis basies my ervarings, my lewensverhaal ingekleur in verskillende personasies. Daar is uiteenlopende reaksies op my boek. Party mense waarsku my en sê ek gaan probleme kry, ander bewonder my vir my moed, ander beskerm en bejammer my.”
“Daar was ’n tyd toe ek my homoseksualiteit weggesteek het en bang was dat dit ontdek word. Ek het egter al meer begin uitkom, en dit is nie meer vir my ’n risiko nie. Ek is ook emosioneel ryper. As ’n gay wat wil oopmaak, uitpraat en bieg, ontdek jy dinge oor jouself. Jy maak jouself oop vir jou mede-gays en sê vir hulle hulle is nie alleen nie, jy maak jouself ook oop vir straights, en hulle sê dit is nie ’n plesierige prentjie nie.”
Aan Emile Joubert (Die Burger, 11 Augustus 1995) vertel Danie dat die karakter(s) in sy stories meestal hyself is – die pikkie wat ’n bietjie liefde van sy pa soek. “Die man met die vreemde vriendekring en stigter van die Soft Rock Klub, ’n draadtrekklub wat hy in die negentigerjare in sy Hofstraatse woonstel bestuur het. Die weifelende Samaritaan. Hoewel ek graag sal wil dink dat elke storie sy eie siel het, is daar deurlopende temas wat, volgens my, die bundel in geheel versterk. En as ek dink aan die reaksie op die boek tot dusver, voel ek baie mense kan hulle met my lewe en my stories vereenselwig. Van my vriende het ná die lees van die boek met my begin praat oor eensaamheid en ontstellende gebeurtenisse in hul lewens. Ek twyfel of hulle dit sou gedoen het as die boek hulle nie kon raak nie. En is dit tog nie maar waaroor dit gaan nie, om jou hand of jou pen uit te steek en ander mense te raak?”
Danie begin in November 2002 die afdeling vir gay skrywers Gay@LitNet op LitNet en hy beskryf sy tyd daar as ’n opwindende en baie kreatiewe tyd, maar in Augustus 2006 het hy hom onttrek aan die webruimte as gevolg van sensuuraksies van die LitNet-topbestuur.
In 2003 was daar ’n polemiek op LitNet nadat die gospelsanger Danie Botha by die NG Gemeente Elsburg-Suid aan die Oos-Rand gesê het mense moet só geskok wees dat hulle hulself uit die homoseksualisme uit skrik en dat gays nie hemel toe sal gaan nie. Danie het dadelik vir Danie, die sanger, geantwoord en dit het die polemiek aan die gang gesit.
Ook in 2003 was daar ’n briefwisseling tussen die akteur en regisseur Albert Maritz en Danie op LitNet oor Albert se stuk “Die Afrikaanse teater: apatie en (hopelik) daarna” en veral oor Albert se stelling dat Afrikaanse teater nie meer in aanmerking kom vir die “Fleur du Caps of watter toekennings daar nog ook al is nie”. Danie, wat gedurende daardie tyd ’n beoordelaar van die Fleur du Cap-toneelpryse was, het hierop gereageer.
In 2006 word Danie se boek oor die beginjare van die beroepstoneel in Suid-Afrika, Voetligte en applous!, by Protea Boekhuis uitgegee. Hoewel die boek ’n historiese lyn het, is dit meer ’n boek van anekdotes. “Ek probeer die hele proses van die beroepstoneel van 1925 tot omstreeks 1948 beskryf. Van die oudisies, regdeur tot by die reis tussen dorpe, die opvoer in kerksale en akteurs wat in plaasdamme moes bad. Ek wou graag oor almal uit daardie jare skryf, maar het besef dit sou onmoontlik wees. Ek het uiteindelik besluit om oor die pioniers te skryf. Oor Wena Naudé, André Huguenet, Lydia Lindeque, die Hanekoms en meer.” (Volksblad, 26 Mei 2006)
In haar resensie het Madeleine van Biljon (Die Burger, 28 Februarie 2007) geskryf dat Botha ’n keurig-versorgde geskiedenis met talle foto’s (daar kon meer gewees het) en ’n nuttige indeks bied wat vir enige toneelbelangstellende ’n ongelooflike inligtingsbron is. “Die boek getuig van nougesette navorsing en Botha kan net gelukgewens word met ’n baie meer as net ’n knap stuk werk. Myns insiens sou dit kan dien as ’n tesis vir ’n graad. By gebreke aan so iets, verdien hy elke woord van waardering wat na sy kant kom en is die paar stukkies kritiek wat ek sou hê, blote vlieëvangery.”
JL Coetzer skryf in Literator van Augustus 2006 dat Voetligte en applous! beskou kan word as ’n voortsetting van FCL Bosman se Drama en toneel in Suid-Afrika en ’n aanvulling tot LWB Binge se Ontwikkeling van die Afrikaanse toneel 1832 tot 1950. “Enkele ander oorwegings beklemtoon die verdienste en noodsaak vir die publikasie vanVoetligte en applous! verder. Botha het, eerstens, in sy navorsing van bronne gebruik gemaak wat moeilik bekombaar of ontsluitbaar sou wees. Dit sluit koerantknipsels in wat vanweë hulle ouderdom nie in openbare, elektroniese argiewe beskikbaar is nie, ongepubliseerde dokumente (verslae, dagboeke en ander) in NALN se Bloemfontein-versameling, die Dokumentasieversameling van die JS Gericke-biblioteek van die Universiteit van Stellenbosch, ensovoorts, en selfs herinnerings deur spelers en kennisse, wat op versoek van die outeur geskryf is of met wie onderhoude gevoer is.
“Die outeur het, tweedens, nie net van skaars bronne gebruik gemaak nie, maar uitvoerig daaruit aangehaal – tot drie bladsye op ’n keer. Veral in die geval van NALN- en ander argivale dokumente is dit ’n welkome werkwyse, omdat hy daardeur bronne wat slegs binne NALN gebruik kan word vir sy lesers toeganklik gemaak het. Daarby dra die veelheid van perspektiewe wat uit die dokumente spreek, by tot die geskakeerdheid van die menings. In sommige gevalle stel hy teenoorstaande standpunte direk na mekaar aan die woord.
“Dit beteken, derdens, nie dat Botha as blote kompilator opgetree het nie. As die onsigbare hand (organiserende instansie) is sy teenwoordigheid in die manuskrip onder andere merkbaar in die keuse en organisasie van die grondstof. (...) Voetligte en applous! bied ten slotte, nie net ’n beeld van ‘[b]eginjare van die Afrikaanse beroepstoneel’ nie (luidens die newetitel), maar ook ’n spieëlbeeld van ’n kultuurgroep en gehoor op ’n bepaalde tydstip: berug én irriterend om sy laglus tydens gehoorsituasies, aangrypend om sy naïwiteit wanneer die gehoor verhoogwerklikheid en -personasies met hulle eie werklikheid en bekende (historiese) persone verwar, in opvoerings waarin Ampie sy hart teenoor ’n donkie uitstort, op ’n verhoog waarvan die gordyne en rekwisiete/meublement by die gehoor vir die aand geleen is.”
Hierdie toneelboek lê vir Danie baie na aan die hart en hy vertel dat hy baie aangename herinneringe aan die navorsing en skryf daarvan het. “O, die opwinding om by NALN deur die talle leggers te werk! Buite ’n ysige koue, ligte sneeu selfs, en hier voor ’n verwarmer gaan jy die verlede in na die pioniertoneelspelers se leed, avonture en prestasies. Kort-kort iets wat jy ontdek waarvan jy weet dis nog ’n interessante stukkie van die legkaart. Ek het geweldig lief geword vir Bloemfontein. Ook meevoerend om in Die Burger se stokou ingebinde koerante op ’n Saterdagmiddag die verlede te herbeleef. Om teleurgesteld te wees as jy lees ‘Van Zyl verdwyn van die toneel’ en dan is dit ’n ou wat ’n verkiesing verloor het. Jeanette Ferreira het gesorg dat ek die boek so vakkundig moontlik maak en Martjie Bosman het tot die eindstreep met my geloop. Ja, ek het ongeduldig geword oor die lange swangerskap, maar die einde was wel salig met al die bekendstellingsgeleenthede tot op Prince Albert en Calitzdorp.” (Die Burger, 9 Desember 2011)
Deborah Steinmair (op LitNet) vra Danie as redakteur van Gay@LitNet in 2004 onder andere of hy ’n Zen-agtige plato van innerlike vrede bereik het en of sy lewe meer uitgesorteer is as byvoorbeeld tien jaar gelede en indien dit wel so is, hoe het hy daarby uitgekom? “Onseker. Kan maar steeds soms hel-uit depressief raak. Kan ’n LYS opstel van dinge wat my grensloos irriteer. Vroeër was ek vol verlangens, vrese, inhibisies, stres; deesdae raak ek doodgewoon kwaad, gee my byvoorbeeld oor aan e-pos-woede. Fisieke veroudering, tanende libido, die feit dat ek as afgetredene en vryskut dinge doen waarvan ek hou – ja, dit dra heelwat by tot gemoedsrus.” Sy ideaal daar in 2004 was om “weg te kom uit die middestadwoonstel en saam met ’n stabiele, redelik gekultiveerde en Afrikaanssprekende ou in ’n voorstadhuis te gaan woon. Wag aansoeke in. Hulle sal moet kom vir oudisies soos destyds met die draadtrekklub.”
Oor wat hom laat lag het Danie as volg gereageer: “Iemand wat iets uit eie ervaring vertel en dan die karakters veral stemgewys naboots. Haat toilet- en selfs seksgrappe.”
Wat verskaf aan hom die grootste mate van werksbevrediging – akteur of regisseur? “Ek wás dit en hoofsaaklik op amateurvlak. Is moeilik om te besluit. Dalk regie? Maar die adrenaliensituasies van self speel? Maar hoe goed was ek werklik met albei? (...) Ek voel dat ek as ouer man tans beter werk lewer omdat ek minder gespanne is. Vir die radio is ek altyd skurke of karakters met baie fisieke aksie! Sal so graag sensitiewe oujongkêrels of dominees wil speel.”
Danie vertel in 2010 aan LitNet: “Uit ondervinding met Homeros weet ek dat die gayletterkunde moeilik is om te bemark. Daar is soveel voorbehoude en verskille van opinies by die letterkundiges, skrywers, redakteurs, boekhandel en binne die gaygemeenskap self. Dit gee nou aanleiding tot iets waaroor ek op die oomblik nog nie helderheid het nie. Ek skryf graag oor my kinderdae of sake wat dan tot ’n meer algemene mark kan spreek; maar ek het ook die gay ervaringswêreld wat ek wil en kan deel met ander geesgenote. Ek twyfel of ek ’n bemarkbare boek sal kan maak met albei verwysingsraamwerke saam daarin. Ek wou dit nooit teenoor myself erken het dat die lang ure se keur, redigeer en proeflees van ander se werk my eie skryfwerk erg verhinder nie. Maar daar is iets van waar. My produksie is dus klein en daar’s nie juis ’n stimulus tot gayverhale in boekvorm nie. Die enigste uitkoms is LitNet. Ek het sedert 1981 verskeie kortverhale vir volwassenes en kinderverhale in versamelbundels, in tydskrifte (Tydskrif vir Letterkunde, Sarie, Rooi Rose) en op LitNet gepubliseer wat ek sou kon bundel.”
Met Danie se sestigste verjaardag in 2007 het Charles Fryer (Die Burger, 28 Februarie 2007) hom as ’n volronde, komplekse mens beskryf wat bo alles die drang tot diensbaarheid uitleef. “Hy raak baie entoesiasties oor dinge wat hom na aan die hart lê, en sy kinderlike opgewondenheid is aansteeklik. Danie kan ook onthutsend eerlik wees. Maar of sy oë blits van woede of blink van vertedering, die mense wat hom ken, wil hom niks anders hê nie. Vir my is hy ’n kosbare, kostelike, lojale vriend met wie jy oor enigiets kan gesels: van stront tot die hoogste sin, van enigiets op hierdie ou aarde tot by ‘die berg wat donker staan’. Danie is ’n vriend vir alle seisoene.”
In Augustus 2011 ondergaan Danie ’n drievat-hartomleiding. En op 24 November 2011 was hy op sy pos toe hy en Wium van Zyl deur die ATKV vereer is met oorkondes. Die motivering vir die toekenning van die oorkonde aan Danie is deur JD Gouws (destyds besturende direkteur van die ATKV-groep) gelewer: “Vir sy groot bydrae as redakteur van hoogaangeskrewe Afrikaanse letterkundige publikasies asook vir sy bydrae tot die Afrkaanse toneelwêreld (onder andere as hoorspelakteur) en as skeppende skrywer in Afrikaans.
“Sy bydrae om die Afrikaanse taal op bogenoemde wyse uit te bou en te ontwikkel word hooggeag en ondersteun die ATKV se visie ter bevordering van ’n suksesvolle Suid-Afrika waarin Afrikaans ’n onmisbare rol speel.”
Danie vertel aan Murray la Vita (Die Burger, 9 Desember 2011) dat hy graag soos PG du Plessis se Tiemie ‘van geweet wees’. “Ek dink daardie ding van ek wil van geweet wees, is dalk onderliggend dat ek toneel gespeel het tenspyte daarvan dat ek nie werklikwaar ... wel, ek het sukses gehad as toneelspeler ook, maar by die radio het ek agtergekom dat dit nie vir my maklik kom nie.
“Ek het byvoorbeeld ’n lettervrees gehad. As ek sien daar is ’n stukkie in die teks waar daar nou ’n ‘td’ is, dan het ek ’n vrees gehad en dan haak ek vas by daardie woorde. By Springbokradio het ek baie gespeel. Toe ontdek Bennie Fritz, skrywer van vervolgverhale op Springbokradio en verhaleredakteur by Huisgenoot, ek kan goed huil. En toe is ek altyd die skurke wat huil. Dan was dit lekker, want dan hoef ek nie bekommerd te wees as ek oor my woorde val nie.
“Ek het as kind gehakkel. Nie erg nie, maar ek het gestotter. Maar deesdae vind ek met die ouderdom is ek rustiger en het ek nie daai spraakprobleem nie.”
Sedert 2014 werk Danie op vryskutbasis vir Protea Boekhuis en Naledi Uitgewers, hoofsaaklik betrokke by die redigering van publikasies. “By Naledi werk ek saam met skrywers soos Rita Gilfillan, Stefan Enslin en Joubert Odendaal. Ek hanteer ook die werk van iemand uit my Tafelberg-jare: Hennie van Deventer.”
Vir Protea Boekhuis stel hy in 2015 die bundel oor Hennie Aucamp, Om Hennie te onthou, saam en in 2018 is hy ook betrokke by die uitgee van Charles Fryer se passiespel Só moes die liefde ly.
In 2014 gee Tafelberg Uitgewers Die helder dae uit. Die subtitel is outobiografiese verhale, rubrieke en essays. George Louw redigeer dit as vryskut en Etienne Bloemhof is die uitgewer.
Op LitNet skryf Kerneels Breytenbach oor Die helder dae: “Die geslagte van die toekoms sal Die helder dae beskou as kleinood, ’n versameling kosbare inligting oor die lewe aan die Kaap van Storms in die jare veertig tot vroeg 21ste eeu. Dit bou ’n beeld van die groot verskeidenheid mense wat almal bygedra het tot die kulturele sfeer van dié tydperk, soos vertel deur iemand wat gelukkig genoeg was om daardie mense almal te geken het. Vir die studente van die letterkunde en toneelkuns sal dit ’n onvervangbare verwysingspunt word.
“Vir die tydgenootlike leser is daar ander vondste. Ek was gelukkig genoeg om Danie Botha in die jare sewentig te leer ken toe ek by Die Burger begin werk het en hy by Tafelberg-Uitgewers was. Hy was die een wat die versugting uitgespreek het dat Die Burger ook aandag aan amateurtoneel moes gee, en Leendert Dekker voorgestel het as resensent daarvan. Dit het goed gewerk, totdat ek deur ’n sameloop van omstandighede (Dekker kon iets nie resenseer nie, en Danie het ons uit ons nood verlig) ontdek het dat Danie as resensent dit is wat vandag as ‘the real deal’ beskryf sou word.
“Later het hy ook rubrieke vir die kunsblad geskryf, hoofsaaklik oor die dinge wat hom geïnteresseer het: die letterkunde en teater. En so met die verloop van tyd, nadat ek uitgewer geword het, het ek begin dink ek ken Danie Botha goed. Ek was verkeerd.
“Die helder dae is ’n versameling outobiografiese tekste wat vantevore in koerante, tydskrifte, bloemlesings en op LitNet verskyn het. Botha het ter wille van die geheelbeeld artikels bygeskryf. Sodoende kry ons ’n indringende en omvattende blik op ’n heel besonderse lewe. (...)
“En tog kan mens maar begin soek na ’n geseur oor die negatiewe dinge van die lewe; jy sal dit nie kry nie. Die titel van die boek is Die helder dae, wat dit uitdruklik uitspel dat hy nie wil skryf oor die dae waarin die lewe se somber, depressiewe sy jou oorweldig nie, maar oor daardie dae en tyd wanneer jy die helderte van skoonheid, genot, naasteliefde ens ervaar. Die helder dae is in ’n majeursleutel geskryf. (...)
“Vir my was die verrassing die insluiting van sy bydraes tot Die Kerkbode. Botha se lewe is gerig deur sy godsdiens, maar hy was nog nooit iemand wat daardie aspek in die gesigte gevryf het van die mense wat by die werk met hom saamgeleef het nie. Wanneer mens na baie van die stukke wat hy in die jare negentig en later vir Die Kerkbode geskryf het, gryp hy terug na insidente en dinge uit sy jeug en beroepslewe, en leer ken jy sy innigheid, sy warmte en medemenslikheid.
“Deur die jare het ek sy knorrige sy al beleef. Die helder dae wys hoeveel méér daar is.”
Ook Herman Lategan (Beeld, 16 November 2014) komplimenteer Danie Botha met Die helder dae en hy sluit sy bespreking af: “Die lys van mense (in Die helder dae) is soos ’n spyskaart vol wonderlike ‘mensdisse’ en dit is ’n plesier om so lekker oor elkeen te lees. Soos die flapteks sê: “Enige leser wat belangstel in die Afrikaanse letterkunde en teater, op watter vlak ook al, sal Die helder dae insiggewend en besonder onderhoudend vind’.”
Schalk Schoombie is die resensent van Die helder dae in Rapport van 7 September 2014 en ook hy is getref deur Danie Botha se herinneringe aan dae, mense en gebeure. “Die geheelbeeld van ’n kindertyd, skooldae, ’n loopbaan as Tafelberg-uitgewersredakteur, toneelresensent en afgetredene kan hier – gegewe die titel – verbasend donker opdoem. Hierdie herinneringe word bevolk met skadu’s, swaar en seerkry.
“Só word daar onbevange vertel van onvervulde hunkering om aan ’n Kerskonsert deel te neem, net om bruusk weggewys te word, van armoedige grootwordjare, karige Kersgeskenke, in later jare erge depressie, asook selfbeeld- en gewigsprobleme. Die versugting van die alleenloper kom ook aan die bod, asook insidente van aanranding op straat, frustrasies met lawaaierige bure, ensovoorts. (...)
“Die helderheid van die titel setel in die skerp terugroep van vergange rituele, plekke, mense en vormingsmomente, in fyn aandag aan detail met welgekose woorde wat as ’t ware die verlede uit die newels laat herrys. (...)
“Die gevoeloge, onbeskroomde taalgebruik, wat spreek van dekades as toegewyde taalman, verleen aan elke storie ’n skreiende onmiddellikheid en poëtiese eerlikheid wat aan die hart gryp. (...)
“Sy essays, huldeblyke en vignette ( oor skrywers en outeurs), immer met deernis en humor benader, is van belang vir liefhebbers van die letterkunde en uitvoerende kunste en kan selfs as waardevolle Africana aangeteken word. Die skrywer se liefde vir die geskrewe en gesproke woord spreek helder uit elke bydrae. (...)
“Die helder dae, met groeiende helderheid te midde van donker én ligbestraalde dae, is ’n beleë boek wat die leser meevoer, byna laat voel jy ken dié vrygewige skrywer as mens van binne en buite, nes ’n troue vriend met wie jy kosbaarhede deel.”
Danie vertel aan LitNet dat hy “volgens die reëls” op Sondag 2 Augustus 2015 net ná 14:00 by die aftreeoord in Bellville Huis André van der Walt ingetrek het. Ook daar sit hy nie stil nie. Sy eerste werk nadat hy daar ingetrek het, was die proeflees van Die beste spookstories van CJ Langenhoven wat toe in ’n klein formaat uitgegee is. Margot Luyt het van die verhale laat voorlees in die radioprogram Kortom.
Danie begin ook om resensies vir Fine Music Radio in Kaapstad te lewer. Hy vertel aan LitNet: “Ampie Muller was lank die organiseerder en aanbieder van FMR se maandelikse boekeprogram, ‘Boekkeuse’. Hy het vertel dat hy besluit het om my te nader vir resensies nadat hy Die helder dae gelees het. Ek is bevoorreg om die werk voort te sit saam met sy opvolger Amanda Botha. Ná uitsending lê ek die teks voor aan LitNet vir publikasie.”
Sêgoed van Danie Botha
Na die verskyning van Die Soft Rock Klub: “Die feit dat ek eksplisiet skryf, hang saam met daardie deel van die gay psige om uit te flap – maar dan moet ek dadelik bysê dat hierdie een van die baie stereotipes is wat oor gay mense bestaan. Ondanks die stereotipes bly gay mense uiteindelik almal individue.” (Beeld, 31 Julie 1995)
Oor die kontroversie rondom Die Soft Rock Klub: “Wat help dit ek probeer myself verdedig? Ek weet waar ek staan met my geloof en hoe ek daaroor voel. En terselfdertyd is ek nie skaam oor die onderwerp van my boek nie.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)
“Maar die wag vir die resensies is hel. (...) As toneelkritikus het ek my al dikwels in die skoene van die akteurs geplaas, gewonder hoe hulle oor kritiek voel. Miskien die dag gevrees dat ek self aan sulke kritiek en ontleding onderhewig sou wees.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)
Soek hy nie resensies nie? “Nie slegtes nie! Nee, resensies is ’n noodsaaklike euwel en as redakteur weet ek dis meestal goeie publisiteit net om ’n boek se titel en ’n skrywer se naam in druk te sien. Ek weet watter emosies ek in my boek gesit en waarom ek oor sekere dinge geskryf het. Daardie dinge wil ek met die lesers deel, daarom is ek bang lesers sien dit nie raak nie. Of miskien sien 90 persent dit raak, maar ek hoor dalk net van die resensente wat nie my idees oor die boek deel nie. Miskien sien ek dit op te ’n intieme en persoonlike vlak.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)
“My lewe is die vak wat ek die beste ken en die helderste oor kon skryf.” (Die Burger, 11 Augustus 1995)
Oor die gayterrein (in 2004 aan Deborah Steinmair op LitNet): “Jy sal my nie in ’n gaykroeg of -klub kry nie; ek sterf voor ek fopdos; ek voel my nie tot gaytrotsparades gedrewe nie. Maar ek staan nie veroordelend daarteenoor nie. Jy sal my wel by Adult World se ‘video lounges’ of die minder ‘prissy’ gaystoombaddens aantref. In die ou dae op Sandy Bay en Graaff se Poel. Dis deel van die opwinding van Gay@LitNet: om al hierdie fasette van die gaylewe onder woorde te kry. Ons is in sekere opsigte nes die straights, maar in ander opsigte beslis anders, of vermoedelik anders. En as ons dan in groepsverband optree, kan jy die saligheid van ondersteuning, identifisering en geesgenootskap ervaar. Maar, og, soms kan ’n mens ook baie ‘uit’ voel tussen die klomp. As hulle jou eers met daardie harde visoë aankyk, as jou soort humor in kille stilte ontvang word ...” (LitNet, 20 Julie 2004)
Weer Deborah Steinmair in 2004: “Jy is kort na die Tweede Wêreldoorlog gebore en het die geboorte van die rekenaar en die wêreldwye web meegemaak, interessante tye voorwaar. In watter eeu sou jy wou leef as jy kon kies?” Danie: “In die jare sestig en sewentig van die twintigste eeu toe ek nog lekker patrioties kon raak met ’n volkslied, landsvlag en die FAK-sangbundel, met geestelike oorgawe na die dienste van die NG Kerk kon gaan, toe dit makliker was om wit, manlik en Afrikaans te wees, sonder die huidige gewetenskwessies en die ontstellende sedelike en politieke toestande. Maar, ja, ek moet terselfdertyd vra vir ’n rekenaar, e-posse en seksvideo’s. En DStv om sawends na Nederland toe te ontsnap.” (LitNet, 20 Julie 2004)
Watter vier historiese of lewende persone sou hy vir ete wou uitnooi? “Tennessee Williams, Anton Tsjechof, Stef Bos en die bleskop-weervoorspeller op BVN. As van hulle nie kan kom nie: Kenneth Tynan, Lucas Malan of Daniel Hugo.” (LitNet, 20 Julie 2004)
In 2007: “Ek weet hoe verskriklik dit is vir amateurtoneelspelers om negatiewe kritiek te kry, en my doel is om soveel as moontlik regverdig en omvattend daaroor te skryf. En ek probeer altyd, as ek byvoorbeeld ’n problematiese speler het, om ook iets positiefs oor hom te sê, saam met die negatiewe. My goeie wil is daar.” (Die Burger, 28 April 2007)
Oor sy navorsing by NALN: “O, die opwinding om by NALN (Bloemfontein) deur die talle leggers te werk. Buite ’n ysige koue, ligte sneeu selfs. En hier voor ’n verwarmer gaan jy die verlede in na die pionierspelers se leed, avonture en prestasies. Kort-kort iets wat jy ontdek waarvan jy weet dit is nog ’n stukkie van die legkaart.” (Die Burger, 9 Desember 2011)
Publikasies:
Publikasie |
Uil in die pad |
Publikasiedatum |
1981 |
ISBN |
0624016501 (hb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Geen |
Publikasie |
Die Soft Rock Klub |
Publikasiedatum |
1995 |
ISBN |
0624033996 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Kortverhale |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Voetligte en applous! Die beginjare van die Afrikaanse beroepstoneel |
Publikasiedatum |
2006 |
ISBN |
1869190904 (hb) |
Uitgewers |
Pretoria: Protea Boekhuis |
Literêre vorm |
Toneelgeskiedenis |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Publikasie |
Die helder dae |
Publikasiedatum |
2014 |
ISBN |
9780624070122 (sb) |
Uitgewers |
Kaapstad: Tafelberg |
Literêre vorm |
Memoires |
Pryse toegeken |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings beskikbaar op die internet |
Danie Botha as samesteller
- Hulde aan JD. Kaapstad: Tafelberg, 1987 [ISBN 0624025721 (hb)]
- In ons goeie boekies: skrywers en redakteurs oor Tafelberg-Uitgewers. Kaapstad: Tafelberg, 1991 [ISBN 0624030601X (hb)]
- Langenhoven, CJ: Die beste spookstories van CJ Langenhoven. Kaapstad: Tafelberg 1992, 2008 [ISBN 062403139X (hb); 9780624039624 (sb)]
- Nortje, PH:
- Wellington se suiker: die beste sketse van PH Nortje. Kaapstad: Tafelberg, 1993 [ISBN 0624032159 (sb)]
- Op ’n hoë noot: die lekkerste stories van PH Nortje. Kaapstad: Tafelberg, 2008 [ISBN 978-0-624-04665-3 (sb)]
- Party van ons: die Homeros leesboek 2001. Kaapstad: Homeros, 2001 [ISBN 0624040062 (sb)]
- Tien uit tien: stories en sêgoeters van Fanus Rautenbach. Kaapstad: Tafelberg, 2010
- Om Hennie Aucamp te onthou. Pretoria: Protea Boekhuis, 2015 [ISBN 9781485304746 (sb)]
- De Korte, Ilse: Om Hennie Aucamp te onthou
- Human, Thys: Huldeblyk aan ’n blymoedige gewer
- Koen, Dewald: ’n Gepaste blik op “dankbare gewer”
- Taljard, Marlies: Om Hennie Aucamp te onthou. (Samesteller: Danie Botha): ’n resensie
Artikels oor Danie Botha op die internet
- Botha, Jaco: Mense agter boeke: Jaco Botha gesels met Danie Botha, oud-uitgewer
- Danie Botha
- Engelbrecht, Theunis: Gay kortverhaalbundel het die tonge los
- Fryer, Charles: Danie Botha – vriend vir alle seisoene
- Hambidge, Joan: Botha soek te veel genade by die establishment-leser
- Joubert, Emile: Hand van ’n weifelende Samaritaan
- Steinmair, Deborah: Danie Botha: “Steeds bly die hoop op ’n volledige liefdesverhouding opspuit”
Artikels en skeppende werk deur Danie Botha op die internet
- 50 blertse blou deur Blouwillem: ’n FMR-resensie
- Alba Bouwer – ’n mens met waardigheid
- ATKV-huldiging: Charles Fryer
- Barrie Hough: Depressie slaan roostuin nie oor
- Blye weersiens van Christie se Mousetrap
- Die daggaboer deur Jean-Pierre de Kock: ’n FMR-resensie
- FMR-resensie: Hans steek die Rubicon oor deur Rudie van Rensburg
- FMR-resensie: Kammaland deur Annelie Botes
- Fine Music Radio-resensie: Oorlog en terpentyn deur Stefan Hertmans, vertaal deur Daniel Hugo
- Gedagtes rondom Charles Fryer se Só moes die liefde ly: ’n Passiespel
- Getuigskrif vir NALN
- Die keer toe ek my naam vergeet het deur FA Venter: ’n FMR-resensie
- The mystery of Irma Vep: ’n resensie
- Die nag van Legio: ’n teaterresensie
- Nooit meer slaap nie deur Willem Frederik Hermans: ’n FMR-resensie
- Ons het die Annamari Coetsers ook nodig
- Oom Kosie huil op ’n Sondag
- The play that goes wrong: ’n teaterresensie
- The road to Mecca: ’n teaterresensie
- ’n Skouer in die nag: dramateks
- Suddenly the storm: ’n teaterresensie
- Tartuffe, ’n teaterresensie
- Twelfth night by Maynardville: ’n resensie
- Verhuis [gedig]
- Vir ons plesier
- Waar ’n man nog kaal kan loop
- Wat kaal manne sê
- Weet jy dat ons Bothas se stammoeder ’n owerspelige was?
Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie.
Bron:
- Baie dankie aan Danie Botha vir sy insette.
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum
• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.
Kommentaar
Ek was in die laat jare sestig saam met Danie in die koshuis Helderberg op Stellenbosch. Ek wis destyds nie dat hy homoseksueel was nie, maar agterna sien ek in wat aan die gang was. Nie dat dit saak maak nie. Niemand kies om homoseksueel te wees nie; dit word vir jou gegee deur die natuur (God?) Daarom mag niemand 'n praktiserende homoseksueel veroordeel nie. En daarom kan 'n homoseksuele persoon ook voluit gelowig wees. (Net om te boekstaaf, die natuur het my heteroseksueel gemaak - is al 46 jaar gelukkig getroud). Ek het aangename herinneringe aan Danie. Mooi loop, vriend!
Dankie, Leopold. Ek verkondig gou met trots dat die ou wat ons deesdae sulke goeie leiding in die geskiedenis en politiek gee 'n keer van die stadsaalverhoog deur 'n dik politikus gestamp is. In die koshuis het hy luid en driftig protesteer teen swak kos. En daardie kamer waar al die Nazi-uitstallings was ...
Wonderlik om van jou lang 'reis' deur die lewe te lees. Hoop dit gaan baie goed met jou!
Dankie, Malinda. Ek slaan dadelik na in my Matie-legger.En daar is die digters van 1968:Edward Hammond,Charles Fryer, Fanie Olivier en ... Melinda Laubscher. Spelling van die naam verskil? Die Nel het mos later gekom. Dig in Afrikaans en Engels; doen dit graag op jou hand en is ook aktrise! Net goeie dinge vir jou. Danie
Wow, wat 'n wonderlike, vol en ryk lewe. Ek onthou Danie uit my kinderjare, hy was my Sondagskoolonderwyser. Sy stem en die manier waarop hy die klas aangebied het, sal my altyd bybly. Dit was nooit vervelig nie!
Later het ek hom by die ADK van Babs Laker raakgeloop. Danie het my ook oor die jare ondersteun en moed ingepraat met my eie skryfwerk, daarvoor is ek ewig dankbaar. Jy het jou lewe voluit benut, mooi so.
Dankie, Herman. Jy maak die ou man sommer aangedaan. Ja, waar's die Sondae bo of langs die Huppelland-kleuterskool by die gemeentesaal van die Groote Kerk in Kaapstad. Deesdae lees ek steeds jou Rapport-rubrieke summier en met waardering.
Saasveld 1967. 53 jaar, en die emmer bly nog nie geskop nie!
Sterkte met jou hartondersoek, Daantjie - ek hoop die omleidings hou nog ...
Ernst
Wat 'n vol en ryk lewe! Ek het met aandag en aantekeninge alles gelees! Dit is 'n eer om deel te word van jou lewe en jou te mag leer ken as redigeerder van my debuutroman! Ek verstaan so baie deesdae van die "emosionele leemtes, genadelose selfkonfrontasie en weerloosheid". Geestelike vereensaming? Nee, inteendeel, by my: geestelike verdieping, en meer so nadat ek van jou lewensreis gelees het! Self 'n hartpasient: het 'n ASD (groot opehartoperasie) ondergaan op 9 Feb. 2005, "and still going strong". Een ding waarmee ek absoluut identifiseer: "En dit is tog waaroor dit gaan, om jou hand of pen uit te steek en ander mense aan te raak!" en "van geweet wees" te kan wees en word ... Ek sien uit om verder met jou te reis!