The Road to Mecca: ’n teaterresensie deur Danie Botha

  • 0

Athol Fugard

The Road to Mecca. Suggested by the life and work of Helen Martins of Nieu-Bethesda

Met Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Emily Child.
Regie: Greg Karvellas
Stelontwerp: Saul Radomsky
Skilder- en beeldhouwerk: Adriaan van der Westhuizen
Beligting: Mannie Manim
Musiek en klank: Charl-Johan Lingenfelder
Kostuums: Birrie le Roux
Reklame: Christine Skinner

’n Aanbieding deur Eric Abraham en Daniel Galloway in die Fugard-teater, Caledonstraat, Kaapstad. Tot 19 Mei.

Dit is ’n besonderse voorreg om hierdie sterk toneelstuk deur Athol Fugard te beleef. Soveel bekroondes is hierby betrokke. Die tegniese versorging is deur hoogs ervare persone. Soos Mannie Manim, Charl-Johan Lingenfelder, Saul Radomsky en Birrie le Roux. Ons het te doen met regisseur Greg Karvellas wat die dramaturg geraadpleeg het en ook duidelik ’n voortreflike aanvoeling het vir die teks.

Op die verhoog het ons drie uitmuntende spelers: Sandra Prinsloo as die kunstenares Helen Martins van die Uilhuis op Nieu-Bethesda; Emily Child wat Elsa Barlow vertolk, die een met die sterk politieke bewussyn; en dan Marius Weyers as die gawe dominee Marius Byleveld (maar Elsa vertrou hom nie). Almal bekroondes. Oor baie jare heen het Weyers en Prinsloo al talle hoogtepunte in verskeie soorte toneelkuns gelewer.

Sandra Prinsloo, Marius Weyers en Emily Child

Reeds van haar eerste woorde af het Sandra Prinsloo my beïndruk. Haar stemgebruik is onteatraal. Sy praat “gewoon” soos ’n dame in haar laat jare sestig. Al haar kleiner bewegings herken ek as sewentiger as lewensgetrou. Sy lewer meevoerende stilspel. Wanneer sy die dominee met sy praatjies laataand stil aanhoor, kom die subteks duidelik oor na ons in die gehoor. Sy weet dat hy daar is om die vorm te kom haal wat sy moes geteken het sodat die kerkraad haar kan laat opneem in ’n ouetehuis op Graaff-Reinet. Terwyl sy lank na ons kant kyk, lees jy haar spanninge in haar gesig.

Emily Child speel deurgaans sterk en gevarieerd teenoor haar. Met hulle uitstekende samespel kom ons uit by gedagtes oor menslike verhoudings. Jy kry ’n bespreking daarvan en sien en hoor ook hoe hulle twee dit ondervind. Albei het maar dinge wat hulle nie sommer maklik sal bekend maak nie. Hulle wonder hoe dit kom dat jy by een mens volkome kan “oopmaak” en by ander nie.

Dit herinner aan die eerste strofe van ID du Plessis se gedig uit 1935:

Eenling is die mens gebore;
In die diepste van sy siel
Skuil ’n plek waar, mens-verlore,
Hy in eensaamheid moet kniel.

Hulle kom daarby uit dat liefde ook met vertroue gepaard moet gaan. Elsa vertel van die pa wat sy seuntjie wil leer hoe om te vertrou. Hy tel hom op iets hoogs en verseker hom hy kan maar afspring; hy sal hom vang. Wat hy nie doen nie. Dis die les wat die huilende seuntjie leer: “Moet in die sakewêreld op niemand vertrou.” Ná die opvoering onthou ek waar ek dié “grappie” al gehoor het. By ’n begrafnisdiens in 2006. Die dominee het daarmee die kinders probeer betrek. Ek was nogal ontstem daardeur. Maar nou vergewe ek hom. Hy’s tog ’n kultuurmens wat vir Fugard kon aanhaal ... sonder erkenning.

Elsa bespreek met Miss Helen ’n verhouding wat beëindig is. Sy skets die opwindende begin: “Like discovering the reason for being the person, the woman, I am for the first time in my life. And a little bit scary ... realizing that another person could do so much to your life, to your sense of yourself.”

Hulle beweeg al hoe sterker in op Miss Helen se geestes- en liggaamlike gesondheid. Moet sy nie mediese versorging kry nie? Moet sy toelaat dat ander haar versorg? Ouer mense kan hulle sterk vereenselwig met haar wroeginge.

Sandra Prinsloo en Marius Weyers

By haar as kunstenares is daar ook die vrese oor haar skeppingsvermoë wat afneem. ’n Mens sal seker die toneel waarin Sandra Prinsloo so fel dramaties daaraan uiting gee, nie lig vergeet nie. Ná die tyd sien ek in die teks hoe suksesvol sy Fugard se spelaanduiding gevolg het: “She speaks with an emotional intensity and authority which forces ELSA to listen in silence.” Dit begin met haar uitroep: “Darkness, Elsa! Darkness!” Die donkertes in haar verlede kon sy nog hanteer. Sy het haar huis omskep tot ’n “Little miracle of light and colour”. En daar’s die beeldetuin wat Elsa beskryf: “Camels and pyramids? Not three, but dozens of Wise Men? Owls with old motorcar headlights for eyes? Peacocks with more colour and glitter than the real birds?” Die figure kon sy doen nadat sy dit eers “gesien” het. Nou gebeur dit nie meer nie. Dalk wag sy tevergeefs. Die duister is “inside me, Elsa ... it’s got inside me at last and I can’t light candles there.”

Daar was vir my steurende elemente in die opvoering. Maar uiteraard sal daar ’n verskil van mening wees. Dit bly ’n kragdadige en uitsonderlike opvoering.

Daar’s ’n soort prosceniumboog oor die speelvlakke. Dis deel van Saul Radomsky se stralende stelontwerp. Die figure deur Adriaan van der Westhuizen roep die beeldetuin op. Dit sluit veral die kleinere beelde in. Dit is iets visueels wat egter nie aansluit by die realisme van spel en die verhooginkleding nie. Dis of die aard en inhoud van die teks tussen aanhalingstekens geplaas word. Onder regie van Mari Mocke het die Milnerton Players in ’n bekroonde opvoering in 2010 die beeldetuin baie beter ingeskakel by die verhooghandeling. Van die groter beelde was in die voorportaal te sien. Vir die gehoor was dit fassinerend om van die beelde agter die stel, geskep deur Fanus Bothma, raak te sien.

Die beligting was byna deurgaans baie helder. Min skakerings van lig en donker soos in die teks aangedui word. In ’n produksie van die Universiteit van Kaapstad se dramadepartement in 2007 is donkerte juis heel dramaties aangewend.

  • Foto’s deur Daniel Rutland Manners
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top