Dalk is hier legendariese probleme

  • 0

Die Oos-Kaapse multimiljoen-projek wat die Home of Legends heet, is vanuit die staanspoor in omstredenheid gedompel omdat dit na bewering mense volgens politieke affiliasie en ras of etnisiteit uitsluit.

Die projek is laat verlede jaar deur die Oos-Kaapse regering van stapel gestuur om die provinsie as ’n toerisme-aantreklikheid te posisioneer. Dit is veronderstel om beleggings na die provinsie te lok en sodoende duisende werksgeleenthede te skep.

Holisties gesproke is die projek se hoofdoel om die Oos-Kaap as ’n provinsie van die “home of legends” te verkoop. ’n Provinsie wat geboorte geskenk het aan uitsonderlike Suid-Afrikaners soos Madiba, wat die Oos-Kaap, en spesifiek Suid-Afrika, op ’n nasionale en internasionale vlak met geesdrif en tot hoë agting gedien het.

Vanuit die eerste wegspringblok is daar gefouteer deur na alle waarskynlikheid nie alle belanghebbendes – oor politieke, ras- en etniese grense – met of by die konseptualiseringsfase van die projek te betrek nie.

Dit het gelei tot eenoogbesluite – skynbaar met ’n groot dosis onderliggende nasionalistiese oogmerke – sonder om ander se leef- en denkwêrelde te betree.

Dit, indien doelbewus – en ’n mens hoop van harte dit is nie die geval nie – is ’n ernstige aanklag teen die heersers van die dag, omdat dit die sosiaal-bewuste “veronderstelde agenda” van die regering – soos dit voor 1994 deur die bevrydingsbewegings gepropageer was – ernstige skade berokken het.

Die organiseerders van die projek se eerste glips was om vroeër vanjaar ’n reusagtige advertensiebord in Oos-Londen en omliggende gebiede ten toon te stel met net sekere struggle-figure se gesigte as legendes daarop.

Die gesigte van Madiba, Chris Hani, Albertina Sisulu, Alfred Nzo, Winnie Madikizela-Mandela, Robert Sobukwe, Steve Biko, Oliver Tambo, Walter Sisulu en andere pryk op dié advertensieborde.

Die vet was behoorlik in die vuur, omdat die gesigte van oudpresident Thabo Mbeki, sy pa, Govan, en ma, Epainette, nie op die borde verskyn nie.

Politieke vuilspel is vermoed omdat ’n sogenaamde Zuma-gesinde faksie – so word daar gesê – glo binne die ANC vir die Mbeki’s se (politieke) weglating verantwoordelik is.

Dié beweringe word veral gemaak teen die agtergrond van Mbeki se nederlaag teen Jacob Zuma in Polokwane in 2007. Mbeki se ma se openlike ondersteuning van Cope speel glo ook ’n rol.

Dit is ook kommerwekkend omdat al nege gesigte op die advertensiebord swart politici is. Waar is die gesigte van niepolitici, wittes, Indiërs en die bruines? Waar is die gesigte van Jakes Gerwel, Neville Alexander, George Botha, Danny Jordaan, Derrick Swartz, Sophie de Bruyn, Athol Fugard en andere?

Ek hoop die bohaai en onenigheid wat dié ernstige uitsluitings teweeggebring het, noop die regering tot bepeinsing en regstelling.

Die uitdaging is om nou daardie verskillende en historiese strome van verskeie politieke identiteite, ras en etniese oorsprong wat veral simptomaties was van ons apartheidsamelewing voor 1994, saam te bring in die pogings om 'n insluitende en nierassige leef- en denkwêreld te bou. Dit alles as deel van die bou aan 'n verenigde en ruim land, wat plek het en maak vir die rykdom van sy verskeidenheid.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top