Dahmer – monster, the Jeffrey Dahmer story: ’n resensie

  • 0

Prent: https://www.youtube.com/watch?v=NVHHs-xllqo

Dahmer – monster: the Jeffrey Dahmer story
Met Evan Peters
Skepper: Ryan Murphy en Ian Brennan

Die reeksmoordenaar Jeffrey Dahmer ontken in ’n televisie-onderhoud dat hy teruggetrokke en skaam was as ’n tiener. “Ek het ’n normale en goeie sosiale lewe gehad,” bevestig hy. Dit was voordat hy 17 jong mans na sy huis en later sy woonstel in Milwaukee gelok het, hulle bedwelm het, hulle vermoor het en toe seksueel met hulle verkeer het.

Maar die ergste was dat hy lewende zombies van hulle wou maak om hulle “te hou”, vandaar die lyke wat hy in houers in suur bewaar het, die kopbene wat hy as aandenkings gehou het en die kannibalisme wat hulle, nadat hy dele van die liggame geëet het, “deel van my laat voel het. Ek wou kontrole hê, maar dit was ook wellus.”

Raar om na ’n onderhoud met die regte Dahmer op televisie te kyk waarin hy “doodnormaal” voorkom – ’n bietjie minder gefokus en behep as in Evan Peters se uitstekende vertolking, en boonop met ’n pensie wat Peters nie in die tronk nageboots het nie. Maar dit lyk of die regte Dahmer ’n onderhoud oor môre se weerpatroon gee.

Die kyker moet in gedagte hou dat die Dahmer op TV met wie in gekontroleerde omstandighede ’n onderhoud gevoer is, en hy as geraamtekoning van die lyke in sy stinkende woonstel, twee verskillende mense is. Want hy erken: “Ek het ’n masker van normaliteit gedra, want ek kon nooit my onnoembare drange met ander mense deel nie.”

Dit as agtergrond vir die televisiereeks wat Jeffrey Dahmer sonder doekies omdraai as die monster van die TV-reeks se titel uitgebeeld het. Ons beleef slegs enkele tonele van ongekontroleerde kannibalistiese en emosionele uitbarstings, soos teenoor sy ouma wat hom saam met ’n jongman betrap het, en enkele van die ergste moordtonele wat gedramatiseer is.

“Gedramatiseer” is een van die sleutelwoorde vir hierdie resensie, want alhoewel die reeks sekerlik die gewildste en mees “bewonderde” TV-reeks in Netflix se geskiedenis is, bly sommige van die tonele raaiskote oor wat werklik gebeur het. Oomblikke waar die masker afgeglip het, alhoewel sy oë nooit so donker soos op die effense gesensasionaliseerde plakkaat was nie.

Wat in die vervaardiger, Ryan Murphy, se guns getel het, is die beheersing van die monster se moorde voor die televisiekameras. In talle ander Murphy-slaghuis-reekse, soos American Horror Story en American Horror Stories, asook sy reeks oor die moord op Versace (Inside look: the assassination of Gianni Versace – American Crime Story, 2017) was daar ’n onrusbarend stewige neiging tot bloedige sensasie; het dit verander in masochistiese, genotvolle uitbeeldings van slagtings, seks met bloed gemeng en selfs derms. Al hierdie eksplisiete beskrywings om kykers te waarsku om nie gedurig soortgelyke tonele in hierdie reeks te verwag met die Murphy-stempel op nie. Net soms.

Goed, daar is wel versierings: mooi laaities in kort-kort broekies wat draf en dan weggelok word. En daar is enkele oomblikke van grusame kannibalisme en die dramatisering van ’n aantal moorde. Maar dit gebeur stadig, doelgerig, puntenerig noukeurig en met lang pouses tussenin, waarin die kinematograaf gefassineerd na Dahmer se apatiese houding staar terwyl hy die moorde pleeg. Ook met seker van die grillerigste toneel uit die reeks: toe Dahmer ’n winkelpop steel en tuis daarmee verkeer. Evan Peters het erken dat dit vir hom die moeilikste toneel was om te verfilm.

Maar kort-kort swaai die skaal in ’n ander rigting – en dit red die reeks van blote eksploitasie en verering van ’n gruwelmoordenaar. Tog het baie van die slagoffers se familie, of selfs mense wat in dieselfde woonstelblok gewoon het, verklaar dat alles nie “ten volle akkuraat in die TV-reeks is nie”. Maar dit is die aard van die dier. Televisie, films en soms romans “lieg die waarheid”, gee hul eie weergawes en interpretasies daarvan, om watter rede ook al.

Murphy skaar hom egter in die laaste vyf of wat episodes aan die kant van die slagoffers (veral ’n dowe man) en die verwoeste gesinne van die slagoffers, asook Jeffrey se buurvrou. Haar karakter is, soos in die reeks uitgebeeld word, ’n kombinasie van die vrou wat oorkant sy woonstel gewoon het en sy buurvrou. Ook die uitbeelding van een van die slagoffers ? [Hoe was die persoon ’n slagoffer? Kon tog nie vermoor gewees het nie – tensy dit later was.] wat Dahmer skynbaar in die hof bestorm het en aan die keel wou gryp, waarna die vrou, wat werklik ’n uitbarsting gehad het, beswaar gemaak het oor hoe sy uitgebeeld is.

Feit bly staan: Hoe verder die reeks beweeg, hoe meer swaai die simpatie na die slagoffers en hul gesinne, maar ook na Dahmer se ouers. Onthou ook: Dit word duidelik gemaak dat sy optrede in die tronk (in die Murphy-reeks) apaties en byna kinderlik naïef was, asof hy ’n superster was wat al die aandag geniet het, en selfs ’n rare glimlag gegee het.

Die enigste oomblik wanneer daar ’n flikkering van vrees, of wat Dahmer as vrees ervaar het,  in sy oë verskyn het (in Evans se spel), was voordat hy in die tronk vermoor is.

Uit die YouTube-onderhoud blyk dit nie eintlik dat hy jammer was oor wat hy gedoen het nie, maar dit eerder nie begryp het nie. “Ek weet nie waar die drange vandaan gekom het nie.” Die onderhoud suggereer dat dit begin het toe hy dooie diere langs die pad opgetel, oopgesny en met hul binnegoed gespeel het. Sy pa voel veral hiervoor verantwoordelik, want hy het hom gehelp en aangemoedig.

Maar Dahmer erken ook dat daar spanning in die huis was waarvan hy wou ontvlug, en die oopsny van ’n menslike lyk was sy manier om te ontsnap.

Sensasie sou omtrent 20% van die reeks vul waar ’n “normale” Murphy-reeks uit omtrent 80% sensasie, mooi lywe (meestal manlik), naaktheid, verglansing van geweld en die sogenaamde bloedkomedie-element sou bestaan. Dus moord en eksplisiete doodslag met kele wat afgesny word as “vermaak” en as “snaaks” soos in Murphy se TV-trefferreekse American Horror Story en American Horror Stories wat ’n mens dikwels bloot laat afskakel het omdat dit vervelig raak. Vervelig in die sin dat dieselfde bloederige nabootsings, wat telkens net meer realisties en siek word, behoorlik in die kyker se keel afgedruk word.

Daarom was die vrese daar dat dieselfde in Dahmer: Monster, the Jeffery Dahmer Story sou gebeur. Daar is egter nie ’n aaneenskakeling van moorde nie, nog minder word daar met die gewone koorsige en masochistiese Murphy-testosteroon van die een gruwel na die ander gejaag. Dit was vreemd om aanvanklik te hoor dat sekere buitelandse kykers die reeks as “vervelig” afgemaak het. Sou hulle ’n opeenstapeling van al 17 moorde in grusame eksplisiete besonderhede wou gehad het? Dit maak die gehoor se motiewe bedenklik ...

Die reeks is “rustig” omdat Dahmer daardie verleidelike en vals kalmte soos ’n mantel om hom gedra het wat veroorsaak het dat mense hom vertrou het. Maar die reeks veroordeel veral die onbekwaamheid, rassisme, homofobie en verwaandheid van die polisie-offisiere. So het ’n sheriff vir Dahmer, na een van sy eerste moorde, gestop met ’n lyk wat in swart sakke toegedraai op die agterste sitplek gelê het. Maar die geregsdienaar het hom sowaar weer laat ry! Laat staan nog die tonele waar die gereg Dahmer sy gang laat gaan het na verskeie klagtes, omdat hulle vermoedelik nie by “gay-rusies” betrokke wou raak nie.

.........
Daar is nou die Jefferey Dahmer Tapes-reeks op Netflix waarin hy in dieselfde toonlose, dooie stem praat oor wat gebeur het, wat Evan Peters so goed naboots. Dit is daardie bedrieglike kalmte en Dahmer se “bekering” saam met die heldeverering wat hy uit sommige dele van die publiek ontlok het, en die polisie se apatie, wat die reeks so skrikwekkend maak.
...........

Daar is nou die Jefferey Dahmer Tapes-reeks op Netflix waarin hy in dieselfde toonlose, dooie stem praat oor wat gebeur het, wat Evan Peters so goed naboots. Dit is daardie bedrieglike kalmte en Dahmer se “bekering” saam met die heldeverering wat hy uit sommige dele van die publiek ontlok het, en die polisie se apatie, wat die reeks so skrikwekkend maak.

Jy moet ’n sterk gestel hê om al 10 episodes deur te sit. Maar vir ’n verandering krap Murphy die gewone genotvolle verglanslagie van sy reeks af.

In die 37-minute-onderhoud op YouTube glimlag die monster nie een keer nie, en sluip geen emosie in nie, behalwe wanneer hy na die kissie verwys waarop sy pa afgekom het met kopbene in wat amper oopgemaak is. En hy verplaas nooit die blaam vir sy dade na iemand anders nie, ook in Murphy se reeks. “Ek plaas geen blaam op enigiemand anders nie,” verseker Dahmer die kyker. “Ek wou net beheer hê.”

Hy vra sy pa aan die einde van die onderhoud om verskoning en erken dat hy hom liefhet.

Grusaam en ontstellend, maar dit probeer meer as net die moorde wys. Dit simpatiseer ook met die slagoffers en hul gesinne en gee ’n breër prentjie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top