Dagga, van stiefplant tot allerheilige kruid

  • 0

Dagga is vinnig besig om sy taboereputasie te verloor. Waar dié veelbesproke kruid vir dekades lank in ’n groot deel van die Westerse wêreld gedemoniseer is, is dit deesdae ’n gesogte kommoditeit. Verby is die dae toe daggarokers as kriminele beskou is. Deesdae skiet markte waar die fokus uitsluitlik op daggaverwante produkte val, gereeld en oral op. En die stigma wat aan daggarokers gekleef het, verdun soos ’n blou warreling in die lug.

Die tydsberekening vir die publikasie van Heinz Mödler se … en daar was dagga kon nie beter gewees het nie. Met allerlei aksies wat aan die gang is om dagga te dekriminaliseer, is die mark ontvanklik vir ’n boek wat bestek opneem van presies waar Suid-Afrikaners hulle met betrekking tot die kruid bevind. Mödler se boek is hoogs leesbaar, propvol interessante feite en nuttig vir almal. Entrepreneurs wat hulle van geldmaakmoontlikhede wil vergewis, ouers wat bekommerd oor hul kinders se rookgewoontes is (of hul eie), sal almal baat vind by die boek. Om nie te praat van mense met skete en pyne waarvoor konvensionele medikasie nie help nie.

Dagga kom al van voor die mensdom af. In Mödler se boek kry jy ’n deeglike oorsig van die oorsprong van die kruid, en hoe dagga in die vroegste tye ’n bron van voedsel, klerasie en medisyne was. Vandag is dit maklik om te verstaan hoe die kruid as medisyne ingespan word, en ook hoe die vesel geskik is om klerasie te “weef”.

Maar hoe sou die grotbewoners destyds die plant as gereg voorgesit het?

Mödler, bedags ’n mediese spesialis wat mense letterlik aan die lewe hou, verduidelik: “Die sade is propvol olies en proteïene. Ons oerouers het dit eenvoudig fyngemaak en geëet, en dit waarskynlik hanteer soos koring, mielies of rog. Ek kan my nie indink dat dit lekker kon gewees het nie, maar hulle resepte het hulle genoegsaam laat oorleef vir ons om nog hier te wees.”

Maar waar staan ons vandag in Suid-Afrika met die wet en dagga? In hoe ’n mate is dit al gedekriminaliseer? Wanneer kan wie nog in hegtenis geneem word?

Heinz Mödler, skrywer van … en daar was dagga. (Foto: verskaf)

“Dagga is tans gewettig vir persoonlike gebruik. Jy mag dus ’n paar plante in jou jaart water gee en jou oes pluk, uitdroog en op jou stoep sit en rook sonder dat die blou ligte in die straat gaan flits,” verduidelik Mödler.

Die probleem kom egter wanneer jy met dagga wil handel dryf. “Indien jy ’n surplus dagga geoes het en ’n geldjie daaruit wil maak deur dit aan die bure te verkwansel, gaan jy in die moeilikheid kom,” sê hy. Die wetgewingsproses rakende dagga moet nog ’n lang pad loop voordat daar klarigheid oor alles is. Vir die gewone burger mag dit lyk asof die regering voete sleep oor die volkome wettiging van die plant, maar dinge is nie so eenvoudig nie. “Die woord oor dagga is nog nie uit nie,” sê Heinz. “Soos nuwe navorsing en inligting na vore gaan kom, gaan wette weer gewysig word. Niemand wil nou die kans waag deur te verklaar dagga is absoluut veilig en dan later met eier op die gesig sit nie.”

’n Mens moet ook nie vergeet dat dagga tot onlangs as ’n vloekwoord en die bron van alle aardse sondes beskou is nie. Dit sal nog ’n rukkie duur voordat die taboereputasie heeltemal afgeskud word. “Ek dink die groot probleem het gekom tydens Nixon se War on Drugs. Dagga is saam in die pot vol ander gevaarliker dwelmmiddels gegooi. Die hoofrede hiervoor was nie soseer omdat dit ’n dwelmmiddel van afsku is nie, maar meer om die man te speel,” sê Heinz.

In die Amerikaanse politiek word die argument dat die kriminalisering van die kruid ’n manier van die regerings is om etniese minderhede op hulle plek te hou, vandag baie sterk deur prodaggafaksies benadruk. Heinz sê Nixon se veldtog was baie effektief: “Ongelukkig het hierdie taktiek aan dagga ’n swak naam gegee en is daar geglo dat dit ’n euwel soortgelyk aan kokaïne, heroïen en ander dwelms is.” Drakoniese maatreëls soos dié is oorbodig. “Deur iets soos dagga te kriminaliseer, iets wat jy weet vir baie mense omtrent die enigste bekostigbare plesiertjie in die lewe is, is venynig en aspris. Deur te sê dit word gedoen vir die mens se eie beswil, is lagwekkend en argaïes. Maar dit was natuurlik ’n handige manier om van ‘elemente’ ontslae te raak wat nie inpas by die regering se siening en oortuigings nie,” sê hy.

Dagga is nie meer 'n taboe nie. (Foto: Brandon Nickerson, Pexels)

Dagga werk uiteraard nie vir almal nie. Party mense kan dit rook en geniet, maar ander se koppe haak uit wanneer hulle ’n trekkie vat. “Mense reageer verskillend teenoor medisyne of dwelms,” verduidelik Heinz. “En hierdie reaksies is onvoorspelbaar. Party mense kry newe-effekte wat ander nie kry nie.” Wat dus vir een mens werk, werk nie noodwendig vir ’n ander nie. “Dieselfde zol sal een persoon se tone laat krul van plesier, maar die volgende persoon paniekerig en angstig laat.” In … en daar was dagga word hoofstukke afgestaan aan die effek wat ’n splif op die mens se brein het, en ook die uitwerking daarvan op die organe.

Die vraag of dagga wel verslawend is, word tot in die fynste besonderhede uitgepluis. Ouers wat bekommerd is dat hul tieners aan ganja verslaaf kan raak, en dat dit ’n afspringplek na ander dwelmmiddels kan wees, het ’n punt beet. “Dagga veroorsaak verslawing in die brein op dieselfde manier as wat ander verslawende middels dit doen. Maar dit is ’n sagte dwelm, soos alkohol en tabak, want dit neem betreklik lank vir die brein om daaraan verslaaf te raak. ‘Gateway’-probleme is erger in kinders wat vroeg begin om dagga gereeld te gebruik,” waarsku Heinz. “Kinders in families waar daar ’n geskiedenis van skisofrenie is, moet wegbly.”

Oor die medisinale waarde wat dagga inhou, kan mens egter liries raak. Daggaolie is deesdae veral gewild en word deur ’n ieder en elk vir kwinte en kwale aangewend. Heinz se siening hiervan is versigtig optimisties: “Die mediese gebruike van die plant, wat die hoofargument was om dagga te wettig, is nog ver van duidelik. Navorsing is grotendeels nog onvolledig en die meeste suksesstories is anekdoties van aard.” Die mediese toestande wat met die welslae van dagga geassosieer word, is “chroniese pyn, spastisiteit van veelvuldige sklerose, naarheid en braking, en sekere tipes epilepsie. Maar selfs hier is dokters nie oortuig dat dit beter is as enige ander medikasie beskikbaar nie.”

Die ding met dagga is dat dit dikwels in groot dosisse geneem moet word voor dit effektiwiteit toon. En dis hier, waarsku Heinz, waar onaanvaarbare newe-effekte begin kop uitsteek. “Ook wil meeste pasiënte wat dagga neem omdat hulle byvoorbeeld pyn het, nie op ’n high wees nie.” Boonop is daggaprodukte peperduur. “Medikasie wat oorsee beskikbaar is, en nog nie by ons nie, is so duur dat gebruikers dikwels maar zolle koop omdat dit meer bekostigbaar is,” sê hy. “Baie mense wat dagga om mediese redes gebruik, is baie ingenome vir die eerste paar maande. Dan verdwyn dit en gebruik hulle maar weer konvensionele medisyne.”

Daggaolie is deesdae baie gewild onder Suid-Afrikaners. (Foto: Julia Teich, Pixabay)

Die hemelhoë prys van daggaolie is toe te skryf aan twee faktore. Eerstens is dié tipe mark ’n “geldmakery van formaat”, sê Heinz. Verder is die ekstraksieproses van goeie-gehalte-daggaolie nie goedkoop nie. “Indien die produk werklik is wat op die etiket weergegee word, is produksie duur, aangesien die ekstraksie van die kannabinoïede deur middel van koolstofdioksied-ekstraksie, redelik duur is.” Maar meestal, waarsku hy, is die olies duur omdat daar geld op die spel is.

’n Mens kan nie anders as om te wonder hoeveel generasies Suid-Afrikaners deur universiteit gesit is met geld wat uit dagga gemaak is toe die kruid nog heeltemal onwettig was nie. En wat sou die impak op die sukkelende landsekonomie wees as die informele ekonomiese aktiwiteite rondom die kweek en verspreiding van dagga in die hoofstroom opgeneem word? Heinz voorsien nie dat daggaverkope wat deur die regering georkestreer word, gaan slaag nie. “In Amerika en ander lande wat dit probeer het, het die pryse so duur geraak dat niemand dit kon bekostig nie.” Uiteindelik is dit rolspelers in die informele daggasektor wat gaan floreer. “Wie gaan ten duurste dagga in ’n winkel koop as die produk onder ’n lamppaal goedkoper is?” vra hy. “En jy mag mos nou dagga vir persoonlike gebruik in jou sak hê sonder om in die tronk te beland.”

Die daggamarkte wat mens deesdae oral sien, moet deur allerlei reguleringshoepels spring om in wetstoepassers se goeie boekies te bly. “Indien jy ’n produk wil verbou en verkoop, moet jy geregistreer wees. Inspeksies word by jou fabriek gehou en jy hang ’n sertifikaat teen jou muur.” Maar oor die internet kan dagga verkoop word sonder dat vrae oor sertifikate gevra word.

Wanneer dit by sintetiese dagga kom, moet mens veral versigtig wees, sê Heinz. “Die woorde ‘nie vir menslike gebruik’ word op die pakkies gedruk, en dit vrywaar verkopers van vervolging.” Kopers weet nie wat alles in dié produkte skuil nie, en dit wys waarom regulering noodsaaklik is.

In die boek gee Mödler ’n oorsig van die situasie in lande waar dagga gewettig is. Maar telkens wanneer mense daar toegelaat is om dagga te kweek en daarmee handel te dryf, het onvoorsiene praktiese probleme opgeduik. Om dagga deel van die formele sektor te maak, is duidelik kompleks. Waarvoor moet daar voorsiening gemaak word as dié proses in Suid-Afrika sy loop neem?

“Ek dink dit sal dalk werk as die regering nie die kans raaksien om Eskom deur daggaverkope te finansier nie,” sê Heinz. “Indien dagga wel verbou gaan word vir mediese doeleindes, moet daar behoorlik orde gehandhaaf word. Registrasies en analises om te bepaal wat die inhoud van ’n produk is, is noodsaaklik.” Of dit prakties uitvoerbaar gaan wees, betwyfel hy egter. Die meeste mense gaan die informele sektor bly ondersteun, veral omdat dit goedkoper is.

Uiteindelik moet daar in die algemeen verantwoordelik met die “heilige kruid” omgegaan word. En ’n samelewing wat nie sy kinders beskerm nie, het nie bestaansreg nie. “Streng maatreëls is nodig,” volgens Heinz, “om te verhoed dat plekke waar dagga verkoop en gebruik word, ’n teelaarde raak vir hardcore dwelms. Indien dit gebeur, tree kriminaliteit weer na vore en is ons erger af as voorheen. Die dekriminalisering van dagga is reg, maar harde dwelms bring lelike elemente op die speelgrond.”

Sou ’n mens ten slotte kon argumenteer dat die “heilige kruid”, noudat dit sy stiefkindstatus in die samelewing kwyt is, kan kwalifiseer as “allerheilige kruid”?

“Ja, dit maak sin!” antwoord die dokter met die geesdrif van ’n navorser en skrywer. “Dagga het nie ’n gelyke nie. Dit is so ’n diverse en fassinerende plant met soveel verskillende klede. Ek dink nie daar is nóg so ’n plant op die planeet nie. Die daggaplant het iets vir elkeen van ons. Vir skrywers is daar selfs hemp-papier!”

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top