’n Nuwe program op kykNET genaamd Dagbreek kikker kykers se oggende op. Kabous Meiring, regisseur, vertel meer oor dié program.
Kabous, die Dagbreek-program het betreklik onlangs kykers se TV-kamers binnegedring. Hoe lyk die reaksie van kykers in die algemeen tot dusver?
Die reaksie is goed! Ons kry kritiek, maar dis baie opbouend en ons wend dit aan. Daar was maar groeipyne aan die begin. Lekker dat mens die gevoel kry kykers neem eienaarskap. Die geheim is net om hulle te behou en die res te betrek.
In watter mate het die vervaardigers navorsing gedoen oor die behoefte van kykNET-kykers wat ’n ontbytprogram betref en hoe is daar besluit op die aard van die inhoud wat aangebied sal word?
Die vervaardiger, Wim Steyn, vertel dat dit ’n woeste proses was. Daar is gewonder en oorweeg en finaal besluit wat ingesluit moet word. Baie van die laaste paar jaar se inligting, terugvoer vanuit Afrikaanse dagblaaie en ander gedrukte media, asook aanlyn, is gebruik vir ’n ontleding. Die belangrikste vir Dagbreek is om die breër publiek wat Afrikaans verstaan, ingelig te hou en om uiters inklusief te wees vir alle Suid-Afrikaners, ook mense in hul laat twintigs.
Die ses aanbieders blyk uit nogal diverse agtergronde te kom en bied natuurlik elk ’n afsonderlike afdeling van die program aan. Hoe het julle dié aanbieders opgespoor en hoe is daar besluit om die toepaslike elemente van die program aan hulle toe te vertrou?
Daar is geweldig baie oudisies gehou. Al die aanbieders is deur ’n ernstige keuringsproses en ons en die kykers is alreeds baie beïndruk. Ons laat almal nou eers alles probeer en sal dan later besluit wat werk. Die aanbieders het ook vir ons ’n aanduiding begin gee van waarvan hulle individueel hou. Dis lekker dat die aanbieders ook die inhoud hulle eie maak en hul perke ken, maar Harald Richter glo byvoorbeeld glad nie hy kan sport doen nie, en ons dink hy kan!
Aktualiteits- en nuusprogramme bied natuurlik die ideale geleentheid vir sterk aktiwiteit op sosiale netwerke. Watter strategieë het julle hiervoor?
Ons is gelukkig genoeg om tablets te hê waarmee die aanbieders gedurende die program met die kykers kan kommunikeer. Dit werk baie goed en ons kan so ook die terugvoer en kritiek gebruik. Ja, ons moes al een of twee uitvee, jy weet mos maar hoe sommige jafels sosiale media kan misbruik. Kan ek vra dat meer stadsjapies ook kommentaar lewer? Toe nou ouens, dit sal mos lekker wees as julle gunsteling Kerkstraat-koffiewinkel feature op ’n vraag oor byvoorbeeld koffiewinkels.
Die wêreld van televisie en die breër media verander byna daagliks. Hoe beplan die Dagbreek-span om op die lang duur relevant en interessant te bly, beide met die program se inhoud en met die aard van die medium in ag genome?
Dis ’n lekker vraag, want ons werk baie hard op die oomblik en om die waarheid te sê leer ons die heeltyd nuwe dinge. Dus is ons baie bewus van die uitdaging om relevant te bly, op die hoogte, maar ook nie alles vir almal probeer wees nie. Ons grootste uitdaging is om ’n sterk identiteit te hê, maar nie eensydig nie. Aard van die medium? Jislaaik, op die ou end wil jy net hê mense moet die program op alle maniere kan kyk, dalk deur die sender in jou karradio? Ons sit reeds volledige insetsels op Facebook.


Kommentaar
Ek kan nie die program sien nie want ek het die K-pakket vir DSTV vir eers en sover voel ek geen gemis nie – ek kan minstens BBC, AL Jazeera, CNN en twee finanskanale sien.
Maar toe kyk ek bietjie hier om uit te vind waaroor dit gaan. En hierdie Kabous verwys na "julle koffiewinkels in Kerkstraat". Hel ou, daar was laas aan die begin van die eeu koffiewinkels in Kerkstraat – en ek dink die laaste een Cafe Riche waar ons een keer ’n maand op ’n Vrydagaand filosofiekafee gehou het, is nou ook toe. Weet nie mooi nie want ’n mens kan dit nie in Kerkstraat waag nie – ongeag die tyd van die dag! Boontoe na Colbyn se kant (maar goed verby Arcadia) is daar nog lekker eetplekkies net af van Kerkstraat, maar ’n mens wonder ook vir hoe lank nog.
Selfs Hatfield se "hoofhoek" is besig om sy uithangplekke te verloor – skuif almal na die voorstede se kleiner sentrums soos in Erasmusrand, Garsfontein ens.
Vermoed dit gaan soos in Seepunt se hoofstraat – daar waar ons die eerste (en beste) MIke's Kitchen, Al Gambero (veral die slakke) en die ou President Hotel se lekker kroeë gehad het. Toe ek so tien jaar gelede laas daar was, kon ek nie eens ’n ordentlike eetplek raakloop nie, behalwe vir ’n klein Italiaanse plekkie wat nie eens ’n dranklisensie gehad het nie, maar die eienaar het geweet dat sy heerlike Alfredo net met ’n glas rooi wyn geëet behoort te word en het my een verniet uit sy eie bottel gegee. (Ek het darem opgemaak deur die prys vir die Alfredo te verdubbel!)
Waar drink en eet julle deesdae koffie in die Kaap? Seker maar in Welgemoed en Stalinbos! Of is Kampsbaai darem nog soms toeganklik?