Dag 1: lockdown

  • 5

Bettina Wyngaard (foto: Naomi Bruwer)

Die gedreun van vragmotors wat plaaswerkers kom oplaai, maak my wakker. Dis halfses, dag 1 van die lockdown.

Met koffie in die hand en gordyne oopgetrek gaan sit ek in die sitkamer. Mense loop doelgerig heen en weer. Dis nie verbasend nie. Plaaswerkers is as essensiële werkers aangedui. Die werkers by die hoenderfabriek seker ook. Daar is meer verkeer as gewoonlik, want lorries moet nou minder werkers op ʼn slag vervoer, in pas met die nuwe regulasies. Teen 07h00 behoort die paaie stil te word.

Behalwe dat dit nie gebeur nie. Minibustaxi’s beweeg nog steeds. Mense wat duidelik nie op pad werk toe is nie, draal in die strate rond. Een bejaarde man stap in ʼn pak klere en das, verslete maar silwerskoon, verby. Hy het ʼn hoed op die kop, wat hy lig toe hy groet. Die kanse dat die owerhede jou hiet en gebied verminder wanneer jy netjies aangetrek is. Hoe vinnig kom die lesse geleer tydens apartheidsera-noodtoestande terug.

Ek verneem dat die toue by die banke en winkels lank is. Dis Vrydag. Baie mense word vandag eers betaal en kan winkels toe gaan. Wanneer die plaaswerkers vanmiddag dorp toe kom, sal dit selfs besiger wees. Maandag, wanneer die Sassa-betalings plaasvind, nog erger. In my tuisdorp is dit business as usual, te midde van die lockdown. Van sosiale afstand is daar geen sprake nie.

Ek dink nie my tuisdorp is uitsonderlik in daai opsig nie.

Die eerste twee sterftes van koronapasiënte het plaasgevind. Nuwe gevalle styg daagliks by die honderde. Hierdie lockdown móét slaag, anders is ons in groot moeilikheid. En as die lockdown nie nou slaag nie, gaan ons baie binnekort met ʼn situasie sit waar ʼn noodtoestand afgekondig word en ons regte selfs nog verder ingeperk en/of opgeskort word.

Maar hoe keer mens mense om kos te koop wanneer daar waarskynlik net leë kaste by die huis wag? Hoe beveel jy mense om binne hul huise te bly wanneer “huis” bestaan uit ʼn eenvertreksinkhok waarin ʼn uitgebreide gesin moet lewe? Selfs siektes en rampe tref armes die swaarste.

Terwyl sommige mense mekaar te lyf gaan in Woolworths oor vellose organiese hoenderborsies, wonder ander of hulle die sak mieliemeel en R10 elektrisiteit kan bekostig. Terwyl sommiges aandring op hul reg om hul hond vir ʼn wandeling te neem, of te gaan draf, wonder ander hoe hulle gaan keer dat hulle kinders siek raak in die plakkerskamp waar huise teen mekaar is. Hoe gaan hulle hulle isoleer wanneer hulle toilette en water met 10 of 20 ander gesinne moet deel? Terwyl sommiges paniekinkopies doen wat hulle vir maande vorentoe gaan hou, is daar ander wat weet hulle sal in die volgende week weer by ʼn winkel moet uitkom. As daar geld is vir ʼn stukkie vleis, is daar nie ʼn vrieskas of selfs net ʼn yskas om dit vir ʼn rukkie te hou nie.

En hoe gaan hulle in die dorp uitkom as daar nie taxi’s en busse ry nie? Hulle moet loop. En wie gaan die soldate en die polisie voorkeer: die deftige vrou in haar Mercedes of die arm plakkerbewoner wat dorp toe stap?

Daar is nie reinigingsmiddels om seker te maak al jou goed is ontsmet wanneer jy arm is nie. Baie produkte se pryse het skielik opgegaan voordat die regering prysbeheer begin toepas het. Produkte wat voorheen nog bekostigbaar was, is nou nie meer nie. Dis nou indien jy dit wel in die hande kan kry.

Die rykes kan maar agter hul mure wegkruip, N95-masker op die gesig, handskoene aan en bottel Dettol in die huishulp se hand. (Ek vind vanoggend uit dat daar mense is wat daarin geslaag het om hul huishulpe as essensiële werkers te registreer – vermoedelik as hulpverpleegsters as daar ’n ouer persoon in die huis woon.) Solank as wat arm mense nie toegang tot dieselfde geriewe het en tot dieselfde mate kan reinig nie, is ons magteloos om die verspreiding van COVID-19 te stuit.

Een van die belangrikste gesprekke wat in die postkorona-era sal moet plaasvind, is hoe om in reële terme gesondheidsorg en lewensvatbare lone aan werkers te betaal. Ons is nou besig om die prys van ongelykheid te betaal, en ek vermoed in die weke en maande wat voorlê, gaan ons dit selfs meer doen.

Lockdown gaan waarskynlik nie net 21 dae duur nie. Hoe lank dit ook al voortduur, dit gaan ons as ʼn nasie toets. Hoeveel empatie ons het, hoeveel ons hande uitsteek en mekaar help, hoeveel geduld ons het.

Ons hoor alreeds positiewe verhale. Dieresorgorganisasies vertel dat hulle vir die eerste keer in hul geskiedenis al hul diere kon uitplaas. Ons hoor verhale van lang toue mense waar jonger mense ouer mense help. Ons hoor verhale van hoedat ouer mense wat alleen bly, onder die vlerk van jonger gesinne geneem is.

Daar is soveel goodwill in ons land. Ons het al soveel saam deurgemaak. Teen alle verwagtinge in. Toe die wêreld in 1994 burgeroorlog voorspel het, het ons op versoenende manier by mekaar uitgekom. Wanneer daar kleiner rampe plaasvind, staan ons saam om te help. Hierdie ramp is groter en raak ons almal.

Ek wéét ons sal ook hierdeur kom. Saam. Maar eers moet ons groter deernis hê met dié wat minder het.

Intussen #staysafestayhome.

  • 5

Kommentaar

  • Jennifer Tise

    Ai ai wil ek sê, maar mens weet van beter, Bettina Wyngaardt. Vanoggend het die munisipale kommunikasie-beampte ’n beroep op ons almal gedoen om die amptelike inligting op hul blad te share, want dit lyk nie dit bereik die mense nie.
    Nou daar is dit al klaar vir my ’n aanduiding dat die kommunikasiestelsels nie so lekker werk nie.
    Ek het maar geshare want vir iemand wat haar loopbaan in 1985 begin het ten tye van ’n noodtoestand verstaan ek ...
    Kyk die regering en haar kommunikasie en maatreëls gaan nie die virus 🦠 keer nie. Dit is ek en jy en Jan Alleman.
    Tussen jou en my daar lê die ding 😃 Geen regering kan met maatreëls alleen die ding doen nie.
    As mense net besef dat jy’t nie nodig om in ’n leierskapposisie te wees om te baklei teen die virus nie 🦠

    Die enigste posisie wat gaan help is jou posisie as mens, as Suid Afrikaner, as wêreldburger.
    Daar lê jou leierskap elkeen van ons – mense sit en hou vir die en daai dop.

    Dit lê nie elders nie, maar tussen jou en my as mens, as Suid-Afrikaners.
    Ek pyn van seerkry vir my mense wat sukkel om brood en water in hande te kry, maar ons is sonder brood en water deur 1985 se noodtoestand en ons is so sterk soos osse ander kant uitgekom oor ons leierskapposisie as mens en Suid-Afrikaners. Ons moet nou so baklei teen dié virus 🦠

  • Dink net waar kom ons gestaan het om die ongelykheid hok te slaan as die ANC en hul “begunstiges” nie die staatskas leeggesteel het nie en onbevoegde kaders aangestel het in hoë poste wat nie die werk kon doen nie.

  • Baie dankie vir dit, ek het dit nodig gehad.
    So baie van ons mense kan ’n les hieruit leer.
    En ja, solank as wat daar persone is met tekortkomings sal isolasie hulle nie stop om voedsel te gaan kry nie.
    In kort, hoop ek van harte dat ons verby al die verskille sal kyk en mekaar aan die hand sal neem.
    United we will stand, divided we will fall.

  • Gustaf Claassens

    Na dag 21 sal ons weet of ons die toets geslaag het. Die een van gehoorsaamheid en van wet en orde want dis presies waaroor “lockdown” gaan en van ons gevra word. Uit ’n meer menslike oogpunt kan “omgee” bygevoeg word. Hoe meer ons presteer in die opsig, hoe beter behoort ons te vaar met die gehoorsaamheid en wet-en-orde-faktor.

    Ons menswees gaan dus getoets word wat ook grootliks gaan bepaal of hoop vir ’n beter toekoms realisties of net ’n droom is.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top