Daai ding loop in jou bloed deur Lené Malan en Aneta Shaw: ’n lesersindruk

  • 0

Titel: Daai ding loop in jou bloed
Skrywers: Lené Malan en Aneta Shaw
Uitgewer: Protea Boekhuis
ISBN: 9781869194116

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Hierdie boek deur Lené Malan en Aneta Shaw hou kosbare reissketse in. Dis ’n versteekte kleinood in die boekwinkel se rak. Lesers sal egter in ag moet neem dat die boek reeds in 2011 uitgegee is. Dis plek-plek belangrik om dit te onthou as dit om die historiese/politieke agtergrond gaan.

Die boek bestaan uit vier dele wat kort hoofstukke bevat. Hulle is in die meeste gevalle deur Lené Malan geskryf.

In die inleiding hoor die lesers van Lené se plan om Noord-Kaap toe te gaan. Sy wil na die San en die Khoi gaan, die vroue ontmoet en na hulle stories luister. Haar missie is om uit te vind “hoe afgesonderde gemeenskappe by sosiale en politieke veranderinge aanpas en hoe hulle kulturele gebruike verander het” (9). Sy vra vir haar vriendin Aneta of sy nie wil saamgaan nie, want sy het al ervaring in hierdie soort werk. Een van die probleme is hoe om met die mense van Namakwaland in aanraking te kom. Hulle besef dat hulle met tradisionele leiers moet kontak maak.

In die boek se eerste deel vertel hulle van hul pad van die Kaap tot Kookfontein. Malan en Shaw skryf oor hoe die landskap lyk, hulle beskryf die vegetasie en gee telkens stukkies van die Nama-geskiedenis.

In Steinkopf ontmoet hulle vir Calatz Cloete. Hy is die bestuurder van die plaaslike gemeenskapsontwikkelingsprojek, Kooh-Rooh-Kooh. Hy verduidelik: “Nama kom mos van die woord Na-i-ma, wat beteken ‘om te deel’ – daarom staan die Namas bekend as ‘the sharing people’” (25).

Cloete wil die twee vroue aan tannie Lissie en tannie Eientjie Cloete voorstel, wat iets kan vertel oor die Nama-agtergrond en -lewenservaringe. Een van die dinge waarvan mens telkens hoor, is die verwysing na ’n Nama-bynaam wat die mense daar kry. Elke bynaam hou verband met iets wat met hulle gebeur het. Malan en Shaw beskryf op ’n dierbare manier hoekom iemand watter naam bygekry het en waar die Namas se vanne vandaan kom. Dis interessante en kosbare stories.

Calatz Cloete vertel vir die outeurs dat die meeste Namas in die omgewing afstammelinge is van die Bondelswarts, een van die grootste Nama-stamme. Hendrik Witbooi was een van hulle groot leiers. Die outeurs hoor stories van hartseer, verskuiwings en onteiening. Namas was nie gewoond daaraan om kos by die winkel te loop koop nie. Hulle het in ’n selfonderhoudende gemeenskap grootgeword en hulle voel hulle het deesdae verwesters. Verder praat hulle van diskriminasie, want mense van Nama-afkoms word nie regtig aanvaar nie. Baie mense is skaam om hulle Nama-agtergrond te erken. Was dit alles bydraende faktore tot die Namas se drankprobleem, waarvan die skrywers dikwels sou hoor?

Verder bied die outeurs twee interessante hoofstukke aan wat handel oor die Nama-vroue se tradisionele drag, asook hoe die laslappiewerk en matjieshuise ontwikkel het. Die kenmerklike Nama-rondawels “een van die prominentste simbole van die Namakultuur” (52). Dié huise speel ’n belangrike rol in die seremonie as ’n jong Nama-meisie as ’n volwasse vrou geïnisieer word. Daar word ook vertel van mondelinge tradisies en hoe stories vertel en musiekmaak deel van die ou Namas se lewens was.

Die Namas het ’n verstommende kennis oor genesing. Behandelings soos “smeer”, ’n soort massering, het deur oorlewering behoue gebly. Dié kennis verdwyn moontlik binnekort, omdat die jongmense ongelukkig nie meer in die outydse rate belangstel nie.

Die outeurs ontmoet vir tannie Al en oom Johannes. Al (of Alletjie) is weer ’n Karrinaam, want eintlik is haar naam Susanna. Hulle vertel aan die skrywers dat die kinders nie eintlik hul pa’s geken het nie. Die mans was afwesig en het op die myne gaan werk, terwyl die vroue met die kinders agtergebly het en die volle verantwoordelikheid van ouerskap moes neem. Malan en Shaw vra of hulle voel dat hulle lewens verander of verbeter het met die nuwe (ANC) regering. Oom Johannes sê dat die bruin mense hier by mekaar verby lewe. “Die vooraanstaandes wil nie van die armes weet nie. Dis vreeslike dinge dié. Die apartheid hier onder mekaar, dis die ding wat ons doodmaak” (88). Hy het gehoor van ’n vrou in die kerk wat gesê het dat ’n vrou met “kort hare” nie langs haar in die kerk mag sit nie.

Beide outeurs berig dat baie mense skaam is om hulle Nama-agtergrond te erken. Daar is egter ook baie Namas wat trots op hul agtergrond en tradisies is. Op Steinkopf kry hulle die kans om Erfenisdag te belewe. Al die mense is besig met verskillende werkies, soos versorging van vee en brood insuur, kosmaak en geboue oprig. “Die fees gaan gevier word met die Nama-stapdans, perdekarritte, speletjies en ’n tradisionele ete” (96). Ongelukkig beleef die feeskomitee teenspoed – die seremoniemeester is siek en tot groot ontsteltenis het die perdekar se perde oornag almal verdwyn. Daar is vermoed dat die perde deur veediewe gesteel is. Ten spyte daarvan geniet almal die fees. Die erfenisterrein is eintlik ’n ontwikkelingsprojek, skryf Shaw. Dis die bogenoemde Kooh-Rooh-Kooh. Vyf “groot vroue” (gesiene vroueleiers) het al die werk gedoen en is stigterslede van die projek. Die outeurs het groot waardering daarvoor. “Die manier waarop die vroue die Erfenisvieringe hanteer het, is so simbolies van hoe hulle ook hulle lewens benader. Hulle gaan net aan, ten spyte van beperkinge en moeilike omstandighede” (102).

In deel twee van die boek berig die outeurs oor hulle reis vanaf Kookfontein na Eksteenfontein. Hulle wil nou die Richtersveld in. “Dis ’n landskap hierdie wat ervaar moet word, ingeasem moet word” (105). In Eksteenfontein, voorheen Stinkfontein genoem, merk hulle op dat daar eintlik nie groente verkrybaar is nie omdat die gebied so afgeleë is. Hulle maak kennis met Trooi Cloete wat met trots vertel dat sy met ’n sogenaamde “Rehoboth-Basterman” is. Ook in hierdie geweste is daar ’n strewe onder die Namas om hulle Khoi-Khoi-verbintenisse te ontken. In vroeër dae is daar deur sommige mense op Nama-afstammelinge neergesien en is daar selfs gelag as hulle Nama gepraat het.

Die outeurs kry die kans om ’n stapdansvertoning van die Namas by te woon. Hulle geniet dit geweldig baie en beskryf vir die lesers hoe die dansers se klere lyk en die ongewone ritme van die musiek. Waar dit van pas is, verwys hulle ook na insiggewende artikels waarin die lesers meer inligting kan vind.

By ouma Sanna kry hulle eerstehands inligting oor die bogenoemde seremonie as ’n jong Nama-meisie as ’n volwasse vrou geïnisieer word. Ouma Sanna is een van min vroue wat self daardeur is; sy “weet nog hoe die dinge was” (118). Ouma Sanna se geaardheid word so dierbaar verwoord dat ’n mens maklik ’n idee kry van hoe sy is. “Haar vrolikheid is aansteeklik” (117).

In deel drie van die boek berig die twee outeurs oor hulle belewenisse op die pad van Bosluis na Eksteenfontein. Hulle ontmoet antie Odine en haar man Hennie. Antie Odine vertel breedvoerig van seepmakery. Oom Hennie was ’n musikant. Hy het onlangs afgetree, maar toe hy nog voltyds gewerk het, het hy net af en toe vir ’n naweek huis toe gekom. Malan en Shaw besef weer dat ook hier ekonomiese omstandighede ’n impak op die gesinsverhoudinge gehad het. Myndorpe was dikwels die enigste heenkome vir plaaslike mense.

Die pad van Eksteenfontein na Kuboes en Sanddrift word in deel vier van die boek beskryf. In Sanddrift word hulle by die mynkantore ingewag deur drie vroue wat nie alleen oor die probleme berig nie, maar ook gretig is om vir hulle van die opheffingswerk in die gemeenskap te vertel.

Albei die outeurs stem in die epiloog saam dat hul reis ’n fassinerende en verrykende ontdekkingstog was. Die boek word aangevul deur ’n deel wat foto’s bevat en bied nog addenda. Eerstens kan lesers daar ’n Nama-alfabet en ’n lys van Nama-woorde vind wat die Afrikaanse taal verryk het. Verder kry ons nog ’n addendum oor die Bondelswarts en die Richtersveld as Wêrelderfenisgebied. Afsluitend is daar ’n bronnelys en webtuistes vir meer inligting.

Malan en Shaw is albei diep geraak deur die Namas se swaarkry. Malan skryf: “Hulle lewens is so anders as myne, en tog ervaar ek intuïtief ’n aangetrokkenheid, ’n warmte” (30). Die lesers kan steeds die groot passie vir hierdie missie en die respek wat die outeurs teenoor die Namas het, voel. Malan en Shaw is fyn waarnemers van die landskapveranderings. Daar is mooi na al die stories geluister en dit is noukeurig neergepen. Hierdie boek is ’n moet lees vir almal wat belangstel in die Nama se geskiedenis, asook in Namakwaland.

  • Alexander S Mickel is ’n Duitser wat homself Afrikaans geleer het.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top