D-Dag

  • 0

Die lot van twee uiteenlopende Amerikas wat veral oor die afgelope dekade ontwikkel het, word binnekort – op 5 November 2024 – by die stembus bepaal. Egmont Sippel lewer ’n kort oorsig oor die Trump-gevaar.

Fred Trump III het ’n boek geskryf.

Fred se pa, Fred Trump II, was Donald Trump se ouer broer. Fred Trump III is dus Donald se kleinneef. Einste kleinneef het drie kinders, waarvan die jongste een William Trump is.

Donald se jongste seun, Barron, se middelnaam is ook William.

Dis die seun waarmee Donald se vrou, Melania, in 2006 verwagtend was toe Donald die pornoster Stormy Daniels beter leer ken het. Volgens Daniels het sy en Donald in Lake Tahoe, op die grens tussen Nevada en Kalifornië, min of meer gestalte gegee aan die titel van Red Hot Chili Peppers se 1999-treffer, “Californication”.

David Duchovny van The X Files-faam het, terloops, in 1993 (saam met Brad Pitt) in ’n moewie getiteld Kalifornia gespeel en van 2007 af in die TV-reeks Californication.

Duchovny se middelnaam is ook William.

Maar ons dwaal af.

*****************

Rick Reilly het ’n boek geskryf.

Commander in cheat: How golf explains Trump ontbloot die geheime van Die Donald se merkwaardige vermoë om alle gholftoernooie te wen waaraan hy deelneem en selfs toernooie waaraan hy nie deelgeneem het nie.

Hoe vermag mens sulke onmoontlikhede?

Dis eintlik elementêr, my liewe Watson. Trump beveel eenvoudig diegene in’t beheer van toernooie om hom as wenner te verklaar. Uiteraard “wen” Trump dus net toernooie wat op sy eie bane gespeel word.

Maar wen sal hy wen. Hy wen selfs verkiesings wat hy verloor, net soos hy met Stormy Daniels en Karen McDougal – en sekerlik vele ander – gekalifornikeer het sonder dat sy vrou Melania ooit verneuk is. 

Staan dus opsy, Chuck Norris. Donald der Duisende is die ou wat die onmoontlike kan doen, soos om Covid-19 met ivermektien te genees. Of nog beter: deur mense met reinigingsmiddels in te spuit.

Hy’s ook die superheld wat orkane wil stuit deur hulle te nuke. Of die ou wat die pad van ’n orkaan met ’n penstreep op ’n kaart kan verander. Of die kenner wat ’n nuwe geskiedenis vol alternatiewe feite opdiep, soos troepe wat lughawens tydens die Amerikaanse Vryheidsoorlog (1775–1783) oorgeneem het, ’n goeie 120 jaar voor die Wright Flyer die eerste vliegtuig was om (in 1903) lug te vat.

Dis die soort onsinnighede wat Trump bedink wanneer hy op sy gholfkarretjie agter wit balletjies aanry, ’n oefening wat die Amerikaanse belastingbetaler $140 miljoen aan Geheime Diens-beskerming tydens Trump se vier jaar in die Withuis gekos het.

Die Don kom nie goedkoop nie. Hy kom met ’n prys.

En nie net ’n finansiële prys nie.

*****************

Ewe lief vir gholf was ’n ander bekende in Lake Tahoe se kalifornikeertoernooi: James Danforth Quayle. JDQ was George HW Bush se vise-president.

Bob Woodward (van Watergate- en All the president’s men-faam) het reeds drie boeke oor Trump en destyds ook een oor James Danforth Q geskryf, naamlik The man who would be president.

JD het dit nooit gemaak nie, dalk oor te veel Quaylismes.

“If we don’t succeed, we run the risk of failure,” was een van hulle. Of: “The Holocaust was an obscene period in our nation’s history. I mean in this century’s history. But we all lived in this century. I didn’t live in this century.”

Ekskuus?

En dis net twee van dosyne. JDQ het voorts verklaar dat hy Latyns-Amerika beter sou kon verstaan as hy as jong man meer aandag aan Latyn-studies gewy het.

Hier’s ’n laaste enetjie van vele: “Republicans understand the importance of bondage between a mother and child.”

Die insinuasie was dat demokrate dit nie verstaan nie.

Oukei, ou Dan. Maar hier’s iets veel erger wat republikeine nie verstaan nie: Donald Trump is die gevaarlikste mens in Amerika.

Aan die woord is generaal Mark Milley, stafhoofvoorsitter van die Amerikaanse magte tydens Trump se ampstermyn. In Woodward se nuutste boek, War, verklaar Milley: “Trump is ’n fascis tot in sy kern.”

Woodward beweer ook dat Trump op die hoogtepunt van die Covid-krisis, toe Amerika mank gegaan het aan duur en gesofistikeerde toetstoerusting, einste toerusting aan Wladimir Poetin sou stuur.

Trump ontken die bewering. Die Kremlin bevestig dit.

En dis Die Don se maatjie daai, Wladimir Poetin. Trump bewonder hom. Hy noem Poetin ’n genie.

Trump bewonder eintlik alle outoritêre leiers.

En erger: Hy heul met hulle.

***************** 

Dan Quayle het sy tyd vooruit geloop. Deesdae is daar nóg ’n jong republikeinse vise-presidentskandidaat wat met die moeder-en-kind-gedagte smokkel.

“Amerika word deur kinderlose katvroue regeer,” het hy onlangs verklaar. “En dis gevaarlik, want mense sonder kinders het nie ’n direkte belang in die toekoms nie. Hulle’s ook meer sosiopaties. Die oplossing is om mense aan te moedig om meer kinders te kry. Gee aan hulle soveel kruisies by die stembus as wat hulle kinders het.”

Murg-in-die-been Suid-Afrikaners soos die ANC en Julius sal hiervan hou. Onse Elon ook. Die grootste bedreiging wat die mensdom in die gesig staar, volgens Musk, is ’n bevolkingsineenstorting. Hy moedig almal aan om meer kinders te kry, anders sal daar binne drie generasies “te min werkers wees”.

Dit nou uit die mond van ’n man wie se Tesla- en SpaceX-aanlegte vol vervaardigingsrobotte staan. En wat 6 000 uit 7 500 werkers afgedank het nadat Twitter in Oktober 2022 vir $44 miljard gekoop is.

X (soos Twitter nou genoem word) se waarde word tans deur Fidelity op $9,4 miljard bereken. Dis minder as ’n kwart van wat dit twee jaar gelede was. Maar Musk is die man wat deur Trump aangestel wil word as hoof van ’n doeltreffendheidskommissie.

Musk hét natuurlik al vlakke van doeltreffendheid bereik. In sy 53 jaar op aarde het die planeet se rykste man byvoorbeeld al heel doeltreffend gekalifornikeer. Elon het 11 of 12 kinders, niemand weet nie.

Een se naam is Techno Mechanicus. ’n Ander is X Æ A-Xii. Nog ’n ander is Exa Dark Sideræl. Laasgenoemde is intussen na Y verander sodat X en Y bymekaar kan pas.

Musk het duidelik ’n voorliefde vir die letter x, soos in X.com, SpaceX, Tesla Model X, xAi Corp en natuurlik X, wat in die laaste fase van vanjaar se presidentsverkiesing as propagandamasjien vir die herverkiesing van Donald J Trump gefunksioneer het.

David Duchovny moet oppas dat Musk hom nie as hoofspeler in ’n beplande nuwe reeks van The X Files vervang nie. Die gewese Suid-Afrikaner is beslis weird genoeg vir ’n TV-reeks oor “die vreemde”; die onbekende, die X-faktor.

En natuurlik die donkerte. Op ’n onlangse Trump-saamtrek, waar Musk homself gedra het soos die kind wat hy is, het hy juis van die verhoog af verkondig dat hy nie MAGA is nie, maar Dark MAGA.

*****************

Musk se tweede en derde kind, Xavier en Griffin, is ’n tweeling wat via IVB (in vitro-bevrugting) gebore is.

As jongeling het Xavier vreemd in sy eie liggaam gevoel. Op 16-jarige ouderdom het hy Vivian Jenna geword. Twee jaar gelede het Vivian ook haar van (na Wilson) verander en verklaar dat sy niks met haar biologiese pa te doene wou hê nie.

“Van jongs af het hy druk op my gesit om met ’n dieper stem te praat. Hy’t aanhoudend op my geskree omdat my natuurlike stem te hoog was. My pa was afwesig, liefdeloos en koud; ’n narsis met ’n vinnige humeur.”

Musk weier om Vivian se geslagsbevestiging te erken en beweer dat hy met ’n slap riem gevang is toe hy toestemming vir die nodige mediese behandeling moes gee.

Vivian noem dit ’n blatante leuen “aan ’n gehoor van miljoene; my pa was ten volle bewus van wat hy gedoen het toe toestemming gegee is”.

So, um-um, of hierdie bewerings waar is al dan nie, ken ons nog iemand wat blatante leuens aan gehore van miljoene vertel? Wat weier om sekere werklikhede te erken? Wat afwesig, liefdeloos en koud is?

En daarby ’n narsis met ’n vinnige humeur?

Ken ons nog iemand wat heeltyd op almal skree en nooit verantwoordelikheid vir enigiets aanvaar nie?

Net een raai, asseblief.

*****************

Musk sê dat sy “seun deur die woke-verstandsvirus gedood is”.

Dis hoekom hy sy gewig agter Trump ingooi, om wokeness te beveg. Want Trump vat nie nonsens van kabouters nie. En nou dat Musk soveel dollars in Die Don se verkiesingsveldtog stort, moet Trump natuurlik terugbetaal.

Byvoorbeeld: Musk se tweeling was IVB-babas en so ook die drieling wat die tweeling voorafgegaan het. As president het Trump IVB herhaaldelik afgeskiet. Vandat Musk hom ondersteun, is Trump IVB-vriendelik.

Aan die een kant plaas dit hom in ’n piekel met MAGA (Make America Great Again) se pro-lewe-groepering wat embrio’s as mense sien en IVB as “moord” verdoem, omdat baie embrio’s in die slag bly.

Trump se mantelswaaiery oor aborsie werk juis op die senuwees van sekere verregses. Die rassistiese, homofobiese, misogistiese, anti-Semitiese neo-Nazi, Nick Fuentes – wat al middagete saam met Trump op Mar-a-Lago se stoep geniet het – spoeg deesdae vuur oor die Oranjeman.

Aan die ander kant benodig Trump finansiële hulp vir sy presidensiële kampanje en Musk se beursie is diep.

Dis hoekom Trump nie meer, soos voorheen, minagtend oor elektriese motors praat nie. Musk besit en bedryf Tesla. Trump is ook nie meer minagtend oor kripto soos hy voorheen was nie. Musk glo aan kripto.

Derhalwe het Die Don en sy seuns pas ’n kriptomaatskappy, World Liberty Financials, gestig. Dit om Trump se bona fides te bewys en superryk kriptonêrs se guns te wen.

Trump kalifornikeer gereeld sy sieninge aan die hoogste bieër.

*****************

Per geleentheid het Die Don na Egipte se president El-Sisi as sy “gunstelingdiktator” verwys. Alle tekens is daar dat El-Sisi en ander Arabiese en Midde-Oosterse leiers gunste en gawes by Trump gekoop het.

Selfs die bewyse is daar. Trump se voormalige prokureur-generaal, Bill Barr, het egter ’n amptelike ondersoek na ’n $10 miljoen-betaling deur El-Sisi in die kiem gesmoor.

Die Don het natuurlik ’n openlike en welbekende bewondering vir kragmanne en diktators soos Poetin, Xi Jinping, Kim Jong Un, Viktor Orbán, Mohammed bin Salman en Recep Tayyip Erdoğan.

Buiten om hom ’n fascis te noem, het generaal Mark Milley ook na Trump as ’n “wanna-be dictator” verwys.

Trump homselwers het in ’n TV-onderhoud met sy troetelhondjie op Fox TV, Sean Hannity, gesê dat hy “net op dag een” – sou hy weer verkies word – ’n diktator wil wees.

En wat sou dit saak maak, volgens Trump? Die ware gevaar is marxiste en kommuniste soos Kamala Harris. Op X versprei Trump en sy nuutste ami du jour (oftewel vriend van die dag, wat tans Musk is) juis fopprentjies van Harris waarin sy ’n rooi beret soos Julius Malema s’n dra, kompleet met ’n hamer en sekel daarop.

Dit sou dalk snaaks gewees het as dit nie as ’n waarheid aangebied is nie.

Maar hier’s die probleem: Dis gemik op mense wat, met alle respek, swak ingelig is; liggelowiges wat alles uit Trump se twietvingers vir soetkoek opvreet.

*****************

Die Don, soos ons weet, spesialiseer in leuens en fopinligting. Hy skep drogwêrelde waarin hy die held is en die res net honde. Dis hoekom hy so gereeld na ander mense as dogs verwys.

Omdat Trump-wêreld die enigste is waaroor konserwatiewe bronne (TV-stasies soos Fox, OAN en Newsmax, en publikasies soos The Washington Times en The Wall Street Journal) rapporteer, word mense in inligtingsborrels vasgevang.

Hulle sien nooit die ander kant van die saak nie. Hulle weet nie hoe aanhoudend Trump lieg nie. Hulle weet nie hoe baie hy bedrieg nie. Hulle weet nie watter groot skurk hy in sy privaatlewe is nie. Hulle weet nie dat hy van die soort is wat alte dikwels nie sy rekeninge betaal nie. Hulle weet nie hoe ’n groot gevaar hy vir die demokrasie is nie.

Hulle weet net nie.

En as hulle daarmee gekonfronteer word, weier hulle om dit te glo.

Trump en Musk, omgekeerd, weet presies dat sulke mense nie weet of nie wíl weet nie. Dis hoekom, só word beweer, die twee ’n lisensie het om te lieg soos hulle wil. Op dié manier skep hulle ’n alternatiewe wêreld wat naas die werklike een bestaan.

Trump se toespraak vóór 6 Januarie 2021 se aanval op die Kapitool illustreer die metodiek nogals mooi. Ná die aanval – wat eintlik ’n aanval op die Amerikaanse staat was, met ander woorde wat ’n poging tot ’n coup d’état – het verskeie republikeine in die senaat en huis van verteenwoordigers die blaam vierkant op Die Donald se twee blink skoene gelê.

Maar iewers in Trump se toespraak het hy, slim soos ’n jakkals, die woorde “protest peacefully and patriotically” met voorbedagte rade ingewerk, juis omdat hy geweet het dat dit nodig sou word om homself te beskerm teen aantygings dat hy die skare tot geweld wou opsweep.

Trump gebruik hierdie dubbelspraak daagliks. Hy lewer altyd twee wederkerig uitsluitende stellings, soms in ’n enkele gesprek. En as hy vir die een aangeval word, gebruik hy die ander om homself te verdedig.

’n Tweede truuk wat tot vervelens toe gebruik word, is om die vinger te wys na ander vir kamtige oortredings waaraan hy self eintlik skuldig is. Projeksie, noem mens dit. Of weerligafleiding.

’n Derde truuk is om die sensasioneelste snert op X of Truth Social kwyt te raak, waarna hy homself verskoon met: “Ek het dit nie gesê nie. Ek het dit net aangestuur.”

Het jy byvoorbeeld geweet dat demokratiese senators en dies meer jong kinders verkrag en dan eet? Dit aldus die QAnon-beweging wat onder meer ook geglo het dat John F Kennedy jnr Trump se volgende vise-president sou wees. En dat Trump, terloops, nie net die verkiesing teen Joe Biden gewen het nie, maar dat hy vir ’n wyle eintlik nog steeds die president agter die skerms was – maar natuurlik net vir die goeie dinge wat gebeur het.

Biden was steeds vir al die slegte dinge verantwoordelik.

Mal.

Maar Trump doen niks om die malligheid te stop nie. Hy kan nie, want hy’s deel daarvan.

In ieder geval is hy en Musk nie alleen in hul valse tipering van Harris as ’n kommunis met ’n rooi beret nie. Een van die ander skuldiges is dieselfde persoon wat beweer dat Amerika deesdae deur “childless cat ladies” regeer word.

En nee, nie Elon wat glo dat die wêreld se grootste probleem onder- eerder as oorbevolking is nie.

Die spreker was JD Vance.

Party mense noem hom Shae D Vance.

*****************

Vance is in 1984 as James Donald Bowman in Ohio gebore. In sy vroeë 30’s skryf hy ’n boek, Hillbilly elegy. Dit handel oor heuwelbeuwels en die sosiale verval van Amerika se sogenaamde “Rust Belt”.

George Orwell se 1984 – toevallig die jaar waarin Bowman gebore is – is iets heel anders. Dit handel oor totalitarisme en die onderdrukkende regimentasie van mense.

Orwell se ander groot werk, Animal Farm, is ’n politiese allegorie oor mag, revolusie en die kommunistiese stelsel waarin alle diere gelyk is, buiten sommiges wat méér gelyk is.

Deesdae beskuldig Vance die demokrate van kommunisme, terwyl hy self in diens van totalitarisme staan; die staat se mag om menselewens, en veral vroue s’n, te beheer.

Dit verbaas nie. Vance politoer Die Don en MAGA se albastertjie blink, terwyl hy minder as vier jaar gelede nog ’n giftige Trump-hater was.

Maar soos die verkleurmannetjie wat hy is, weet JD hoe om by sy omgewing aan te pas. Toentertyd, toe sy ma vir die derde keer getrou het, is James Donald Bowman se naam byvoorbeeld na James David Hamel verander.

JD bly skepties oor sy ma se verduideliking dat sy nuwe middelnaam ’n vernoeming na sy oom s’n was. “Sy wou my pa, Donald, uit ons familiegeskiedenis vee. Enige D-naam sou dus doen, net nie Donald nie,” het Hamel verduidelik.

En is dit net toeval dat meer as die helfte van stemgeregtigde Amerikaners deesdae die sentiment deel? Soos in: Enigiemand vir president, solank dit nie Donald is nie.

Dis presies hoe Hamel die ding gesien het voordat sy eie politieke ambisies ’n paar jaar gelede vlam sou vat. Teen daai tyd had hy lankal sy ouma se van (Vance) aangeneem en homself as JD voorgestel; toevallig dieselfde voorletters as James Danforth Quayle s’n.

Bush had sy JDQ. Trump het sy JDV.

*****************

Hier’s Vance se eertydse sieninge: “Trump is America’s Hitler. He’s cultural heroin, just another opioid and unfit for our nation’s highest office. He’s a total fraud, I don’t think he actually cares about folks.

“I can’t stomach Trump. He’s noxious and leading the white working class to a very dark place. I find him reprehensible. My God, what an idiot. Trump is a moral disaster.

“Fellow Christians, everyone is watching us when we apologize for this man. Lord help us.”

By ’n foto van Trump saam met OJ Simpson skryf hy: “One of the USA’s most hated, villainous, douchey celebs. Also in the picture: OJ Simpson.”

In Februarie 2020 twiet hy: “Emperor Trump has just so thoroughly failed to deliver on his economic populism.”

Dít nadat Silicon Valley se superryk tegno- en kriptospelers Vance gehelp het om sy eie waagkapitaalfirma, Narya Capital, in 2020 te loods.

In Tolkien se Lord of the rings, terloops, is Narya ’n ring wat mense inspireer om tirannie, oorheersing en wanhoop teen te staan. ’n Mens sal dus reken dat dit Vance sou inspireer om Trump se tirannie (“He’s America’s Hitler”) te verwerp.

Maar die kartel van Silicon Valley se magsugtiges en geldgieriges had ander planne. Hulle soek ’n “nuttige idioot” in die Withuis.

Vance sou die skakel tussen hulle en daai nuttige idioot wees.

*****************

Stap een was dus om Vance op die Trump-span te kry.

Om dit te vermag sou JD van ’n Never Trumper na ’n Forever Trumper moes bekeer, van ’n vyandige aanvalshond na ’n gedienstige skoothondjie. As republikein is daar eenvoudig nie plek in die party vir anti-Trump-rebelle soos Justin Amash, Jeff Flake, Liz Cheney en Adam Kinzinger nie.

Die handomkeer het Vance soos ’n handskoen gepas. Skuiwe wat hy al sy lewe lank moes maak – van James Donald Bowman na James David Hamel na James David Vance na JD Vance – het die verkleurmannetjie in hom vroeg aangewakker.

As daar op enige gegewe oomblik ’n flikkering van ’n voordeel is, sal Vance en Trump se principe de jour dit uitsnuffel en omarm.

Dís hoe JD in die hoofstroom van GOP-politiek beland het.

Alleen kon hy dit egter nie doen nie. Hulp het in die vorm van ryk, regse Silicon Valley-waagkapitaliste soos Marc Andreessen, Palmer Luckey, Chamath Palihapitiya en David Sacks opgedaag.

Peter Thiel was egter die stormram wat die hoofweg vir Vance oopgekloof het, onder meer deur $15 miljoen in JD se 2022-senaatskandidatuur te stort.

Saam met die res van die bende het Thiel ook Trump se arm op swierige geldinsamelingsgeleenthede gedraai. Kies JD as jou presidentskandidaat, Donald, en jou verkiesingsveldtog sal ryklik met finansiële hulp beloon word.

En ja, ons weet ook, Donald, dat jy vanjaar se verkiesing móét wen om uit die tronk te bly. So, luister maar as ons tegnoregulasies wil verslap, veral in die kriptosfeer.

Die voormalige Never Trumper wat deesdae dus die Oranjeman se wilde leuens en aantygings van hoek tot kant moet verdedig, doen dit nie noodwendig omdat hy blind vir Donald J se sondes is nie, maar omdat hy met ’n missie by die Trump-span aangesluit het.

Eerstens moet Vance as tussenganger help om Trump na die wil van Silicon Valley se konserwatiewe superrykes te buig.

Tweedens wil hulle die karakter van die Amerikaanse projek – wat by uitstek in die grondwet van 1789 beslag vind – heringenieur.

En dít, liewe vriende, begin by die aftakeling van die demokrasie.

*****************

Thiel mogge die stormram gewees het om ’n politieke pad vir JD Vance oop te kloof.

Maar Musk is die vuurpyl wat Trump tot in die Withuis wil turbo.

Hy probeer dit op twee maniere doen.

Eerstens bestook hy sy 202 miljoen volgelinge op X met disinformasie oor Trump en Harris; en tweedens stort hy enorme bedrae geld in Trump se verkiesingsveldtog.

O ja, daar’s ’n derde manier ook: Musk deel al vir geruime tyd ’n miljoen dollar per dag in Pennsilvanië uit, nie om mense om te koop om vir Trump te stem nie – dit sou teen die wet wees – maar bloot om ’n petisie te teken.

Uit die aard van die saak moet jy jou naam en telefoonnommer op die petisie inskryf. En môre bel die Trump-veldtog jou.

Dis soos om kinders se guns te wen deur tonne lekkers uit te deel.

Musk is gedagvaar om vandag (Vrydag 1 November 2024) in die hof te verskyn, want as die skema oënskynlik na ’n onderdeel van Musk se finansiële bydraes tot die Trump-veldtog lyk, is dit egter in wese iets heel anders – naamlik ’n slinkse, siniese manier om stemme en daarmee saam die presidensie te koop.

Meer nog. Want Elon soek ook ’n aanstelling as baas van ’n nuwe doeltreffendheidskommissie wat, op sy beurt, die terme sal bepaal van hoe maatskappye, sy eie ingesluit, gereguleer moet word.

Tweedens is Musk ten volle daarvan bewus dat hy in 2008 deur regeringsubsidies en -kontrakte van totale uitwissing gered is. Hy ken die mag en krag van goewermentsgeld.

Nou soek hy nog meer daarvan deur beter kontrakte vir sy eie maatskappye soos SpaceX, Starlink en Tesla te beding. En wat sou ’n beter quid pro quo kon wees nadat Elon der miljoene in Trump se veldtog gepomp het?

Derdens soek Musk, nes ander regse Silicon Valley-miljardêrs, natuurlik daai totale verslapping van tegno- en kriptoregulasies.

*****************

Eerstens die tegno.

Weens regulatoriese oortredings, staar Musk se maatskappye tans ’n boel regsgedinge in’t gesig. Met Trump as president sal hulle almal, nes Trump se eie strafregtelike sake, soos mis voor die son verdwyn.

Dit is, per slot van sake, waar Musk en die res wil woon, bo die wet. Dis ’n plek wat Die Don al so lank beset dat hy net so wel die inwonende hoof genoem kan word.

Op die allerminste sal Trump dus as paspoort tot die buitewetlike paradys figureer.

En kripto?

Hier’s Warren Buffett se mening: “Dis rotgif. Ek sou nie eens $25 vir al die Bitcoin in die wêreld betaal nie, want wat sal ek daarmee kan doen, behalwe om dit aan jou terug te verkoop?”

Buffett se regterhandman, Charlie Munger (wat laasjaar in ouderdom 99 oorlede is), het kripto as “stupid and immoral” beskryf.

Kripto is inderdaad ’n dobbelspeletjie tussen rykes wat ’n gedereguleerde omgewing soek om hul winste te maksimaliseer. Dit skep ook ’n oop speelveld vir bedrog, sonder dat enigiemand verantwoordelik gehou kan word.

En wie’s die politikus wat nooit verantwoordelikheid vir sy eie foute aanvaar nie? Of geabdikeer het in die aangesig van ’n pandemie wat 1,2 miljoen Amerikaners se lewens sou eis? Of wat enigiets sal dereguleer as hy persoonlike voordeel daarin vind?

Die Oranje Kampanjeman, natuurlik. Daardie edele prins van inbors en karakter, die onkreukbare Donald J Trump homselwers, hy wat kripto as swendelary en ’n scam afgeskryf het met uitsprake soos: “Dis hoogs volatiel en gebaseer op niks. Dis ’n ramp wat wag om te gebeur.”

Nou se dae verstaan Trump skynbaar die kriptosfeer se gapings en swendelpotensiaal. Daarom dan World Liberty Financial, ’n kriptohuis wat Trump saam met sy seuns opgerig het.

En raai wie’s die sogenaamde DeFi- (oftewel decentralised finance-) visionêr?

Trump se 18-jarige seun, Barron William – die een waarmee Melania verwagtend was toe Don met Stormy Daniels in Lake Tahoe gekalifornikeer het.

*****************

Dit klink gewaagd om ’n 18-jarige as jou maatskappy se visionêr aan te stel, alhoewel Barron se Gen Z-maatjies ’n sterk stem op 5 November vir Trump gaan uitbring. Dit is nou outjies tussen 18 en 22 wat vier tot agt jaar gelede nog te jonk was, en steeds te jonk is, om die gevaar van ’n Trump-presidensie te begryp.

Hul eerste prioriteit is in elk geval om Die Don se manosfeer te betree, ’n ruimte wat deur kragmanne soos Hulk Hogan en machobrekers soos die supertoksiese Andrew Tate bevolk word.

Nie álle spiertiere, terloops, is MAGA nie. Arnold Schwarzenegger het pas sy bief agter Kamala Harris gegooi. Wat dit natuurlik merkwaardig maak, is dat Hasta la vista-Arnie nie net ’n republikein is nie, maar dat hy ook goewerneur van Kalifornië was.

En net om die punt te voltooi: Hoeveel lede van ’n Amerikaanse politieke party het in die verlede al ooit oorgestap om vir die ander party se presidentskandidaat te stem?

Bitter min. Maar in Dinsdag se verkiesing is dit van Arnie af, deur die gewese vise-president Dick Cheney en Trump se gewese kommunikasiedirekteur in die Withuis, Anthony Scaramucci (ook bekend as The Mooch), tot by dosyne ander gewese Withuis-werkers, asook Cheney se dogter, Liz, Georgia se voormalige luitenant-goewerneur, Geoff Duncan, en die afgetrede weermagsgeneraal Stanley McChrystal – plus ’n láng lys van voormalige senators, huidige burgemeesters, militêre personeel, sekuriteitsmense, ensovoorts, ensovoorts.

En raai wat: almal republikeine.

Dis nie te sê dat hulle die verkiesing vir Harris gaan wen nie.

Maar dit ís te sê dat hulle iets afstootliks en walglik en gevaarlik en verskrikliks omtrent Trump vind.

*****************

In ieder geval is dit dalk nepotistiese besluite soos Barron se aanstelling wat bygedra het tot die mislukking van sovele Trump-projekte in die verlede. Hier’s ’n paar van die bankrotskappe: Trump Taj Mahal, Trump Plaza, Trump Castle, die Plaza-hotel, Trump Hotels & Casino Resorts en Trump Entertainment Resorts.

Dan’s daar maatskappye wat lisensiëringsooreenkomste met Trump aangegaan en misluk het: Trump Shuttle, Trump University, Trump Vodka, Trump Mortgage, GoTrump.com en Trump Steaks.

Laasgenoemde het twee maande ná die stigting gevou. Die meeste van die res het nie veel langer gehou nie.

Nou’t ons Truth Social (wat pateties vaar) en Trump se pasgebore kriptomaatskappy, om nie te praat van wat die voormalige president alles mee smous nie, van goue basketbalskoene deur goedkoop horlosies wat as duur artikels geswendel word tot by Trump-bybels, ewe met ’n (verkragte) weergawe van die Amerikaanse grondwet daarin saamgebundel.

En waar’s die “God Bless America”-bybels gedruk?

In China, die land wat deur Trump voorgehou word as die bose dief wat Amerikaanse jôps steel.

Vir die kampioen van bluf is dit egter baansyfer, hierdie soort dubbelspraak, soos ons reeds met die “protest peacefully and patriotically”-voorbeeld gesien het.

*****************

Vir Thiel en sy maters is Trump se omarming van kripto natuurlik eerste prys. Biden en die demokrate wil dit reguleer en dis allermins wat waagkapitaliste soek.

Hulle wil juis waag, wat beteken dat hulle ruimte en dus slap grensdrade benodig.

Uiteindelik ontaard dit natuurlik in ’n perkelose versugting na perkelose rykdom; die soort wat voor die eeuwenteling afgeskop is toe Thiel, Musk en Reid Hoffman in die Paypal-saal sou klim.

Doerietyd is bedrae in miljoene gemeet.

Begin 2020 was Musk $27 miljard werd. Einde 2020 het die syfer na $150 miljard gegroei. In September 2021 was dit $200 miljard en twee maande later $300 miljard.

Tans is Elon omtrent $250 miljard sterk.

Wat wil hy met al daai geld maak? Wat kan hy daarmee doen?

Wel, wat van ’n bietjie mag koop?

Musk is, per slot van sake, ’n rekenaar-geek met ’n sin vir sake. Hy’s ’n entrepreneur.

Terselfdertyd is hy ’n opperste opportunis wat gereed staan om wáre geeks vir eie gewin uit te buit, ouens soos Martin Eberhard en Marc Tarpenning wat Tesla 21 jaar gelede van stapel gestuur het. Dit was byvoorbeeld Eberhard se blink idee om ’n elektriese sportmotor te bou om die gewetes te sus van mense wat “groen” wou wees, maar ook van vinnige wiele hou.

Die twee Kaliforniërs het egter geld benodig om gestalte aan hul drome te gee. Musk het sy kans gewaar om miljoene (wat merendeels uit Paypal gemaak is) te belê.

Nie te lank nie of Elon, as raadsvoorsitter, het Eberhard weens “produksievertragings” uit Tesla geskop. Eberhard het Musk vir laster gedagvaar. Die saak is buite die hof geskik.

Geld kan baie verkeerde dinge “regmaak”. Wat moeiliker is, is om van die gif in mense se koppe ontslae te raak, veral as hulle almagtig begin voel en doen wat hulle wil.

In 2018 het stormwater 12 seuns van ’n junior sokkerspan, asook hul afrigter, in ’n grot in Thailand vasgekeer. Musk het ’n mini-duikboot in die vorm van ’n sigaar – wat een persoon per slag in ’n lêende posisie kon vervoer – plus ’n span duikers (wat die duikboot van buite moes begelei) na Thailand gestuur.

Sy hulpaanbod is egter om verskeie redes van die hand gewys. Die taak om die seuns en hul afrigter te red voordat almal verdrink is aan ’n Britse duiker en grotkenner, Vern Unsworth, toegeken.

Unsworth het Musk se aanbod as ’n “PR stunt” beskryf. Waarop Musk na Unsworth as ’n “pedo guy” verwys het.

Watse soort volwassene doen dit, om die valse suggestie te skep dat iemand ’n pedofiel is?

Die twiet is later geskrap, maar eers nadat Musk nog een afgevuur het: “Bet ya a signed dollar it’s true.” En voorts in ’n e-pos aan ’n joernalis oor die moontlikheid van regstappe teen hom: “Stop defending child rapists.”

*****************

Tydens die lastersaak (waarin Unsworth $190 miljoen geëis het) is getuig dat Musk se beledigings hom “rou, vernederd, beskaamd en vuil” laat voel het.

Musk se prokureur het geargumenteer dat mense mekaar tydens rusies beledig en dat niemand Musk se pedo-opmerkings ernstig opneem nie. “Dis nie ’n bom wat ontplof het nie.”

Unsworth het die saak voor ’n Amerikaanse jurie verloor.

Dit vertel jou iets van die regsmilieu waarin ’n ander stinkryk Amerikaner voltyds daarmee wegkom om mense – insluitende regters wat hom verhoor – in die openbaar te beledig en leuens oor hulle te versprei sonder dat die wet hom ooit in die bek ruk.

Inteendeel word hy met MAGA-wêreld se verafgoding beloon. “Trump sê dit soos dit is,” glo sy volgelinge.

Inderdaad is Trump reguit en eerlik oor die riool in sy kop. Dit braak hy daagliks en feitlik ongefiltreerd uit.

Wat die res betref, is hy so oneerlik soos kan kom, ’n eenman-liegmasjien van wêreldformaat. In vier jaar as president – of rofweg dan 1 461 dae – het Trump se leuens en misleidende uitsprake tot meer as 30 000 opgetel.

Maak nou die somme. Dis amper 21 leuens per dag, elke dag, vir vier jaar aaneen.

*****************

Musk stal ’n ewe ontstellende trajek, veral op X, uit. Sonder bewys is Unsworth ’n “pedo” genoem. Sonder bewyse word Kamala Harris ’n “kommunis” genoem. Sonder bewys twiet (of X) Elon tans onophoudelik oor beweerde kiesbedrog, asof dit die waarheid is.

Maar dis alles snert. Musk heg soveel waarde aan die waarheid as wat hy aan ’n Kubaanse peso heg. Vir hom en Trump is die waarheid van nuller waarde as dit nie ’n voordeel kan koop nie, terwyl leuens van waarde oorloop as dit winste en voordele kan vestig.

Soos dat Trump eintlik 2020 se verkiesing gewen het.

Die Oranjeman het meer as 60 hofsake verloor, omdat hy daarin gefaal het om hierdie belaglikheid te bewys. Maar steeds hou hy vol, soos nou die dag op die Joe Rogan-poduitsending, dat hy die bewyse in die vorm van baie papiere het en dit nog eendag sal toon.

So, hoekom het jy dit nie oor die vorige vier jaar reeds gedoen nie, Donny? En wat gaan eerste te voorskyn kom: hierdie bewyse? Of jou belastingaanslae?

Want dié’t jy ook al vir agt jaar lank belowe.

Hy’s ’n scam, hierdie man. Of ’n “scab”, soos die United Auto Workers se president, Shawn Fain, hom noem.

Sien hom dus vir wat hy is: ’n miljardêr wat op die vrese en swakhede van sovele arm mense teer.

Donald Trump is ’n fake.

*****************

Deesdae verskyn Musk op Trump-byeenkomste en spring soos ’n kind op die verhoog rond en laat krete soos Tarzan van die Groot Ape uit.

En dis dalk ’n goeie titel vir Elon: Tarzan van die Groot Ape.

Die ander kind doen wat kinders doen as hulle nie hul sin kry nie. Hy braak sy griewe uit en kla onophoudelik.

En hy dreig.

Om politieke teenstanders te verhoor en tronk toe te stuur. Om dieselfde met joernaliste, publikasies, redakteurs, asook radio- en TV-mense te doen van wie hy nie hou nie. Om publikasies te sluit deur hulle van lisensies te stroop. Om militêre mense wat hom kritiseer, voor ’n krygshof te daag. Om onwettiges in die VSA en masse in kampe op te sluit en hulle te deporteer. Om tariewe van tot 200% te hef. Om federale belasting te skrap. Om die departement van onderwys te sluit. En om die Affordable Care Act (ACA) te skrap.

Dis ’n obsessie by Trump om die gewilde ACA skade te berokken, eintlik maar net omdat dit ook as Obamacare bekend is.

Trump raak apoplekties as hy daaraan herinner word dat ’n onlangse opname deur 154 presidensiële historici hom as die swakste Amerikaanse president nog beskou het, terwyl Obama sewende was – die enigste prez sedert Lyndon Johnson wat die toptien kon haal.

*****************

Waar laat die bromanse tussen Trump en Musk vir Vance?

Wel, JD is die skakel tussen Peter Thiel en die Withuis. Nòg Trump nòg Musk nòg Vance is ’n filosoof.

Die aartsregse Thiel is.

En bo-aan sy lys van wrewels is liberalisme en beperkings op tegnologiefirmas.

Dis sieninge wat ’n klein groepie konserwatiewe Amerikaanse intellektuele, bekend as die New Right, saambind. Die kern van wat hulle glo, is dat “die liberale projek”, oftewel “die demokrasie”, misluk het.

Met hierdie dampkring as agtergrond het die christelik-evangelistiese Thiel die katolieke heuwelbeuwel Vance voorgestel aan die filosofie van ene Patrick Deneen (van die private katolieke navorsingsuniversiteit Notre Dame in Indiana).

Deneen wil liberalisme se fokus op die individu, sekularisme en die vryemark vervang met die kommunale basis van ’n kernfamilie, gedeelde geloof en plaaslike ekonomieë.

Dit was een groot invloed op Vance, die politikus.

Die ander groot invloed was – en is – Curtis Yarvin, ’n gewese rekenaarprogrammeerder wat onder die skuilnaam Mencius Moldbug gepubliseer het.

*****************

Die monargis Yarvin verwys ook na homself as The Dark Elf. Terselfdertyd staan hy as die Nuwe Regs se “huisfilosoof” bekend.

Individuele outonomie, seg die Donker Elf, is die sweer wat Amerika laat wankel. Mense moet in klasse opgedeel word en onder ’n koningsfiguur met ’n sterk polisiemag dien. Jou stand en genetika sal op ’n ID-kaart noteer. Iris-skandering en sekuriteitkameras sal aan’t orde van die dag wees.

Is dit 1984 se Big Brother waarvan Yarvin hier praat? Of is dit dalk Trump en Vance se Grand Old Party (GOP) wat aan vroue wil voorskryf hoe hulle hul gesondheidsorg mag en moet bedryf, al is hulle in lewensgevaar?

Of het die Donker Elf selfs erger idees?

Soos dat boosdoeners se hande afgekap moet word. Of dat onproduktiewe onderklasmense “gevirtualiseer” moet word deur hulle in tronke te gooi, waar hulle in kontak met ’n virtuele werklikheid ’n ryk lewe kan lei; iets soos Jim Carrey se karakter in The Truman Show.

Laaste maar nie die minste nie, stel Yarvin voor dat die slegste onderklasmense tot biodiesel verpulp kan word om brandstof vir openbare vervoer te skep.

As tegno-outokraat betoog die Donker Elf voorts in Patchwork: A political system for the 21st century vir die afskaffing van federale regerings.

Dis Patrick Deneen se filosofie van plaaslike ekonomieë wat hier deurskemer, soortgelyk aan die hooftema in Alain Tanner se fliek Jonah who will be 25 in the year 2000.

Om die teorie ten beste te laat werk, moet lande dus deur soewereine klein streekstate vervang word wat elk op hul eie opereer.

Of in Yarvin-taal: “Die ‘katedraal’ moet in duisende klein ryke (realms) opgebreek word. Die regte soort leier kan dit doen. Daarom moet Amerikaners hul diktatorfobie opsy skuif, veral as hulle van die huidige kommunistiese Amerikaanse staat ontslae wil raak.”

Kom nou, ou Curtis. Is die VSA ’n kommunistiese staat? Regtig?

*****************

Dis maklik om te sien hoe Donald J Trump en Yarvin se polisiestaat-filosofie inmekaarpas. Trump se voormalige sekretaris van verdediging, Mark Esper, waarsku dat Die Don voortdurend gedreig het om mense op te sluit of in die strate te skiet.

In Trump se eie woorde sal hy “net op dag een” ’n diktator wees, maar dis nie hoe diktators opereer nie. As ’n haai eers bloed ruik, raak hy mal. Trump is klaar van sy sinne beroof. Word hy weer verkies, sal hy vir die res van sy termyn – of dalk lewe – as diktator heers.

Dat hy roekeloos genoeg sou wees om Yarvin se “katedraal” te verwoes is ewe moontlik.

As hoof van die federale regering was Trump nutteloos tydens Covid. Die deelstate moes self sien en klaarkom. Indien enigiets het Trump se bisarre idees oor Covid-bevegting ’n las en ’n gevaar geword.

In teenstelling met die drogprediker Jim Jones se volgelinge wat geweet het dat die gif wat hy hulle injaag, bedoel was om te dood, het Trump se propaganda van gevaarlike stowwe die “belofte” van genesing ingehou.

Hoe onverantwoordelik kan ’n president wees? En kon dit ooit erger?

Wel, besluit self. Op 6 Januarie 2021 het Trump in wese ’n aanslag op die Amerikaanse grondwet en staat van stapel gestuur met sy poging om die uitslag van 2020 se presidensiële verkiesing omver te werp.

Dat hy ooit aan die pen gaan ry vir hierdie opstand, hang van 5 November se verkiesingsuitslag af.

Wen Trump en al drie hangende sake teen hom sal in die eerste paar sekondes van sy tweede termyn ’n valbyldood sterf.

Verloor hy die verkiesing en die Oranjeman sal moontlik vir die res van sy lewe oranje dra of in huisarres wees.

Dis hoekom Trump desperaat is om te wen. Hy wil sy vryheid behou.

En hy wil wraak neem.

*****************

Politieke, joernalistieke en regsvyande sal beslis geteiken word.

Die res sal Trump laat uitrafel soos dit wil, nes hy tydens die epidemie geabdikeer het met sy siening dat Covid “toweragtig en vanself sou verdwyn”.

Buiten sy outokratiese instinkte wat alles uit narsisme en selfsug gebore word, is Trump ’n anargis, die koning van chaos. Alles waaraan hy raak verval in wanorde.

Dis hoekom Trump net gedeeltelik die antwoord is waarna Yarvin en die Nuwe Regs soek. Die Donker Elf se groot beswaar teen die demokrasie is júís dat dit “meer wanorde as orde produseer”. Die probleem, reken hy, kan deur ’n “imperiale presidensie” opgelos word, deur ’n monarg “soos Augustus, Napoleon of Lenin”.

In wese betoog Yarvin dus vir Plato se filosoofkoning.

Maar Trump is nie ’n filosoof nie. Sonder geweld van sy eie kan hy ook nie orde handhaaf of skep nie. Hy’s te ongeorganiseerd, te narsisties, te chaoties.

Dis hoekom JD Vance onder hom ingeprop word, om saam met ander trawante, soos die bose klein Stephen Miller, uitvoering aan Trump se mal planne te gee.

Vir dié doel sal Project 2025 as handleiding dien. Dis ’n skrikwekkende dokument, volkome in die gees van Trump se onlangse saamtrek in New York se Madison Square Garden, waar Amerikaanse Nazi’s in 1939 hul heil aan Hitler verbind het.

Nie net is Trump deur Mark Milley as die gevaarlikste mens nog in Amerika uitgesonder nie. John Kelly was – nes Milley – ’n generaal in Amerika se gewapende magte en ook een van vier stafhoofde wat een na die ander in Trump se Withuis gedien het.

So gepraat: Hoekom benodig enige president vier stafhoofde in vier jaar? Veral as hy vooraf gespog het dat hy “net die beste mense” sal kies.

Trump, seg Kelly, bewonder Hitler. Die Nazi-leier is gereeld lof toegeswaai, terwyl beseerde of gevalle Amerikaanse soldate as “suckers and losers” uitgekryt is.

Die Ou Regs sou dít nie geduld het nie. Romney, Bush, Reagan en Eisenhower sou sulke ontheiligings selfs as iets ergers dan “onpatrioties” beskryf het.

Die Nuwe Regs ignoreer dit net.

*****************

Die Nuwe Regs is allermins ook ’n geoliede eenheid. Dis eerder ’n saamraapsel van sosiaal-konserwatiewes, ekonomiese nasionaliste, samesweringsteoretici, rassiste, anti-Semiete, America First-fanatici, ensovoorts.

Thiel noem dit ’n “rebel alliance” met uiteenlopende sieninge oor familiebou, nasieskap, regeringsake en entrepreneurskultuur.

Steve Bannon is deel van die Nuwe Regs en ’n Donker Elf-akoliet. Die supergevaarlike populis, wat pas uit die tronk gelaat is, glo – nes Trump – in die mag van intimidasie en chaos.

Sy verklaarde doel is om die staat omver te werp, ’n siening wat 6 Januarie 2021 in beter perspektief stel.

En help dit om te weet dat die Donker Elf homself beywer vir die anti-egalitariese, anti-demokratiese, neo-reaksionêre beweging bekend as NRx – daar’s die x weer – waarvan grondbeginsels deur Nick Land ontwikkel is?

Drie dekades gelede het Land, ’n Britse filosoof, The thirst for annihilation: Georges Bataille and virulent nihilism geskryf. Oor die afgelope dekade het Land ook duidelike rassistiese sieninge ontwikkel en van “hiperrassisme” begin praat.

Sy filosofie staan juis as Dark Enlightenment bekend.

*****************

Dark is natuurlik ’n woord waarvan die Nuwe Regs hou. Donker geld. Donker denke. Donker Donald. Distopiese Donald. Donald se Elon. Of Elon se Donald.

Dis dalk hoekom Musk deesdae ’n swart “Make America Great Again”-keppie dra en van die verhoog af verkondig dat hy nie meer MAGA is nie.

Hy’s nou Dark MAGA.

Te oordeel na die chaotiese manier waarop hy sy maatskappye bestuur en die chaos wat Trump oweral saai, is Dark MAGA eintlik maar Deurmekaar MAGA.

Milan Kundera het juis ’n boek geskryf – The unbearable lightness of being – oor hoe menselewens deur einste donker magte van die wêreld geraak word; die Sowjet-Unie wat Tsjeggo-Slowakye in 1968 binnegeval het, nes Rusland met die Oekraïne sou maak.

Trump is onaangeraak hierdeur. Hy sal die oorlog binne ’n dag tot ’n einde bring, spog hy.

Ja, dalk. Deur alle militêre hulp aan Zelensky te beëindig en die boelie Poetin te gee wat hy soek.

Trump sal dus met die Oekraïne maak wat hy met die Kurde gedoen het en hulle aan die ergste moontlike lot oorlaat.

Hy sal hulle verraai.

Want dis wat Trump in wese is. Almal moet superlojaal teenoor hom wees.

Maar hy aarsel nie vir ’n oomblik om ander – of selfs sy land – af te kraak en in die rug te steek nie.

En jy’t gedog Trump staan vir “America First”?

*****************

Wel, dink weer. En onthou die volgende:

(1) Trump se 2018-ontmoeting in Helsinki met Poetin agter geslote deure en, insiggewend, sónder stenograwe, waarna Trump sy eie FBI-agentskap se siening oor Russiese inmenging in 2016 se Amerikaanse verkiesing verwerp en Poetin se ontkenning van inmenging aanvaar het; en

(2) Trump se welbekende benadering, nie van “America First” nie, maar wel van “Trump First”.

As dit andersom was, as dit waarlik “America First” was, sou Trump nie honderde hoogs-geheime staatsdokumente aan die einde van sy presidentstermyn uit die Withuis gesteel het nie.

Nog minder sou hy geweier het om dit aan die Nasionale Argiewe terug te besorg toe hy daarvoor gevra is.

Hy – Trump – kan sy sterre dank dat ’n volslae MAGA-republikein, die jong en onervare en erg bevooroordeelde Aileen Cannon, as regter dien in Jack Smith se dokumentesaak teen Trump, ’n saak wat nou dormant lê omdat Cannon dit ná ’n onaardige lang gesloer op onreëlmatige wyse uitgegooi het.

Wen Harris die verkiesing en Trump sal – in hierdie asook twee ander strafregtelike sake, onderskeidelik oor verkiesingskorrupsie en die Kapitool-aanval – bes moontlik aan ernstige oortredings skuldig bevind word, nes dit hoort.

Wen Trump en sy ongelooflike lopie van regsontduiking sal in ’n walglike triomftog ontaard. Ons weet tog hoe diktators oorwinnings vier, dan nie? Deur die bemagtigingsgevoel van hul sege tot ongekende nuwe uiterstes te voer.

Trump praat van ’n purgeerproses. Hy wil Amerika reinig. Hy wil onwettige immigrante, die “vermin” wat “die Amerikaanse nasie se bloed vergiftig”, uit die land spoel.

Trump en Stephen Miller praat van 15 miljoen mense.

En wie gaan dan die VSA se hotelbeddens opmaak, die vrugte pluk, die vuilgoed wegry? Saam met hemelhoë invoertariewe (wat alles deur die Amerikaanse verbruiker betaal gaan word) sal Trump se beleid inflasie van voor af aanjaag.

Hoeka word Harris se ekonomiese beleid eerder as Trump s’n deur die konserwatiewe Wall Street Journal en The Economist onderskryf, terwyl 23 ekonome wat al die Nobelprys gewen het, Harris se plan as “vastly superior” vis-à-vis Trump s’n beskryf.

Harris het juis tydens haar veldtog beklemtoon dat sy elke oggend met haar to do list in die Ovaalkantoor sal sit, terwyl Trump met sy wraaklys doenig sou wees.

Van alles wat ons weet, is dit ’n ontstellende maar goeie tipering.

Niemand glo byvoorbeeld dat Trump werklik militêre tribunale en teregstellings in die openbaar sal voltrek nie.

Maar hoekom versprei hy dan sulke twiets (of Truths)?

*****************

Dis allermins die enigste MAGA-dreigement.

Minder drasties, maar ewe kommerwekkend, is dalk wat uit Vance se pen vloei, soos ’n onderskrywing van Bannon se radikale idee om “elke middelvlak-burokraat en elke siviele dienaar in die administratiewe staat met ‘ons mense’ te vervang”.

Dit was juis Bannon en Trump se soort taal lank voordat ’n handleiding vir ’n tweede Trump-termyn as Project 2025 geformaliseer is. En glo maar dat Project 2025 so ’n skrikwekkende en omstrede dokument is dat Trump en selfs Stephen Miller hulle daarvan wil distansieer.

Maar die dokument is nie om dowe neute geskep nie. Dit kom reguit uit die MAGA-hartland. Dit het ook as riglyn gedien vir die GOP se eerste nuwe beleidsplatform sedert 2016.

Die GOP-spelers in’t spel is dus almal deel van Project 2025 se donker tentakels. Vance is ten volle hiervan bewus. “I’m plugged into a lot of weird, right-wing subcultures,” het hy vroeër vanjaar bely.

Dít aan die een kant. Aan die ander kant prop hy by ’n “weird right-wing idiot” in, “a noxious and reprehensible moral disaster, a total fraud, America’s Hitler”; alles in Vance se eie woorde.

As JD dus eerlik met homself was, sou hy dalk gevind het dat sy destydse oordeel oor Trump steeds water hou.

Die probleem is dat hy sy rol moet speel om Trump, as hy weer president sou word, na die wil van Vance se eie meesters – Musk, maar veral Thiel – te buig.

Vance is dus presies waar die Nuwe Regs hom wil hê. Hy sal die brein agter die “useful idiot” wees, die skakel tussen Silicon Valley en die Withuis.

Saam-saam sal die hele spul, met Trump se volle ondersteuning, beslis sorg dat die Withuis aan die hoogste bieër verkoop word. In wese sal hulle doen wat die Guptas met Jacob Zuma probeer het.

Hulle sal Amerika regeer.

*****************

Silicon Valley sal nie alleen regeer nie. Daar sal beslis mededinging uit vele ander oorde soos Saoedi-Arabië wees. Trump stap al lank hand om die blaas met die Saoedi’s.

Mens wonder selfs wat die inhoud was van al die gesteelde staatsdokumente waarop die FBI in Augustus 2022 in Trump se Floridiaanse woning, Mar-a-Lago, beslag gelê het? En erger: wat die inhoud was van die hoogs-geheime geklassifiseerde dokumente wat hulle nie kon terugvind nie?

En waar ís daai dokumente nou?

Dalk moet Vance vir ’n mening hieroor gevra word. Met 18 maande se politieke ondervinding onder die blad, is Ohio se junior senator dalk ná Dinsdag Amerika se aangewese vise-president. En sou Die Donald wen en kort ná sy inhuldiging iets oorkom, raak die 40-jarige voormalige heuwelbeuwel die magtigste man op aarde.

Nie dat Vance ooit ’n waarlike hillbilly was nie, maar hy probeer hard om te maak asof hy was. En, o gaats, hy dínk soos een. Vance het skrikwekkende primitiewe idees oor families, gesinne en vroue.

In belang van die kinders mag ’n huwelik byvoorbeeld nooit ontbind word nie, al word ’n vrou hoe erg deur haar man mishandel. Volgens Vance is die beëindiging van selfs gewelddadige huwelike “dade van onbesonne selfsugtigheid”.

Hy’s ook ten gunste van ’n streng nasionale verbod op aborsies, selfs as die swangerskap uit bloedskande of verkragting ontwikkel het. “Two wrongs don’t make a right,” seg Vance.

Voorts wil hy vroue, gesondheidswerkers en dokters toesluit as hulle oortree.

Vance glo ook dat dit sy reg is om stories op te maak, sou hy die media se aandag op ’n kwessie wou vestig. Dis presies wat hy gedoen het met sy bewering dat Haïtiese immigrante mense se katte en honde eet.

Nes Trump wil Vance die arm man verteenwoordig, terwyl hy self in diens van Groot Geld staan.

*****************

Vance gaan dus niks wat tans verkeerd is, regmaak nie.

Geen geweerbeheer nie. Geen aborsies nie. Geen selfdegeslag-huwelike nie. Geen hulp aan Oekraïne nie. Geen beter besoedelingsbeheer nie. Geen vry etes vir skoolkinders nie, selfs nie in die roesgordyn wie se belange kamtig deur Vance op die hart gedra word nie.

Voeg hierby hope kriptobluffery. Hope belastingvoordele vir hom en Die Donald se ryk vrinne. Hope konsentrasiekampe en massadeportasie vir sogenaamde onwettiges. Hope inflasie en finansiële ellende as tariewe ingestel word.

En baie konsternasie wat uit leuens gebore word, soos Springfield, Ohio, wat onlangs in ’n gemors van dreigende geweld gedompel is ná Vance en Trump se infame leuens oor troeteldiere wat deur “onwettige Haïtiese immigrante” geëet is.

Oor die afgelope dekade het einste immigrante gehelp om Springfield aan sy veters op te trek. Planne vir die heropbouing van die stad het op nuwe besighede berus, wat op goedkoop arbeid moes staatmaak.

Van oral oor Amerika het wettige Haïties gekom om hierdie gaping te vul. Hul getalle plaas wel ’n stremming op skole en mediese dienste, maar die stadsvaders het dit voorsien. Hulle is tevrede dat die koste daarvan die herlewing van Springfield werd is.

En hier’s die waarheid omtrent ’n kat wat kamtig gevang en geslag is. Hy’s ná drie dae in die kelder van sy baas se huis gevind.

Nie dat die waarheid ooit in die pad van politieke ambisie staan nie. Vance, wat Trump eens op ’n tyd so helder gedefinieer het, weet presies wat dit beteken om ’n leuen vir politieke gewin te lewe.

*****************

Stormy Daniels het haar boek geskryf.

So ook Mary Trump, Maggie Haberman, Tim Alberta, David Frum, Michael Wolff, Bob Woodward en dosyne ander, almal met Trump as hooffiguur.

Die hele lot skets ’n donker prentjie van ’n onbekwame, korrupte man. Almal is dit eens dat ons hier met ’n toksiese, psigopatiese, narsistiese monster te make het.

Selfs Tony Schwartz, spookskrywer van Trump: The art of the deal, sê dat hy by verre geen groter berou in die lewe het as sy aandeel aan hierdie boek nie.

Nou’t Fred Trump III se All in the family: The Trumps and how we got this way verskyn.

Fred se prentjie oor sy oom, Donald J Trump, is nogmaals ’n donker een. Hy’s onaangenaam, Die Don. Aanstootlik. Humeurig. ’n Bluffer. ’n Blaamverplaser met ’n kort lont en geen sin vir verantwoordelikheid nie. En ’n leuenaar van die voorste waters.

Dis ou bekendes. As president het Trump hierdie eienskappe oor en oor ten toon gestal. Maar Fred Trump III belig nog een.

Soos dat Donald per geleentheid van Fred wou weet wat nou eintlik met Fred se seun, William, verkeerd is. William is non-verbaal en rystoelgebonde. As jonger kind het hy dosyne stuipaanvalle per dag beleef.

“Wel,” het Fred geantwoord, “dis ’n rare genetiese mutasie genaamd KCNQ2, maar die dokters kon nog nie die presiese oorsaak vasstel nie.”

Waarop Donald gesê het: “Nie in ons familie nie. Daar’s niks met ons gene verkeerd nie. Versorgkostes is buitendien te hoog. Jy moet hom net laat sterf.”

Later in William (wat nou 25 is) se lewe het Trump die gedagtegang herhaal. “Hy herken jou nie. Jy moet hom net laat sterf.”

Dis wat Die Donald ook as president gesê het toe Fred vir beter sorg teenoor gestremde mense wou pleit. “Daai mense, die toestand waarin hulle is, al die kostes, miskien moet daai soort mense net doodgaan.”

*****************

Dostojewski het ’n boek geskryf.

Wel, hy’t vele geskryf, onder meer Die idioot (wat, terloops, nie oor Trump of Vance handel nie).

Crime and punishment het egter betrekking. Die hoofkarakter, Raskolnikof, vermoor ’n ou dame – ’n pandjieshouer wat, in sy oë, nutteloos vir die samelewing is – sodat hy haar rykdomme kan steel.

Fred Trump se stories oor oom Donald herinner mens aan Raskolnikof se siening van hulpelose mense, hetsy oud of gestremd. Hulle’s ’n las. Hulle’s in die pad. Hulle moet verwyder word. Hulle moet verdwyn.

Ons het nie hier met ’n empatiese man te make nie.

Een van die dosyne laagtepunte in Trump se openbare optredes kom juis uit sy 2016-kampanje, toe hy ’n spastiese persoon van die verhoog af bespot het deur te maak asof hy self ’n aanval kry.

John Kelly vertel ook dat Die Don geen voormalige soldate wat rystoelgebonde was op militêre parades wou hê nie, “omdat dit sleg lyk; mense hou nie daarvan nie”.

In Frankryk het Trump juis geweier om op ’n reënerige dag die grafte van gevallenes uit die Tweede Wêreldoorlog te besoek, omdat hulle in elk geval “suckers and losers” is. Tydens ’n parade in die militêre begraafplaas Arlington het Trump boonop na Kelly (wat, nes Biden, ’n seun in uniform verloor het) gedraai en gesê: “I don’t get it. What’s in it for them?”

Vroeg in sy presidentskap het Trump per geleentheid ook op al sy topgeneraals geskree dat hulle “losers en suckers” is wat niks weet nie. Onlangs is Arlington nogmaals ontheilig toe Die Don foto’s en video’s van ’n kransleggingsbesoek laat neem het, in weerwil van ’n uitdruklike verbod daarop.

Trump het selfs al glimlaggende en met ’n duim-op vir foto’s langs grafte geposeer.

Die naam van die oorlogskip John McCain moes ook per geleentheid bedek word toe Trump, toe nog president, besoek daarop sou aflê, onder meer omdat Trump nie McCain as ’n oorlogsheld beskou het nie, “omdat hy gevange geneem is”.

*****************

McCain se vliegtuig is tydens die Viëtnam-oorlog afgeskiet. Met die uitskietslag is albei sy arms en ’n been gebreek. Hy’t in ’n meer beland en amper verdrink. Die Noord-Viëtnamese wat hom uit die water sou trek, het McCain met bajonette gesteek en sy skouer met ’n geweerkolf vermorsel.

Van 1967 tot 1973 is die latere republikeinse senator as oorlogsgevangene gemartel, onder meer vir ’n strek van twee jaar in enkelaanhouding.

Omdat sy pa in 1968 tot bevelvoerder van Amerikaanse magte in Viëtnam bevorder is, het die vyand aangebied om McCain vry te laat. Hy’t geweier, omrede die Amerikaanse militêre kode vereis dat gevangenes losgelaat moes word in die orde waarin hulle gevang is.

John McCain was ’n Amerikaanse held. Trump kon dit nie hanteer nie, want hý (wat diensplig ontduik het deur toutjies te trek) wil so graag daai held wees.

Dié versugting, het Die Don gevoel, is in 2016 vervul toe hy tot president verkies is – en toe weer op 6 Januarie 2021, toe Trump sy volgelinge opgesweep het om die Amerikaanse setel van mag, die Kapitool in Washington, te bestorm en gewelddadig binne te dring om die sertifikasie van Joe Biden as president te verhoed.

Trump het van die kantlyn af dopgehou. Hy’t vasgenael voor sy TV in die Withuis gesit en kyk hoe ander namens hom baklei en ly. Toe hy gewaarsku is dat die skare dreig om vise-president Pence aan ’n galg te hang, het hy met ’n “So what?” geantwoord.

“Pyn en lyding,” het Dostojewski gesê, “is altyd onvermydelik om ’n wye intelligensie en ’n diep hart te kweek. Waarlike groot mense beleef groot droefheid en hartseer op aarde.”

John McCain, ’n man van onkreukbare integriteit, het daai pyn en lyding beleef.

Donald Trump word deur goue krane, marmervloere, tronkvoëls en QAnon-kwakkraaiers omring.

En natuurlik RFK jnr, aan wie beheer oor openbare gesondheidsagentskappe glo beloof is as Trump weer aan bewind sou kom.

Nou, vroeër in die veldtogseisoen, het die demokratiese vise-presidentskandidaat, Tim Walz, na Vance en Trump as weird verwys, wat hulle wel is, met Musk dalk as ekstra-weird.

RFK, oftewel Robert F Kennedy jnr, is super-weird. Hy’s ook ’n amateurkwak wat homself as ’n kenner voorhou.

Maak hom dus Trump se dokter as Covid weer uitbreek.

Asseblief.

(En in ’n voetnota tot weirdness. Deesdae stel Musk skynbaar net in vroue belang wat bereid is om sy kinders te baar. Hy bied ook sy semen aan vriende en kennisse aan. Een van die vroue wat hom verwerp het, was Nicole Shanahan, ’n prokureur in Silicon Valley en RFK jnr se vise-presidentskandidaat, voordat RFK sy veldtog beëindig het om Trump te ondersteun. Die weirdos het ’n manier om mekaar te vind.)

*****************

Vele Trump-akoliete soos Manafort, Navarro, Bannon, Papadopoulos, Gates, Weisselberg, Stone en Michael Cohen het almal al tjoekiekos geëet.

’n Groot gros van die res in Trump se dampkring is ’n versameling van sielsiekes en geestesversteurdes. In navolging van hul messias wemel dit van verkiesingontkenners en leuenaars tot swendelaars en sertifiseerbare malletjies soos RFK jnr, Rudy Giuliani, Marjorie Taylor Greene en, die hemele behoed, Laura Loomer.

Trump sê as jy “ge-Loomer” word, is jy diep in die moeilikheid. Sonder dat sy ’n pos in Trump se veldtog beklee, was Loomer saam met Die Don op sy veldtogvliegtuig waar sy raad in sy oor sou fluister.

Loomer raak ook die vieslikste goed op X kwyt, soos dat 9/11 ’n “binnedaad” was.

En toe neem Die Donald haar saam met hom na die 30-jarige herdenking van 9/11. Dis onsensitief en vermetel verby, maar Trump verstaan nie sulke dinge nie – hy wat hom meng met rou rassiste en wit supremiste en openlike Jode-haters soos Nick Fuentes en Kanye West en Mark Robinson, die selfverklaarde “swart Nazi”.

Nie dat West en Fuentes hul Nazi-bewondering wegsteek nie. O nee. Curtis Yarvin, die Donker Elf, het self ’n sagte plekkie vir Adolf. Hitler se aggressie, seg hy, was eintlik net selfverdediging.

Yarvin het natuurlik sy voorstel dat die slegste tronkvoëls verpulp moet word om as biobrandstof te dien as ’n grap afgemaak.

Dis presies die taktiek wat Trump gebruik, om sy bedenklikhede as “sarkasme” of ’n “grap” af te maak.

Tussendeur versprei die MAGA-drie-eenheid – Trump, Vance en Musk – valshede sonder skaamte op X en op TV. Hulle kan nie onverantwoordeliker wees nie. Hulle kan ook nie meer skynheilig wees nie; hierdie drie waarvan ten minste twee maak asof hulle die arm man wil verteenwoordig, terwyl hulle self in’t diens van Groot Geld staan.

Dít in teenstelling met Vance se demokratiese teenstander in die komende presidensiële verkiesing, Tim Walz. Tim is middelstand. Onderwyser. Weermagoffisier. Minnesota-goewerneur.

Hy lewe na aan die aarde en na aan sy mense. Tim is ingeprop.

Vance het uit sy wortels uitgegroei. Hy bind nou met die elites.

So, hier’s bietjie raad, ou JD. Maak wat jou ma gemaak het. Vee alle Donalds uit jou geskiedenis.

Enige ander D-naam, buiten Donker Elf, sal doen. Iets soos David Duchovny, want selfs X Files kan nie vreemder wees as die GOP waarin jy as Donald J Trump se skoothondjie lewe nie.

*****************

Of wag so bietjie, dit kán vreemder wees. Elon Musk is vreemder, alhoewel sy storie nie so vreemd soos Billy Durant s’n is nie.

Billy was effe soos Elon, briljant en chaoties.

Hy’t met perdekarre begin. Toe beheer oor Buick gekoop. Toe General Motors (GM) help stig. Toe’s hy daar uitgeskop. Waarna hy ’n medestigter van Chevrolet was. Waarna hy weer beheer oor GM geneem het. En weer uitgeskop is. En Frigidaire gestig het. En toe Durant Motors.

Toe speel Billy tydens die Depressie bankrot. In 1947 sterf hy – pennieloos – aan ’n beroerte.

Billy was ook ’n William. Sy volle naam was William Crapo Durant. Sy eerste vrou was Clara Miller Pitt.

Brad Pitt het saam met David Duchovny in Kalifornia gespeel. En Kamala Harris is van Kalifornië af.

As mens hard genoeg soek, kan allerhande soorte sirkels gebind word.

As die Amerikaners hard genoeg probeer, kan hulle die Trump-sirkel Dinsdag voltooi en die man terugstuur na waar hy vandaan kom en soos hy gearriveer het: skielik, van nergens af nie, af en op met die roltrap en weg.

Doen hulle dit nie en Kamala verloor, sou mens kon sê dat die Yanks met die wêreld kalifornikeer. Dan’s ons terug by die Commander in cheat, die X-faktor en die onbekende.

En dis nie weird nie. Dis scary.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top