Cyril Ramaphosa: Hoe lank sal die wittebrood hou?

  • 1

Daar is miskien twee wittebrode hier, waarvan die eerste dalk al verby is. Hier praat ek van die aanvanklike euforie ná Cyril Ramaphosa se verkiesing as president. Baie kommentators en kiesers was só verlig oor die feit dat sy voorganger die pad gevat het dat hulle summier geglo het alles is nou gewaarborg om reg te kom. Hulle glo duidelik nie meer so nie.

Belangriker is die tweede wittebrood, wat te doen het met die posisie waarin die land en Ramaphosa hulle onderskeidelik bevind.

Enersyds is ons land in ’n benarde posisie weens die volgende probleme waaraan die nuwe president aandag moet gee:

  • korrupsie
  • werkloosheid en gebrek aan groei
  • broeiende rassespanning wat veral gestalte vind as ’n stryd oor wit bevoorregting – waarvan grond ’n sleutelelement is – en swart onderbevoorregting.

Andersyds is Ramaphosa – soos die geval die laaste jaar of twee was – ’n politieke akrobaat wat op ’n hoogspanningsdraad loop, fyn gebalanseer tussen die populistiese massas aan die een kant wat rede soek om hom die afgrond in te trek, en moeilike besluite wat hy moet neem om die probleme hier bo aan te spreek aan die ander kant.

Die eerste van hierdie probleme, korrupsie, is in ’n sekere sin die maklikste een om op te los. Hoewel die proses self ingewikkelde en harde werk gaan vereis, is dit polities die mins omstrede een: die meeste belangegroepe in die land durf nie in hierdie stadium gesien te word as simpatiek teenoor korrupsie nie. Die vakbonde, die opposisie, die meeste gewone lede van die publiek, die werkloses, die media en sakelui draai geen doekies om oor hulle keelvolheid oor korrupsie nie. Die gevolg is dat ook die ANC-kaders wat in Zuma se korrupte faksie geval het, nou self om politieke redes oor mekaar val om omkopery, baantjies vir boeties, tenderpreneurskap en staatskaping te verdoem en te veroordeel. Dat dit die politieke ekwivalent van krokodiltrane is, skeel min: hulle is in ’n hoek geverf, waar hulle net eenvoudig alle pogings tot uitroei van die onkruid van korrupsie met wortel en tak, met woord en daad móét steun. Elkeen veg natuurlik vir homself in hierdie proses, maar soos ’n spul bloedlustige haaie in ’n tenk begin hulle nou na mekaar te hap. Daar is niemand so heilig (en skynheilig) as ’n kastig nuutbekeerde boef nie. Hulle teenstand is grootliks lamgelê.

Die geveg oor korrupsie is ver van maklik. Die blote feit dat Cyril ’n kompromiskabinet moes saamstel – met party lede wat maar alte verdag is onder die korrupsiewolk – beteken dat hy polities op hierdie terrein kwesbaar is.

Maar hy kan nog steeds heelwat politieke kapitaal, en tyd, met behulp van die bykans allerweë gewilde stryd teen korrupsie, uitkoop. Ek reken ’n jaar is heeltemal realisties.

Die ekonomiese probleme en die rassekwessie gaan vir my hand aan hand. Die stryd oor wit bevoorregting en grond gaan nie naastenby tot ruste kom as die ekonomiese kloof tussen die rassegroepe nie merkbaar vernou nie. Solank swart mense nog voel dat hulle deur hulle ekonomiese agterstand verneder word, gaan populistiese oproepe om nasionalisering van grond, minimumlone, konfiskering van water, verhoging van sosiale toelae, groeiende staatsuitgawes, en meer en ingrypender swart bemagtiging en regstellende aksie net toeneem.

Die dilemma is dat elkeen van hierdie eise reeds ’n gevestigde strukturele onderbou het wat ’n vorm van gewinstrewing (rentseeking) bevorder. Elkeen van dié strukture skep ’n manier vir ’n klomp mense om iets vir niks te kry nie. En dit is gewoon dodelik vir enige verdere vooruitgang:

  • Privaateiendom en die grondwetlike beskerming daarvan is ’n hoeksteen van ons markekonomie. Neem dit weg, of bedreig dit selfs net, en ons kan gerus maar enige vooruitsig op nuwe beleggingsgroei vaarwel toeroep.
  • Minimumlone en soortgelyke arbeidsregulasies wat vakbonde beskerm en onproduktiewe stakings bevorder, kos ons reeds miljoene werkgeleenthede.
  • Sosiale toelae aan 17 miljoen mense (meer as wat in diens is) het ’n kultuur geskep wat sê: die staat sal sorg. Dit het Suid-Afrika een van die powerste lande vir ondernemerskap gemaak.
  • Dieselfde geld die buitengewone groei in staatsbesteding en gepaardgaande staatsindiensneming, wat privaatsektorgroei en werkskepping behoorlik doodwurg.
  • Swart bemagtiging en regstellende aksie dra hiertoe by, deur produktiwiteit van bestaande ondernemings te kniehalter en groot inbreuk op die stig van nuwe ondernemings deur swart mense te maak. Bitter ironies is dat sedert 1994 die gemiddelde inkomste van wit mense (wat nie die kruk van regstrellende aksie het nie, en op eie ondernemingsgees en vernuf moet steun) die hoogte in geskiet het, en sy voorsprong teenoor swart inkomste vergroot het.

Nog is het einde niet. Die angel in die stert van hierdie dilemma is dat die President polities juis die belange van belangegroepe wat voordeel uit elkeen van hierdie loonkapingskemas trek, moet aantas as hy ernstig is om die ekonomie die U-draai te laat maak:

  • Hy moet ’n manier vind om die tsoenami van populistiese steun vir onteiening sonder vergoeding om te draai.
  • Hy moet die minimumloon en al die ander arbeidswette waarvoor hy direk of by implikasie pa staan, se tande trek. Dít, terwyl hy uitdruklike steun van Cosatu vir sy presidensiële ambisie ontvang het, self ’n stigterslid van Cosatu en die National Union of Mineworkers was, en boonop nog baie kwesbaar oor Marikana is.
  • Die grootste enkele kiesblok is stellig werklose mense wat sosiale toelaes kry. Gaan hy die ongewilde stap doen om hulle brood uit die mond te neem – soos hy eenvoudig op een of ander manier moet as die ekonomie sy erns is?
  • Sy drie miljoen “werknemers” in die staatsdiens gaan nie gelukkig wees as hulle gemaklike, onproduktiewe bestaan bedreig word nie, om nie te praat van die derduisende bevoordeeldes wat deur ’n verskeidenheid projekte by die staatskrip vreet nie.
  • Swart gegradueerdes verwag eweneens werksgeleenthede en bemagtigingsvoordele in die breër swartbemagtigingsprogram, iets waardeur Ramaphosa ryklik bevoordeel is. Hoe draai hy nou die kraantjie toe?

Ramaphosa is ’n slim man, ’n bekwame sakeman en uiters ambisieus. Nie net wil hy Suid-Afrika tot ’n voorspoedige reus in Afrika omdraai nie. Hy weet wat hy moet doen. Hy is pragmaties, en nie ’n ideoloog nie. Hy wil doen wat nodig is. Maar hy het sekerlik geen illusie oor die berg wat hy moet klim nie.

Die korrupsiegeveg kan vir hom die tyd tussen nou en die verkiesing koop, selfs die beleggingsklimaat verbeter. In die aanloop tot die verkiesing gaan hy die onteieningskwessie as ’n goedkoop politieke foefie uitbuit. Dit lyk vir my uit ’n praktiese en regsoogpunt is daar te veel hindernisse om te oorkom en sal die voorgenome skema van konfiskering van grond en ander bates nie slaag nie. Suid-Afrika se geskiedenis is gesaai met die lyke van groot skemas soos dié wat skipbreuk gely het sodra hulle politieke doel uitgedien is. Verwag dat die President teen 2019 heelwat sterker polities gaan staan en in staat sal wees om dié plan in soveel voorwaardes, kwalifikasies en kompromieë te verstrik dat daar niks van gaan oorbly nie.

Dieselfde geld nie die ander belange wat hy gaan antagoniseer nie. Mens kan verwag dat Ramaphosa as president in 2019 in die ongewone posisie gaan wees dat hy ’n nuwe termyn gaan begin, maar gaan besef dat hy nie meer ’n wittebrood het om mee te speel nie. Hy gaan ’n rits baie moeilike ekonomies-politieke besluite in die gesig staar – keuses wat hy, indien hy erns maak met sy ambisie om die land om te keer, teen daardie tyd eenvoudig nie sal kan ignoreer nie.

Jare gelede was daar ’n advertensie in die koerante met ’n foto van ’n olifant en ’n lorrie wat kop teen kop staan, met die onderskrif: “When might meets might, something’s gotta give.”

Inderdaad.

  • 1

Kommentaar

  • Avatar
    Pol Vigoureux

    Frans Rautenbach heeft een klare kijk op de toestand en ook een oplossing voor het herstel van de chaos in zuid Afrika. Gratis bestaat niet. Voor elke verwezenlijking moet er in alle ernst gewerkt worden. Dat is overal zo.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top