“Cuito Cuanavale (1988)” is voorgelê om Afrikaans te vier onder die tema “Kyk hoe ver het ons gekom”. Dié inisiatief van PEN Afrikaans word ondersteun deur LitNet en moontlik gemaak deur Kruger Internasionaal Bate- & Welvaartbestuur. Hierdie fiksiekompetisie se tema sluit aan by een van die motiverings vir die Afrikaans Amptelik 100-veldtog.
As jy wil deelneem, lees hier meer oor die kompetisie. Die prysgeld beloop R10 000 vir die eerste-, R5 000 vir die tweede- en R2 500 vir die derdeplekwenner.
*
Cuito Cuanavale (1988)
“Wil jy regtig jou hele lewe spandeer om vir langlewendheid te bid? Ons is gebore om te sterf! Wie ook al saam met my is, kom môreoggend na die slagveld. Wie ook al nie is nie, bly net waar jy is en kyk hoe ek dit wen!” – Nobunaga Oda (Slag van Okehazama, 1560)
***
Ek lê tussen ’n droomwêreld en die werklikheid. My oë is toe. Iets het my wakker gemaak. Diep asemhalings en snorkgeluide hang onsigbaar in die tent. Dan hoor ek dit weer. Baie ver weg. ’n Hond wat blaf by een van die plaaslike bevolking se krale. Daar is sweet in die voue van my nek en onder my armholtes. Die reuk van Tabard en gebrande muskiet coils klim by my reukorgaan in. My oë gly stadig oop. Die tentflappe is oop en miljoene sterre kyk neer op ons. Die maan het al gegly en lê laag in ’n paar waserige wolke, met net ’n effense boepens wat wys. My gedagtes dwaal na my verwagtende vrou en ek stuur vir die soveelste keer ’n skietgebed op:
“Hou U hand oor haar,” bid ek en voeg vinnig by, “maar moet asseblief nie van my vergeet nie.”
Die hond gaan weer aan die blaf. Dan ruk ’n ontploffing die basis aan die binnekant. Ek kom vinnig orent. Nou is ek wakker. My elmboog ondersteun my natgeswete lyf. Ek knip my polshorlosie se leerbeskerming oop. Die neonvingers wys dis kwart voor drie. Stadig klim die desibels van die sirene. Ons moet gate toe. Dan nog ’n ontploffing. Hierdie keer is daar ’n helder flits – amper soos weerlig. Dit moes staal geslaan het. ’n Duisend vlammende sterre stroom oor die grondwal wat die basis omring, elk met ’n rooi en oranje stert. AK-47 tracers. ’n Vurige slang-army wat deur die lug kronkel en die donker oorrompel. Dit is ’n mortieraanval op die kamp.
“Wat de moer gaan aan?” kom dit van iewers in die donker tent.
Met al twee hande druk ek die muskietnet oop en swaai my bene grond toe. My R1 is by die kopstuk van my ysterbed. In die donkerte tas ek twee keer rond voordat my regterhand die koeëlgewrig van my vertroue wapen omvou. Vir ’n oomblik voel ek kalm te midde van die dreigende duisternis van die slagveld. ’n Derde 60 mm mortier ontplof in die kampgebied. Met my linkerhand ruk ek my beste kameraad se bed.
“Kom!” skree ek op Karel wat traag wakker word.
Van binne trek ons manne wat die 80 mm mortierstellings beman, los. Dit klink groter, beter en sterker. Ek hardloop na die foxholes net agter ons tent. Daar is reeds vier manne van die aangrensende tente saam met my. In die donkerte sien ek iets naderkruip. ’n Bonkerige, donker figuur. Dit kom by my tot stilstand en kyk direk in my oë. Dan herken ek hom, my beste kameraad. Hy vat my aan die skouer.
“Here, Gera. Is dit jy?”
“Dis ek.”
Karel het in sy slaapsak en muskietnet verstrengel geraak en sleep als agter hom aan. Hy stap nader en ek en twee ander manne help om hom te bevry. Ons mik weer vir die foxholes, maar net voor ons by die ander kan aansluit, haak Karel vas.
“Fok, tjom, maar die mense kan lawaai so vroeg in die oggend.”
Ek kan nie anders as om te glimlag nie. Met my hand wat vry is van die wapen, trek ek Karel by die gat in.
***
’n Jaar later lê ons naby Cuito Cuanavale in Angola. Dit is warm; dit is altyd warm hier. Ons het die vorige aand van stelling verskuif. Dit is moeilike en harde werk, almal is moeg en gedaan, maar steeds besig om in te grou. Ons kosvoorraad is laag en hongerte vreet my maag. Ek skyt al vir twee dae lank my longe uit, soos ’n brandsiek brak. Ek en my beste kameraad is weer saam. Hopelik is hierdie die laaste drie maande kamp. Karel sit oorkant my op die grond. Hy grou in sy sak op soek na iets om te eet en kom met ’n droë dog biscuit te voorskyn wat hy in twee breek. Een helfte hou hy na my toe uit. Ek kou dit soos ’n rot, stukkie vir stukkie, en sluk dit met lou brakwater weg.
“Hel, Gerhard-tjom, jy lyk sleg.”
Ek knik net. Ek probeer die koekie in my maag hou. Ons kyk vir mekaar. Skadu’s verberg sorge wat gedra word en elkeen hou hom besig met sy eie verdwaalde gedagtes. Ek dink terug aan my vrou se groet. Haar nat wange en my kind wat op haar heup hang. Dan word die stilte van die oggend verbreek.
“Victor, Victor! Daar’s ’n sorty in die lug.”
Die klank van die Russiese vegvliegtuie se krag skeur die oggend rou oop, maar die son en wolke verbloem hul van sig. Ewe skielik is daar chaos. Die kanonne is nog nie behoorlik ingestel met loopvisier en radar nie. Daar is nie tyd nie. Ek kyk hemel toe na my vyand en na my Vader toe.
Ek vra nog net een keer. “Vader, dit is my laaste kamp. Asseblief, laat ek terug gaan huis toe.”
Soos ek hardloop, dwaal my gedagtes na my veilige tuiskoms, my vader wat my groet met geen kus, net ’n stewige handdruk. Hy staan daar, regop en trots. Ek hoor my moeder se stem, bekommerd en manend soos altyd. My vrou glimlag en vat my hand. Ek tel my seuntjie op en gooi hom die lug in.
“Victor, Victor! Sorty-vegvliegtuie in formasie,” weergalm oor die radio.
Dit ruk my terug na die hede, na die werklikheid. Ek is eerste by die Oerlikon en span die wapen in. Druk die outolaaiers na die aan-posisie. Die lugafweerkanon sluk die eerste rondtes in die kamers vinniger as wat ’n hoender mielies kan pik. Dan kom die eerste-in-bevel aangehardloop, nog sonder sy hemp. Die MiGs het ons onkant gevang. Hy spring in die nommer 1-stoel en gooi die visier oor sy natgeswete skouer. Hy kyk na my nommer 2 en dan na nommer 3 aan my regterkant. Ek verstaan. Ons gaan skiet. Ons gaan verdedig sonder radarleiding. Ons moet. Anders is ons des moers.
Twee MiGs skeur laag oor die half voltooide stellings. Hul dra pyle, nie eiers nie. Hulle kom vir ons. Dan klim hul na 4000 meter en draai teen die son in. Die Oerlikon ruk op soos ’n steeks perd, soekend die lug in. My oog vang ’n flits in die son. Ek gooi my arm tweeuur se kant uit en skreeu hard vir die eerste-in-bevel. Hy tel hul op en trap die vuurpedaal. Die kanon antwoord getrou en gooi die rondtes. Ons skiet blindelings en gooi ’n muur van verdediging. Hul breek formasie en klim na 6000 meter. Te ver vir akkuraatheid.
“Moer hulle,” kom die luitenant se bevel hard en duidelik deur.
Ons doen. Rook trek uit die kanon se lope, maar ons bly hom voer. Kordiet- en grafietghries brand my oë en neusholtes. In die middel van als tel die loop storing op. Ek wag totdat die kanon taboe slaan. Die eerste-in-bevel wys dat ek die storing moet regmaak. Met als in my druk ek die rompdekselsleutel, draai dit in die oopposisie en lig dit op. Maar my hande is te glad, vol sweet en ghries. My krag is op en ek verloor my greep. Die deksel duiwel neer op my kop. Die vasgebrande rondte ontplof in die kamer. Die slag tref die regterkant van my skedel. Vir ’n oomblik is ek dood. Vasgevang tussen twee wêrelde. My lewe is losgeruk deur die slag.
***
Bloed vloei warm uit my skedel en my regteroor suis soos ’n bosveldbesie. Karel kom aangehardloop en gooi my een arm oor sy skouer. Ons strompel van die kanon af tot by die naaste sandsak. Bloed begin by my oor en neus uitloop. Ek kyk om. Die geveg is verby. Die Oerlikon gaan in rus in, sy lope laag met rook wat opwaarts uit hom trek, daar waar hy gevreet het. ’n Oerdier wat gaan lê. Met bewende vingers haal Karel ’n pakkie sigarette uit, steek een op en druk dit in my mond. Ek trek die twak diep in my longe, maar die naarheid laat my slym en bloed braak.
Die luitenant kom ruk my aan die skouer en kyk my in die oë.
Ek kry krag wat die Here gee en buig my arm opwaarts. Ons gee mekaar ’n high five. Hy lag, maar ek hoor hom nie.
***
36 jaar later sit ek op die agterstoep. My kinders is groot, my vrou ook al dood. Ek skrik toe my oudste dogter aan my regterkant verskyn. Sy sit die koffie langs my neer en verdwyn weer die huis in. ’n Tortelduif vlieg op en klap sy vlerke hard om hoogte te kry – ’n verwilderde dier in vlug. Dit sit my weer daar neer. Op ’n vreemde land se sand. Ek probeer dit keer, maar dit gebeur keer op keer.
Lees die ander verhale hier:
Kyk hoe ver het ons gekom: PEN Afrikaans en LitNet se kortverhaalkompetisie