Crackerjack deur Peter Church: ’n resensie

  • 0

Titel: Crackerjack
Skrywer: Peter Church
Uitgewer: Lapa
ISBN: 978-1-9463-9511-5

Die hoofkarakter, Daniel le Fleur, is in die wêreld van krakers bekend as Crackerjack. Hy is ’n hervormde kraker en is steeds baie aktief met die werk wat hy vir internasionale tegniese maatskappye soos Amazon verrig. Sy werk lei tot die uitsnuffel van verskillende en uiteenlopende vorme van internetmisdaad en metodes om dit mee te bereik.

Le Fleur besit al die internettoerusting en -hulpmiddels waaraan mens kan dink, en sy woonstel is beter beveilig as Fort Knox. Daarbenewens is hy stinkryk en nou nie wat die gewone leser as ’n baie aangename persoon sou beskryf nie.

Hy is nie betrokke by enige vriendskappe of verhoudings nie, volg ’n alleenbestaan en kopieer as stokperdjie kunswerke van ou meesters. Trouens, sy enigste vriend is ’n boemelaar wat hy Aqualung noem. Hulle voer vreemde gesprekke. Le Fleur beskryf sy lewe as dié van iemand wat slegte en bose mense beveg. Aqualung glo dat nie almal wat sleg is, boos is nie en sê hy sal nog eendag Le Fleur se lewe red.

Presies hoe geloofwaardig al Le Fleur se katoeters is, sal net ’n kraker kan beoordeel en ek ken nie so iemand aan wie ek dit kan toets nie. Is dit byvoorbeeld regtig moontlik om iemand se ID op die internet op te spoor, daardeur te blaai en te sien watter reise hy wanneer gedoen het? Net so kan Le Fleur selfoonrekords naspeur en ’n grafiek trek van wanneer wie met wie gesels het en waar hulle ten tye van die gesprekke was.

Sy kundigheid lei daartoe dat ’n aantreklike jong dame, Carol Vitale, haar opwagting by hom maak en sy hulp vra: Haar baas is (of was?) Nial Townley en sy Land Cruiser is sonder hom onder die see by Chapmanspiek opgespoor onderwyl hy besig was om met ’n baie verdagte Venezolaanse maatskappy te onderhandel. Sy eie maatskappy se likiede bates het ook verdwyn.

Carla kan nie glo dat Townley selfdood gepleeg het nie en die polisie is ná drie maande nog net so in die duister. Het hy na Suid-Amerika verhuis met die aandeelhouers se geld? Carol is ook ’n uitvoerende beampte van Townley se maatskappy en is grootgemaak om by hom oor te neem.

Le Fleur is nog op parool vir sy vorige onwettige krakery en hy wil eintlik nie weer op so ’n groot skaal betrokke raak nie. Maar dis tog ’n uitdaging, en Carol is baie sexy ...

In sy speurwerk kontak Le Fleur baie ou krakerkennisse onder hul skuilname en hulle voer uiters beskermde (kriptiese) gesprekke oor dinge wat nie juis peilbaar vir my as leser was nie.

Om die storie meer lyf te gee, word Fallon Trafford uit die tronk vrygelaat. Sy is ’n Psigopaat met ’n hoofletter-P wat al ses mense vermoor het. Die eerste twee was nie haar bedoeling nie, die derde een ’n dronk ou man wat sy met sy eie wapen doodgeskiet het. Vir nommers vier en vyf is sy betaal en sy kan self nie verklaar hoekom sy haar sesde slagoffer die ewigheid ingestuur het nie, behalwe dat hulle in ’n soort verhouding was en hy aggressief geraak het.

Dis nie lank nie voordat Le Fleur en Carol ook in haar visier verskyn, en ook nie net in hare nie. En dis maar die begin van talle ander moorde.

Dis Church se derde boek en is in verskeie lande te koop, wat seker ’n teken van sy gewildheid is. Crackerjack het vir my egter baie moeisaam gelees. Die intrige gebeur stadig, daar is min aksie en spanning, baie verraad. En teen die tyd dat die langsame ontknoping gebeur, is dit nogal ’n uitdaging om te onthou watter van die oorvloed karakters wat gedoen het.

’n Karakterlys agterin die boek sou in hierdie opsig baie kon gehelp het, maar dit is nie ’n voorliefde by skrywers en uitgewers nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top