COVID-19 noodsaak herbesinning oor oneffektiewe parlementêre kiesstelsel

  • 6

Foto van Jason LLoyd: verskaf

Die toenemende ontevredenheid oor parlementslede (LP’s) en lede van die provinsiale wetgewers (LPW’s) se gebrek aan voldoende oorsig tydens die COVID-19-pandemie is geen nuwigheid nie.

Trouens, dit is ’n historiese kwelling en dit verg ’n diepgaande herbesinning van ons parlementêre kiesstelsel, want LP’s en LPW’s is geensins direk aan kiesers verantwoordelik nie, maar wel aan politieke partye se base.

Die gemiddelde kieser weet nie eens wie sy of haar LP of LPW is nie. Dit behoort nie so te wees nie. Alhoewel politieke partye na verkiesings LP’s en LPW’s aan selfgeskepte kiesafdelings toeken, werk die stelsel nie so effektief nie, want in die meeste gevalle is die betrokke LP of LPW ’n onbekende of ongewilde persoon wat deur partybase op kiesers afgedwing word.

Sommige LP’s of LPW’s doen eenvoudig nie hul werk nie, want daar is grondige beskuldigings dat hulle nie net hul oorsigwerk nie doelmatig doen nie, maar ook hul gemeenskapswerk. As die partystrukture hieroor kla, word die betrokke LP of LPW sonder seremonie herontplooi en sonder dat kiesers in die saak geken word. Kiesers is magteloos en so word die volgende LP of LPW sonder hul medewete of inspraak op hulle afgedwing.

Nog ’n kwelling is hul hebsugtige hoë salarisse en byvoordele wat – veral in die lig van die ekonomiese krisis wat COVID-19 teweeggebring het en die ANC se mislukte makro-ekonomiese filosofie sedert 1994 – verminder behoort te word.

Ironies genoeg doen politici gereeld uitsprake dat die salarisrekening van staatsamptenare verklein moet word, maar toe die parlement verlede jaar ’n voorstel ingedien het dat LP’s se salarisse en byvoordele verminder behoort te word, het sommige siellose politici hul misnoeë met dié voornemens te kenne gegee.

Peace Mabe, uitgesproke ANC-LP en medevoorsitter van die komitee oor die finansiële bestuur van die parlement, dink blykbaar politici is heilige koeie, en reeds daarom behoort dit nie nodig te wees nie.

Op grond van die posisies wat parlementslede tans in die parlement beklee, verdien hulle tans ’n salaris van R1,2 miljoen tot R2,4 miljoen per jaar. Belastingbetalers betaal R120 miljoen per jaar vir vliegkaartjies vir sowat 2 000 huidige en oud-LP’s en -ministers en hul afhanklikes soos kinders en gades.

LP’s, LPW’s, ministers en adjunkministers word ook voorsien van gratis verblyf in huise in Kaapstad en waar die onderskeie nege provinsiale wetgewers in die land geleë is.

Boonop word elke politikus van 84 gratis vliegkaartjies per jaar voorsien. Hulle geniet ook goedkoop gesubsidieerde etes en drank by die parlement se kafeteria in Kaapstad en by elk van die nege provinsiale wetgewers landwyd.

Politici geniet ook gratis parkering by lughawens landwyd en word daagliks gratis per bus tussen die parlement en hul gratis verblyf by die drie parlementêre dorpies in Kaapstad (soos die Acasia parlementêre dorp in Goodwood) vervoer.

Dit is bykomend tot ander byvoordele soos vervoertoelae van R120 000 per jaar (R10 000 per maand), asook selfone, tablette en skootrekenaars.

Die verandering van die huidige kiesstelsel is ’n dringende noodsaaklikheid omdat die belang van die kieser bo dié van ’n politieke party geplaas moet word.

Die eerste poging in dié verband na die eerste demokratiese verkiesing in 1994 het 17 jaar gelede plaasgevind, maar dit was onsuksesvol, omdat die regering hulle aan dié aanbevelings afgevee het.

Die (Frederik Van Zyl) Slabbert-kommissie is in 2003 aangewys. Dit het ’n gemengde stelsel aanbeveel ingevolge waarvan 300 LP’s in kiesafdelings verkies moet word en 100 van proporsionele lyste aangewys word.

Dit sou die huidige geslote proporsionele kiesstelsel – waarin al 400 LP’s van lyste aangewys word – vervang het.

Dié voorstelle (wat intussen stof iewers op ’n rak vergader) – met die kiesafdelinggedeelte geskoei op die Britse Westminsterstelsel – is ’n goeie verbetering op die huidige stelsel, omdat kiesers tans nie direk betrokke is by die kies van hul LP’s nie.

Ek het egter bedenkinge oor dié kommissie se voorstel dat ’n kiesafdeling drie tot sewe LP’s moet hê, omdat die konsep van aanspreeklikheid hierdeur verlam sou word. Dit sal ’n gestry onder LP’s meebring oor wie ’n betrokke kiesafdeling se belange dien en andersom.

Reeds daarom sou ek voorstel die land moet in 240 kiesafdelings – elk vir een LP verdeel word. Dit sou die weg baan vir die vestiging van ’n gesonde kieser-LP-verhouding omdat die LP sou besef dat indien hy of sy nie hardwerkend is nie, sy of haar kans op herverkiesing skraal sou wees.

Die oorblywende 160 LP’s moet van proporsionele lyste af aangewys word. Dit sou meebring dat kleiner partye, soos die VF+, ACDP en Good, deur die proporsionele gedeelte van uitwissing in die parlement gered sou word indien hulle nie daarin sou slaag om ’n kiesafdeling te wen nie.

Tesame met die skrapping van die bestaande wetgewing wat verhoed dat ’n LP of LPW van party kan verwissel sonder om sy of haar setel te verloor, sal dit ’n totale herskikking in die politiek teweegbring.

Dit sal die huidige diktatoriale beheer van partyleiers oor hul LP’s en LPW’s verminder. Die oorsigsrol van die parlement en provinsiale wetgewers sal sodoende versterk word en dit sal bydra tot die groei en uitbou van ons betreklik jong grondwetlike demokrasie.

  • 6

Kommentaar

  • Waarom word daar hier geen melding gemaak van hoe onafhanklike LP's en LPW's hierby sou inskakel nie? Die Konstitustionele Hof het pas beslis dat die Kieswet gewysig moet word om ook vir sulke verteenwoordigers voorsieining te maak.

  • Vrydenker Vlakvark vir Geregtigheid

    Geen party se naam of embleem behoort op ‘n stembriefie te verskyn nie. En geen kandidaat se verkiesingsplakkaat behoort die naam van ‘n party of party embleem op te hê nie. En kiesers moet die direkte reg hê om van LP’s en LPW’s van hul kiesafdeling te kan laat verwyder. En die staatspresident se magte moet drasties ingekort wees: net die parlement behoort ministers te kan aanstel en afdank.

    Laastens: ‘n Uitstekende artikel Jason. Ons moet nou net ook die massa stemvee oortuig en bevry van denkslawerny van korrupte opportunistiese politici en verkalkte uitgediende feodale manipulerende leierskappe.

  • Hallo Johan. Jy is ook baie stil. Ek is binnekort terug op WhatsApp dan sal ek kontak maak. Mooi loop.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top