COVID-19: ’n "Bouncer" soos Dominic Cummings vir Cyril

  • 1

Foto’s: Jason LLoyd (verskaf) en Cyril Ramaphosa (Wikipedia)

Die minister van basiese onderwys, Angie Motshekga, moes ’n problematiese figuur soos die Brit Dominic Cummings as woordvoerder gehad het toe sy die omstrede uitlating gemaak het dat sy nie kan waarborg dat leerlinge wat terugkeer skool toe nie die COVID-19-virus gaan opdoen nie.

Dié uitlating het menige ouer en Suid-Afrikaner warm onder die kraag gehad, omdat hulle klaarblyklik verwag het dat die Minister so ’n waarborg sou kon gee. Die gevolg is dat sosiale-mediaplat-forms en inbelprogramme op radio gegons het van ongelukkigheid. Sekere ontevredenes het selfs die Minister van ’n gebrek aan empatie en leierskap beskuldig.

Selfs nadat Motshekga verduidelik het haar departement doen alles moontlik om te voorkom dat leerlinge met die COVID-19-virus besmet word, het die besware verdiep. Nog meer so nadat die Minister gesê het die moeilikste is om ’n waarborg te gee. "Ons moet alles moontlik doen om kinders te beskerm."

Die moeilikheid met haar uitlating was dat sy nie ouers en onderwysers kon gerusstel nie. Die gevolglike mening van ouers en onderwysers wat traksie gekry het op sosiale media en in die tradisionele media is dat sy nie regtig omgee nie. Veral sosiale-media-boodskappe was gelaai met woede en frustrasie. Verbasend was die kommunikasiediens van die Departement van Basiese Onderwys en die Regeringskommunikasiediens (GCIS) absoluut stil. Hulle het min of niks gedoen om dié boodskappe van frustrasie en woede te weerlê nie.

Vanuit uit ’n kommunikasieperspektief sou geargumenteer kon word dat die Minister nie ’n lewe kon waarborg nie en dat dit in elk geval ’n bomenslike taak is.

Die kommunikasiekleitrappery moet gesien word as ’n onderdeel van die groter geheel, omdat ’n oorhoofse kommunikasiestrategie oor die COVID-19-pandemie tot op hede by die regering ontbreek.

Dié gebrek aan ’n algehele strategie kan opgemerk word in hoe sommige kabinetministers verskillende boodskappe tydens die inperkingstyd kommunikeer wat algehele verwarring veroorsaak oor die regulasies.

Minister Nkosazana Dlamini-Zuma se openbare repudiëring van president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat sigaret- en tabakprodukverkope op vlak 4 van die inperking toegelaat sou word, is ’n sterk voorbeeld hiervan. Ramaphosa het intussen tereg opgemerk dat hy self die verandering in die besluit aan die nasie moes gekommunikeer het.

Dit sou dit in die eerste plek nie laat lyk het asof Dlamini-Zuma hom ondermyn nie. Tweedens het dit frustrasie by die publiek en media veroorsaak, omdat die regulasies in die algemeen baie moeilik of nie duidelik verstaanbaar is nie.

Die vraag kan dus met reg gevra word hoekom daar verskillende en verwarrende boodskappe deur amper elke kabinetsminister na die publiek uitgestuur word.

Die afwesigheid aan ’n oorhoofse kommunikasiestrategie, met ’n hoofboodskapper en ’n boodskap of boodskappe kan hiervoor blameer word.

Die Suid-Afrikaanse regering kan gerus by die Britse regering gaan kers opsteek oor hoe om te kommunikeer, veral tydens ’n pandemie wat dreig om die gang van die lewe van die mensdom vir altyd te verander.

Aan die begin van die inperking het die Britse regering ’n effektiewe boodskap soos "Stay at home. Protect the NHS. Save lives" gemunt. Die eerste minister, Boris Johnson, was as hoofboodskapper die leidende figuur van die kommunikasie-strategie.

Dit is nou aangepas met: "Stay alert. Control the virus. Save lives."

Op Suid-Afrikaanse bodem val ons rond tussen ’n kommunikasiestrategie, eenvormige boodskappe en ’n enkele boodskapper wat nie bestaan nie soos wat Ramaphosa se taak moeilik gemaak word deur van sy ministers om gelykvormig met die nasie oor COVID-19 te kommunikeer.

In teenstelling met internasionale praktyk het Ramaphosa hom tot op hede nog nooit beskikbaar gestel om onderwerp te word aan joernaliste se vrae op ’n nuuskonferensie nie. In teenstelling met Ramaphosa se media-afsydigheid hou Johnson en Donald Trump, hoe ook al ongewild by die media en publiek, gereeld nuuskonferensies in onderskeidelik Downingstraat 10 in Londen en die Withuis in Washington.

Dit is dié gebrek aan interaksie met joernaliste wat ingevreet het op Ramaphosa se golf van politieke kapitaal wat hy aan die begin van die inperking gery het.

Veral sy gebrek aan uitpraat in die openbaar teen die weermag en polisiediens se hardhandige handhawing van die drakoniese inperkingsreëls kom by my op as voorbeeld.

Sy stilte hieroor is skitterend tot so ’n mate dat die Verenigde Nasies (VN) genoop was om die Suid-Afrikaanse regering te kritiseer en te waarsku omdat hy sy eie burgers intimideer, handhandig hanteer en doodmaak. Hier dink ons aan die weermag se wreedaardige moord op Collins Khoza van Alexandria buite Johannesburg terwyl hy heel wettiglik op sy werf gedrink het.

Ramaphosa se kommunikasiespan in die presidensie moet hiervoor verantwoordelik gehou word.

Dis duidelik Ramaphosa (en ook Motshekga) ’n gesaghebbende woordvoerder in die vorm van die outentieke Britse perssekretaris nodig het, soos wat Bernard Ingham ’n bouncer vir Margaret Thatcher en Alastair Campbell vir Tony Blair was.

Hiervoor sou die omstrede Cummings (48), tans hoofadviseur vir Johnson, wat onlangs in die nuus was omdat hy inperkingmaatreëls, wat hy help opstel het, oortree het, ’n uitstekende woordvoerder en strategiese kommunikasie-adviseur vir Ramaphosa wees.

Toegegee, Cummings is omstrede, maar hy is ’n kundige aanwins vir Johnson. Net soos Campbell vir Blair was as perssekretaris toe hy leier van die Arbeidersparty en leier van die amptelike opposisie was (1994–1997), perssekretaris toe hy Britse premier was (1997–2000), en later direkteur: kommunikasie en strategie (2000–2003) in Downingstraat 10 was.

Cummings moes vir sy oortreding van inperkingmaatreëls buitengewone en groeiende teenstand vanuit die regerende Konserwatiewe Party (Tories), waarvan Johnson ook die leier is, beleef omdat Johnson geweier het om hom af te dank. Cummings het ook geweier om te bedank, verskoning aan te bied of berou te betoon.

Die kwestieuse adviseur het tydens die inperking saam met sy joernalis-vrou, Mary Wakefield (45) – wat toe reeds simptome van COVID-19 getoon het – en hul vierjarige seun ’n reis van 425 km na sy familieplaas by Durham in die noordooste van Engeland onderneem. Hulle het ook die mooi dorpie Bernard Castle aangedoen.

Die invloedryke Cummings, ’n BA-gegradueerde in antieke en moderne geskiedenis van Oxford-universiteit, het tussen 1994 en 1997 aan verskeie projekte in Rusland gewerk. Hy was onder meer direkteur: navorsing en later werwingsdirekteur vir die No Campaign (om Brittanje te verhoed om die euro as geldeenheid te aanvaar) tussen 1999 en 2002.

Tussen 2015 en 2016 was hy onder meer direkteur van die Vote Leave Campaign tydens die 2016 Europese referendum, wat suksesvol was deurdat Brittanje die Europese Unie (EU) verlaat het.

Hy het suksesvol die wenslagspreuk "Take back control" vir die Vote Leave Campaign geskep. En om die Tories in verlede jaar se Desember- algemene verkiesing te verseker van ’n oorwinning het hy die slagspreuk "Get Brexit Done" geskep. Dié slagspreuke het Johnson se politieke opgang, maar so ook Cummings s’n verseker. Dit is hoekom Johnson weier om vir Cummings af te dank, want die man is ’n groot aanwins vir sy poltieke loopbaan.

Ramaphosa het ’n Cummings nodig, veral in die lig daarvan dat hy veg vir sy tweede termyn as ANC-president in die aanloop tot die ANC se nasionale konferensie wat in Desember 2022 gehou gaan word. Hy het regtig kundige kommunikasie advies nodig, want hy kom so ongemaklik tydens sy COVID-19-TV-toesprake oor. Self koninging Elizabeth (94) vaar beter as hy op TV, want hy staar van voor reg voor die kamera in.

Die voormalige redakteur van Die Burger, Bun Booyens, het Ramaphosa se TV- toesprake in ’n rubriek raak opgesom: "Ons president sit met sy hande voor hom saamgeklamp op ’n leë lessenaar. Hy staar vir die kamera en lees die Korona-regulasies af soos ’n stasiemeester ’n treinrooster afkondig."

Ramaphosa se beperkte gebruik van sosiale media en nuwe tegnologie is van die menigte swak komponente wat aangespreek behoort te word in ’n omvattende kommunikasiestrategie vir hom as president van die Republiek en ook ANC-president. Hiervoor het hy ’n woordvoerder nodig wat vernuwend kan dink en skep.

  • 1

Kommentaar

  • Jip hy ’n marionette in die poppespel wat hulle regering noem en elkeen moet sy of haar mag vertoon. Wonder wie sy toesprake skryf wat hy so aflees?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top