
Foto: Pixabay
Impak van COVID-19-regulasies en afwaartse ekonomie
Skoolverlaters sal heel waarskynlik loopbaankeuses nou met groter omsigtigheid moet maak weens die impak van die COVID-19-grendelstaat en ’n afwaartse ekonomie.
Toekomsdrome in ooreenstemming met uitdagende situasie
Kundiges meen jongmense kan steeds hul toekomsdrome nastreef, mits dit strook met dié uitdagende situasie, wat gekenmerk word aan onsekerheid, inkrimpings en werkloosheid.
Prof Zak Nel aan die woord
Zak Nel, ’n loopbaanvoorligter in Linden, Johannesburg sê in die 40 jaar wat hy as professionele loopbaanvoorligter praktiseer, hy nog nooit ’n enkele gebeurtenis ervaar het wat so ’n dramatiese uitwerking op jongmense se loopbaankeuses gehad het, soos die COVID-19-grendelstaatimpak nie.
"Die impak van COVID-19-inperkings het ook ouers, onderwysers en voorligters sonder raad gelaat omdat hulle nooit deur so ’n krisis gewerk het nie. Die onvoorspelbaarheid van die situasie, die onderbreking van die skooljaar, die voortdurende vrees om aangesteek te word en die onverwagte isolasie het dié jaar se matriekgroep omver gegooi."
Angstigheid word ontketen
Die ekonomiese insinking, die werkloosheid van ouers en politieke woelinge het angstigheid ontketen wat ’n vorige geslag nog nie in so ’n intense formaat belewe het nie.
Onsekerheid word aangeblaas
Nel sê buiten die ervaring van verlies, is daar ’n onsekerheid wat aangeblaas word deur waninligting oor beroepsvooruitsigte, verwarrende menings oor veranderinge in die beroepsmark en watter soort werk nog in aanvraag gaan wees.
"’n Mens moet onderskeid tref tussen kort- en langtermynvooruitsigte. Op kort termyn is daar voor die hand liggende beperkinge op indiensneming in die toerisme-, gasvryheid- en reissektore.
"Net so is beroepe gekortwiek in die sport- en ontspanningsbedrywe. Dit wil voorkom asof maatskappye hul begrotings gesny het in die advertensie-, bemarkings- en gebeurtenisbestuursektore. ’n Mens kies nie ’n loopbaan in die kort termyn nie en hopelik sal daar weer ’n oplewing op die forums plaasvind."
Neem langtermynvooruitsigte in ag
Met die maak van loopbaankeuses is dit wys om langtermynvooruitsige in ag te neem. Dit wil voorkom asof daar tans ’n ontploffing van kennis en geleenthede in die gesondheids-, mediese en farmaseutiese bedrywe plaasvind.
"Die tendens het al begin posvat lank voordat COVID-19 begin byt het. Só byvoorbeeld is daar wonderlike studierigtings wat te doen het met medisinale chemie, bio-informatika, immunologie, genetika, mediese patologie asook stralings- en gesondheidsfisika," sê Nel.
Beroepe as goeie beleggings
Die keuse van ’n beroep soos genetiese voorligter, neurosielkundige, chiropraktisyn, arbeidsterapeut en fisioterapeut word ook tans as goeie beleggings beskou. Talle voorspellings dui daarop dat ’n behoefte aan tuisverpleegkundiges en tuisversorgers toeneem.
Volgens Nel moet skoolverlaters kennis neem van die uiteenlopende loopbaankeuses wat spruit uit die vierde industriële revolusie – ’n beroepswêreld waarin mense wat deur die COVID-19-ingrendeling beïnvloed is, meer tuis sal voel.

Elektronika en vierde-industriële-revolusie-beroepe (Foto: Pixabay)
"Die vierde-industriële-revolusie-beroepe wat te doen het met werk soos rekenaarwetenskap, kodering, rekenaarsekuriteitsisteme, data-analise, satellietkommunikasie, en elektroniese en inligtingsingenieurswese kan opwindende vooruitsigte inhou. Hierby kan gevoeg word studierigtings soos app-ontwikkeling, wolkbestuur, 'internet of things'-spesialisering en inligtingsisteembestuur."
Nel sê daar is ’n herontdekking van die waarde van wiskundige beroepe soos aktuariële wetenskappe, statistiese en biowiskunde.
"Vir ’n jong geslag met ’n kop vir wiskunde lyk dié vooruitsig inderdaad belowend."
Statistieke Suid-Afrika (SSA) maak aankondiging
Volgens Statistieke Suid-Afrika (SSA) het die ekonomie in die tweede kwartaal met 51% verklein op ’n geannualiseerde grondslag. Kundiges meen die werklikheid kan veral nou korttermyn-loopbaankeuses vir skoolverlaters beïnvloed.
Dr Christie Viljoen oor invloed van BBP-data
Christie Viljoen, ’n ekonoom by PwC Afrika, sê die onlangse data oor die bruto binnelandse produk (BBP) sal ’n korttermyninvloed op loopbaankeuses uitoefen.
"Dié skok sal beslis ’n uitwerking hê op loopbaankeuses. Skoolverlaters sal nou baie bewus wees van die beroepe wat die afgelope ses maande onder druk was.
"Ons verwys hier onder andere na toerisme en persoonlike dienste soos skoonheidsterapie en gimnasiuminstruksie. Dié opsies is nou meer riskant aangesien ons bewus is van hoe vinnig sulke ondernemings se deure gesluit kan word tydens ’n pandemie," sê hy.
Pandemie een keer in ’n eeu
Viljoen meen die situasie sal moontlik minder jongmense motiveer om tans sulke beroepe te volg ná skool. Aangesien dié soort pandemie een keer in ’n eeu voorkom, beteken dit egter nie dat niemand sulke loopbane moet oorweeg nie.
"Die onlangse inperkings gaan vir ’n hele paar jaar ’n negatiewe impak hê op die arbeidsvraag in sekere areas soos toerisme."
Die ekonomie benodig tans verskeie hupstote om uit die resessie te beweeg. Dit sluit onder andere in sekerheid van elektrisiteitsverskaffing, meer sekerheid oor ekonomiese beleid en makliker prosesse om in- en uitvoere te fasiliteer.
Entrepreneurskap in die kollig
Deur te besluit om entrepreneurs te word en werk te skep, kan jongmense help om die ekonomie te herstel. Dit is belangrik dat meer mense bestuurders word sodat geleenthede geskep kan word vir dié wat weens die COVID-19-regulasies hul werk verloor het.
"As werk- en inkomsteskeppers is entrepreneurs nou belangriker as ooit tevore. Nuwe geleenthede sluit in die vinnig-groeiende mark vir besigheid-tot-huis-aflewerings. Suid-Afrikaners het vinnig hul aanlyn aankope van byvoorbeeld voedsel verhoog tydens die grendelstaat en gaan heel moontlik volhou hiermee in die toekoms," sê Viljoen.

Stadsgeboue en groot maatskappye (foto: Pixabay)
Jongmense en groot maatskappye
Jongmense kan dalk neig na beroepe wat vir hul werk en ’n vaste inkomste kan verseker by groot maatskappye.
"Die aantal klein- en eenmansake wat die afgelope paar maande gesluit het, is oorweldigend. Dit kan maak dat jongmense eerder kyk na korporatiewe werk met ’n vaste maandelikse inkomste in plaas van entrepreneurskap waar inkomste meer wisselvallig kan wees," sê hy.
Resessie krimp werkgeleenthede
Met die ekonomiese resessie en afleggings het werksgeleenthede vir jongmense aansienlik gekrimp.
"Die afname in die BBP het veroorsaak dat baie mense hul werk verloor. Dié individue sal dus volgende jaar, wanneer die nuwe groep skoolverlaters begin werk soek, ook in die arbeidsmark wees.
"Diegene wat nou afgelê is, het alreeds vaardighede en werkservaring opgedoen. Dit sal tot hul voordeel strek teenoor nuwe skoolverlaters. Suid-Afrika het reeds voor COVID-19 een van die hoogste jeugwerkloosheidkoers ter wêreld gehad," sê hy.
Volgens Viljoen is rekenaarprogrammeerders, vakmanne en ingenieurs tans in groot aanvraag.
Prof Danie Meyer oor impak van die COVID-19-regulasies
Danie Meyer, ’n ontwikkelingsekonoom en direkteur van die TRADE-navorsingsfokusarea aan die Noordwes-Universiteit (NWU) sê die impak van die grendelstaat beïnvloed alle komponente van die samelewing en sal skoolverlaters se loopbaankeuses raak.
"COVID-19 sal heelwaarskynlik tot einde volgende jaar by ons wees. Werkloosheid skat ons sal bó 50% wees en geleenthede sal maar yl gesaai wees. Graad 12-leerders se loopbaanbesluite moet ongetwyfeld hierdeur beïnvloed word.
"Daar gaan nie werk- of loopbaangeleenthede by die staat of groot besighede in die volgende paar jaar wees nie. Feitlik alle ekonomiese sektore is nou gedruk om werkers af te lê. Jongmense sal ook moet besluit om óf die skooljaar oor te doen, óf oorsese geleenthede te gaan ontgin."
Hy meen die probleem is tydelik van aard en onsekerheid is aan die orde van die dag.
"Wie weet watter tipes werk sal wegval en deur die vierde industriële revolusie vernietig of verander word. Jongmense moet seker maak hulle leer ook soft skills aan en nie net werkgedrewe vaardighede nie."
Kies graadkursusse met sorg en eie sakeonderneming
’n Graadkursus moet versigtig en met sorg gekies word. Skoolverlaters moet ook poog om geleenthede te identifiseer met die doel om ’n eie sake-onderneming te begin.
"Alle BA-grade is tans riskant, maar indien ’n student dit aanvul met soft skills kan dit tot ander geleenthede lei. Studente moet universiteit toe gaan om soveel as moontlik te leer en daar begin dink aan besigheidsmoontlikhede. Laasgenoemde moet geoefen word terwyl hulle studeer," sê hy.
Meyer meen dis nie ’n slegte idee om nie dadelik universiteit toe te gaan nie. Sy raad vir skoolverlaters is: "Gaan verken eers die wêreld, kyk wat jy regtig in belangstel en werk as intern by verskillende besighede. Universiteitstudie gaan nie net oor wat jy in die klas leer nie, maar dis ook jou interaksie met ander studente op sport- en sosiale vlak wat jou lewenslesse leer."
Pandemie sal verbygaan
Die pandemie sal verbygaan en dan sal die ekonomie weer kop optel en geleenthede bied. Vir nou moet jongmense net die beste van ’n slegte saak maak.
Universiteite is ook negatief deur die regulasies geraak en kan nie vinnig genoeg aanpas deur byvoorbeeld inhoud van grade te hersien nie.
Mike Schüssler, hoofekonoom van Economists.co.za
Mike Schüssler sê die uitgebreide werkloosheidsyfer in Suid-Afrika kan teen Maart 2021 tot so hoog as 53,2% styg, teenoor 38% in Maart vanjaar. Hy is van mening dat sekere loopbaanrigtings soos lugvaart, mynbou, vervaardiging en konstruksie tans in die weegskaal is.
Nel sê sonder ’n naskoolse kwalifikasie lyk die vooruitsigte beroerd.
"Die beste oorweging is dan om ’n taxibestuurder te word of om die moontlikheid van au pair-werk te ontgin. Insette by restaurante as kelners en skottelgoedwassers is ook ’n moontlikheid."
Sommige skoolverlaters is gelukkig genoeg om saam met hul ouers te boer, of miskien om verkoops- of administratiewe werk in ’n familiebesigheid te verrig.
Mense met grit-faktor aan wenkant
Navorsing het bewys dat mense met die sogenaamde grit-faktor, of vasbytvermoë, tog anderkant uitkom.
"Met die grit-faktor word bedoel dat ’n mens eenvoudig jou kop moet laat sake en dag vir dag vorentoe moet beur. Dit is hoe ’n mens terugslae hanteer en teleurstellings oorkom. In die tydgleuf van bedreiging deur COVID-19 is dit ook ’n tyd om jou geloofswortels in die grond te anker en ’n mens se toekoms ’n geloofsaak te maak," sê Nel.

