COVID-19: as die biblioteek agter slot en grendel is

  • 0

Hoewel al die biblioteke oor die land heen nog nie oop is sedert die instelling van die grendelstaat nie, en dié wat wel oop is dinge op ’n aweregse manier doen, hoef dit geensins ywerige lesers en luisteraars van boeke morbied te laat nie, want daar is baie opsies om ’n leeslus mee te stil. Gerda-Marié van Rooyen het hierdie opsies ondersoek. 

Foto: Pixabay

Ruil

Danksy Faathimah Variawa se book_exchange_za-profiel op Instagram kan boekwurms nuwe (tweedehandse) boeke kry deurdat Variawa mense se kontakbesonderhede in pare van twee uitruil en pare daarna boeke kan uitruil op grond van die ander een se belangstelling. As verrassing word lesers gevra om ’n R50-present saam met die boek, waarvan die titel geheim is, te koerier. Variawa vertel dat die grendelstaat-isolasie haar tot hierdie konsep gelei het en dat haar diens gratis is. "Ons poog om die liefde vir boeke te versprei en mense toe te laat om boeke te sirkuleer in stede daarvan om nuwe boeke te koop," verduidelik die vrou van KwaZulu-Natal. Sy sê romantiese fiksie en fantasie is veral gewild onder uitruilpare.

Huur

Melanie Smith, die eienaar van Boekgenot in Pretoria, het tydens die inperking besef dat nie almal nuwe boeke kan bekostig nie. Melanie, wat die afgelope drie jaar ’n aanlyn boekwinkel het wat nuwe en tweedehandse boeke verkoop, het die behoefte raakgesien om boeke te verhuur. "Die biblioteke moes weens die inperkingsregulasies sluit en mense kon nie boeke uitneem nie en ek het ’n boekverhuringsdiens begin." Lesers wat aan haar leeskring behoort, kan ’n boek vir twee weke huur. "Vanaf Julie, toe ek met die verhuring begin het, het ek nog slegs aan die kringlede verhuur. Dis omdat ek  hulle ken en ek weet hulle sal na ’n boek kyk soos ek daarna sou kyk."

Sy het nog nie aan nielede verhuur nie. Sou sy die verhuringsdiens uitbrei, sal huurders ’n deposito ter waarde van die boek se verkoopsprys moet betaal sodat sy nie skade ly nie. Die deposito word dan terugbetaal, indien die boek in dieselfde toestand teruggebring word. Sy sê hoewel sy waarskynlik nooit wins met die verhuring sal maak nie, poog sy om  mense die geleentheid te bied om nuwe of gewilde boeke te kan lees.

Aanlyn boekklubs

Heino du Plessis, ook van die Jakarandastad, bied Woensdagaande om 19:00 ’n aanlyn boekklub via sy Facebookblad aan. Hierdie e-boekklub het ontstaan "in die tyd wat boekklubs nie kon ontmoet nie". Vandeesmaand deel hy raad oor die organisering en hantering van ’n boekklub en stel onder voor dat boekklubs oorweeg om saam aan ’n "jaar-memoir" werk. In Augustus het hy aandag aan Vers & Vrou ter viering van Vrouemaand  gegee en in Julie aan Hans du Plessis se boek Die opstand van Poppie Nel waartydens hy selfs ’n onderhoud met die persoon op wie die hoofkarakter geskoei is, gevoer. "Ek doen dit sommer vir die liefde van die saak en uit eie sak," sê hy vrolik. In Oktober gaan hy op die skryfwerk van Jan Vermeulen fokus om die adrenalien te verhoog.

https://www.facebook.com/heino.duplessis

Foto: Pixabay

Koop nuut

Hoewel boeke elektronies en op klankgolwe beskikbaar is, verkies lesers steeds om ’n boek in die hand te hê, aldus Deborah Steinmair, uitgewer by Protea. Sy sê dié uitgewershuis se verkope het tydens die tweede kwartaal vergeleke met verlede jaar gedaal weens boekwinkels en biblioteke wat gesluit was. Afgesien van die grendeltyd wat ’n demper op verkope plaas, is rooflees en die onwettige verspreiding van boeke ’n parasitiese probleem wat uitgewers toenemend raak. "Ons is bewus van die rooflees, maar ons e-boeke word so hanteer dat dit moeilik is om gerooflees te word," vertel Steinmair.

Graffiti se eienaar, Leonie van Rensburg, sê verheug dat verkope geleidelik terug na normaal terugkeer. "Lesers is maar nog versigtig om by winkels in te gaan. Aanlyn verkope is beslis aan die toeneem." Sy voeg by dat "Koop ’n Afrikaanse boek-dag" op 14 Augustus hul verwagtings oortref het. "Ons het so baie bestellings gekry dat ons inderhaas Maandagoggend (17 Augustus) boeke moes herbestel om bestellings te kan uitvoer. Daar is soveel nuwe boeke dat lesers net ’n sekere aantal boeke kan bekostig, maar met die afslag waarmee die dag gepaard gegaan het, kon lesers meer boeke koop." Graffiti saai Dinsdag- en Donderdagaande om 19:00 onderhoude met skrywers op Graffiti se Facebookblad uit en Van Rensburg sê die terugvoer daaroor is ongelooflik positief. "Dit het ’n impak op verkope, maar nie noodwendig by Graffiti nie. Lesers ondersteun dikwels hulle plaaslike boekwinkel."

  • Graffiti: Winkel nr 10, Zambezi Junction, Hoek van Breedstraat en Sefako Makgathorylaan (voorheen Zambezirylaan), Montana, (012) 548 2356.
  • Protea Boekhuis: Minnistraat 8, Clydesdale, Pretoria, (012) 343 3897 of (012) 343 6279.

Koop tweedehands

"Dinge begin optel nadat dit stiller was gedurende die hoër vlakke van grendeltyd. Ons verkoop en ruil al jare tweedehandse boeke, maar dis nou nie vuurwerk nie," verduidelik Theo du Plessis, eienaar van M&M Boekhandel in Bloemfontein. Hy sê dat hy dankbaar en tevrede oor sy verkope is en dat daar geen verandering in lesers se smaak sedert die aanbreek van die pandemie is nie. "Mense lees nog dieselfde goed wat hulle voor die grendeltydperk gelees het. Ons het iets vir elke smaak, van Nora Roberts tot Westerns en Afrikaanse klubboeke in breë trekke."

  • Van Der Rietstraat 53, Brandwag, Bloemfontein, (051) 522 5877.

Koop blindelings

Nog ’n Instagram-nuutjie vir Suid-Afrikaanse lesers is Rianca van Deventer, ’n taalkundige van Kaapstad, se Blind Books-profiel. Van Deventer trek tweedehandse boeke met bruinpapier oor en skryf kriptiese leidrade bo-op ’n kaartjie wat sy op die toepassing laai, omdat sy glo "’n boek moenie op sy baadjie takseer word nie". Die persoon wat eerste die boek kies en via EFT betaal, kry dit. Sy sê tot dusver is die mense opgewonde oor die idee. "Ek vermoed dit help ook baie dat ek ook die Afrikaanse lesersmark in ag neem. My Afrikaanse boeke verkoop altyd vinnig." Volgens haar het plaaslike lesers ook ’n voorkeur vir misdaadfiksie.

Foto: Pixabay

Luister

Benewens luisterboeke wat op eie tyd op Netwerk24 se webportaal beskikbaar is, saai RSG ook voorlesings van gewilde of voorgeskrewe boeke, soos tans Die verevrou deur Jan van Tonder en Droomdelwers deur Esta Steyn, uit. "’n Boek vir voorlees moet verhalend en radiomatig wees. Dit moet boonop episodies opgedeel kan word en die luisteraar se aandag oor ’n paar weke (of maande) kan behou," deel Kobus Burger, uitvoerende regisseur: drama by RSG, van die kriteria, wat ook die openbare uitsaaier se mandaat sal insluit. Hy sê RSG lees hoofsaaklik fiksie (romans) voor en kies vanuit die verskeidenheid leesstof wat die Afrikaanse letterkunde bied, tekste om die uiteenlopende luisterpubliek tevrede te stel. "Om goeie afwisseling te bied, het ons al nie-fiksie soos Elsa Joubert se Spertyd voorgelees en kort stories, soos dié van Ferdinand Deist en Jan Spies (tans op lug)." Meer onlangse, komiese boeke word ook voorgelees soos Rudie van Rensburg se Hans steek die Rubicon oor wat Tobie Cronjé voorgelees het. "Ek dink dit het reeds sy vyfde druk beleef. Die boek het in 2017 die lig gesien, maar eers behoorlik (as verkoper) vlamgevat toe RSG die voorlesing uitgesaai het. Dan was daar ook die Ferdinand Deist-boeke, Bom Appeltiet op Eselspoort, Die pomporrel-kônsert asook Pofadder en Peddelford wat Johny Klein voorgelees het." Burger sê hy beantwoord daagliks navrae van luisteraars wat die korrekte titel en uitgewer (of ander besonderhede) wil bekom. "Sommige luisteraars hoor net een episode en is dan geprikkel. Hulle koop die boek en lees dit. So dis baie goeie reklame vir die skrywer. Sommige boekhandelaars kontak ons om besonderhede van ons boekvoorlesings te kry, sodat hulle betyds genoeg voorraad kan bestel. Ek het selfs gehoor van ’n boekhandelaar wat ’n muur in haar winkel wy aan RSG-boekvoorlesings," vertel hy trots. Hy voeg by dat die voorlesings ook veral onder siggestremde mense gewild is en dat daar selfs sakemanne is wat hul kantoordeure sluit om na die oggendboekvoorlesing te luister en dan glad nie die foon sal antwoord nie. "’n Mens is keer op keer verras om te hoor wie luister en waar!"

RSG saai soggens en saans die voorlesings uit en het ’n ekstra tydgleuf in die oggend vir boeklees met grendeltyd geskep waarin Katriena Vertel! deur Riana Scheepers deur June van Merch voorgelees word terwyl Anna-Mart van der Merwe Die blou van onthou deur Marita van der Vyver as omnibus op Woensdagaande voorlees.

  • Luister na RSG op 100-104 FM

Leen

Mia Donoghue skryf op die Lekkerleesboekrak-profiel op Facebook dat sy besluit het om nooit weer ’n boek uit te leen nie. "Ek het ’n Koos Kombuis só verloor. Een waarin hy (in Bakoven) ’n spesiale boodskap vir my geskryf het. Nooit weer nie." Die skrywer Johan Jack Smith sê hy gebruik die Evernote-toepassing om tred te hou met wie watter boek leen. Madeleine Dowd hou letterlik boek en gebruik ’n WhatsApp-groep om mense te herinner om haar boeke terug te besorg, "maar selfs dit werk nie. Party mense bring net eenvoudig nie boeke terug nie en vir hulle leen ek nooit weer boeke nie." Baie lesers op die groep is dit eens: "Leen ’n boek aan iemand slegs as jy bereid is om dit af te skryf."

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top