Die damelike driestuk Cortina Whiplash is nie skaam om hárd te ruk en rol nie, en werk aan ’n nuwe album. LitNet het die groep genader vir ’n onderhoud en hulle het ingestem, mits hulle die vrae in een stem kan beantwoord.
Goeiedag, Cortina Whiplash. Hoe's dinge?
Naand, naand. Voorwaar voortreflik, dankie.
Geluk met julle bedonnerde gig by Oppikoppi. Cortina Whiplash het al ’n reputasie opgebou vir klipharde, genadelose rock ’n roll wat uitbasuin word by die live gigs. Hoe het julle 'Koppi ervaar, en hoe gaan julle te werk om julself te "top" met gigs, as die reputasie reeds so sterk is? Is dit bloot ’n geval van op stage klim en alles loslaat, of tot hoe ’n mate is elke gig ’n beplande, uitgewerkte affêre? Het daai balans, as mens dit so wil noem, verander oor die afgelope paar jaar vir julle as band? Wat het julle geleer in hierdie opsig, en wat het julle geïgnoreer?
Dankie. Ek dink omdat ons al so lank saam musiek maak, is daar ’n spirituele, hegte band tussen die drie van ons. Ek moet bieg, ek was heeltemal onkant gevang met die reaksie en die ontvangs van ons musiek by 'Koppi hierdie jaar. Omdat ons heel moontlik nooit kommersiële sukses in hierdie land sal bereik nie, is dit baie selde dat ons die geleentheid het om voor só ’n skare Suid-Afrikaners te speel. Hulle het ons waarlik uit die veld geslaan.
Hoewel ons soveel as moontlik repeteer, beplan ons nie noodwendig die shows nie. Dit gaan maar oor die energie en die loslaat in die oomblik en dis juis waarom die simbiose tussen skare en “band” vir ons so belangrik is. They feed on us and we feed off them. Dit is jare se rehearse en baklei, lag, huil en toer wat op daai oomblik op die verhoog saamsmelt. Ons het sekerlik meer sirkustoertjies aangeleer mettertyd wat ons in die oomblik kan oproep. Ons kan aanpas en aanvoel wat nodig is. Geen twee Cortina Whiplash-vertonings gaan presies dieselfde wees nie.
Deesdae kry ons beter slots en groter skares, wat lekker is, en wanneer ons dit nie in Suid-Afrika kry nie, kry ons dit in die buiteland. Ons speel later vanjaar Angola en volgende jaar Europa.
Buiten die live shows is Cortina Whiplash natuurlik ook ’n besonder besige band wat opnames betref. Die storie op straat is dat daar ’n nuwe album op pad is (getitel I do, as die gerugte korrek is?). Wat kan ’n mens verwag van die nuwe album? Wat probeer julle wat julle nog nie voorheen probeer het nie? Hoe benader julle die nuwe album in die algemeen anders as vorige musiek wat julle uitgereik het – is daar spesifieke mikpunte wat julle wil bereik daarmee, of hoe loop die vibe?
We do is die nuwe album waarmee ons tans druk besig is. Vir die vrystelling van die plaat gaan ons ’n bruilof hou, waar die drie van ons as ’n simboliese gebaar met mekaar gaan trou. Dit simboliseer ons liefde en blootgewing aan mekaar en hierdie projek, asook ons musiek.
Ons is in ’n tyd in ons lewens waar ons vriende almal trou en kinders kry en óns prioriteit is heelwat anders. Die toegewing as kunstenaar aan jou kuns en jou orkes word gesien as ’n mors van tyd deur die meeste van die populasie. Hierdie is maar ’n manier om ons eie commitment in konteks te plaas.
Ons is vreeslik opgewonde oor die nuwe komposisies. Ons het ons tyd gevat met hierdie een. Uit die aard van die saak sal daar altyd elemente van ander musiek wees wat ons inspireer, maar ek voel ons het regtig ’n unieke klank bereik. Ons eerste plaat, Queen Hyena, se opname was klaar in ’n oogwink. Ons het baie min geweet en baie min tyd gehad vir produksie, en al die instrumentasie is in een dag opgeneem. We do neem ons self op by Arcangelmusic (Tessa en Auriel se musiekstudio in Pretoria) en ons is betrokke by elke stap van die produksie.
Ons doel is om iets na te laat waarop ons trots kan wees. Op die ou einde van die dag gaan ons almal die tydelike met die ewige verwissel en wat jy met jou lewe maak is al wat jy kan agterlaat.
Steeds by die genadeloosheid: Cortina Whiplash voel duidelik (soos dit ’n ordentlike rock band betaam) nie veel van ’n veer vir politieke korrektheid nie. Ek dink veral hier aan die snit "Rock ’n Roll Wigga" en hoe dit gehoor/geïnterpreteer kan word. Was dit ooit vir julle ’n oorweging dat julle gedeeltes van ’n mark of potensiële gehoor kan afskrik met lirieke wat die social outrage-brigade kan ontstel (as hulle nie reg luister nie), of hoe beskou julle die saak? Dink julle bands is deesdae onder meer druk, veral in Suid-Afrika, om musiek te skep wat reguit radio toe kan gaan, veral met die winsgewendheid van die bedryf wat bietjie sukkel? Wat is jul filosofie hierrondom en hoe pas Cortina Whiplash daarby in?
Ons het baie gedink oor dié spesifieke snit, en daar is vertonings waar ons eerder nie hierdie liedjie sal speel nie. Gaan almal dit in konteks kan plaas? Dit is belangrik om mense self te laat dink. Jy kan nie jou kuns afwater omdat jy nie seker is of dit reg geïnterpreteer sal word nie. Soos ek vroeër verduidelik het, is kommersiële sukses nie vir ons ’n prioriteit nie.
Die oorspronklike liedjie is deur ons heldin Patti Smith geskryf in 1978 en word op verskeie maniere geïnterpreteer. Ons sien dit persoonlik as creed vir die kunstenaars en rebelle wat eerder “outside of society” wil wees, tussen die verworpelinge waar jou boodskap en jou kuns die basis van jou identiteit vorm, nie jou ras of geslag nie. Deur haarself as wit vrou met daardie woord te vereenselwig, verwerp sy die oorspronklike konteks en stroop sy die woord van ras en geslag. Ons almal struwel met die rasdinamika in Suid-Afrika en dit gaan nie net help om sekere onderwerpe te vermy nie.
Ons het op Soundcloud die oorspronklike titel, "Rock ’n Roll Nigger", verander na "Rock ’n Roll Wigger" om op ons eie manier te speel met die feit dat mense dit verkeerd kan opneem en om dit meer persoonlik te maak.
Dit klink dalk soos ’n ooglopende vraag hierdie, maar tog: Cortina Whiplash is ’n all-female outfit, wat golwe maak in ’n toneel en bedryf wat beslis oorheers word deur all-male (of so nou en dan ’n vroulike lid) bands. Het julle ooit ekstra druk in hierdie verband ervaar, moontlik dat julle nie so vinnig ernstig opgeneem word as jy ’n all-female band is nie? Of was die toneel al van vroeg af cool/volwasse genoeg? Watter raad sou julle hê, dit in ag genome, vir jong all-female bands wat die toneel betree?
Die toneel sal heel moontlik nooit volwasse genoeg wees nie, en dit is maar wêreldwyd so en nie uniek aan die musiekbedryf nie. Ons het lank gestruwel met die feit dat ons as vroue in een van twee bokse gedruk word. As jy jouself te veel op-"doll", sukkel jy met die seksuele implikasies en “pick-up lines” en onvanpaslike voorstelle. As jy in jeans en ’n T-hemp en sonder make-up opdaag en jy speel so hard soos die ouens voor jou, of jy lug jou opinie te vinnig, dan is jy ’n lesbiër, en daar is blykbaar niks tussen die twee nie.
Ons het al vasgesit met organiseerders wat half-pornografiese foto's gebruik van meisies in bikini's om te adverteer dat dit slegs dames is op die “line-up”. Jy kry dit nie by mans nie en dit is vir ons snaaks as die ander dame-bands met bekke vol tande sit.
Mense is soos voëls wat soek na iets blinks. Wanneer hulle die blink ding sien, sien hulle niks verder nie. Jy speel jou hart uit en jy kom van die verhoog af en mense vertel jou hoe "sexy" jy gelyk het en onthou niks van die musiek nie. Jy speel goed, vir ’n "girl". Jy word altyd op all-female line-ups geplaas saam met bands wat glad nie in jou genre is nie, of net ’n slegte standaard skep, en niks gemeen het met jou behalwe hulle geslagsorgane nie. Asof jy ’n line-up van oorgewig bands of homoseksuele bands sommer elke nou en dan gaan saamsit sonder dat dit beledigend sal voorkom. Die ding is, jy moet maar hard speel en jy moet die bokse oopskop en omgooi.
Ons raad aan die jong all-female outfits is: wees jouself en leer om jou instrument behoorlik te speel en moet jouself nie in all-female line-ups laat indruk waar jy nie hoort nie. Dit doen ons toneel meer onreg as goed. As jy met jou oë toe sit en luister, gaan jy nie kan sê of dit ’n meisie of ou is wat speel nie.
As my geskiedenis reg is, was al die lede (of die meeste?) van Cortina Whiplash destyds in die Afrikaanse all-female rockgroep Rokkeloos. Wat het van Rokkeloos geword?! Dit het nogal groot golwe gemaak destyds – was die Afrikaanse toneel bloot nie die regte "fit" vir julle nie, of hoekom die besluit om ’n nuwe, Engelse band te stig? Hoe beskou julle in die algemeen die verskil tussen Engelse en Afrikaanse gehore, of dan miskien eerder gehore vir Engelse bands en vir Afrikaanse bands? Wat suig van die onderskeie scenes, en wat is cool?
Rokkeloos was waar die drie van ons se paaie eers gekruis het, waar die kern van ons vriendskap en die rokie wat in die Cortina Whiplash-vuurtjie ontstaan het. Dit was ’n band voor haar tyd wat amper min-wetend gespeel het met die sosiokulturele konstruksies van vrouwees in Suid-Afrika. In 2006 was Rokkeloos aangekla by die Uitsaaiklagtekommissie van Suid-Afrika vir die gebruik van die woord “n**i” in ’n regstreekse uitsending van die liedjie “Bernina Breakdance” vanaf die Klein Karoo Kunstefees. Die woorde sê: “Ek hou van melktert, breiwerk, skaapbraai en hard n**i.” Dit was voor Die Antwoord en voor Jack Parow en die feit dat ons dames was, het dit in ’n oproer laat ontaard. Die UKKSA se beslissingsraad het op die einde bevind dat die uitsending nie die uitsaaikode oortree nie. Ons was maar gereeld in die moeilikheid.
Ons was te wild vir die Afrikaanse toneel, wat hartseer was, want daar was fantastiese lirieke, en sosiopolitieke kommentaar en kritiek wat verby mense se ore gegaan het, omdat die fokus altyd op die seksuele was. Ons was nog nie so gevorderd op ons instrumente nie, maar ons het ’n nuwe stem vir die jong Afrikaanse vrou gegee. Prinses Petro bly een van ons gunstelingskrywers.
Die keuse om in Engels oor te gaan het gekom met die geboorte van Prinses Petro se eerste kind. Sy het die band-lewe verlaat en ons was heel verlore sonder ons dapper leier. Ons het vinnig besef dat ons ’n wyer gehoor wil en moet bereik en die oorgang na Engels was dus die volgende logiese stap.
Gepraat van hoe dinge deesdae loop op die toneel: Cortina Whiplash het ’n sterk teenwoordigheid op die gratis-musiek-luister-webwerwe – Soundcloud, YouTube en dies meer. Baie van julle musiek kan aanlyn geluister word, tog stel julle steeds albums vry. Baie bands neig in die rigting van óf die een óf die ander. Wat is julle gedagtegang oor sporadiese enkelsnitte vrystel versus vol albums of EP's skep? Wat verloor ’n mens met die een of die ander benadering en wat wen ’n mens (in terme van kunstenaarskap, maar ook daai olifant in die sitkamer: geld)? Hoe dink julle sal Cortina Whiplash se benadering hiermee nog verander of groei, of moet ’n mens maar wag en kyk wat die tegnologie doen?
Ons wou graag nog een vol album uitreik, en omdat dit ons so lank gevat het om die opvolg op te neem wou ons vir ons gehoor iets behoorlik aanbied. Oor die algemeen het dinge verander en ek dink nie mense luister meer na vol albums nie. Die enkelsnit-vrystelling is die toekoms en ons gaan ná hierdie album maar dieselfde pad stap. Ons het ’n paar interessante planne vir die vrystelling van We do, maar kyk ook spesifiek na die vinyl-plaatformaat. Ons wil vir mense iets collectable gee, maar ons sal altyd iets aanlyn beskikbaar hê vir diegene wat net nuuskierig is.
Cortina Whiplash is nou al ’n hele paar jaar aktief en aan die gang ... Watter soort hoogtepunte staan tot dusver vir julle uit as julle terugdink? Enige agter-die-skerms-dinge wat ons nie sal glo as ons dit hoor nie? Enige plekke wat jy nie sommer gou weer sal wil (of kan) besoek nie? Na verneem word is julle een van die min Suid-Afrikaanse bands wat gereeld na die eiland Reunion toer.
Reunion is vir seker ’n hoogtepunt op ons kalender. Die mense is vriendelik en gasvry en daar is nog ’n baie lewendige punk-rock scene. Behalwe vir dit is daar regte seerowerstories, goeie rum en Franse wyn en kaas. Ons is mal oor die eiland.
Vroeër die jaar het ons vir ons vriend Nathan se verjaardag op ’n bewegende stoomtrein gespeel wat deur Pretoria loop, te danke aan Friends of the Rail. Dit was ’n besonderse, ietwat surrealistiese ondervinding.
Oppikoppi is altyd ’n hoogtepunt.
Daar is so baie stories wat jy nooit sal glo nie, maar een oggend op pad terug van ’n verskriklike mal vertoning in Clarens (wat heel morsig geëindig het, met die opgooi van ’n duisend tequilas en ’n vlakvarkpastei) het Tessa ’n SMS gekry van ’n boer in die area wat vir haar ’n springboklammertjie en Angolese apie aangebied het as troeteldier. Dit gebeur nie elke dag nie.
Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Cortina Whiplash, in so ver julle dit kan beheer?
Ons wil soveel as moontlik reis en so lank as moontlik saam musiek maak.
Wat is die sin van die lewe?
Die sin van die lewe lê in die ewige soek na die antwoord op jou vraag. Die sin van die lewe is bewustheid.



