Cornelius se dwaalleringe en lastering

  • 14

Wat ook oor die jare heen duidelik blyk, is dat geen bewerings wat Cornelius maak,  op gesigwaarde geneem kan word, nie.

Oor die tyd heen, is dit al telkens uitgewys en behoef dit nie weer gedoen te word, nie.

Let op, byvoorbeeld, hoe slinks hy te werk gaan. Hoe Cornelius in die afgelope dae weereens Openbaring 12:10 se "broeders", met sy eie 'medemens' vervang - dit is duidelik dat hy dit versin, om sy eie agenda te pas, want dié twee woorde stel heel verskillende begrippe voor.

As Cornelius enigsins iets van hierdie dinge verstaan het, sou hy geweet het dat die satan nie mense wat van God afdwaal, by God gaan verklae daaroor nie, want dit is juis die satan se missie op aarde, om mense van God afvallig te maak, soos Cornelius, byvoorbeeld. Arme Cornelius. Dus, die wat afvallig en ongelowig is, word doodstil uitgelos deur die satan, aleer hulle dalk tot bekering mag kom en hulle in verootmoediging na die HERE Jesus Christus sal wend, en hy, die satan, sy houvas op hulle verloor. Daarom, soos in die geval van Job, gaan die satan en verklae juis regverdiges, gelowiges teenoor God met valse klagtes - want, in die hoop dat dit hulle van God sal vervreem as hulle in hul geloof getoets sal word in beproewing, probeer die satan hulle so van God vervreem. Nie dat hy slaag nie.

Daarom verwys Openbaring 12:10 nie na 'medemens' of 'naastes' nie, maar juis na broeders - broeders in geloof in die ware Jesus Christus.

Maar die Corneliusse van hierdie wêreld het nie die insig om dit te besef, nie.

Henry, Dolf en andere voor hulle, en ek, probeer hom oor daardie verdraaiings en ook die ander verdraaiings tot insigte te bring, maar hy reageer telkens met meer leuens en misbruik die Woord, daarvoor – sien gerus sy kommentare.

Mense wat al oor die jare met Cornelius aankom op hierdie forum, weet al hoe hy sy eie religieuse poespas saamgestel het en as evangelie verkondig - sy eie evangelie. Niks met Jesus Christus se Evangelie te make nie.

Kyk na sy antwoord op Henry se kommentare ter vermaning en onderrig, waar hy sy reaksie ewe slinks en subtiel afsluit  met "... die ware Boodskap in alle Heilige Skrifte in 'n ieder van onse harte bring" – Watter boodskap is dít?

Nie die HERE se Heilige Woord in skrif nie, maar, soos hy daarna verwys, ALLE 'heilige' skrifte - wat ook die dwaalleringe van die hindoes, boeddhiste, Mohammedane en andere ook insluit. Op so 'n manier weerspreek hy direk die uniekheid van die evangelie van Jesus Christus die HERE, Wie vir ons leer dat HY en HY alleen, die Waarheid, die Weg en die Lewe, is en dat niemand tot die Vader kom, behalwe deur Hom, Jesus Christus, die HERE, nie. Dit is juis die essensie van die Evangelie van Jesus Christus – dít is die essensie van die Boodskap met die hoofletter.

Al die ander religieë wat so dikwels deur Cornelius voorgehou word, sommige waarvan hierbo deur my genoem is - insluitende die judaïsme, misken Jesus Christus as Enigste Verlosser, Middelaar en Seun van God en soos wat Dolf báie moeite doen om vir hom te verduidelik.

Tog vind Cornelius dit goed om sy dwaalleer te verkondig, onder die Naam van die HERE… selfs die HERE se Woord aanhaal om andere, soos ek en Dolf en Henry en almal anders wie hom in die verlede in sy lastering en dwaalleringe teëgegaan het, te ‘berispe’ – omdat hulle hom juis op die Woord wys – dus probeer Cornelius, nes die satan met Jesus Christus gedoen het, om die Woord teen die Woord en die verkondigers van die Woord, in te span!

Dit, terwyl hy gereeld agnostici heuning om die mond smeer en hulle vertel hoe waardevol hulle bydraes vir hom is…

Die lastering van Cornelius se optrede skrei ten hemele en dit gaan al jare so aan.

‘Shalom’, sê hy nogal… en só mismaak en bevuil hy ook dié mooi Hebreeuse groet in die konteks waarin hy dit gebruik.

Is daar 'n groter lastering wat bestaan, as juis die koppeling van die Heilige Naam en Woord van die HERE aan leuens en dwaalleringe wat Hom direk weerspreek en ontken?

Ek wonder ook hoe ander ware gelowiges, die stilles, wat Cornelius se lastering so gereeld aanskou, dit regkry om stil te bly daaroor... of miskien is daar net baie min van hulle wat sy lasterlike gemors lees.

Kobus de Klerk

  • 14

Kommentaar

  • Kobus,

    Weereens dankie vir jou geskrewe hierbo. Dit stel Cornelius se dwaalleer en laster duidelik aan die kaak en ek hoop van harte dat diegene wat sy laster lees en miskien aanhang ook tot hul sinne kom (dalk, net dalk, ou Cornelius homself ook). Dankie ook dat jy nie doekies omdraai wanneer dit kom by Jesus Christus ons HERE se eer nie - en ook nie aarsel om laster, verdraaiing en dwaalleer, wat direk Teen die Woord van God is, uittewys en dienooreenkomstig aantespreek nie! Daar kan Geen pamperlangery wees wanneer dit by die Enigste Ware Evangelie in en deur Jesus Christus ons HERE kom nie - soos opgeteken in die Lewende Woord van God!

    Cornelius,

    Jy sien (hopelik) dat Kobus jou verdraaide opvattings/verkondigings meet aan die Lewende Woord van God en telkemale jou laster/valsheid uitwys. Jy moet weet en, glo dit of nie, daar IS ook vir jou ware verlossing en redding in Jesus Christus ons HERE - die Enigste Weg, Waarheid en Lewe - deur wie (en slegs en alleen deur Hom) almal na die Vader (God) kan gaan.

    Verder wil ek graag jou opinie hoor ten opsigte van wat jy sien as die Enigste Ware Evangelie van Jesus Christus. Ek kon dit glad nie uit enige van jou vorige skrywes kry nie. Veral wil ek jou vra om dit te beskou ten opsigte van Joh. 3:16 tot 18. Slaan asseblief daarop ag dat dit Jesus Christus Self is wat hier praat - en wanneer Hy praat Luister 'n mens. Vir my persoonlik is Jesus se woorde hier 'n samevatting van die Esensie van die Enigste Ware Christelike Geloof en Evangelie. Ek haal aan uit die '83 vertaling:

    "16. God het die wereld so lief gehad dat Hy sy enigste Seun gegee het, sodat die wat in Hom glo, nie verlore sal gaan nie maar die ewige lewe sal hê. 17. God het nie Sy Seun na die wêreld toe gestuur om die wêreld te veroordeel nie, maar sodat die wêreld deur Hom gered kan word. 18. Wie in Hom glo, word nie veroordeel nie; wie nie glo nie, is reeds veroordeel omdat hy nie in die enigste Seun van God glo nie."

    Ek stel Glad Nie belang in enige Oosterse, Boeddistiese, Hindoesiese (verskoon spelling) of watter "ander" sogenaamde godsdiestige boeke, jy dalk sou wou uit aanhaal nie. Konsentreer net op en slegs uit die Bybel - Die Lewende Woord van God. Moet asseblief ook nie woorde verdraai, verander, byvoeg, wegvat en/of "maak pas" nie.

    Groete en Vrede vir jou.

    Dolf van Loggerenberg

  • Siep sop en braaiboud vir Cornelius Henn aan die hand van "ou grote". 

     
    Ugh vir die "ou grote". 
     
    Vir wat dit werd en sonder die "spirituele intelligensie" wat onfeilbaarheid aan De Klerk waarborg word die volgende vir Henn se verdediging ingedien: 
     
    Revelation 12:10
    New International Version (NIV)
     
    Then I heard a loud voice in heaven say: “Now have come the salvation and the power and the kingdom of our God, and the authority of his Messiah. For the accuser of our brothers and sisters, who accuses them before our God day and night, has been hurled down.
     
    "broers en susters versus medemens vs broeders? 
     
    Maar nog steeds is dit nie einde niet: 
     
    Revelation 12:10
    Contemporary English Version (CEV)10 
     
    Then I heard a voice from heaven shout,“Our God has shown his saving power, and his kingdom has come! God’s own Chosen One has shown his authority. Satan accused our people in the presence of God day and night. Now he has been thrown out!"
     
    "Our people" 
     
    Wie sal die "people" wees? 
     
    Net my gebroeder? of darem my suster ook en so per definisie my medemens? 
     
    Revelation 12:10
    Today's New International Version (TNIV)

    Then I heard a loud voice in heaven say: “Now have come the salvation and the power and the kingdom of our God,and the authority of his Messiah.For the accuser of our brothers and sisters, who accuses them before our God day and night, has been hurled down.
     
    Daar is daardie "onse broers en susters" alweer. 
     
    Revelation 12:10
    New Living Translation (NLT)
     
    Then I heard a loud voice shouting across the heavens,“It has come at last—salvation and powerand the Kingdom of our God, and the authority of his Christ.[a] For the accuser of our brothers and sisters[b] has been thrown down to earth—the one who accuses them before our God day and night.
     
    Footnotes: Revelation 12:10 Or his Messiah.
    Revelation 12:10 Greek brothers.
     
    Hierdie bevestig weereens broers en susters maar erken wel die bron van "brethen" en die betekenis daarin ingesluit en wat De Klerk se broeders in Christus omsluit. 
     
    Revelation 12:10
    New International Reader's Version (NIRV) 

    Then I heard a loud voice in heaven. It said, "Now the salvation and the power and the kingdom of our God have come. The authority of his Christ has come. Satan, who brings charges against our brothers and sisters, has been thrown down. He brings charges against them before our God day and night.
     
    Nou 'n magdom gelowiges lees bogenoemde vertalings en bekou dit die "ware Bybel" te wees. Dit sal nie van my af kom dat hulle die verkeerde weergawe lees nie en sonder insig aangesien "spirituele intelligensie" nie, die sal slegs van 'n "ware christen" soos De Klerk kom wat gereeld sy medegelowiges tugtig omdat hulle nie op sy "standaarde" is nie. 
     
    Die tendens is egter daar, broeders en susters en die pad na medemens. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Henry Oosthuizen

    Kobus

    Ek kan verstaan waarom ander gelowiges nie die vrymoedigheid het om in te gryp teen Cornelius nie ,want hy skroom nie om sy vurige gif pyle op ons af te vuur nie en ons te beskuldig van duiwelsbegeestertheid nie.Die Fariseërs het presies dieselfde met Jesus gedoen. Matt 12:24.

    Ek is verseker daarvan dat daar talle van ons medegelowige vriende is wat se gebede vir hom opgaan sodat die skille van sy oë mag afval, sodat die Heilge Gees hom moet oortuig. Ek voel inniglik en waarlik jammer vir hom. Die probleem is egter dat hy dit nie besef en is sy sinne so verblind dat hy onder geweldige krag van satan se diaboliese misleiding mislei word nie. Eers wanneer  hy dit besef sal hy verstaan dat hy eindlik mislei is. Dit is wat ons vir hom probeer tuis bring! Die vraag is ook dit: Is die man bloot moedswillig of is hy waarlik mislei? Hierdie Multigodsdienstige leringe wat hy verkondig is tipies van vandag en pas dit die seun van verderf en sy koningkryk soos n’ handskoen. Daarom sal ek, jy en Dolf opstaan hierteen. Daarom sal ons die teëhouers hiervan wees.2 Thes2:1-17 

    Mag Cornelius tot sy sinne kom, mag Cornelius tot inkeer kom , want dan sal die Ware en Lewende Jesus Christus ons Skepper sy lewe omkeer en verander.Alle Eer kom Hom toe. Amen  

    Groete

    Henry     

  • Tant Alie (Aletta)

    Beste Kobus, Baie dankie dat jy hierdie onder almal se aandag bring en bevestig wat Cornelius al jare lank hier besig is. Ek het al 'n paar briewe aan Cornelius probeer skryf die laaste ruk, maar dit lyk asof die sensuur by SêNet weer streng toegepas word. Cornelius moet eerder Matt 23 gaan lees en besin oor hoe hy ander Christene hanteer. Die hartseer verhaal vir my is die feit dat hy lekker met my geklets het in die begin en toe hy besef ek wankel nie in my geloof nie, het hy my hele naam en karakter op SêNet geskend. Net soos wat hy met jou probeer doen. Ek moet erken dit het my ervaring om hier te Getuig onaangenaam gemaak, maar ek is so verheug dat mense soos Henry en Dolf ook nou hier skrywe en op 'n sagte, vermanende wyse vir Cornelius op sy dwalinge probeer wys. Dit is dus nie net ek, jy en Erika wat "paranimfe, pedofiele en waansinniges" is nie (woorde wat Cornelius so gereeld na my kant toe gooi. Ek het niks in gemeen met die Ateiste en Agnostici hier op SêNet vanuit 'n geloofsperspektief nie, maar nog nooit het Jaco Fourie, Wouter, Johannes Commestor, Perdeby en selfs Angus my aangespreek soos Cornelius (die kamptige Christen nie). Die enigste een wat kan kersvashou met sy beledigings is Francois Williams.

    Kobus :Jy vra "Ek wonder ook hoe ander ware gelowiges, die stilles, wat Cornelius se lastering so gereeld aanskou, dit regkry om stil te bly daaroor... of miskien is daar net baie min van hulle wat sy lasterlike gemors lees. "

    Kobus, ek kon nog nooit stilbly nie. En ek het amper duur daarvoor betaal. Soos jy seker onthou het Cornelius die storie opgemaak (of was dit 'n storie) waar hy my tot by my gemeente probeer agtervolg het, bloot omdat ek hom herhaaldelik gewys het op sy dwaling dat God "'n Moeder" is.

    Toe begin hy leuens te vertel dat Wouter my seun is. Dit terwyl my regte seun al baie hier geskryf het onder sy eie, volle naam. Toe het Cornelius te vertelle gehad dat ek "Evita Bezuidenhout" is.

    Cornelius kon nog nooit die vermanings wat ek uit Baie Liefde en uit die diepte van my hart aan hom oorgedra het nie. baat vind nie. Dit het hom eerder vererger en verdere waansin tot gevolg gehad. Onthou jy hoe ons hom uitgevang het as Sondaar (wat skielik my begin bearbei het met soetsappige woordjies). Toe kom "Ronel" en "Kolgans" wat my beskinder en bespot het.

    Kobus, ek weet nie meer wat om vir Cornelius te sê nie. Ek kan net eenvoudig nie meer iets sê nie. (Behalwe vir die SêNet sensuur), het ek opgegee. Cornelius het my eintlik geknak. Ek het al baie mense in my lewe ontmoet, (skorrie morries ingesluit), maar nog nooit iemand wat so Laster en so Agterbaks en afskuwelik optree teenoor ander nie.

    Ek weet nie hoe om verder hier voort te gaan nie. Ek is verdag gemaak, en niemand slaan ag op iets wat ek meer skryf nie, alles as gevolg van Cornelius se beweringe dat ek "vals" is of "nie bestaan" nie. Dit terwyl ek die een bewys na die ander hierdie laaste paar jare gegee het om juis my egtheid te bewys.

    Ek moet sê dat ek al regstappe teenoor Cornelius oorweeg het, want sy beledigings en beskuldigings (asook sy agtervolging van my) het alle vlakke van aanvaarde gedrag oorskry en my wese en aard hier aangetas. Ek is egter aangeraai, om in die Naam van Christus vir Cornelius te vergewe, en ek en 'n paar vriendinne bid gereeld vir hom en sy Verlossing van die duiwel.

    Jammer dat ek so baie skryf. Ek moes hierdie van my hart af kry. Ek het baie seergekry met my hele SêNet ervaring. Iets wat op 'n stadium so opbouend en Geestelike Kos verskaf het, het vir my amper 'n tragiese einde geword. Ek hoop dat ek darem in hierdie tyd. 'n paar mense laat dink het, en 'n paar mense se lewens kon raak.

    Gegroet

    Aletta

  • Tant Alie (Aletta)

    Dolf en Henry - Ek wil julle bedank vir die mooi woorde en die vermanings aan Cornelius. Ek is so dankbaar dat daar nou 'n hele magdom Christene is wat hier toegetree het tot 'n soms onsmaaklike stryd om die Godslastering en haat wat na ons Christene gespu word hok te slaan!

    Ek hoop van harte dat julle nie die aftog sal blaas en die gifpyle wat beslis nou na julle kant geskiet gaan word ter harte neem nie. Ek het probeer deur die jare om nes julle, met Cornelius te gesels, maar ek het dit so swaar gevind om te Getuig in hierdie klimaat!

     God en die Heilige gees lei ons na die mense wat ons die meeste nodig het. Dit Glo ek met my hele Siel, maar tans voel ek dat daar nie meer salf te smeer is aan Cornelius nie.

     Sterkte en Vrede in die Naam van die Vader God ons Here en Jesus Christus ons Enigste Verlosser.

    Aletta

  • CorneliusHenn

    Hallo Wouter, ... en daar ruk jy die mat onder my voete uit.

    Baie dankie vir jou objektiewe naslaan hierdie keer.

    Die "broeders" is op geen manier 'n kwessie tussen katolieke nie. Dis duidelik 'n wapen in die hand van Bin Laden se soort baardpatrollies opgedollie as "ware Christene".

    Wouter, kan ek maar jou kommentaar spoeg en blerts na die bydrae waar Kobus de Klerk en Henry Oosthuizen hul hoon begin het?

    Cornelius

  • Kobus de Klerk

    Dolf, Henry en Tant Alie,

    Dit is 'n riem onder die hart, soos altyd, om ware gelowiges aan die woord te sien, Daar is soveel eensgesindheid, nie omdat dit oor ons gaan nie, maar omdat dit die Een Gees is, Wie ons algar lei en daarom verskil ons mense nie, maar is daar ooreenstemming weens die Een, die Gees van Waarheid,  Wie niemand verlei of mislei, nie en deur Wie ons algar in gehoorsaamheid gelei word.

    Kyk na die moeite wat Dolf doen om in besonderhede te verduidelik wat die Waarheid is. Tog word dit dwaas versmaai. Kyk na Henry se uitwysings en verduidelikings van die Waarheid. Tog word dit ook versmaai. Tant Alie is geen nuweling hier nie, en was nog altyd en is steeds, getrou aan die Waarheid wat sy skromeloos weer verdedig. Dit is soos Henry sê, dat  gelowiges deur Cornelius (en ander) met venyn en nydigheid aangeval, word - omdat hulle die Waarheid nie kan verduur, nie. Tant Alie het al baie seergekry, en so ook ons ander uitgesproke gelowige, Erika (dit is so jammer dat sy ook so stil, is).

    En tog is daar net een manier - die manier van die Waarheid. Die Waarheid oorwin en oorheers altyd, ALTYD. Al neem dit tyd, want die Waarheid is die HERE en die tyd is in Sy Hande. Net soos die duisternis nie die Lig kan oorweldig nie, maar andersom, net so sal die leuen ook nie die Waarheid oorweldig, nie maar sal die Waarheid mettertyd die leuen, nydigheid en valsheid van die agnostisme, die ateïsme, en die dwaalleer oorweldig. Onvermydelik!

    En die HERE bewaar ons wanneer ons oor die Waarheid getuig. Ek wonder hoeveel massas gifpyle oor die tyd heen al deur die ongelowige Corneliusse van die wêreld op my, op ons, afgeskiet is... maar sonder effek, natuurlik.  Ek dink dit is Churchill wat destyds opgemerk het by 'n besoek aan die soldate "nothing in life is so exhilarating as to be shot at without result". Nou ja, ek kan dieselfde sê van die vurige gifpyle van die ongelowige Corneliusse van hierdie wêreld - hulle is nutteloos - want die HERE bewaar ons omdat Hy aan ons die wapenrusting, die skild van geloof gee, juis om hierdie vurige pyle af te weer, uit te blus en te verbreek (Efesiërs 6:13-17, veral vers 16).

    Al wat ons hoef te doen, is om aan te hou om die Waarheid sonder skroom te verkondig en te verdedig, soos wat julle alreeds doen (dit gaan nie ongesiens by die HERE verby, nie, nes die lastering van die Wouters, Jaco's en Corneliusse ook nie ongesiens verbygaan by die HERE nie - Lukas 12:8-9).

    Kom ons kyk wat raak Wouter en Cornelius nou weer oor die Woord, kwyt.

    Die woord ‘broeders’ soos in Openbaring 12:10 gebruik, is afkomstig van die Griekse woord “adelphos” wat van die Griekse stamwoord ‘delphus’ (moederskoot/baarmoeder) afgelei is en ooglopend die hegte verbintenis tussen ‘broeders’ aandui in teëstelling met die algemene strekking van 'medemens'. Dus, die Griekse en gelowige leser, sal weet dat daar met die gebruik van dié woord ‘adelphos’ of broeder, in Genesis 12:10, bedoel word broeders van dieselfde Spirituele afkoms – en dui direk op die wedergeboorte van ware gelowiges in Jesus Christus die HERE. Die HERE is ons tweede Adam,  Wie ons verlos van die bande van die wêreld en sy sonde en is die HERE ons Vader en is ons as gelowiges almal broeders en susters in die HERE (ek het reeds hierbo na die Woord verwys Wie dit bevestig). So is ons verwysing na ons mede gelowiges as ons broeders en susters, of kortom, ons mense. Let op die ons wat die eksklusiwiteit van gemeenskap tussen gelowiges aandui. Dit is ’n term wat indertyd vryelik aangewend is om na mede gelowiges, apostels, dissipels, ens. van die HERE te verwys.

    Kom ons kyk nou na die voorbeelde wat Wouter vir ons aanhaal.

     Die NIV is die Engelse susterbybel van die 1983 Nuwe Vertaling, wat beide onder die ouspisieë van die International Bible Association vertaal is en dus in beide vertalings ooreenkomstige betekenis het. Wanneer daar egter in ander, nog  meer ‘vrye’ vertalings, soos die CEV en die ander wat Wouter vir ons hier aanhaal, verwys word na ‘our people’ in teëstelling met ‘the people’ – ‘our’ met die klem op ‘our’ en nie die onbepaalde allesomvattende ‘the’, soos Cornelius dit verdraai, nie, bemerk ons dit is ’n doelbewuste besitlike voornaamwoord wat eksklusiwiteit aandui en het dus ooreenkomstige betekenis met ‘broeders’, want ‘our people’ is bepaald ook ‘our brothers’ is bepaald  ook ‘our brothers and sisters’ en is bloot maar net meer inklusief om ons susters óók in te sluit in ’n enkel term) en die ander nuwe vertalings.

    Dus, die ‘our’ wat doelbewus gebruik word, dui op die eksklusiwiteit van die groep – die gelowiges en nié die breë groep 'medemense', soos wat Cornelius dit wil hê, wat ook ongelowiges insluit, nie.

    Wat sien ons? Dat Wouter se voorbeelde mekaar nie weerspreek nie, en ook nie die Afrikaanse vertalings waarna ons verwys, nie. Na alles, het Cornelius die Afrikaanse weergawe verdraai om sy eie versinsels te pas. Maar dit kon netsowel die Engelse ook gewees het - algar stem in betekenis ooreen, en algar is afgelei en vertaal vanaf die Griekse "adelphos".

    Wouter (en Cornelius) se kommentaar is dus onvanpas en sinneloos, maar as ateïs, kan ons van hom nie beter verwag nie - veral nie insig, nie.

    Só het Wouter weereens, in sy ateïstiese onkunde en onvermoë om die dinge Gods behoorlik te begryp, met sy moeite om te papegaai vir ons nóg meer bevestiging gebring en is Cornelius se reaksie op Wouter se nodelose oefening (vir hulle agnostiese doeleindes) maar net weereens aanduiding van die agnostikus en dit sluit Cornelius is, se onvermoë om die Woord te begryp. Hoe anders, hulle verwerp die leiding van die Een wat die Woord in die eerste plek inspireer, naamlik die Heilige Gees van God.

    En so, Wouter, het jy net nogeens vir my die punt herbevestig wat ek maak, terwyl jy dit natuurlik nie so bedoel het nie, maar, die Woord het Sy Eie Krag en nie dié wat jý of enige ander misbruiker daaraan wil toedig, nie.

    Laat dit weereens vir julle ongelowiges, ’n les wees.

  • Barend van Graan

    Ek kon aanvanklik nie lekker verstaan hoekom ons Christene met mekaar baklei nie, maar toe Kobus uitwys watter probleme Cornelius met struikel, verstaan ek hoekom daar op hierdie stadium 'n poging aangewend word om Cornelius bietjie anders te laat dink oor sy posisie.

    Ek dink dat Cornelius, nes Jaco, as gevolg van 'n persoonlike probleem (soos homoseksualisme) sy eie geloof probeer skep het om sy probleem aan te spreek. Dus voel hy verwerp deur die kerk, en sy verdegingsmeganisme, was ander as Jaco, wat godsdiens heeltemal afgeskryf het.

    Cornelius het 'n vreemde godsdiens geskep, wat vir meeste van ons moeilik is om te verstaan omdat dit so van die norm van Geloof in die algemeen afdwaal. As Cornelius besef dat sy siening uniek is, en dat hy natuurlik teenkanting gaan kry, sal hy dalk minder giftig en afkeurend teenoor ander hier praat.

    Dit is soos 'n komplekse verhaal wat hy hier neerpen, en word woedend as mense hom nie verstaan nie. Dalk moet hy sy geloofsiening in eenvoudige taal skrywe sodat ons kan uitpluis watter rigting hy probeer inslaan.

    Barend

  • Tant Alie (Aletta)

    Beste Kobus,

    Baie dankie vir jou kommentaar en bemoediging. Dit gee my weer die energie om meer gereeld te kom deelneem. Met die toetrede van ander Christene, voel dit skielik asof ons 'n hele mag gevorm het, en hierdie laster vir eens en altyd kan uitroei. 

    Ja Kobus, die gifpyle is alweer uit, soos jy seker gelees het in Cornelius se nuwe poging om ons te belaster onder die skuilnaam "Heiden". Hy is so voorspelbaar en deursigtig dat mens eintlik die arme siel jammer kry. 

    Sterkte en Vrede vir jou Kobus, en baie dankie dat jy altyd uitkyk vir ander Christene op SeNet. Dit word beslis waardeer, want hierdie plek is soms maar 'n groot gemors. 

    Aletta 

  • Kobus de Klerk

    Hallo Barend,

    Cornelius beskou homself nie as Christen nie en sê dit darem ook tereg ook só. Hy verag Christendom anders sou hy een wees. Hy het sy sinkretistiese religie oor die tye heen (ons kom al oor die jare ’n vêr pad met Cornelius se opsetlike, gruwelike lastering en leuens) telkemale op allerlei wyses neergeskrywe, soos jy voorstel en hom in die proses teen die Christendom en Christene uitgespreek. Hy het ’n sinkretistiese religie saamgestel wat deur God uitdruklik verbied en bestraf, word en hy verkies opsetlik om daarmee te volstaan. Diegene wat hom teregwys, word persoonlik aangeval en siedend uitgeskel, soos jy ook bemerk.

    Dit is nie 'n kwessie van net Cornelius se religie te verstaan nie - ons verstaan dit na al die jare wat hy dit in weerwil van alles, verkondig en dit is uiters vals - dit is 'n kwessie om hom voortdurend te vermaan en tereg te wys.

    Groete,
    Kobus de Klerk

  • Kobus de Klerk

    Hallo Barend,

    Laat my asseblief toe om bietjie meer volledige te deel met die probleemgeval van Cornelius.

    Cornelius beskou homself nie as Christen nie en sê dit darem ook tereg ook só. Hy verag Christendom anders sou hy een wees. Hy het hom oor die tye heen (ons kom al ’n vêr pad met Cornelius se opsetlike, gruwelike leuens) telkemale op allerlei wyses neergeskrywe, soos jy voorstel en hom in die proses teen die Christendom en Christene uitgespreek.

    Hy het ’n sinkretistiese religie saamgestel wat deur God uitdruklik verbied en bestraf, word (sien gerus weer Sefanja 1:4-6 en sien veral vers 5) en wat lynreg teen die Here Jesus Christus se Goddelike aanspraak in Johannes 14:6-7, is. Ál die ander religieë (die milkom’s van Sefanja 5) wat hy saamflans in die poespas wat hy maak, misken of verloën die HERE Jesus Christus in daardie Goddelike aanspraak. Hy kom al jare daarmee aan. In die briewe waarin ek Cornelius se lastering aanhaal, wys ek ook daarop dat hy die engele (deel van die ‘leër van die hemel’ van Sefanja 5) aanbid, vir hulle reukoffers en kristal- en edelgesteente offerandes bring, dat hy daardeur okkultiese praktyke (Deuteronomium 18:10-12) probeer promoveer en ergste van alles, dít, in die Naam van die HERE!

    Die manier en gees waarmee Cornelius te werk gaan, word ook uitgewys in Galasiërs 5:19-21.

    Cornelius se redding lê by die HERE, soos jy sekerlik ook sê, maar dit sal beteken dat hy gekose lewenstyl moet WIL prysgee, soos ons ander almal moes (en wou) doen, omdat dit lynreg met die HERE se leringe in Sy Evangelie strydig is. Dit is Cornelius egter nie bereid om te doen nie. Daarom sal Cornelius eerder doelbewus die HERE verloën en Sy Naam ydellik gebruik as ’n sluier vir sy eie religie en afgod wat hom pas en wat hom nie in sy gewete sal aanspreek (omdat diue afgod 'n versinsel is) oor sy gekose lewenstyl en filosofieë nie. HY noem die HERE Jesus al by verskeie geleenthede ook 'n mite!

    Alle mense het probleme met heiliging. Alle mense het gedurig ’n stryd om hulle probleme, soos jy dit noem, te hanteer. Die HERE verskaf egter die krag en deursettingsvermoë daarvoor aan diegene wie opreg en nederig met die HERE, is.

    Ek hoop jy verstaan beter.

    Groete,
    Kobus de Klerk

  • Barend van Graan

    Hi Kobus,

    Dankie vir die mooi uiteensetting van die dilemma. Ek het Cornelius gevra wat sy uitkyk is en hom die geleentheid gegee om te verduidelik, soos wat hy dan ook gedoen het.

    Kobus, ek weet nie of jy met my sal saamstem nie, maar soos ek dit sien glo Cornelius:

    1) Dat alle gelowiges saam kan aanbid tot God in watter vorm hulle hom ook kan ervaar. Daarmee het ek nie 'n probleem nie.

    2) Dat Cornelius deurmekaar geraak het met sy uitkyk dat alle mense saam kan aanbid deur God se Woord soos in die Bybel aan te pas by die gesamentelike aanbidding wat hy in sy kerk ervaar.

    Punt nommer twee, spreek dus in eenvoudige taal die probleem aan, soos wat ek nou tussen die lyne kon lees.

    Barend

  • Kobus de Klerk

    Hallo Barend,

    Cornelius sy standpunt verduidelik? As hy maar het… Dit is ongelukkig nie moontlik om behoorlik Cornelius se geknoei in 'n paar woorde te verduidelik, nie.

    Die probleem met punt 1 wat jy noem, is dat Cornelius juis by sy poespas van religieë insluit, mense wat ’n religie aanhang waardeur ’n god gedien word waardeur uitdruklik nié erkenning verleen aan die Godheid verlossingswerk en Middelaarskap van die HERE Jesus Christus as Woord en Seun in die Drie-enige God, nie. Daardie religieë is onversoenbaar in sy hutspot. Selfs ateïste soos Wouter het dít by geleentheid vir hom uitgewys.

    Ek het moeite gedoen om uit te wys dat die HERE Jesus juis moeite gedoen het (byvoorbeeld in Johannes 14:6-7) om presies te verduidelik Wie en Wat die énigste ware God nou eintlik is. Onthou, met die uitsondering van die Islam (wat eers ongeveer 600 jaar later ontstaan het), was ál die religieë wat deur Cornelius voorgehou word as deel van dieselfde ‘god’, juis almal reeds bekende religieë op die tydstip toe die Woord in die menslike hoedanigheid as Jesus Christus na die aarde geïnkarneer het (sien spesifiek ook Johannes 6:38 in hierdie verband) en het die HERE Jesus juis met dít ingedagte, spesifiek en uitdruklik Homself gedistansieer van álle religieë waar daar nie gevolge gegee word aan die ware identiteit en verkondiging van die Godheid, nie. Cornelius weet dit – hy is in die Christendom opgevoed in sy ouerhuis, én dit is al herhaaldelik sedert ten minste 2007 op hierdie forum by vele geleenthede met hom bespreek deur verskeie persone en almal van hulle is deur Cornelius ontmoet met verguising en skeltaal en pogings tot persoonlike beswaddering.

    Daar is ook sy verknogtheid aan die hindoeïsme en die boeddhisme waar daar ’n veelheid van verskillende afgode, met beelde kompleet, aanbid en/of gedien word en waar die HERE Jesus Christus géén rol speel, nie – dus verloën word – en dít sluit ook die Islam en die judaïsme wat hy verkondig, in. Boonop misken al dié religieë die Kruisdood van Jesus op Golgota en Sy opstanding agterna en die verlossing wat dit vir ons meebring… Jesus se sentrale tema.

    Nee, Cornelius se hutspot is ’n gruwel en opsetlik só. Jy sal ook bemerk dat hy in sy afsluitings lysie aan die einde van sy lasterlike briewe, doelbewus die Christendom uitlaat – juis die enigste ware Godsdiens waardeur daar volledig aan die HERE Jesus Christus erkenning verleen word.

    Ek kan dus nie saamstem dat hy wat Cornelius is, verkondig dat alle gelowiges saam kan aanbid tot God in watter vorm hulle hom ook kan ervaar. Dit sou in dalk orde wees, as hy hulle almal aanmoedig om hulle afgode en dwaalleringe te laat staan en aan te sluit by die ware en enigste God, soos Hy Homself in die HERE Jesus Christus openbaar het,  maar dit is nie wat Cornelius verkondig of selfs poog te verkondig, nie. Vir hom is die Griekse onbekende god, werklik sommer enige god en is die HERE een daarvan en hulle almal is maar OK - is daar iets meer strydig met die Evangelie van die HERE Jesus Christus as juis dit?

    Daar is ook oor die tyd heen, briewe van Cornelius op rekord waar hy sonder om te skroom, name van afgode van pagan religieë en voorvaderlike aanbidders aan die HERE toeken, soos byvoorbeeld:-

    “!Kaggen” – ’n Naam van ’n Khoikhoi celestiële afgod en wat vereenselwig word in die Boesman paganisme met ander afgode soos Gaunab, die god van dood en lot; Heitseeibib, ’n mistieke voorvaderlike gees, die seun van ’n koei en misterieuse gras wat deur die koei gevreet is en haar bevrug het, wat ook ’n towenaar en krygsman is wat homself telkens kon laat sterf en uit die dood ontwaak; en Haiuri  en Biblouk, die manlike en vroulike weergawe van half-mens figure wat mense vreet as hulle honger is, en met die Zoeloe “tokkellosie” figuur vergelyk kan word; Gagorib, ’n gekolde monster wat binne-in ’n donga sit nadat ’n klipgooi-onderonsie met Heitseeibib  vir hom skeefgeloop het, en hy in die donga beland het, en mense versoek om hom met klippe te gooi, sodat dié wat dit dan doen, deur hulle eie klippe wat van hom af wegskram, gedood word; Aigamuchab, ’n mensvreter duinbewonende monster wat mense vreet en soos ’n mens lyk, behalwe vir die oë aan die binnekante van sy voete…

    “Allah” – die algemene Arabiese woord vir God, maar in Mohammedaans/Islamitiese konteks. Die Islamiete ontken dat Jesus Christus die Messias en Verlosser is, en maak  Golgota en die opstanding as versinsels uit, asook dat Hy die Seun van God is, en beskou só ’n bewering as fatale lasterlik teenoor Allah, strafbaar met die dood… (Arabiese Christen bekeerdes, het juis ’n ánder naam vir God, verwysende na die Goddelike Drie-eenheid, naamlik Allah al-‘Ab wat die ware God onderskei van die Islamitiese gebruik van Allah).

    “Big Chief” – die transliterasie van die Amerikaanse inheemse volke se woord vir hulle hoofmanne, wat ’n groot veredos of “bonnet” gedra het om sy geërde status aan te dui. Indiaanse stamme het hoofsaaklik hul eie mitologie nagevolg, maar daar was ’n paar “gemeenskaplike” ideologieë. Hulle het ook heilige berge, ens., (wat deur die Woord verbeid word) en hulle gelowe toon baie kursoriese ooreenkomste met ons eie. Hulle ken egter geen Messias nie, wat nog te sê, Jesus. Punt is, ’n Big Chief is ’n mens, en geen god nie. Meeste van hulle het egter toordokters, of shamans (wat deru die Woord verbeid word). Sommige van hulle, soos die Crow Indiane, glo aan die Mannegishi, ’n bles humanoïde  met groot oë en klein lyfies (sien baie sulke figuurtjies in kinder advertensies en goed);

    “Jumala” – Uit die Finse mitologie, ’n woord vir God, maar het sy oorsprong in die Finse paganisme, wat enige god of afgod aandui. Oorspronklik die paganistiese “skygod” of god van donderweer soos wat die afgod Thor ook was;

    “Brahman” – die Hindoe god wat geen god is nie, omdat daar ’n sisteem van samsara en reïnkarnasie is met panteon van ander gode. Hierdie is ’n bekende sisteem en behoef nie bespreking nie, en daar is géén erkenning daarin vir Jesus Christus as Seun van God en as Messias nie;  Weinig van hulle leerstellings bots nie met die Woord, nie.

    “Tath?gata” – die Sanskrit wat beteken “hy wat gekom het en hy wat gegaan het wat die waarheid gevind het”. Hierdie was Siddhartha Gautama, die boeddha, se naam en titel vir homself voor hy aan voedselvergiftiging dood is. Het ek nodig om meer te sê? Vir Cornelius is Christus en die boeddha één?

    En dan is hy ook op rekord dat hy sê dat die HERE by Sy Naam sommer agteraan al die ander gevoeg kan word…

    Maar, wat hy inderwaarheid doen, is om voor te gee dat enige afgod, beeld, wat ook al, wat in enige ander religie voorkom, aanbid kan word asof dit God is, vandaar sy ondersteuning sónder kwalifikasie van daardie religieë. Wat is meer direk strydig met die Woord, as juis ook dit? Dít is wat hy voorstel.

    ’n Religie is tog ’n stelsel waardeur ’n spesifieke god aanbid word -  die ware Godsdiens, die stelsel waarby die ware God gedien word soos God dit wil gedoen hê (vandaar die HERE se voorbeeld). Daarom is daar ook nie sprake, in sy model, van gelowiges wat saam aanbid nie, want mense wat afgode aanbid en die HERE Jesus Christus in Sy Godheid verloën en misken, is nié gelowiges, nie. Kyk, ons opdrag is juis om van hulle gelowiges te maak (Mattheus 28:19), nié om hulle gode te aanvaar asof hulle ook God is, nie en dít is wat Cornelius voorstaan.

    Dan sal jy waarskynlik met my akkoord gaan dat dit nie die optrede van ’n mens is wat deurmekaar geraak het, nie en onder een of ander misverstand verkeer nie, maar die optrede van ’n mens wat tot ’n vaste besluit en voorneme gekom het, daaroor. Kyk na sy mentors – byvoorbeeld Karen Armstrong, ’n gewese non en hedendaagse agnostikus en antagonis teen die Christendom. Verder, uit die verlede, het Cornelius ook menigmaal in sy reaksies tot teregwysing,  agnostici soos Carl Sagan en Bertrand Russel goedkeurend aangehaal en sy verknogtheid aan hulle agnostiese filosofieë bevestig. Hy is ook op rekord dat hy by verskeie geleenthede die plaaslike ateïste loof  en hoe waardevol hulle skrywes vir hom is, ten spyte van hulle absolute laster. Maar hy het nog nóóit ’n ware gelowige mens konsekwent geakkommodeer nie, net probeer verdag maak en slegsê.

    Dan moet ek jou ook waarsku – Cornelius vertel baie maklik leuens om sy versinsels te probeer bolster - daar is waarlik geen Mohammedane wat daardie kerk, soos Cornelius beweer, bywoon met die doel vir gesamentlike aanbidding, nie. Dit is ’n katoliek-georiënteerde katedraal en hulle verkondig die Drie-eenheid van God, met Jesus Christus as die Seun. Mohammedane wat die Islam aanhang, het ’n baie ernstige beswaar teen die verering van die HERE Jesus Christus as God – dit bots lynreg met hulle religie en hulle religie verbied hulle enige deelname daaraan. Dit is maar ’n enkele voorbeeld van baie. Cornelius is ook al werklik baie uitgevang vir sulke tipe leuens.

    Dus, Cornelius se stelsel is ’n baie fyn uitgewerkte een, een wat maklik die goedgelowige onverhoeds kan betrap… maar nie vir ons, wie al jare met hom heen kom en ál sy gruwelik laster al uitgeskud het, nie. En soos jy sien in sy ander brief aan jou, hy sê hy hoop om dit nog vir jare só te doen…

    Nog ’n laaste aspek – Cornelius het geen kerk, as sodanig, nie. Hy woon die katedraal in Kaapstad by (sê hy...), want dit is ’n bekende en skouspelagtige gebou met ’n lang geskiedenis. Dit is dus strelend vir hom om daar gesien te word, maar dit is waar dit eindig. Die katedraal waarvan hy praat, is aan my bekend en hulle dogma verskil onversoenbaar met syne en só ook die Islam, die katolieke, die protestante, die hindoes , die boeddhiste en veral die Judaïste. Die aksie wat deur eerw. Tutu geloods word, waarvan hy praat, is bloot om dialoog tussen verskillende religieë ter wille van eenheid te probeer bevorder en is nie werklik gesamentlike aanbidding, soos hy sê, nie. Die dialoog daar lig die oënskynlike ooreenkomste uit, maar spreek glad nie die verskille aan, nie. Die aksie is al wêreldwyd vir wie weet hoe lank aan die gang en kom net nie werklik van die grond af nie, want uiteindelik, wanneer dit by beginselsake kom, soos dié wat ek uitgelig het, faal die inisiatief. Mense wil nie hulle beginsels prysgee, soos wat Cornelius só geredelik doen, nie (het hy hoegenaamd beginsels om prys te gee?) Nogeens ’n wanvoorstelling van Cornelius.

    Groete,
    Kobus de Klerk

  • Barend van Graan

    Kobus,

    Ek wil jou opreg bedank vir al die inligting wat jy deurgee, en ek stem saam dat ek dalk te haastig was om gesamentelike aanbidding te aanvaar. Ek het nou juis hierdie gesprek met Cornelius, en ek hoop regtig nie jy gee om, dat ek van jou gedagtes hier aan hom genoem het in ons gesprek "wie ek is barend nie". Jy is ook welkom om te lees, want lyk my ek en Cornelius het nou begin vashaak en ek voel nou amper asof ek die idioot in die verhaal is.

    Ek is maar 'n gewonde Christen, met 'n pynlike sondige verlede waarmee ek steeds sukkel. Tog is dit vir my so belangrik dat ek Jesus in my lewe het, en niemand kom na die Vader, behalwe deur hom nie.

    Hierdie geweldige hoeveelheid inligting wat jy vir my gee, gee my gerustheid dat ek darem nie te ver van die waarheid af is nie!

    Vrede vir jou Kobus, en dankie vir jou moeite om hierdie soms moeilike dinge aan te spreek.

    Barend

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top