Corné van Rooyen gesels oor Hollywood in my huis

  • 0

Die regisseur Corné van Rooyen se eerste vollengtefilm, Hollywood in my huis, is onlangs op fliekteaters landwyd losgelaat. Hy beantwoord ’n paar vrae.

Goeiedag, Corné. Hoe's dinge?

Dinge is nogal mal met die vrystelling van die film. Ek het geweet dit gaan rof wees, maar bemarking is nie ’n grap nie. Ons het so hard gewerk om hier uit te kom en kan nie nou bekostig om die bal te laat val op die laaste oomblik nie – die twee weke voor vrystelling is alles. Dis maak of breek vir jou film. Ons glo ons het ’n goeie film met groot potensiaal, maar as niemand van jou film weet nie, gaan niemand dit gaan kyk nie. So te danke aan Alisha van Deventer (ons bemarkingspersoon) verloop dinge beter as wat ons ooit kon droom – sy is die beste ding wat met die film se bemarking gebeur het. 

Cornegroot1web

Geluk met die vrystelling van Hollywood in my huis. Sover ek verstaan is dit jou eerste vollengtefilm, gegrond op ’n gelyknamige kortfilm wat jy vroeër gedoen het. Hoe het dit gebeur dat die kortfilm tot ’n vollengtefilm uitgebou is? Wat was die grootste uitdagings – en plesiere – daarvan om die storie in ’n langer formaat te vertel, of het jy in ’n mate oor begin met die samestelling van die verhaal?

Jy’s reg: Hollywood in my huis is my eerste vollengtefilm, gegrond op ’n kortfilm wat ek in 2005 by die AFDA-filmskool gemaak het (ons het toe nog op 16 mil-film geskiet). Ek het altyd geweet daar is meer aan die storie en dat die karakters soveel meer wil sê. Maar ek weet nie wat my besiel het om ’n kortfilm in ’n vollengtefilm te probeer omskep nie. Dit was die moeilikste uitdaging om myself van die kortfilm te distansieer – die ding is, die kortfilm het klaar sy eie identiteit gehad, dit het goed gewerk in sy geheel as ’n film van 20 minute. Vir jare het ek probeer om my fondasie op die kortfilm te bou, maar dit is soos om ’n groter huis bo op ’n kleiner huis te bou en dit het nie gewerk nie – die vollengtefilm wou sy eie unieke identiteit hê. Die dag toe ek myself kon distansieer van my kortfilm was die dag toe dinge begin vlot het. 

Hollywood in my huis word bemark as ’n romantiese komedie. As ’n mens na die lokprent kyk, lyk dit of daar heelwat temas en onderstrominge aangeroer word – identiteit, prestasie, armoede en dies meer. In hoe ’n mate wou jy seker maak HIMH staan uit bo die res in terme van die stories en die temas, in ’n genre wat soms daarvan beskuldig word dat daar in die algemeen nie veel substansie is nie? Is só ’n opvatting verkeerd, of hoe beskou jy die saak?

Ek glo dat as jy ’n onderwerp eerlik, opreg en uniek aanpak, sal dit oukei wees. Die groot ding vir my as ’n filmmaker is dat my werk ’n unieke persoonlikheid en stem moet hê – of dit nou ’n drama, riller of ’n romcom is. Vir my gaan dit nie oor die genre nie, maar oor die tema van ’n storie – wat jy wil sê is alles. In Hollywood in my huis was dit die tema van drome – jong naïewe drome wat op die horison lê; ou verlepte drome wat nooit gerealiseer het nie; en hoe jy jou drome moet bestuur, maar nie moet vergeet van die mense om jou nie.

Luidens ’n mediaverklaring het dit jare en jare geneem om die rolverdeling nommerpas-reg te kry – onder meer het jy twee en ’n half jaar na die ideale Frikkie gesoek, sê die verklaring, tot Edwin van der Walt vir die rol gevind is. Hoe belangrik is ’n perfekte rolverdeling vir jou, en waarom? Hoe het jy die dinamiek tussen die akteurs en karakters op stel ervaar, en in hoe ’n mate het die meer gesoute akteurs soos Louw Venter en Nicola Hanekom ’n invloed op die jongeres gehad?

Van die begin af het ek geweet die twee hoofrolle moet vars nuwe gesigte wees – dit is vir my een van die "unspoken" reëls as dit kom by ’n "coming of age"-film. Ons het landwyd gesoek vir hulle en uiteindelik het al twee – Edwin en Christia – uit die Kaap uit gekom (geluk lê op jou eie voorstoep). Christia het ons almal van die begin af uit die veld geslaan – daar was net niemand wat naby haar kon kom nie. Sy was aanvanklik te mooi vir die rol van Jana, maar sy het iets gehad wat ek glo die kyker vir 120 min tot die skerm sal kan boei – "authentic magic". Edwin … genade, ons het twee jaar lank vir hom gesoek – om ’n jong manlike akteur te kry om by Christia te kan kers vashou was amper onmoontlik. Edwin het ’n rou eerlikheid wat jou elke oomblik verras. Hy is ook ontsettend "charming" en sal die meisies se knieë lam maak, sonder dat hy dit ooit sal weet. Edwin is ’n put van geheime en rou emosie wat hy uitstort op skerm. 

Ek aanvaar dit kan aan ’n mens se senuwees knaag om ’n eerste vollengtefilm te doen, maar HIMH het met ’n swetterjoel toekennings weggestap by verlede jaar se Silwerskermfees. In hoe ’n mate het dit jou die vertroue gegee dat dié fliek wel iets besonders is, of beskou jy die toekennings as ’n blote meevaller? Watter waarde – positief en negatief – is daar in die algemeen aan toekennings in die filmbedryf?

Ag wat, toekennings is tog lekker, veral as jy dit saam met jou familie, vriende, cast en crew kan vier. Wat die Silwerskermfees-toekennings vir my beteken het, was dat Hollywood in my huis ’n film met integriteit is. In die Suid-Afrikaanse filmbedryf werk ons onsself dood. Ons stort ons hart en siel in alles wat ons doen – geld is nie wat ons dryf nie (daar is nie geld in die bedryf nie), so al wat ons oor het, is om alles te gee en as iemand dit raaksien en jy wen ’n toekenning, dan is dit great. Ek moet sê, die Silwerskerm-toekenning het my totaal en al onkant gevang – ek was so geskok dat die trane van my wange af gerol het – en ek huil soos in nóóit nie.    

Jy en jou huweliksmaat, René, besit saam Red Letter Day Pictures en sy was ook medeskrywer en -vervaardiger van HIMH. In ’n intens kreatiewe proses kan die betrokkenes natuurlik verskil en selfs kopstamp – hoe werk dit vir julle, om so nou saam te werk en dan ook in ’n huweliksverhouding te wees? Is daar sekere moets en moenies verbonde aan so iets, of watter raad sou jy gee vir paartjies wat ’n soortgelyke roete en werkswyse wil inslaan?

Ek en René het mekaar gevind deur films en storie, so dit sal vir altyd ’n groot band tussen ons wees. As dit kom by terugvoer op mekaar se werk, kan dit ’n vurige situasie raak. Ons het besluit dat ons terugvoer skriftelik aan mekaar sal stuur (e-pos) en nie mondeling nie. So kry ons dan genoeg tyd om dit op jou eie te verwerk. Daar is niemand se terugvoer en opinie wat ek so blindelings vertrou soos my vrou René s’n nie, al maak dit my ongelooflik kwaad – dis moeilik om die waarheid te hoor. Ek en René maak ’n mean team en ek sal nie graag ’n projek wil aanpak sonder haar nie – ons hou mekaar eerlik.

Jy was vir lank betrokke by die AFDA-filmskool, as student en later as departementshoof (regie). In watter opsigte het jou jare in filmopleiding jou anders laat dink oor film, storievertel en regie? Is dit noodsaaklik vir jong filmmakers om hierdie soort opleiding te ondergaan, of wat is die voor- en nadele verbonde daaraan?

Nou moet ek my woorde mooi tel. Filmskool is daar om vir jou selfvertroue te gee en dit is ’n plek waar jy vriende maak wat die pad saam met jou gaan stap vir die res van jou loopbaan. Ek het Hollywood in my huis saam met 70% oud-Afdastudente gemaak. Maar as jy uit filmskool uit stap, begin jy weer heel onder. Die kans dat jy uit filmskool stap en ’n director gaan word, is skraal tot niks. Jy sal jou pad ook maar moet opwerk soos enige persoon wat nie studeer het nie.

Die Afrikaanse en breër Suid-Afrikaanse film- en TV-toneel is in ’n interessante plek op die oomblik. Hoe beskou jy die toestand van die plaaslike bedryf in terme van die gehalte wat voortgebring word, en hoe sou jy dit graag wou sien verander of ontwikkel?

Ek voel daar word te veel films te vinnig op die loket uitgestoot. Die films word nie genoeg tyd gegee om ’n unieke persoonlikheid te vorm nie. Die probleem lê in die ontwikkelingsfase – dis tog die fondasie van ’n film, en dis waar die minste tyd en geld spandeer word – geld word spandeer in die produksiefase. Ek glo jy moet al klaar jou film in jou kop geskiet hê voor jy op stel loop. Die antwoord is minder films met meer kwaliteit en identiteit.

Wat hou die nabye en verre toekoms in vir Corné van Rooyen, in so verre jy dit kan beheer?

Ek is tans besig om die bekroonde boek Vaselinetjie van Anoeschka von Meck in ’n vollengtefilm te verwerk en ek en René beoog om dit volgende jaar in Julie te skiet. Weer eens: rolverdeling in die film gaan alles wees en ons gaan binnekort ’n groot "casting"-veldtog begin loods regoor die land. Ek is ook tans besig met ’n film – Ek's in ’n band, geskryf deur Stiaan Smith en vervaardig deur Bouwer Bosch Films – oor ’n paar mechanics wat ’n band begin vir liefde. Nogal cool, want ek speel al my hele lewe in bands wat net bekend is in my ma se sitkamer.

Wat is die sin van die lewe?

Ek het altyd gedink dat die dag dat ek my droom (om my eerste vollengtefilm te maak) bewaarheid, gaan ek agterkom waaroor die lewe werklik gaan. Maar ek het agtergekom ’n droom beteken niks sonder die mense om jou nie – dis die mense om jou wat jou help om jou droom te bewaarheid. Droom groot, maar moet nooit vergeet van die mense om jou nie – dis hulle wat die belangrikste is.

Corneposterweb

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top