Cor Nortjé (1938–2020)

  • 0

Gebore en getoë

Cornelius Johannes Nortjé is op 2 Junie 1938 in Oudtshoorn in die Klein Karoo gebore. Hy het daar skoolgegaan en het in 1955 aan die Hoër Seunskool aldaar gematrikuleer. Hierdie skool is later omskep in ’n museum.

Verdere studie en werk

Ná matriek is Cor na die Universiteit van Stellenbosch waar hy in 1958 sy BA-graad voltooi het met Latyn en Engels as sy hoofvakke. Hy het in 1959 sy BA-honneursgraad in Engels verwerf.

Soos Cor dit self in ’n biografiese skets aan Naln gestel het, was hy sedert 1960 “gasarbeider in Transvaal in diens van die destydse SAUK”. Hy het sy beginjare geslyt as ’n omroeper/regisseur en is in 1968 aangestel as Organiseerder: Afrikaanse radiodrama en sedert 1972 was hy organiseerder van Afrikaanse televisiedramas. Hy was ook twee tot drie jaar in Durban gestasioneer waar hy deeltyds drama studeer het onder professor Elizabeth Sneddon van die Universiteit van Natal.

Op veertigjarige ouderdom het die regsgogga Cor gebyt en het hy hom ingeskryf as student vir die LLB-kursus aan Unisa. Hy het in 1983 na vyf jaar sy graad verwerf en by die SAUK bedank. Hy het die verpligte tydperk as ingeskrewe klerk voltooi en is in 1985 as prokureur toegelaat.

Cor Nortjé was voordat hy skrywer geword het, beter bekend as die skrywer van radiodramas en vervolgverhale, asook, met die koms van televisie na Suid-Afrika in die 1970’s, van televisiedraaiboeke soos Nie vanweë die duisternis en Gideon Scheepers. Hy het ook Chris Sassner se Swart Kat-reeks vir televisie verwerk.

Hy het ongeveer in 1968 begin skryf nadat Tafelberg-Uitgewers van sy stories oor die radio gehoor het. Hierdie stories is in boekvorm uitgegee wat aan hom nog meer bekendheid verwerf het.

Hy het self sy radiovervolgverhaal, ’n Liefdesgeskiedenis, wat in 1979 oor die destydse Afrikaanse program van Radio Suid-Afrika uitgesaai is, as sy beste werk beskou. Douwlina Grobler het met hom gesels oor die nuwe storie (Vaderland, 14 Mei 1979). Hy wou egter nie te veel verklap nie, maar kortliks gesê dat dit die storie is van ’n skrywer wat vir twaalf jaar oorsee was, maar niks geskryf het in daardie tyd nie. Hy en sy vrou is geskei en hy en sy kinders is van mekaar vervreem. Toe hy na twaalf jaar terugkeer, is daar aangeneem dat alle bande verbreek is. Maar talle verrassings het gevolg.

Hy het aan Grobler vertel: “Ek het die idee vir die verhaal al in 1971 gekry, maar dit nou eers geskryf. Ek het ook die afgelope tyd nie so baie geskryf nie, omdat ek besig was met my regstudies.”

In 1968 is Sending vir ’n voortvlugtige gepubliseer nadat dit vroeër oor die Afrikaanse radiodiens as aandvervolgverhaal gehoor kon word. In Die Burger van 6 September 1968 het MA (die volle name van die resensent is nie in die resensie vermeld nie) geskryf dat dit beslis die moeite werk was om die boek te kon lees – nie alleen omdat dit so ’n aangename ontspanningsverhaal was nie, maar ook omdat die storie so goed vertel is.

MA het voortgegaan: “In die begin met die lees dink ’n mens nogal aan daardie woorde van Paulus, ‘nou sien ons in ’n spieël in ’n raaisel’, want vyand word vriend, verdagte word slagoffer. Dit is eers aan die einde, wanneer alles in plek val, dat ’n mens agterkom hoe netjies die verhaal eintlik in mekaar gesit is. Tot daar lees ’n mens in elk geval sonder onderbreking, want die storie is oorspronklik, en dit word goed vertel.”

“’n Mens sou kon noem dat die voorbereidings van die spioen te lank duur, die sending in die buiteland self te kort, maar dié beswaar verval as ’n mens sien hoe die skrywer uit die staanspoor die verskillende intriges naas mekaar laat ontwikkel.”

Sending vir ’n voortvlugtige is later as rolprent vrygestel onder die titel Die rebel en het vanaf Maart 1970 in Die Burger verskyn as ’n strokiesverhaal. Dit is gebaseer op Cor se verhaal met prente wat deur Johan van Niekerk geteken is. (Die Burger, 13 Maart 1970)

Die hoofkarakter in Sending is Frits Dercksen – ’n man met vele talente. Almal wat sy pad gekruis het, soos die Leër, die Polisie sowel as sy vyande, het dit later wel deeglik agtergekom.

TM (die volle name van die resensent is nie in die resensie vermeld nie) was die resensent van Cor Nortjé se volgende boek, Kamberg se baas (Hoofstad, 3 Maart 1971). Hy was nie baie entoesiasties oor Sending van ’n voortvlugtige in boekvorm nie, omdat hy van mening was dat dit nie die tipe boek is wat ’n mens twee keer sou wou lees nie, maar met Kamberg se baas (wat ook ’n radioverhaal was) vestig Nortjé hom as een van die Afrikaanse skrywers van deeglike en gesonde ontspanningsleesstof.

Kamberg se baas vertel die verhaal van Lodewyk Bouwer. Bouwer is ’n bosbouer, uit tradisie én in murg en been, wat nie ’n baie uitgaande persoon is nie en sy beeld as verstoteling en uitgeworpene uit die gemeenskap aanvaar het as sy lot – net solank mense hom toelaat om sy gang te gaan.

TM gaan voort: “Hierdie houding en bepaalde gebeure om en op die plaas is nie baie bevorderlik vir die verhouding tussen die vader en sy studentseun wat juis nie bosbouer wil wees nie en daarom in die landbou studeer sodat hy eendag op die vlakte sy eie lewe kan voer.”

“Veral twee aspekte staan in hierdie boek baie duidelik uit: die styl en algemene vaardigheid van die skrywer en die agtergrond waarteen die verhaal ingeklee is. Wat die eerste betref, is daar enkele dowwe kolle aan te dui soos die begin van hoofstuk 4, maar oor die algemeen werk die skrywer sprankelend met die materiaal tot sy beskikking. Die groot gevaar waaraan die ontspanningsverhaal wat nie kan steun op literêre grepe en uitdyende toepassing nie, blootgestel is, is ongetwyfeld dié van verskraling.”

Dit is vir TM gelukkig dat die skrywer nie uitgerekte aksietonele en vergesogte lapwerk gebruik om sy verhaal so ’n ietsie meer om die lyf te gee nie. “Sy uitbeelding en motivering van Lodewyk Bouwer en Tjaman en in ’n mindere mate Jorrie is puik en baie beter as dié van ouer en erkende ontspanningskrywers wat buitendien ná die boek nie meer so seker van hul aanhang kan wees nie.” (…)

“Die feit bly dat daar balans is, met hier en daar ’n moontlike te-min of te-veel, maar oor die algemeen heg gebind, goed uitgewerk en breed en diep ontvou. Veral die ontplooiing en ontvouing van die verhaal is iets besonders. Byna literêr word die agtergrond van tradisievastheid teenoor moderne vooruitgang afgebeeld. Die jong geslag wat wil vooruit, anders wees en doen – kort hare dra om nie met die boslanders, die eie kring, geassosieer te word nie. Hierteenoor die gestrenge en onverbiddelike eis van die ou weë so treffend weergegee met die skoffelende Lodewyk in die familiekerkhof. Sonder die konflikte en intriges van die verlede wat eers later onthul word, maar deurgaans hul skadu oor die gebeure gooi, kon hierdie verhaal in wisselwerking met die agtergrond maklik iets van die substansie van WA de Klerk se Uur van verlange kry.”

“Soos die werk is, herinner hy ’n mens aan Gulbranssen se En ewig sing die woude, veral sover dit die uitbeelding van die hoofkarakter en die agtergrond betref. Miskien het die skrywer voorbeelde gehad, moontlik selfs heelwat waaruit hy ’n tema geabstraheer en deur middel van situasie, agtergrond en karakters weer verkonkretiseer het. Miskien het hy net die verkonkretisering aan modelle getoets sodat die idee dalk op ’n werklikheid gegrond is. Dalk is alles fiksie – of miskien niks nie.”

“Hoe dit ookal sy: Kamberg se baas is ’n stewige verhaal, soos ’n bospaadjie vol draaie en verrassings wat ware leesgenot verskaf.”

Anna van Zyl het Kamberg se baas vir Volksblad van 31 Maart 1970 bespreek en sy som die verhaal as volg op: “Kamberg se baas is die verhaal van die verontregte Lodewyk Bouwer en hoe alles teen hom saamgespan het – tot sy eie seun. Geregtigheid sou kom, maar te laat vir hom om iets terug te kry.

“Met die verhaal stel Cor Nortjé die gemeenheid van mense aan die lig. Ons besef watter verskrikking skinderstories kan word en hoe magteloos die individu teenoor so ’n tot wrokkigheid rypgedrukte massa is.”

“Die verhaal word onderhoudend vertel en hier is genoeg intrige en geheime om dit spannend te maak. Tog gebeur hier amper te veel dinge op ’n hoop om heeltemal te oortuig. Dis al of ’n mens Nortjé se beplanning te duidelik sien.” (…)

“Eintlik is dit ’n hartroerende verhaal en die skrywer kry reg om by wyse van suggestie jou simpatie by Lodewyk te plaas, al is hy op die uiterlike getakseer, maar ’n moeilike ou kêrel. Die boek lees lekker en die spanning word volgehou tot die by die einde wat werklik ontroer.”

In 1971 is die eerste van Cor Nortjé se Tekkies-boeke by Tafelberg-Uitgewers gepubliseer onder die titel Ontmoet Tekkies! en het dit dadelik aanklank by die jeug gevind. Ook die resensente was oorwegend positief oor die reeks:

  • Ontmoet Tekkies! 1971): “Cor Nortjé het met Tekkies ’n nuwe jeugheld geskep wat saam met Trompie en die Uile die verbeelding van talle skoolkinders gaan aangryp. Sommer met die intrapslag is daar ’n situasie wat boei en wat sorg vir ’n stygende spanningslyn wat met die verloop van die verhaal nooit verslap nie. Tekkies is ’n uitblinker op skool en op die rugbyveld, maar hy word nooit die James Bond-tipe wat geen enkele misstap begaan nie. In die nastrewe van sy ideaal om in die voetspore van sy speurdervader te volg, kom hy met ’n bende dwelmmiddelsmokkelaars in aanraking en die hele opset is só geloofwaardig dat dit ongetwyfeld, veral deur die stadskind, aanvaar kan wo”

“Deurgaans is die styl goed met die stof geïntegreer: die dialoog is oortuigend dié van skoolseuns en die karakterbeelding, veral in die kind/grootmens-verhouding, is besonder knap gehanteer.” (Ninon Roets, Rapport, 15 Augustus 1971)

  • Tekkies trap klei (1972): “Net soos met sy eerste boek oor die wedervaringe van Boschfontein se eerstespan-losskakel Herman du Toit (bynaam Tekkies), het Cor Nortjé weer hier ’n lekker, lewendige seunsverhaal geskryf wat ongetwyfeld byval sal vind – ook by diegene wat nie meer so jonk is nie. Tekkies raak hierdie keer deurmekaar met ’n bende smokkelaars wat die ondermyning van die Staat in gedagte het. (…) Met al die elemente van spanning, geheimsinnigheid en Tekkies se ‘spoorvat’, is hierdie boeke beslis ’n aanwins vir hoërskoolseuns se boekrak.” (JH, Vaderland, 15 April 1972)
  • Tekkies in die Kalahari (1978): “Tekkies gaan saam met ’n safarispan Kalahari toe en kom agter dat so ’n safari nie kinderspeletjies is nie. (…) Die safarispan bestaan uit ’n interessante groep mense wat goed met mekaar oor die weg kom, behalwe, natuurlik, die geheimsinnige Duitsers. (…) Tekkies kom gou agter dat hulle nie baie van hom hou nie en dat daar iemand saam met hulle in hul vragmotor reis. Hy vertel dit aan die wildbewaarder en dit is net hier waar die poppe begin ” (…)

Tekkies in die Kalahari is ’n slim beplande boek. Daar is net genoeg slim en dom, saghartige en wreedaardige boewe, vriendelike en behulpsame volwassenes, aksie en spanning in die boek om dit ’n verhaal duisend te maak. (…) Een van die belangrikste aspekte van die boek is die humor wat deurentyd voorkom. Maar hierdie humor word afgewissel met die erns sodat daar ’n besondere fyn balans gehandhaaf word. Die wyse waarop die humor en erns afgewissel word, is so nou verweef met die verhaalgegewe dat dit spontaan daaruit voortvloei.” (Hilda Grobler, Hoofstad, 16 November 1978)

“As daar nog twyfel was dat Cor Nortjé ’n nuwe jeugheld geskep het in die persoon van Tekkies, kan daar geen sweem van wees na Tekkies in die Kalahari nie. (…) Die verhaal is veel beter as wat die leser aanvanklik verwag. Dit volg die patroon van die deursnee-jeugboek: avontuur en heldedade, maar bied die jong leser nogtans so ietsie meer en dien as inleiding tot dieper lees. Daar is opvallende voorbeelde van kontras en humor, en die boek het ’n sterk spanningslyn. (…) Maar die ligte oomblikke bly nie uit nie. Tekkies in die Kalahari is in ’n gemaklike skryfstyl deurgevoer en die tonele wat beskryf word, veral die Kalahari se onherbergsaamheid, voel baie werklik. ’n Wye leserskring, 12–16, sal dit kan lees en geniet.” (CI Steenkamp, Oggendblad, 27 Julie 1978)

  • Tekkies en die sluipmoord (1979): “Die hele boek sentreer weer eens om ’n sentrale gegewe, maar dié keer is dit ’n uiters spannende en baie moontlike verhaal,” skryf Hilda Grobler (Hoofstad, 30 Augustus 1979). Tekkies word heeltemal per ongeluk betrek by ’n sluipmoordaanval en as gevolg daarvan word hy ontvoer. Grobler gaan voort: “Die verhaal is besonder fyn en versigtig beplan sodat die een spannende gebeurtenis na die ander volg. Die verhaal loop op drie parallelle vlakke: Tekkies se verhaal vorm die hoofdeel terwyl die polisie se verhaal en die gegewens van die soektog telkens nuwe spanning skep omdat ’n mens daardeur besef dat daar maar min hoop is vir Tekkies. Die derde vlak is die een waarop die sluipmoordenaar en sy trawante planne beraam om die moordenaar die land uit te laat vlug om uit die polisie se hande te bly. Elkeen van die vlakke dra by tot uiteindelike hoogtepunt. Met hierdie boek het Nortjé een van die groot wenners in die jeuglektuur die lig laat sien.”

Tafelberg-Uitgewers publiseer in 1971 Brood vir my broer wat ook aanvanklik as radiovervolgverhaal uitgesaai is en só bekendheid verwerf het. Die verhaal het as agtergrond die plaas van die Broodryks wat al vir jare in onmin met hulle bure, die Fouché’s, woon.

In die Broodryk-familie is Hendrik die hoof van die huis en hy is ook die eienaar van die koöperasie op die dorp. Hy het twee seuns, Frans en Sagrys, wat hom met die werk help. Sy oogappel, Bennie, is ook terug van universiteit af om hand by te sit.

Op El Rancho, ’n plaas vir die teel van renperde, woon Stan Fouché saam met sy windmakerige seun, Stanley, en sy broer, Jos. Saam met hulle woon ook hulle huishoudster, Ellie Sieberhagen.

Benewens die twee boerefamilies is daar ook nog Thys Verdun en sy mooi dogter, Rina, en Stefaans Roelofse wat op ’n aangrensende plaas boer en dit alles dra by tot ’n storie vol intriges.

Ninon Roets (Rapport, 12 Maart 1972) is van mening dat Cor Nortjé ’n gawe het om ’n verhaal spontaan en onderhoudend te vertel en dat die ontknoping van die ingewikkelde intrige van die verhaal boeiend is: “Hoewel die roman op ’n oorbekende lees geskoei is, slaag die skrywer nogtans daarin om dit op ’n verfrissende en uiters leesbare wyse aan te bied.”

En, hoewel Anna van Zyl (Volksblad, 3 Desember 1971) aanvanklik geskryf het dat sy die radioverhaal meer as die gepubliseerde weergawe geniet het, het sy haar resensie positief afgesluit: “Dit is ’n interessante, sielkundig-verwikkelde verhaal wat ’n mens aangryp en ontroer. En die verhaal is lewenswaar. Ons kry ’n duidelike beeld van hoe mense omvorm kan word tot iets boos deur omstandighede.”

Brood vir my broer is in 1982 verwerk tot ’n televisiedrama wat op die destydse TV1 uitgesaai is as ’n reeks met 10 episodes. Koos Roets was die vervaardiger en van die akteurs was Deon van Zyl, Patrick Mynhardt, Emgee Pretorius, André Verster, André Jacobs, Ben Kruger, Jacques Loots, Elizabeth Archer, Danie Joubert en Marié du Toit.

Een van Cor Nortjé se tydverdrywe was skaak en hy was ook ’n goeie skaakspeler – “die enigste ding wat ek goed kan doen”, het hy aan die joernalis van The Daily News (13 September 1975) gesê. In 1973 publiseer Perskor ’n gesamentlike werk van Nortjé en Martin Serfontein, ’n skaakrubriekskrywer, Skaak! Dit is vir beginners en meer gevorderde spelers bedoel en al die spelle tussen die destydse kampioene Bobby Fischer en Boris Spasski tydens die wêreldkampioenskap in Ysland in 1972 is ingesluit.

In 1979 het Perskor ’n tweede uitgawe van Skaak! gepubliseer. In Tegniek (Junie 1979) verduidelik die resensent dat dit eerstens ’n boek vir beginners is. Daar word heel voor begin en “op onderhoudende en verstaanbare wyse word die geheime van skaak een vir een toegelig en ontrafel, onder meer met byne tweehonderd duidelike sketse.”

“Die oningewyde wat die boek lees, sal self kan ontwikkel tot ’n bedrewe speler. Hy sal nie net die skuiwe kan lees en noteer nie, maar ook die onderliggende beginsels van die opening-, middel- en eindspel verstaan. Die ervare skaakspeler sal ook die boek met vrug kan lees.”

Vir HA (Transvaler, 28 Julie 1979, volle name van resensent nie vermeld nie) is Skaak! steeds (tot p[ daardie stadium) die handigste Afrikaanse stap-vir-stapgids vir skaakspelers en ook vir diegene wat die spel nog wil aanleer. “Die bord, stukke en hulle bewegings word volledig behandel en daar word ook ’n oorsig gegee van die gewildste en belangrikste openings. Van besondere nut is die hoofstuk oor notasie wat spelers in staat stel om skaakrubrieke in koerante te kan volg en ook eie skuiwe te noteer en die volledige internasionale skaakreëls wat as ’n byvoegsel agterin die boekie verskyn.”

Op Vrydag 27 Februarie 2020 is Cor Nortjé ná ’n kort siekte oorlede. Hy het laat in Januarie op sy Facebook-blad geskryf dat hy vir ’n operasie vir ’n obstruksie van sy dunderm geopereer moes word.

Op Facebook skryf die joernalis en rubriekskrywer Albé Grobbelaar as volg oor Cor Nortjé: “Cor was een van dié groot name in die uitsaaiwêreld, beide as radioman en toe ook ’n baanbreker in die nuwe glanswêreld van televisie in die 1970's. Cor was ook skrywer, akteur, skaakkenner, en nog soveel meer. Maar op sy oudag was Cor veral geliefd as ’n Facebook-fenomeen, ’n ware raconteur. Dit was altyd ’n vreugde om sy kleurryke, gevatte en kundige plasings te lees.”

“Op 15 Januarie vanjaar plaas Cor die volgende stukkie: ‘As jy oud en der dagen sat is, leer jy aanvaar dat jy in ’n tou staan om die enigste sekerheid in die lewe tegemoet te gaan. Agter jou maal ’n menigte rond en een-een sluit hulle aan by die tou. Party druk voor jou in, maar jy weet jou beurt is naby, jy kan die voorpunt al sien.”

‘Een van die vele mentors in my lewe, wyle Pieter du Bruyn, het my vertel as sy pa uit die Bybel lees "Ik ben maar een schrede van de dood," het hy altyd gedink ’n mens gee so ’n skreeutjie en dan is jy dood. Gister, na vyf dae van uitmergelende pyn en die gevoel van vergiftig wees deur pille, het ek regtig gevoel ek is gereed vir my skreeutjie.”

‘Vanoggend voor dagbreek sing die Engelse tiptol reg by my venster sodat ek elke woord duidelik kan hoor: "Yes, sirree, yes sirree, a quick fix is a quickie in a teepee." Dit wat ’n klein voëltjie soos ’n tiptol ’n quickie noem, moet so naby aan niks wees as wat jy kan kom. Toe dink ek: as hy so vrolik kan sing oor so min, dan moet ek seker weer dink. ’n Ou oom van wie ek baie gehou het, se laaste woorde, na langdurige siekte, aan sy vrou, nou ook al heen, was: "Ek dink ek sal nou maar gaan."

‘Ek maak die venster oop en skree vir die tiptol: "It is all in the mind." En hy antwoord: "I agree, I agree." Ek dink ek sal nou maar nog ’n bietjie vasbyt.’

“En toe, op 27 Januarie 2020 hierdie boodskap:

‘Liewe Facebook-vriend. Die laaste episode van my sensitiewe/spastiese kolon het toe nooit opgeklaar nie. Ek word môre vir ’n obstruksie van my dunderm geopereer. Ek het nie verwag dit sou op ’n operasie uitloop nie en wou jou eers agterna daaroor inlig. Maar dit lyk my beter om jou nou daarvan te sê sodat jy kan weet hoekom jy die afgelope week niks van my gehoor het nie en waarskynlik nog ’n week of wat nie van my sal hoor nie. Beste groete."

“Ons groet jou, Cor Nortjé. Dit was ’n voorreg om jou lewenslus, humor en kreatiwiteit op soveel vlakke te kon ervaar en geniet."

Publikasies

Publikasie

Sending vir ’n voortvlugtige

Publikasiedatum

1968

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Spanningsverhale

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Kamberg se baas

Publikasiedatum

  • 1969
  • 1970
  • 1973 (Grootdruk)

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Ontmoet Tekkies!

Publikasiedatum

  • 1971
  • 1973
  • 1974

ISBN

0624004627 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Tekkies trap klei

Publikasiedatum

1971

ISBN

(hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Brood vir my broer

Publikasiedatum

1971

ISBN

0624001172 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Roman

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Skaak! Saam met Martin Serfontein

Publikasiedatum

  • 1973
  • 1979

ISBN

0628015232 (sb)

Uitgewers

Johannesburg: Perskor

Literêre vorm

Skaakhandleiding

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Tekkies in die Kalahari

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624010945 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Tekkies en die sluipmoord

Publikasiedatum

1979

ISBN

0624012352 (hb)

Uitgewers

Kaapstad: Tafelberg

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Publikasie

Sokker in sy bloed

Publikasiedatum

1983

ISBN

0908355645 (hb)

Uitgewers

Pretoria: Daan Retief

Literêre vorm

Jeugfiksie

Pryse toegeken

Geen

Vertalings

Geen

Resensies en besprekings beskikbaar op die internet

Geen

 

Artikels oor en deur Cor Nortje beskikbaar op die internet:

Cor Nortjé se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is oorspronklik op 2021-08-31 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.

Bron:

  • Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

Die opsteller vra om verskoning dat van die skakels nie tans kan oopmaak nie, maar Media24 se koerantargief is op die oomblik nie toeganklik nie. 

 

• Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top