Morkel van Tonder 1923–2013

  • 1

Morkel van Tonder is op 26 Maart oorlede. Hy was 89 jaar oud.

Ek het Morkel die eerste keer in 1968 ontmoet. Ons het onmiddellik hegte vriende geword, sommer net oor ons albei uit die Klein Karoo gekom het, al sou ek eers tien jaar later die eerste keer ’n voet in sy tuisdorp, Ladismith, sit. Vir hom was dit belangrik. Want hy het geen aanstellerigheid oor herkoms gehad nie en ook nooit in sy lewe akkolades gesoek nie. Hy was ’n nederige man.

Dit tref my nou eers dat hy 15 jaar ouer as ek was, want hy het die gawe van die ewige jeug gehad en was altyd energiek en vol geesdrif besig met iets. Hy het sy kantoorwerk gedoen, omroepwerk gedoen, ’n plaas van die grond af opgebou en etenstye brug gespeel. En daarby nog tyd gehad vir almal.

Ek probeer so sinies ek kan om aan iets sleg te dink wat ’n mens oor Morkel kan sê, maar daar is regtig niks nie. Ek onthou net vrolike dinge van hom.

As hy by ons kom, het my vrou altyd agterna gesê sy het nog nooit iemand so hoor Afrikaans praat nie. Deur die keuse van een woord kon hy ’n persoon, ’n plek, ’n tydvak, ’n gesindheid oproep vir wie ore het om te hoor.

Na ’n lang afwesigheid, waartydens hy op sy plaas was, kom ek eendag in ’n hardewarewinkel. Nie een van die agt of tien mans bedien my nie. Hulle staan in ’n bondel en luister na ’n man wat vir hulle vertel wat ’n ordentlike hamer is. In Afrikaans. Morkel wat vir sy seun, Lars, ’n hamer kom koop het.

Dat daar nooit Engelse letsels in sy taal was nie, is juis merkwaardiger aangesien hy ’n fyn kenner van Engels was en dikwels vir my juweeltjies aangehaal het uit wat hy gelees het.

Morkel was nie net skerpsinnig nie, hy was verknog aan spitsvondigheid. Ek hoor nog sy uitbundige, hoë lag van vreugde oor ’n spitsvondigheid. En net so hartlik kon hy lag vir die stommiteite om hom, wat hy kon wegvee met ’n afwerende handgebaar en ’n “Ag nee, wat!”.

Sy groot vreugde was om te ontdek dat iemand anders die verwysingsraamwerk het om die goed tussen aanhalingstekens wat hy kwytraak, te snap. Want hy was ’n belese man. Die boekerubrieke en boekeveilings op die radio vandag is almal goed wat hy begin het.

By Morkel het jy altyd gelag. Sy lewensvreugde was aansteeklik. Tog was hy ’n ernstige man, nooit ligsinnig nie, maar te mensliewend om ander met sy erns of sy probleme op te saal. Gelowig was hy ook, maar nie ’n dweper nie. Net vloekwoorde kon hy nie verdra nie. As jy voor hom ’n lelike adjektief gebruik, sou hy elke keer vra: Was dit nie maar ’n gewone dit of dat nie? En jy waak teen die woord ten einde die voorspelbare reaksie - en die vonkel in die oog - te vermy. Die naaste aan vloek wat hy ooit gekom het, was as hy brug gespeel het en aanhoudend swak hande gekry het. “Bootlied!” hoor ek hom misnoegd uitroep. (Bootlied - barcarolle – bugger all!)

Nee, moenie insidente, eienskappe lys nie. Dit maak hom klein. En hy was groot. Hy was ’n man uit een stuk. ’n Man van formaat, met fyn smaak, maar onpretensieuse behoeftes. ’n Wêreldreisiger, tuis in die luisterrykste lokale, maar steeds ’n kind van die Klein Karoo.

Moenie na sy wonderlike uitsaailoopbaan vra nie. Die honderde wat saam met hom en onder hom gewerk het, sal jou vanself daarvan vertel.

Morkel was Morkel. Altyd so bly om te leef. Ons het almal gedink hy is maar altyd daar. En nou ís hy nie meer nie. Daar kan nooit weer ’n Morkel wees nie. Ons sal hom mis. Saam met sy gesin uit wie se lewe so ’n groot teenwoordigheid verdwyn het.

  • 1

Kommentaar

  • Dankie Cor,

    Klink of dit 'n voorreg moes geweet het om Morkel persoonlik te geken het. Jammer oor jou vriend.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top