Foto: verskaf
|
“Daar is nie ’n wenresep om kinderverhale te skryf nie, net ’n liefde daarvoor en deursettingsvermoë.” (Transvaler, 26 Januarie 1989) “Die storie kom sit hier in jou agterkop. Dit maal en maal. ’n Mens skeur maar die papier op tot jy koers kry, anders was jy maar skottelgoed! En as die storie eers loop, is dit soos vanmelewe se ou Fords – wanneer jy hom eers aan die gang kry, dan loop hy.” (Transvaler, 26 Januarie 1989) “’n Geheim is om nie te probeer na-aap nie en nooit gedwonge te skryf nie. ’n Mens moet darem ook ’n basiese kennis hê van die plek en omgewing waarin die gebeure hom afspeel. Kinders is baie oplettend en sal gou agterkom dat ’n kremetart nie in die Kaap groei nie. Maar die grootste geheim van alles is om nie op te hou skryf nie!” (Transvaler, 26 Januarie 1989) Wil kinders in die dae van rekenaars en tegnologie nog oor vrugtestelery en spoke lees? wou Erika Olivier weet. “Ek dink kinders lees enige ding voor die voet. Veral stories oor die plaas en koshuislewe bly vir stadsjapies iets nuuts en andersom. Kattekwaad – al vang iemand anders dit aan – bly ook groot pret. Veral kinders in die laerskool identifiseer daarmee.” (Transvaler, 26 Januarie 1989) In 1982: “Die jeug het nie basies verander oor die jare nie. Kinders het ’n glans in hulle wat basies onveranderd bly. Hulle het nog steeds dieselfde sin vir geluk en vrees. Die opstandigheid wat miskien meer geword het, is te wyte aan die veranderde tye.” (Hoofstad, 22 November 1982) “My werksywer is dikwels soos ’n broeishen op ’n volstruiseier. Sy weet waarop sy sit, en wat daar behoort uit te kom, maar verniet of die kuiken wil pik!” (Hoofstad, 22 November 1982) |
Gebore en getoë
Justus Cornelias (Cor) Dirks is op 18 Februarie 1911 op ’n plaas naby Volksrust in die destydse Suidoos-Transvaal gebore. Justus was sy pa se naam en Cornelias kom van sy ma se naam, Cornelia (met die -s vir die manlikheid). Sy noemnaam was Corrie totdat hy in hulle klasleesboek gelees het van ’n meisie met die naam Corrie. Toe het hy Cor geword en dit het ook sy latere skrywersnaam geword.
Cor Dirks het in ’n biografiese skets aan NALN (Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum) (16 Oktober 1993) vertel: “Kort ná my geboorte het die gesin na die dorp verhuis en my eerste herinneringe was van ’n ‘groot’ huis met ’n klipmuur om. In die een hoek voor het ’n sandhoop gelê waar hy baie gespeel het. Speelmaats was skaars en ek moes myself besig hou. My enigste suster was ses jaar ouer as ek en my enigste broer tien jaar ouer.
“Vroeg reeds het my ouers vir my ’n speelmaatjie laat kry. Sy naam was Likkewaan, ’n piekanien van die plaas af en het ons lekker gespeel!”
Cor het sy hele skoolloopbaan (van graad een tot matriek) op Volksrust deurloop. Hy het vertel: “In die laerskool het die voorreg my te beurt geval om die bekende mnr Theo Jandrell vir ’n aantal jare as onderwyser en skoolhoof te hê. Aan die hoërskool was ek ’n entoesiastiese rugby- en krieketspeler, het ook met welslae aan die bietjie atletiek wat daar was, deelgeneem en ook tennis gespeel. Ek het later sommer vir die dorp se rugbyspan gespeel. Klein dorpies het maar min entoesiaste. Op kultuurgebied was daar die skool se debatsvereniging waarvan ek in matriek die voorsitter was.
“Sover ek kan onthou, was my eerste poging tot skrywe in 1926 toe ek in standard agt (graad 10) was. My inspirasie was ’n deeglike pak slae vir kattekwaad (’n wekker wat in ’n kritieke stadium in die klas afgegaan het) wat ek in die klaskamer aangevang het. Ek het toe vir die debatsverening ’n ‘rympie’ geskryf oor die hele voorval van oorsprong tot gevolg en dit voorgedra.
“In 1936 het ek dieselfde tema gebruik in die heel eerste kortverhaal wat ek geskryf het. My skrywersnaam was ‘Cor Dirks’ en die titel van die verhaal ‘Die raad van onraad’. Dit het in 1937 in die Jongspan verskyn en ek het ’n volle £2 vir my poging gekry!
“In 1949 het my eerste Uile-boek verskyn en dieselfde stukkie was in die laaste hoofstukke daarvan: ‘’n Lonende pakslae’.” (Biografiese skets by NALN, gedateer 20 Mei 1980)
Cor het in 1928 aan die hoërskool te Volksrust gematrikuleer.
Verdere studie en werk
In 1929 is Cor na die Potchefstroomse Normaalkollege en die Universiteitskollege om hom as onderwyser te bekwaam. Van 1929 tot 1932 het hy sy BAO2 voltooi met geskiedenis, Engels en Afrikaans as hoofvakke. Hy het in Normaalkollege se Studente se Verteenwoordigende Raad gedien en vir die eerste rugbyspan gespeel, asook vir die gekombineerde Normaal/Universiteitspan.
Einde 1932 is hy saam met ’n vriend na Maquassi se wêreld in die destydse Wes-Transvaal om diamante te gaan delf. “Ons het genoeg uitgehaal dat ek met my deel die volgende jaar kon terugkeer na die universiteit om die eerste deel van my MA-graad in geskiedenis af te lê en om die universiteit op die rugbyveld te verteenwoordig.”
In 1934 moes Cor begin skoolhou. Dit was diep in die depressie en onderwysposte was baie skaars. Hy vertel: “Dit was die tyd toe ’n gekwalifiseerde onderwyser maklik vir ses tot nege maande leë hande moes sit of, soos ek gesien het, in die week aan die pad werk en naweke kleurbaadjie en witbroek aantrek.
“In Desember 1933 het ek op Volksrust elke dag die paadjie na die poskantoor geloop in die hoop om ’n aanstelling te kry. Dag na dag en toe uiteindelik op 31 Desember is hy daar, Duivelskloof se Intermediêre Skool. Ek moes af stasie toe om uit te vind waar die plek is en of daar ’n trein langs loop. Dit is toe in Noord-Transvaal met trein en al.
“Standerds I en II is aan my toevertrou en my eerste geskiedenisles na ’n volle jaar se geskiedenis in 1933 was: ‘Perseus en die Gorgon Medusa’.”
Met net ’n katel en paraffienblikkie as meublement in sy koshuiskamer het hy sy onderwysloopbaan van veertig jaar begin. Hy was uit die staanspoor baie gesteld op selfwerksaamheid en het die Daltonstelsel gebruik om die kleintjies te motiveer om hul volle potensiaal te ontwikkel. (Onderwysnuusflitse, Augustus 1991)
“Gedurende daardie jaar se wintervakansie en ook die volgende jaar s’n het ek navorsingswerk in die argief in die Uniegebou in Pretoria gedoen vir my MA-tesis. Onderwerp: Die juridiese stryd tussen Hoofregter JG Kotze en die Volksraad van die Zuid-Afrikaansche Republiek.”
In die laaste kwartaal in 1935 het hy ’n vaste aanstelling gekry aan die Central Primary School op Potchefstroom, waar hy tot aan die einde van 1936 gebly het. Gedurende daardie tyd was hy assistenthuisvader in Milton House van Potchefstroom Boys’ High School en dit was daar dat hy sy eerste kortverhaal, “Raad van onraad”, geskryf het.
Sy eerste hoërskoolondervinding het hy aan die Hoërskool Belfast opgedoen, waar hy geskiedenis en Afrikaans in die hoer klasse kon gee en rugby, krieket en die kadetorkes afgerig het.
Daar het hy die £2-tjek van Jongspan ontvang en dit het hom só geïnspireer dat hy dadelik aan die werk gespring het aan ’n kortverhaal vir volwassenes. Dit is met bemoedigende kritiek aan hom teruggestuur sodat hy nie tou opgegooi het nie. Cor het in 1937 sy MA-graad ontvang.
Begin 1938 is hy na die Hoër Volkskool op Potchefstroom, hoofsaaklik as geskiedenisonderwyser, maar ook vir Afrikaans. Hier was hy vir dertien jaar werksaam.
Op advies van een van sy inspekteurs het hy effe teensinnig aansoek gedoen vir die pos van visehoof aan die Voortrekker Hoërskool op Boksburg. Hy was daar werksaam vanaf Julie 1952 tot einde 1954.
In 1955 het hy hoof geword van die Hoërskool Linden, waar hy tot sy uittrede aan die einde van 1973 gebly het. As skoolhoof en onderwyser was hy nie net bekend vir sy vermoë om geskiedenis te laat lewe en sy leerlinge self te laat navorsing doen nie, maar ook vir die wyse waarop hy streng, dog regverdig dissipline kon handhaaf en gereeld humor en erns in die klaskamer afgewissel het. Die bynaam “Uil” het hy waarskynlik nie slegs vanweë sy boekereeks verdien nie, maar ook vanweë ’n inherente wysheid wat hom in staat gestel het om van sy loopban as onderwyser sowel ’n sukses as ’n groot vreugde te maak.
Cor en sy vrou Elsje Christina van Niekerk (Ella), ook ’n onderwyser, is in 1939 getroud en twee kinders is uit die huwelik gebore – ’n seun Justus en ’n dogter Elsje. Cor en Ella het ses kleinkinders gehad. Ná sy aftrede het Cor in Linden gebly. Cor en Ella het mekaar onder baie romantiese omstandighede op ’n studentetoer in die destydse Lourenço Marques (nou Maputo) in Mosambiek ontmoet. “Ek het op haar verlief geraak omdat sy net te mooi en pragtig was. Vandag (1994) is ons nog baie lief vir mekaar. Die romanse het gehou, daar was nog altyd baie romantiese liefde tussen ons – tot nou toe!” het hy vertel, waarop Ella geantwoord het: “Ja, hy is ’n dierbare man. Hy sê altyd hy onthou my verjaardag, maar vergeet my ouderdom.” (Rapport-tydskrif, 13 Februarie 1994)
In Augustus 1949 het Cor en Ella na die Afsaal-oord vir bejaardes in Linden getrek nadat hulle huis en tuin in Linden vir hulle net te groot geraak het. Hulle moes van heelwat meubels ontslae raak, maar het hulle goed ingerig in hul huis in die oord.
Hy het ook graag “getimmer” en het vir sy vrou ’n mooi eetkamerstel met ’n tafel, agt stoele en ’n buffet van Birmaanse kiaat gemaak, asook ’n mooi boekrak en ’n glaskas. “Verder sit ek maar hier en skryf my boeke – alles eers in hand voordat ek dit tik – dit is nou wanneer ek nie sommer net leeglê nie!” (Beeld, 4 Desember 1989)
Sedert sy aftrede in 1974 het hy hom besig gehou met vroetel in die tuin, baie stap, vakansie hou, lees en skrywe.
In Januarie 1976 met die begin van televisie in Suid-Afrika is ’n stuk van hom, Dubbele alibi, op die eerste aand van uitsendings gebeeldsend. Dit is gebaseer op ’n verhaal wat in 1947 in die eerste uitgawe van Die Ruiter verskyn het onder die titel “Om sewe-uur”. Dit was vir Cor ’n seldsame ondervinding. Hy het homself as ’n storieverteller beskou en nie as ’n groot skrywer nie.
Hy het aan Helene Rabie in Hoofstad van 2 Januarie 1976 vertel: “Na my aftrede as hoof van die Lindense Hoërskool twee jaar gelede, peusel ek weer aan my skryfwerk wat na 19 jaar al bietjie verroes het. Ek het boekwinkels deurgesnuffel om alles moontlik te leer van die nuwe televisiemedium, en ook oor die radio instudeer. Toe probeer ek maar so ’n skoot in die donker. En ek is vreeslik verras dat hulle juis vir Dubbele alibi vir die eerste aand gekies het. Dit is die hoogtepunt van my skrywersloopbaan.”
In Dubbele alibi is daar diefstal, afpersing, baie aksie en ’n mooi meisie. Van die spelers in die stuk was Nic de Jager, Sybil Coetzee en Paul Eilers.
In 1976 is daar ook ’n vervolgverhaal van Cor getiteld Die honde van Donkerkrans oor die Afrikaanse sender van die SAUK uitgesaai.
Soos genoem, was sy eerste kortverhaal “Die raad van onraad” en dit het in Jongspan van 16 Julie 1957 verskyn. Daarop het verhale in Die Huisgenoot, Die Naweek, Die Huisvrou en Die Ruiter verskyn, asook in Die Brandwag. Dit was hoofsaaklik speur- en spanningsverhale met so hier en daar ‘n bietjie humor en romanse ingeweef.
Cor se eerste gepubliseerde boeke waarmee hy sy amptelike skrywersloopbaan begin het, was sewe speurverhale. Hieroor het hy aan Beeld (4 Desember 1989) vertel: “Ag jong, hulle het maar almal sulke grillerige name gehad soos Moordenaar en Hoefslag van die dood. Dan was daar Arend van As – ek kan nie meer onthou wat hy gedoen het nie; ek dink hy het sy vrou vermoor. Maar hulle was maar almal sulke bloederige goed.”
Die agtergrond van baie van Cor se boeke is gegrond op besoeke wat die gesin gedurende vakansies aan plekke gebring het. “In 1966, toe Mosambiek nog Portugees was, het ons en ’n paar ander gesinne ’n maand lank 400 km noord van Maputo op ’n eiland in die Bazaruto-argipel gaan woon,” sê sy seun, Justus. Dié verblyf was die inspirasie vir Rooi oog, geel oog oor Russiese en Chinese spioene aan die Mosambiekse kus en Mosambiek het weer in Die Uile in Mosambiek figureer.
Uit kuiers in Botswana en Zimbabwe is boeke soos Die Uile langs die Limpopo en Die Uile in die Bosveld gebore. “Die hipotese oor ’n verlore stad in die Kalahari het my pa baie jare lank geboei. Hy het die dagboek gehad van ’n Britse ekspedisie wat die stad in 1937 gaan soek het.”
Hoewel die Dirkse nooit die stad gevind het nie, het hy, 30 jaar voor Wilbur Smith se The Sun God, al in Wadda van die woestyn daaroor geskryf. In Wadda van die woestyn oorleef ’n tweeling die stranding van ’n skip en word deur Boesmans grootgemaak. Die seuntjie, Wadda, word ’n soort Tarzan-figuur wat avonture in verskillende dele van Suider-Afrika beleef.
Dit is as skrywer van jeugverhale dat Cor Dirks sy naam in die Afrikaanse letterkunde gevestig het. Hy was self lank in ’n koshuis en was onder meer koshuisvader van die Volkskool in Potchefstroom. “Dit het gesorg dat ek die jong knape se streke baie goed leer ken het, en toe ek eers begin boeke skryf het, het ek sommer nog ’n paar streke uit my eie verbeelding bygevoeg.”
En só het die gesoute onderwysman ’n gewilde jeugverhaalskrywer geword.
Die Uile van Kranskop, wat in 1949 verskyn het, was die eerste in ’n reeks van dertien boeke wat die wel en wee van ’n bende van standerd ses tot in die militêre akademie gevolg het. Dié eerste jeugverhale het onmiddellik gewild geraak en Dirks se bekendheid gevestig. In 1990 is Die Uile vlieg weer gepubliseer en hierin kom die kinders van die Uile weer bymekaar en gaan voort waar hul pa’s opgehou het.
Van 1992 tot 1996 is die Uile-reeks in vier omnibusse deur Perskor uitgegee. Oor die eerste omnibus het JC Kannemeyer op 10 September 1992 in Die Transvaler geskryf dat dit ’n goeie gedagte is om die “klein klassieke” van die Afrikaanse jeuglektuur weer in nuwe uitgawes beskikbaar te stel. En dat die omnibusse van Die Uile ’n mens die geleentheid bied om vas te stel waarin die verdienstes en gebreke van dié reeks lê.
Hy het voortgegaan: “Wat ’n mens dadelik opval, is die vlot wyse waarop Cor Dirks sy verhaal kan vertel. As daar verouderde elemente in die eerste uitgawes was, is dit grotendeels weggewerk, sodat dit steeds tot die hedendaagse jeug spreek.
“Essensieel vir dié drietal (verhale van Omnibus 1) is die grotendeels goeie inbors van die Afrikaanse jeug wat in die tyd van die ontstaan van die boeke nog sonder drank, dwelmmiddels, seks en ander negatiewe elemente geleef het. Of dit ’n ideaalbeeld of romantisering is wat Dirks ons gee, is alleen deur ’n sosiologies-historiese ekskursie te agterhaal. Dit is egter opvallend dat die ‘slegte’ karakters meestal buitestaanders of boewe van elders is wat die verhaalwêreld binnedring.
“Miskien is die resep van die Uile teenoor booswigte van buite, veral in die tweede boek, té stereotiep. Dit neem nogtans nie die feit weg dat die gebeure meevoerend vertel word nie.
“In die eerste deel van dié reeks beweeg die verhaal nog episodies van avontuur tot avontuur, telkens met die aksent op situasies wat ’n kosskoolkind in die verlede ondervind het. Dit laat die verhaal in die rigting van ’n reeks kortverhale beweeg.
“Ook die tweede boek begin episodies, maar dan kom daar ’n sekere momentum as die verhaal toenemend op ’n enkele spannende ervaring konsentreer, deur naas die Uile ’n geliefde onderwyser as vertroueling en deelgenoot te betrek.
“Ook die derde boek spring aan die begin van toneel tot toneel, al ontwikkel ook hier ’n sekere vaart as een van die seuns ’n skattejag begin.
“Met hul boeiende verhaalgang is die Uile-boeke dus nog steeds die tipe boustof wat vandag se kind sal trek. Die Uile-omnibus en sy opvolgers behoort dus ’n groot en gretige leserskring te geniet. Cor Dirks se verhale bevat die nodige spanning en vaart om dit ook vir die hedendaagse jeug ’n genotvolle leeservaring te maak.”
Gretel Wÿbenga se kommentaar oor Die Uile-omnibus 1 was minder vleiend: “In 'n tyd toe Afrikaanse kinderboeke min was, lank voor die televisie alle leestyd opgeslurp het, het kinders gefloreer op Die Uile-boeke. Hierdie boeke was inderdaad kop en skouers beter as die ander reekse van dié tyd (die jare vyftig, so om en by), soos die Keurboslaan- en Maasdorp-boeke of die Saartjie- en Trompie-reekse.
“Ag, die bekoring darem van daardie geheimsinnige ge-‘hoe-hoe’van die vyf bendelede: die sterk en goeie leier, Philip; ronde Vaatjie, petieterige en bebrilde Jorsie (die’'nerd’ in vandag se terme); hakkelende Hennie, en Berrie.
“As u van pure herkenning ’n sug van lekkerte slaak, moet ek u waarsku: by die herlees van hierdie eens geliefde boeke slaan 'n mens jou hande saam oor presies hoe ‘nuut’ Suid-Afrika binne enkele dekades geword het. Die Uile lees soos 'n idille waarvan u en ek deel was sonder dat ons dit eers geweet het: ons dog die wêreld lyk maar so. In hierdie verbygegane wêreld was daar nie plek vir die woord ‘onsekerheid’ nie. Sekuriteit en veiligheid was ’n vanselfsprekende gegewe; van ander rasse is daar weinig sprake en waar hulle wel fungeer in die eerste boek, word die benaming vir vandag netjies aangepas tot ‘plaaswerker’, want die einste hy was toe ook ’n opperste skelm. (…)
“Daar bestaan groot hiërargiese verskille tussen die volwassenes en die kinders, en min probleme wat nie met die lat reggesien kan word nie. Terselfdertyd, en meestal vir die onthalwe van ’n volwasse leser (perspektiefbreuk, dus), verkneuter die grootmense hul agteraf oor die kinders se manewales (bl 35 onder meer), en meneer Scholtz, die Uile se geliefde wiskunde-onderwyser, raak amper op seunsagtige wyse betrokke by een van die seuns se avonture (Die Uile en die rampokkers).
“As ’n mens na die simptoomlose pubers in hierdie publikasie kyk, hoe ‘skoon’ hulle stout is, hoe ongekompliseerd hulle is, lyk dit inderdaad of hierdie fase ’n verskynsel of uitvinding van ’n latere dekade kan wees. Selfs vir vandag is die boeke onopgesmuk geskryf en daarom baie leesbaar, maar die gemiddelde leesouderdom sal ongetwyfeld veel laer wees as die standerd sewe, agt en nege van die Uile in die drie boeke onderskeidelik. Ons kinders is nou eenmaal nie meer so onskuldig en naïef soos wat ons en ons vyf vriende was nie. Ek stel my voor in die nuwer Suid-Afrika sal kinders in die hoër standerds van die laerskool steeds bekoor word deur die geroep van die Uile van Kranskop.”
In 2011 het Protea Boekhuis in Pretoria begin om Die Uile in ’n moderne gedaante die lig te laat sien. Annie Klopper, wat die heruitgawes hanteer het, vertel: “In Breuk onder die Uile (boek 3) is daar bladsye en bladsye vol krieket- en rugbywedstryde, wat tot in die fynste besonderhede beskryf word. (Ek moes die rugbytellings in die boek aanpas by die nuwe puntestelsel.) Die twee karakters Philip en Berrie is groot rugby- en krieketspelers! Ook in hierdie boek begin dit duidelik word dat die kleinste Uil, Jorsie, ’n groot voorliefde vir visvang het, en in die daaropvolgende boeke vang hy ook dikwels vis.
“Waar die skoolgrond aanvanklik ’n groot tema in die eerste boeke is, begin die seuns al hoe meer die boendoes invaar, soos die reeks ontwikkel. Hulle besoek die bosveld, wildtuin, Kalahari, Limpopo, Mosambiek ensovoorts. Jag is dus ook ’n groot tema, maar natuurlik is daar deurlopend gevaar, aksie en sluwe skelms.”
’n Aantekening oor die inhoud van Breuk onder die Uile gee ’n aanduiding van die reeks se temas: “Die Uile is nie meer vyf nie maar vier … Toe Berrie du Toit vriende maak met Ernest Fouché, gebeur die onverwagse: Berrie breek weg van die eens hegte groep Kranskopse vriende wat hulleself die Uile noem. Hoekom is Berrie nou vriende met Ernest wat die skoolreëls oortree en so ’n bullebak is teenoor Jorsie Neethling, die kleinste Uil? Kan daar tog iets goed in Ernest steek?
“Met krieket kan Berrie en Philip Senekal, die leier van die Uile, nog saam speel sonder dat hulle regtig saam hoef te werk. Maar toe breek die rugbyseisoen aan en in die doodsnikke van die naelbytwedstryd teen Excelsior is dit moontlik nog net spanwerk tussen Berrie en Philip wat die telling in Kranskop se guns kan beklink …
“Intussen maak die Uile ’n geheimsinnige ontdekking en Jorsie is vasbeslote om dié raaisel op te los.”
Terwyl hy skoolgehou het, het Cor nooit in skooltyd geskryf nie, maar altyd in die vakansies en het later só geoefend geraak dat hy sommige boeke sommer in tien dae kon klaar skryf. Ander het ’n bietjie meer werk geverg en moes dan maar tot die volgende vakansie oorstaan.
Cor Dirks is nie net vir Die Uile-reeks bekend nie, maar ook vir Joof en sy maats en Die Otters. Die Joof- en Otter-reekse, wat onderskeidelik uit tien en agt boeke bestaan, is op dieselfde lees geskoei. Hierdie boeke het Cor almal ná sy aftrede geskryf.
In eersgenoemde is dit die vier vriende Joof, Evert, Loot en Kosie wat die een opwindende en spannende avontuur na die ander ervaar wanneer hulle te make kry met ivoordiewe, Russiese agente, dwelmsmokkelaars, ontvoering, toordokters, platina-diefstal en ander avonture. Dit is duidelik dat Cor Dirks die ruimtes waarbinne die stories afspeel, goed ken en hy slaag met elke storie daarin om sy lesers met ’n nuwe en oorspronklike avontuur te boei. Hy sorg vir volop afwisseling in die verhale en dit ontbreek ook nie aan humor nie.
Die Otters en Die Otters se koshuisstreke is in 2010 albei in nuwe baadjies weer deur Protea Boekhuis uitgegee. In Volksblad (26 Maart 2011) skryf Adéle Dempers: “Die agtergrond waarteen die boeke afspeel, is baie anders as die lewe waaraan hedendaagse 8- tot 13-jariges gewoond is. Van die kinders kom per trein by die skool aan en die dorpie waar die skool is, is idillies plattelands met waterkanale waar die Otters kan roei en swem. Dis nog outyds kosskool met streng reëls, pakslae wat uitgedeel word en leerlinge wat naweke inbly.
“Maar ’n goeie storie is tydloos. My kinders, wat in die teikenmark val, het dadelik aanklank by die stories gevind. Die taalgebruik is subtiel gemoderniseer sonder om Dirks se styl te verander. Jong lesertjies word dus nie deur outydse woordgebruik gepla nie en lees maklik.
“Die ouers en grootouers sal dalk om nostalgiese redes Die Otters-reeks wil aanskaf, maar hul kinders en kleinkinders sal ook voor die onskuldige bekoring van die reeks swig.”
In haar resensie van die 1981-uitgawe van Die Otters skryf Joan Hambidge dat daar ’n ongelukkige tendens binne akademiese kringe bestaan om jeugreekse af te keur. “Ek het nog altyd gevoel dat hierdie standpunt erg oordrewe is. Saartjie Baumann, Trompie, Jasper en vele Cor Dirks-verhale was ’n bron van onuitputlike plesier vir my.
“Nou word onderwysers gewaarsku teen die verderflike kinderverhale wat glo té patroonmatig, ensovoorts is. Die sogenaamde voorspelbaarheid (...) is vir die jong kind van kardinale belang. Hy leer ’n groep maats ken met wie hy kan identifiseer. (…)
“Om genoemde redes was Cor Dirks se Die Otters vir my aanvaarbaar. Dit is ’n patroonmatige, selfs voorspelbare, verhaal wat die jonger leser (10–12 jaar) behoort te boei. Die verteltrant is gemaklik en vloeiend en die hoofkaraktertjies, Buks, Kassie en Litte, se manewales word goed uitgebeeld. Ook word die jonger leser ’n les geleer, sonder dat daar ooit gepreek word. Hierdie werkie kan aanbeveel word vir enige jonger leser wat ’n interessante verhaal wil lees.”
Oor sy werkswyse het Dirks onder andere gesê: “Dit is dikwels soos ’n broeishen op ’n volstruiseier. Sy weet waarop sy sit, en wat daar behoort uit te kom … maar verniet of die kuiken wil pik. Wanneer dinge wel vlot, kies ek my karakters en koppel hulle gewoonlik aan knapies wat ek ken, vir werklikheidsgevoel.
“My verhale neig dikwels om handuit te ruk. Terwyl ek skryf, kry ek ’n beter gedagte as die oorspronklike en slaan dan sommer ’n nuwe koers in … Toeval moet ek beken, speel ook ’n rol; want hoe gaan ’n mens uit die knyp kom as jy jou behoorlik vasgeskryf het? Die waarskynlikheid word darem so ver moontlik in die oog gehou.” (Hoofstad, 22 November 1982)
Cor Dirks is op Sondag 15 Oktober 2000 ná ’n siekte van twee maande op Barberton, Mpumalanga oorlede. Cor en Ella het die vier weke voor sy afsterwe by hulle seun, dr Justus Dirks, op Barberton deurgebring om aan te sterk. Justus het gesê dat sy pa op 5 Augustus 2000 ’n heup-operasie in Johannesburg ondergaan het. Hy is ná die operasie vir drie dae in die waakeenheid opgeneem omdat hy nie ná die narkose kon herstel nie, en was daarna baie swak en kon net nie goed aansterk nie.
’n Verassingsdiens is op Nelspruit vir die familie gehou en sy as sou in die Krugerwildtuin gestrooi word. “My pa was baie lief vir die wildtuin,” het Justus gesê, “en ons het dit lankal met hom uitgeklaar dat sy as daar gestrooi sal word.” ’n Roudiens is die Woensdag ná sy dood in die NG Kerk in Linden gehou en Attie van der Colf, leraar van die gemeente, het Dirks beskryf as ’n “sprankelende mens met ’n vriendelike belangstelling in die lewe tot op die einde”. (Volksblad, 16 Oktober 2000)
Helena Hugo, wat destyds verbonde was aan Perskor Uitgewers, wat die meeste van Cor se boeke uitgegee het, het gesê (Beeld, 4 Desember 1989) dat toe Cor Dirks destyds begin publiseer het, daar nie eintlik goeie jeugverhaalskrywers in Suid-Afrika was nie. Dit spreek duidelik uit sy boeke dat hy die kind en die kind se verbeeldingswêreld baie goed ken.
“Sy fyn sin vir humor kom duidelik na vore in sy boeke en hy skryf met deernis en empatie. Hy verstaan die kind se behoefte aan avontuur en vryheid. Die kinders in sy boeke beleef dan ook wonderlike avonture in eksotiese Afrikalande en vang self die vreeslikste goed aan. Al daardie dinge waarvan alle avontuurlustige kinders tussen nege en twaalf jaar altyd droom en wat hul ouers hul selde kan toelaat om te doen.
“Cor Dirks se leergierigheid kom duidelik na vore in sy boeke. Hy besef dat die meeste kinders in een of ander stadium nie baie lus is vir skoolgaan nie, maar nogtans ’n groot behoefte het aan nuwe kennis. Hy het ’n wonderlike gawe om die kind op ’n informele manier te leer van die plant- en dierewêreld en van vreemde plekke in Afrika.
“Dit is vir sy uitgewers dan ook geen wonder dat sy boeke deur al die jare goed verkoop het nie. Selfs die moderne kind wat gereeld blootgestel word aan nuwe tegnologiese ontwikkelings en rolprente en boeke oor buite-ruimtelike avonture te sien kry, lees nog sy boeke oor kinders se ontvlugtingsavonture in die Okavango en ander Afrikadele met groot ywer.”
Hoewel Dirks meer as 40 boeke geskryf het, die meeste daarvan baie gewild, het hy in sy lewe min erkenning ontvang. Die jaar voor sy dood is ’n Akademie-oorkonde op die Aardklopfees in Potchefstroom aan hom oorhandig. “Ons was so bly dat hy darem ’n bietjie erkenning gekry het,” het sy dogter gesê. “En die lekkerste was dat dit oorhandig is deur een van die Uile, Vaatjie Botha.” In daardie stadium het twee ander Uile nog geleef – Flip (in die werklike lewe dr Philip Smith) en Hennie Pretorius (eintlik Putter).
Publikasies
Publikasie |
As die galg dreig |
Publikasiedatum |
1946 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Voortrekkerpers |
Literêre vorm |
Spanningsverhaal |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Arendsnes se moordenaar |
Publikasiedatum |
1947 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Voortrekkerpers |
Literêre vorm |
Spanningsverhaal |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Hoefslag van die dood |
Publikasiedatum |
1948 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Voortrekkerpers |
Literêre vorm |
Spanningsverhaal |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Uile van Kranskop |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Bloed in die weste: ’n spanningsverhaal |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Literêre vorm |
Spanningsverhaal |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Moord wek moord: ’n speurverhaal |
Publikasiedatum |
1950 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Literêre vorm |
Spanningsverhaal |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Uile en die rampokkers |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Wadda van die woestyn |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Voortrekkerpers |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Arend van As |
Publikasiedatum |
1951 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Kaapstad: Nasionale Boekhandel |
Literêre vorm |
Spanningsverhaal |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Breuk onder die Uile |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Uile in die wildtuin |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0628013760 (hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Ghoerie die musketeer |
Publikasiedatum |
1956 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Voortrekkerpers |
Literêre vorm |
Kinderboeke |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Uile in die Kalahari |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Publikasie |
Die Uile en die verlore stad |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0628003641 (hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Uile langs die Limpopo |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
062800611X (hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Uile by die see |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Uile in die wapad |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0628003668 (hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Uile in die stad |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Vyf Uile en ’n tier |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0628013841 (hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Rooi oog, geel oog |
Publikasiedatum |
1966 |
ISBN |
(hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Voortrekkerpers |
Literêre vorm |
Spanningsverhaal |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Uile in die gimnasium |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0628013833 (hb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Uile in Mosambiek |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Ben Opperman van Hoogland |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0628012667 (sb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Breuk onder die Uile |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
062800365X (sb) |
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Smits gaan see toe |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0628010877 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Joof en sy maats by Doringspruit |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Joof en sy maats in Etosha |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Joof en sy maats op Doringkruin |
Publikasiedatum |
1981 |
ISBN |
0628021399 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Joof en sy maats onder die koeëls |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Otters |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Joof van Doringkop |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Joof en sy maats in Tongaland |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0628023529 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Joof en sy maats – Platina uit Wes-Transvaal |
Publikasiedatum |
1983 |
ISBN |
0628024142 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Joof en sy maats se bergavontuur |
Publikasiedatum |
1983 |
ISBN |
0628022883 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Otters op die bosveldplaas |
Publikasiedatum |
1983 |
ISBN |
0628024525 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Otters se koshuisstreke |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Otters en die huis op die krans |
Publikasiedatum |
1984 |
ISBN |
062802732X (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Otters se “fietstoer” |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
|
Uitgewer |
|
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Joof en sy maats en die dwelmsmokkelaars |
Publikasiedatum |
1986 |
ISBN |
0628026110 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Otters: skateiland van die Seychelles |
Publikasiedatum |
1987 |
ISBN |
0628031009 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Joof en sy maats – die ivoordiewe |
Publikasiedatum |
1988 |
ISBN |
0628032064 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Otters se veldskoolavonture |
Publikasiedatum |
1988 |
ISBN |
0628032900 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Otters in die Okavango-moeras |
Publikasiedatum |
1989 |
ISBN |
062803296X (sb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Uile vlieg weer |
Publikasiedatum |
|
ISBN |
0628033958 (sb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Uile Omnibus 1 |
Publikasiedatum |
1992 |
ISBN |
0628035128 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Uile Omnibus 2 |
Publikasiedatum |
1994 |
ISBN |
0628035314 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Publikasie |
Die Uile Omnibus 3 |
Publikasiedatum |
1995 |
ISBN |
0628035349 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
|
Publikasie |
Die Uile Omnibus 4 |
Publikasiedatum |
1996 |
ISBN |
0628035438 (hb) |
Uitgewer |
Johannesburg: Perskor |
Literêre vorm |
Jeugfiksie (reeks) |
Pryse toegeken en kortlysbenoemings |
Geen |
Vertalings |
Geen |
Resensies en besprekings |
Geen |
Artikels oor Cor Dirks:
- Botha, Danie: Cor Dirks se Uile is terug in ’n nuwe eeu. LitNet, 20 Oktober 2011
- Cor Dirks (Storiewerf)
- Cor Dirks het steeds ’n vonkel in die oë. Beeld, 4 Desember 1989
- Greyling, Aletta: Lees mense vandag nog? Oggendblad, 24 Oktober 1978
- Hagelskamp, Elsa: Deur dik en dun: Dié liefdes oorwin. Rapport-tydskrif, 13 Februarie 1994
- Olivier, Erika: Kunstenaars span saam uit: Ware liefde vir kinderverhale. Transvaler, 26 Januarie 1989
- Ons bring hulde. Onderwysnuusflitse, Augustus 1991
- Page, Madelaine: Ná 45 boeke wil Cor nog skryf. Transvaler, 28 Julie 1992
- Roodt, PH: Cor Dirks ’n sportentoesias: profiel. Hoofstad, 22 November 1982
- Rousseau, Leon: Uile oud, maar nog lank nie koud. Rapport, 25 Augustus 2011
- Skrywer van jeugverhale sterf. Volksblad, 16 Oktober 2000
- Steenkamp, Lizel: Cor Dirks (89), skrywer van Die Uile, sterf. Beeld, 16 Oktober 2000
Cor Dirks se ATKV|LitNet-Skrywersalbum is op 2014-03-12 gepubliseer en is nou volledig bygewerk.
Bron:
- Knipseldiens van die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum (NALN)
Erkenning word hiermee gegee aan die Nasionale Afrikaanse Letterkundige Museum en Navorsingsentrum in Bloemfontein – NALN – vir die beskikbaarstelling van hul bronne en hulp van hul personeel vir die doeleindes van die ATKV-Skrywersalbum.