Comrade Baron deur Jaap Scholten: ’n lesersindruk

  • 0

Comrade Baron
Jaap Scholten

Uitgewer: Helena History Press
ISBN: 9781943596027

Hierdie lesersindruk is uit eie beweging deur die skrywer geskryf en aan LitNet gestuur.

Op verlede jaar se Vrystaat Kunstefees kry ek onverwags ’n boodskap dat Jaap Scholten, ’n besoekende skrywer van Nederland, my graag wil sien. Na aanleiding van ’n paar berigte en artikels wat ek oor grondhervorming en onteiening sonder vergoeding geskryf het, voel hy dat hy sy boek Comrade Baron vir my wil gee.

Tydens die ontmoeting vertel hy vlugtig waaroor die boek handel: Op 3 Maart 1949 het burgerlike vegters in die naam van kommunisme opgeruk na die huise van al die Transsilvaanse aristokrate en grondeienaars. Hulle is in die middel van die nag op trokke gelaai en na kampe en tronke in Roemenië vervoer. Binne twee ure is ’n hele klas vernietig en uit die samelewing verban.

Omdat die inhoud so neerdrukkend geklink het, het ek besluit om dit later eers te lees. Later word toe veel later, totdat ek ’n paar weke gelede besluit om dit te begin lees. Ek het my reggemaak om baie ernstig terneergedruk gestem te word. Dalk selfs depressief. Genadiglik het die boek eerder die teenoorgestelde uitwerking gehad. Dit is eerder ’n viering van ’n vergange tyd as wat dit ’n klaaglied van verlies is. Laasgenoemde kom uiteraard ook voor, maar Scholten verbloem dit op meesterlike wyse met vertellings van sy eie ontdekkingsreise deur wat vandag Hongarye en Roemenië is. Baie hiervan word saam met sy vrou, Ilona, wat self van aristokratiese afkoms is, aangepak.

Dit is daarom terselfdertyd ’n laaste blik op ’n deel van die geskiedenis wat waarskynlik binnekort vergete sal wees, terwyl dit enersyds ’n nostalgiese reis deur die oorblyfsels daarvan is. Die oorlewendes vertel met groot verlange na ’n era van onophoudende danspartye en oorvloedige drank en vreugde. Hulle verlang terug na hul eertydse wonings. Hierdie wonings was dikwels kastele soos ons dit nog net in kinderboekillustrasies gesien het. Nadat hulle uit hul paleise, kastele en ander weelderige wonings gewerp is, is nuwe behuising deur die staat aan hulle toegeken. Omdat hulle klassevyande was, ten minste in die oë van die nuwe kommunistiese regering, is hulle verbied om na beter behuising te trek. Selfs al was die toegekende behuising nie geskik vir enige mense nie. Van die bejaarde aristokrate wat Scholten kon opspoor, vertel hoe hulle in mense se waskamers, kelders en solders moes tuisgaan. Dit is beswaarlik ’n lewe vir iemand wat lewenslank so moet lewe. Wat nog te sê iemand wat net die heel beste gewoond was en skielik daartoe gereduseer is.

Die paleise, wat werklik deel van wêrelderfenis behoort te wees, is meestal gelos om geplunder te word. Daar het niks van sommiges oorgebly nie. Ander is op ’n kru wyse, sonder enige ontsag vir die onmiskenbare argitektoniese waarde, omskep in kinderhuise, ouetehuise en sielsieke-inrigtings. Ander is bloot gelos om deur die natuur teruggeneem te word.

Die nuutverklaarde klassevyande is ook nie daarna ongeskonde gelaat in die nuwe samelewing nie. Hulle mag nie opleiding ontvang het wat verder as graad 9 gestrek het nie. Ook in hul werke kon hulle geen bestuursposisies beklee nie. Dit was dikwels selfs genoeg vir ’n staatsamptenaar om ’n opmerking te maak soos: “Hoekom het jy ’n baron op jou personeel?” vir iemand om hul werk te verloor. Die verlies van die rykes was ook nie net hul eie verlies nie. Skielik het die samelewing sy modelburgers verloor. Die armes het nie meer, ten minste in hul onmiddellike omgewing, mense gehad om as rolmodelle te dien nie. In die kommunistiese era het dit nie juis vir te veel mense saakgemaak nie, maar in die tyd wat daarop gevolg het, was dit duidelik. Niemand het meer geweet hoe om ryk te wees nie.

Die toonbeeld van egosentriese selfverryking en kitsch oormaat het reeds in die kommunistiese era sy kop uitgesteek. Nicolae Ceauşescu het in ’n paleis so uitspattig en absurd as wat ’n mens jou moontlik kan indink gewoon. Om die waarheid te sê, dit was die grootste enkele gebou in die wêreld naas die Pentagon in Amerika. Klassevyand se moses! Die huis behoort, soos alle ander dinge, tog aan die mense en nie net aan hom nie. Na die herstel van vryheid in 1989 is Ceauşescu op Kersdag voor ’n vuurpeleton geskiet. Daarna is almal vry, maar soos in die meeste postrevolusionêre samelewings is daardie vryheid bloot oppervlakkig. Die armes is steeds arm, sonder enige hoop op ’n verbetering in lewensgehalte. Die rykes, wat hoofsaaklik voormalige kommunistiese amptenare is, leef op ’n uiters uitspattige wyse, sonder enige nadenke oor styl, smaak of ordentlikheid. Hul swierigheid word grotendeels gegrond op die uitspattige partytjies soos dié wat ons op Amerikaanse TV sien. Anders as die destydse aristokrate gee hulle nie ’n duit om vir hul medemens nie. Hoewel die destydse feodale stelsel ver van ideaal was, het dit darem direkte aanspreeklikheid van die rykes vereis. In kommunisme was die anonieme burokratiese masjien aanspreeklik vir die lot van almal. Vandag is niemand aanspreeklik nie. Dit is die lot van die meeste Oos-Europese samelewings.

Toe Scholten hierdie boek vir my gegee het, het hy voorin geskryf dat hy glo dat ek baie ooreenkomste met Suid-Afrika sal kan raaksien. Ongelukkig is hy reg. Daar is groeiende haat teenoor dié wat grond besit. Om nie eers te praat van die superrykes nie. In sekere politieke groeperings het Rupert en Oppenheimer sinoniem met die vyand geword. Niemand gee om vir die hoeveelheid geld en gemeenskapsbetrokkenheid wat die Ruperts byvoorbeeld in die land terugploeg nie. Hulle word summier as klassevyande gebrandmerk, weliswaar nie met daardie titel nie, maar dit kom daarop neer.

Al glo ek nie dat ons al naby ’n punt is waar ’n hele klas summier ontvoer en van hul posisies ontneem sal word nie, is dit belangrik om bewus te wees van die tekens. Die Transsilvaanse aristokrasie het ook nie hul skielike verandering in stand verwag nie. Hulle was geliefde mense en leiers en aktiewe deelnemers in hul gemeenskappe. Net so word baie gemeenskappe in ons eie land gelei deur boere wat mildelik gee en deelneem in hul onmiddellike omgewings. Daar is natuurlik ook dié wat die teenoorgestelde doen, maar hulle is in die minderheid. Suid-Afrika se hartklop is op plase. Mag die boere op daardie plase altyd die respek wat hulle verdien, ontvang. En mag die haat wat tans so dikwels opbloei, in die kiem gesmoor word. Ons het nie nóg ’n hartverskeurende verhaal van die verlies van ’n hele groep in hierdie wêreld nodig nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top