Compassion en godsdiens, politiek, sport: die onheilige drie-eenheid

  • 3

Compassion – die afgelope ruk al dink ek hieroor. Wat is dit, en hoekom is daar deesdae in openbare diskoers so min daarvan te ervaar? Kan ons regtig mens wees daarsonder?

Die woordeboek vertaal “compassion” as “jammerhartigheid, erbarming, deernis, mededoë”. Die HAT verduidelik deernis (vir my die beste verklaring) as “diep medelye”.  Die Latynse samestelling com + pati beteken “to suffer with”, wat heelwat nader kom aan wat die woord compassion beteken. Die Afrikaanse vertaling werk binne konteks van hierdie rubriek nie vir my nie, en dus gaan ek gewoon compassion gebruik, en compassion hê met die taalbulle en internetkrygers wat hulle toetsborde opwarm om oor swak taalgebruik te praat.

Wanneer mense nie briesend is oor ʼn regter wat sy geloof uitleef deur te bid en die geskrif wat sy geloof vervat, as simboliese geskenk aan te bied aan ʼn ampsdraer wat aan dieselfde geloofsgroep behoort nie, dan word daar gal gebraak oor hofbevele uitgereik teen politieke partye wat nie hul woorde kan tel nie. Of ʼn regerende politieke party probeer vroue se liggame reguleer deur wetgewing uit te vaardig wat so inperkend inwerk dat dit op menseregte-misbruike kan neerkom. Of ʼn liggaam wat atletiek reguleer, penaliseer ʼn atleet omdat sy te goed presteer en probeer dit wat haar liggaam natuurlik doen, te inhibeer.

Vir vele lande is 2019–2020 verkiesingsjare. In al hoe meer gevalle lyk dit asof die regse politiek ʼn groter vastrapplek kry as in die onlangse verlede. Die lande (en state) wat kies om nie na binne te keer en meer konserwatief te beweeg nie, is ook die gebiede wat groter diversiteit en groter deelname deur minderhede het.

Wat is die grootste gemene deler? Die areas waar daar meer konserwatiewe keuses gemaak word, die areas waar enigiets en enigeen wat in die geringste mate anders is, gestigmatiseer en met wantroue bejeën word, is ook die areas wat die grootste vrees ervaar. Die vrees hoef nie eens geregverdig te wees nie.

Vrees volg kort op onkunde se hakke. Mense vrees dit waarvan hulle nie genoeg weet nie. En fopnuus maak dat mense se soeke na kennis maklik kan ontspoor.

Die toksiese kombinasie van vrees en onkunde kan baie maklik veroorsaak dat mense keuses maak wat teen hul eie beste belange indruis. Hoekom anders sal Amerikaanse boere volhou om Trump te ondersteun wanneer sy beleid tot hul ekonomiese ondergang lei? Hoekom anders sal Britte ten gunste van Brexit wees wanneer dit hulle ekonomies en kultureel kan keel-af sny? Watter ander verklaring is daar vir die feit dat die Vryheidsfront, ʼn party wat nog nooit meer as lippediens aan bruin belange gelewer het nie, met die afgelope verkiesing verrassend goed gevaar het, grootliks te danke aan bruin en andersins liberale wit kiesers?

Een belangrike komponent van compassion is die vermoë om te verstaan waardeur iemand anders gaan, maar iets meer en anders as empatie, omdat dit gepaard gaan met die behoefte om iets te doen daaromtrent. In elke enkele geval hier bo genoem waar mense se regte onderdruk is, of waar mense ge-“other” is, was compassion afwesig. Niemand wat saam met iemand anders ly, gaan die oorsaak van daai lyding gebruik om verder te onderdruk en te vervreem nie. Niemand wat opreg probeer verstaan waardeur iemand anders gaan, gaan optree met wreedheid en kilheid nie.

Ten minste een verduideliking vir die gebrek aan compati in openbare diskoers is gebrek aan normale sosiale interaksie. Vir baie van ons is ons intiemste verhoudinge met Facebook-vriende wie ons nog nooit van aangesig tot aangesig ontmoet het nie. Die gesing van toetse op toetsborde vervang aanraking. Likes vervang nuanse in gesprekvoering. Ons kan woorde tik en die eter instuur sonder om ooit die gevolge van daai woorde eerstehands te ervaar. Dis mos soveel makliker om iemand op Facebook ʼn idioot of nool te noem, en ʼn klomp likes te kry daarvoor, as om dit vir die persoon te sê en die seerkry of woede op hul gesig te sien. Dis soveel makliker om ferm opinies te vorm oor iemand wie jy nog nooit ontmoet het nie as om die moeite te doen om daai persoon in die regte lewe te leer ken en uit te vind hoekom hulle sekere standpunte huldig. Sosiale media is inherent antisosiaal omdat ons nooit regtig verantwoording hoef te doen vir ons woorde nie. Blok en delete is hoe ons verhoudinge handhaaf, eerder as uitpraat en verby skanse probeer verstaan.

Dis waar storievertellers, kunstenaars, fliekmakers, musikante so belangrik is. Noem ons die Q20 van die samelewing. Kunstenaars se taak is altyd om ʼn spieël in ons gesig te hou – om te reflekteer wat daar is, of om te wys wat moontlik is maar nog nie realiteit is nie. Kunstenaars is, uit die aard van wat ons doen, noodwendig die verpersoonliking van compati. Stories in alle vergestaltings glip verby skanse en konfronteer mense met hul diepste vrese of begeertes.

Sport en politiek, en soms selfs godsdiens, is inherent konfronterend en veronderstel wenners en verloorders. Compati vra dat ons ʼn ander manier vind, waar almal kan wen. Compati vra dat ons mekaar genoeg vertrou om die skanse te laat sak vir lank genoeg dat ons mekaar se mens-wees kan erken. Compati vra dat ons kyk verby seksuele oriëntasie, ouderdom, geslag, ras, ekonomiese status en al die eksterne merkers van insider-status, en erken dat ons almal in een of ander area van ons lewe outsiders is.

Die skadukant van politiek en godsdiens moedig ons aan om outsiders te verwerp. Compati vra dat ons juis daai outsiders toelaat om te wéés.

Soms herken die outsiders die foutlyne in ons samelewing eerste, juis omdat hulle nie deel van die groep is nie en dus helderder sien. Nie een van ons kan suksesvol ons normaal kritiseer nie. Dit kos soms ʼn outsider om ons te wys dat ons normaal glad nie so normaal is nie.

Compati vra dat ons die uitsluiting van ander stuit. Compati vra dat ons bewustelik die areas waar ons self anders is, vier en nie wegkruip asof andersheid ʼn skande is nie.

Compati vra dat ons onsself bemin, en dele van onsself in ander herken en vertroetel. Compati vra dat ons ons samelewing anders instel. Make the circle bigger.

Is dit regtig soveel gevra?

  • 3

Kommentaar

  • Compati beteken jy moet selfs die taalbulle en Vryheidsfront+ asook Trump en sy boere respekteer en hulle in jou sirkel insluit😇

  • Om te sê “compassion” werk vir hierdie rubriek is 'n absurde stelling - dit beteken Bettina sou nie haar gedagtes kon verwoord as sy nie Engels geken het nie. En buitendien, wat van die Afrikaanssprekendes wat nie Engels ken nie?

  • Bettina reken “mense vrees waarvan hulle nie genoeg weet nie”. Net mooi andersom (in die meeste gevalle): Mense vrees juis dinge waarvan hulle die gevaar besef, vandaar polisse, lemmetjiesdraad, wagte, alarmstelsels ens. “Vrees” word maklik deur liberales gebruik om voorsorg en die bedag wees op gevare te verguis, want dit plaas die kollig op booswigte, kriminele en terroriste.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top