
Netwerk24 kykNET Rapport Boekresensent van die Jaar 2026
Commendatio’s: Bibi Slippers
Fiksie
Nathan Trantraal: “Die great expectations van ’n twiede boek” oor Prins deur Ryan Pedro, Rapport, 25 Mei 2025
(Lees die resensie hier: Rapport: Prins)
Nathan Trantraal se resensie van Prins, Ryan Pedro se tweede digbundel, het die jingle van ’n koeldrank-advertensie uit die 90’s in my kop laat draai: Sparletta Creme Soda - it’s so smooth.
Die vloei van hierdie stuk skryfwerk is merkwaardig. Dit loop van ’n inleiding wat Ryan Pedro binne die Afrikaanse letterkunde posisioneer, teken die hoë lat wat hy met sy eerste bundel opgestel het en waaroor hy met sy tweede bundel moes seil, en gebruik dan kortsigtige kritiek op die verwysingsraamwerk van die vorige bundel om gelyktydig die nuwe bundel se aanslag duidelik te maak, en terug te druk teen die verwagting dat skrywers se verwysingsraamwerke beperk moet wees tot klassieke werke in die Afrikaanse kanon. Die resensie gebruik die boek as vertrekpunt om breër argumente te voer, dit neem sterk standpunte in oor onderwerpe wat relevant is tot die begrip en ontvangs van die werk, en dit ontsluit Pedro se boek vir lesers wat dalk nie sal weet waar om te begin nie.
Uiteindelik laat Trantraal ook ruimte om die digter self te laat praat, met ’n perfekte keuse van gedig wat al sy argumente beliggaam, én lesers gaan lus maak om nog te lees.
Niefiksie
Desmond Painter: “Filosofie is saamdink in ’n komplekse wêreld” oor Uilvlug in die skemer deur Anton A. van Niekerk, Netwerk24, 24 November 2025
(Lees die resensie hier: Netwerk24: Uilvlug in die skemer)
Desmond Painter se resensie van Anton van Niekerk se bundel rubrieke Uilvlug in die Skemer begin met ’n persoonlike relaas oor sy eerste kennismaking met Van Niekerk as jong student op Stellenbosch. Binne die gemaklike trant van hierdie aanloop, verpak Painter egter vir die “gewone” leser ’n klomp redes waarom filosofie as dissipline relevant en onmisbaar is, op meer as net akademiese vlak. Teen die tyd dat hy in alle erns begin resenseer, is jy reeds oortuig van die belang van die boek vir jou as mens, of jy jouself nou ’n filosoof ag of nie.
Die sentrale argument van die resensie is dat Van Niekerk die beperkinge van die opiniestuk verbystreef, en die rubriek as filosofiese medium aanwend. Die resensent laat nie sy eie meningsverskille met die outeur en verskille in politieke oortuigings toe om sy agting van die werk te kleur nie, maar gebruik dit eintlik om die tipe gesprek wat die outeur in die boek met die leser voer toe te lig. Die resensie is eenvoudig, helder en oortuigend, en duidelik die werk van ’n aandagtige en ontvanklike leser. Dit laat ons as beoordelaarspaneel hoop om méér resensies deur Desmond Painter te kan lees, miskien volgende jaar ook sommer resensies van fiksie en poësie.

