Commendatio’s: Netwerk24 kykNET Rapport Boekresensent van die Jaar 2025

  • 0

Netwerk24 kykNET Rapport Boekresensent van die Jaar 2025
Commendatio’s: Bibi Slippers

FIKSIE

Paul Kammies: “Nathan Trantraal se graphic novel oo hoe Bruin seuns ’n wound asse gift gegie is” oor Die man wattie kinnes vang deur Nathan Trantraal, in Klyntji, 15 Julie 2024.

Paul Kammies se resensie van Die man wattie kinnes vang was ’n heerlike verrassing. Die resensie se inhoud is ’n verfrissende mengsel van akademiese insigte, persoonlike opvattings, insiggewende visuele analise (wat noodsaaklik is om reg te laat geskied aan ’n bespreking van ’n grafiese roman) en interessante argumente oor die plek wat die boek in die kontemporêre kultuurlandskap beklee. Kammies verstaan die meganika van die grafiese roman, en gee vir lesers gereedskap waarmee hulle die boek kan benader om die meeste daaruit te put. Hy speel oop kaarte oor sy eie vooropgestelde idees oor die boek, en demonstreer deur die loop van die resensie hoe Trantraal se werk hom tot ander insigte gebring het. As leser voel ’n mens in die resensie aan tot watter mate die werk vir Kammies geraak het, en dit gee die resensie ’n aanvoelbare energie, wat verder versterk word deur weldeurdagte voorbeelde van aspekte van die grafiese roman wat sy uiteindelike oordeel (“Die man wattie kinnes vang isse fantastic boek”) deeglik motiveer. Die een ding wat hierdie resensie van ’n klomp ander baie goeie fiksieresensies onderskei het, was die outentieke gevoel wat die hele skryfsel het: Kammies skryf hier as ’n volronde resensent wat sowel akademikus as fynproewer van die grafiese roman is, asook “gewone” leser wat daarin slaag om sy persoonlike plesier in die lees van die boek oortuigend te kommunikeer.

NIEFIKSIE

Willie Burger: “Daar is nie iets soos ’n ‘mooi dood’ nie” oor Sing, Mamma, sing deur Theresa Papenfus in Plus 50, Junie/Julie 2024.

Willie Burger het vanjaar ’n hele gerf uitstekende resensies ingeskryf, waarvan ons meer as een sterk oorweeg het as uiteindelike wenner. Wat sy resensie van Theresa Papenfus se “moedermemoir”, Sing, Mamma, sing, uitsonderlik maak, is die manier waarop hy sy aanslag subtiel aanpas om die skryfstyl en inhoud nommerpas te maak vir die publikasie waarin die resensie verskyn. Burger onderskat nooit die intelligensie van sy lesers nie, maar verval ook nie in ’n hoogdrawende styl om homself slim te laat klink nie. ’n Mens voel asof jy baie uit die resensie leer sonder dat die gemaklike en relatief informele styl waarvoor ’n tydskrifresensie vra ingeboet word, en boonop word die teoretiese kennis wat gedeel word werklik soomloos verweef met die bespreking van die boek. Die resensie bring literêre geskiedenis, estetiese oorwegings en selfs ideologiese kritiek byeen binne die raamwerk van ’n sinvolle struktuur wat die hele skrywe onderbou, van die verhelderende inleiding wat die boek in ’n literêre tradisie plaas, tot die welluidende slot wat die resensie met die poëtiese kwaliteit van ’n goeie essay afsluit. Die grasie waarmee Burger hipotetiese feministiese kritiek op die boek uitlê en sy motiverings vir ’n teenargument is indrukwekkend, en die sensitiweit waarmee die godsdienstige onderstrominge aangespreek word ook merkwaardig. Dié resensie besing die boek onder bespreking nootvas, en was ’n vreugde om te lees.

Lees ook:

Persverklaring: Netwerk24 kykNET Rapport-pryse 2025

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top