Commendatio: Netwerk24 kykNET Rapport-prys vir fiksie 2025

  • 0

Netwerk24 kykNET Rapport-prys vir fiksie 2025
Wenner: Ingrid Winterbach vir Onrus op Steynshoop (Human & Rousseau)
Commendatio: Willie Burger

Niemand van ons vanaand hier twyfel daaroor dat Ingrid Winterbach een van ons heel belangrikste skrywers is nie. En ons almal weet hoedat sy, op haar beste, onvergeetlike karakters skep (onthou Bubbles Bothma!), meestal karakters van “wankelrige gemoed”. Ons ken die onhoudbaar ongemaklike situasies (jy wil amper nie verder lees nie) in haar romans en weet dat sy ’n verbysterende oor vir dialoog het (daai twee boere op hul perde in Niggie), en dat vreemde ruimtes haar speelplek is (’n varkplaas teen die berg met vreemde goings-on). Ons weet sy kan psigologiese kompleksiteit (dikwels van iemand op reis na ’n onbereikbare bestemming) met enkele sinne oopkrap, en dat sy van haar Lettie Viljoen-dae af al fyn waarneem wat in die gemeenskap en in die politiek gebeur. Ons weet hoe sy jou kan verras met karakters se kennis van geologie, insekte, walvisse, heavy metal, kuns, online dating, reeksmoordenaars of comics. Ons weet sy het ’n gesofistikeerde registrasie van die absurde en die tragiese, en die eindeloos melancholiese (en dat sy dit alles, tussen hakies, in parenteses rondom aandagstrepe –  met uitgebreide verduidelikings –  boonop skatersnaaks doen). Hierdie kenmerkende eienskappe verwag ons nou al van Winterbach. Maar in Onrus op Steynshoop bring sy alles saam in een roman.

Onrus op Steynshoop is daarom nie net ’n roman wat die hoogtepunt van 2024 se fiksie is nie, dit is ook ’n hoogtepunt in Winterbach se oeuvre. Dit is die soort roman wat diepgewortel Afrikaans is (en terloops soveel registers en moontlikhede van Afrikaans ontgin, ook die jargon van sielkunde en literêre teorie, van filosofie en selfhelp-retoriek, die taal van auras en chakras en dekonstruksie), maar wat nieteenstaande, of juis danksy, dié Afrikaansheid ook gemaklik kan saamgesels met pryswenners in ander tale van regoor die wêreld.

Dit is nie maklik om ’n wenroman te bepaal nie. Daar is talle romans wat roerende verhale vertel – verhale wat onbekende wêrelde oopmaak, met boeiende karakters en vernuwende insigte. Dié wat die kortlys haal, bied meer. Hulle is dié wat boonop die moontlikhede van vertel verruim. En dit is juis hierin wat Onrus op Steynshoop uitstaan. Selde verskuif een roman die moontlikhede van vertel soveel. Die wyse waarop die verteller soms onvaspenbaar teenwoordig is en soms op die agtergrond verdwyn, die interne fokalisering wat nooit glip in selfverduideliking nie, en veral die selfbewuste omgaan met taal (en selfs ’n gespot met selfbewuste omgaan met taal) laat hierdie roman uitstaan.

Meer nog, hierdie vorm is nooit ’n gimmick nie. Die roman se verkenning van menslike bestaan word juis hierdeur moontlik gemaak. Dit is nie die storie(s), mense se handelinge in hulle sonderlinge situasies, wat lesers se sekerhede laat wegsink en hulle gedagtes oopskiet nie, maar die maniere waarop dit aangebied word.

Steeds sterker in Winterbach se oeuvre word menslike bestaan ondersoek teen die agtergrond van die allesbepalende faktor in ons lewens: Tyd. Tyd relativeer die impak van enige gebeurtenis in ons lewens. Ook die belang van kennis en kuns. Die insigte wat die filosofie, psigologie, wetenskap en kuns ons bied, raak relatief teen ’n langer, geologiese en kosmiese tydsverloop. Dit klink droewig dat al hierdie dinge oor tyd vergaan, maar dis nie tragies nie, want mens kan altyd lag. En kunswerke bied tog klein vastrapplekkies, voorlopig, om ons te help om psigiologies bymekaar te bly. Veral een soos Onrus op Steynshoop!

Lees ook:

Persverklaring: Netwerk24 kykNET Rapport-pryse 2025

Die poppe sal dans: ’n resensie van Onrus op Steynshoop deur Ingrid Winterbach

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top