Commendatio: Jan Rabie-Rapportprys vir beste debuutroman in Afrikaans 2016

  • 2

Kyknet-RapportBoekpryse600

Lien Botha: Wonderboom (Queillerie)

Lien Botha het as internasionaal gerekende fotograaf haar skerp oog vir visuele kuns herhaaldelik in die afgelope drie dekades ten toon gestel. Met haar romandebuut wys sy hoe kragtig daardie selfde fyn blik in en deur die letterkunde lig kan werp op die binnewêreld van die gefolterde postkoloniale kind van setlaars wanneer dit geprojekteer word op ’n helaas heel waarskynlike en ongemaklik nabye apokaliptiese toekoms.

Wonderboom is ’n distopiese roman wat verskeie raakpunte het met Eben Venter se Horrelpoot en Cormac McCarthy se Pulitzer-wenner, The Road, asook met Karel Schoeman se Afskeid en vertrek. Ook Botha se protagonis moet haar weg baan deur ’n verwoeste, gevaarlike wêreld en die brokstukke van ’n vervalle samelewing op soek na oorlewings- en betekenismoontlikhede. En ook Botha se vertelling bespiegel oor die moontlikheid van sin en singewing, identiteit en moraliteit binne ’n gebroke sosio-politiese konteks en die ruïnes van ’n simboliese orde. Die roman betrek ook die outeur se familiegeskiedenis as verwysingsraam vir Magriet se reis – Wonderboom is die kiesafdeling wat deur haar pa in die Volksraad verteenwoordig is tot 1994.

Magriet se reis met haar viool van die geknelde Kaap na ’n onheilspellende Pretoria is egter veel meer as die bogenoemde romans ook ’n besinning oor die waarde en rol van kuns buite ’n gevestigde kulturele idioom; ’n verkenningstog wat met groot liriese spronge en opwindende taal bekoor, terwyl dit ingewikkelde gesprekke voer met die hede, verlede en ’n moontlike toekoms en daarmee saam ook met Die kremetartekspedisie van Wilma Stockenström en Etienne Leroux se Magersfontein o, Magersfontein.

Wonderboom is ’n ryk, poëtiese en beduidende toevoeging tot die Afrikaanse romankuns; ’n literêre koorsdroom deur ’n kunstenaar wat haar gehoor se blik onthutsend verstel, verbreed en verfyn. Dit is ’n waardige wenner van die Jan Rabie-Rapportprys vir 2016. 

Danie Marais, keurder

Die commendatio is voorgelees deur Elna van der Merwe.

Raymond Smith het die prys namens Lien Botha in ontvangs geneem.

  • 2

Kommentaar

  • Herman Meulemans

    Wat een welverdiende prijs voor een prachtroman!
    De reis van Magriet Vos naar Wonderboom is een allegorie van de teloorgang van Zuid-Afrika. Overleven is er nog de enige optie. Zelfs die schamele hoop verdwijnt op het einde van de reis, of vergis ik me?
    Tijdens de reis duikt Steve Biko even op aan de overkant van de Magaliesberg. Helemaal op het einde staan de geografische coördinaten vermeld van de plaats van aankomst. Ook dan is er een verwijzing naar Steve Biko. Het is alsof de voorvechter van de mensenrechten nog een laatste mystieke oproep doet, op een manier zoals Umberto Eco dat ook vaak deed, in het geval van Wonderboom om het roer om te gooien en de solidariteit te herstellen.
    Wat een stijl. Welke vernieuwende grafiek. Welk een toekomstgerichtheid. Gewoonweg schitterend.

    • Dankie vir jou ruimhartige terugvoering oor Wonderboom Herman. Dit was goed om kennis te maak in Leuven en 'n paar dae later weer in Brussels. Jou ondersteuning tot die 'Week van de Afrikaanse roman' word allermins gering geskat. Hoop ons paaie kruis weer eendag. Wie weet, dalk naby 'n stokou vyeboom aan die voet van die Magaliesberg.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top