Coda (Apple TV +)
Met Emilia Jones en Troy Kotsur
Regisseur: Siân Heder
Met 61 bekronings, onder andere die 2022-Oscar vir beste rolprent, beste aangepaste draaiboek (Siân Heder) en beste byspeler, Troy Kotsur, flikker gevaarligte en waarsku die verkeerslig met ’n flikkerende rooi mannetjie. Sodra die ganske wêreld in vervoering oor ’n rolprent raak, wonder die kyker of dit nie dalk deur sentimentele smulpape oorskat word nie.
In hierdie geval verdien hierdie besonderse rolprent elke prys wat dit verower het. Onthou, dit het teen The power of the dog (2021) gekompeteer!
Wat dit uitsonderlik en buitengewoon maak, is die kombinasie van die emosionele, die tragiese, die vurige, nuttelose drome en verstommende prestasies. Gewoonlik beklemtoon soortgelyke rolprente hierdie emosies deur dit met dik kokipenstrepe te onderstreep en daarmee te smous met aanhalings deur kritici, gevul met fliekpsalms soos: “Die beste rolprent van die jaar!”
Maar laat die rooi lig na groen oorskakel en steek alle vooroordele in jou agtersak. Want die cliché: “Wat jy eenmaal gesien het kan nooit weer ontsien word nie!” geld in hierdie geval. Maar dan prop jy van die mees geslaagde tonele in ’n bottel en kurk dit toe, om saans weer te oordink wanneer slapeloosheid jou teister vanweë banieropskrifte oor ons chaotiese land. Hiér is die antidepressant daarteen.

Prent-erkenning: https://www.youtube.com/watch?v=0pmfrE1YL4I
Coda staan vir child of deaf adults en handel oor ’n energieke, ambisieuse jong meisie, Ruby Rossi (die wonderbaarlike Emilia Jones), wie se gesin doof is. Hulle is eenvoudige visvangers, maar die owerhede kry die gesin in hul visier wanneer almal op die vissersboot doof is en Ruby nie teenwoordig kan wees om gevaar te kan hoor nie. Die pa, wie se gesig lyk of hy gekielhaal is (Oscarwenner Troy Kotsur), voel dat daar teen hom gediskrimineer word en wil buitendien sy vis self verkoop deur ’n eenmansbesigheid te begin. Basta met die geldgierige middelman.
Die rolprent speel op verskeie vlakke af: die visvangkrisis, ’n dogter met die stem van ’n nagtegaal wat wil sing maar haar ouers nie in die steek wil laat nie, ouens wat die mooie Ruby die hof wil maak maar deur haar ouers se doofheid afgeskrik word, en die dorpenaars en skoolheksies wat Ruby verkleineer omdat sy “na vis ruik”.
Al hierdie minikatastrofes vorm ’n mengsel waarin elke storie bestaansreg kry, met die ander oorvleuel en alles uiteindelik opgelos word. Natuurlik sluip emosie in met ’n tikkie melodrama, maar die regisseur Siân Heder hanteer dit met soveel insig en ’n ryk aanvoeling vir die verskil tussen blatante emosionele manipulasie en tragedie dat dit die kyker meesleur.
Weer eens: Hoe minder voornemende kykers van die rolprent weet (benewens die gestroopte opsomming hier bo) hoe beter. Die tonele moet fliekgangers onkant betrap. Sodra die vrees ontstaan dat ’n toneel in sepie-oppervlakkigheid gaan verval, ruk die ystervrou van ’n regisseur dit reg. Emosie kry weer ’n goeie naam en word in ere herstel.
Die ironie is natuurlik dat ’n meisie wat pragtig kan sing en graag in Boston aan ’n musiekkollege wil studeer, dowe ouers en ’n dowe broer het. Wanneer hulle na haar sanguitvoerings gaan luister, kan hulle natuurlik niks hoor nie, tot die dowe broer sy ouers se aandag op die gehoor se gesigsuitdrukkings vestig.
In ’n onverbeterlik kosbare toneel kan die gehoor natuurlik die talentvolle Ruby hoor sing, terwyl die ouers verveeld raak met die stilte. Maar hierna jukstaponeer Heder klank en stilte. Mense wat in vervoering luister, selfs ’n traan wegpink, Ruby wat met oorgawe sing, maar teleurgesteld voorkom omdat haar ouers nie kan hoor nie – en dan: stilte.
...........
Heder doof die klank uit, en vir ’n minuut of wat word ons in die familie se posisie geplaas. Doodse stilte heers terwyl Ruby se lippe beweeg en mense applous gee sonder dat die gesin dit kan hoor. Hier besef ons hoe dit moet voel om nie te kan hoor as jou dogter uit haar hart sing nie. Tonele soos hierdie is raar en kon maklik oppervlakkig geword het, vol manipulerende tegnieke wat emosionele snare pluk. Maar nie in hierdie geval nie.
.............
Heder doof die klank uit, en vir ’n minuut of wat word ons in die familie se posisie geplaas. Doodse stilte heers terwyl Ruby se lippe beweeg en mense applous gee sonder dat die gesin dit kan hoor. Hier besef ons hoe dit moet voel om nie te kan hoor as jou dogter uit haar hart sing nie. Tonele soos hierdie is raar en kon maklik oppervlakkig geword het, vol manipulerende tegnieke wat emosionele snare pluk. Maar nie in hierdie geval nie.
Die tragiek en drama word gekontrasteer met menslike komedie wat soos ’n legkaart presies in die geheel inskakel en die tragiek nog verder uitlig. Ruby se ekstroverte, viriele en uitbundige koorafrigter, Eugenio Derbez as die “Mister Keating” van afrigters, mors nie met leë woorde nie. Met wilde handbewegings (nogal soos Ruby se ouers) vorm hy die sangers blitsvinnig, sien potensiaal raak en inspireer Ruby hoe om haar beste te lewer. Sy manewales alleen is die moeite werd om met ’n ironiese glimlaggie te aanskou. In hierdie geval staan daar agter elke suksesvolle sangeres ’n mentor wat die sweep klap wanneer dit moet, maar hande oopgooi wanneer ’n sanger luister en reageer.
En so van komedie gepraat. Die Rossi’s het ’n aantreklike en gespierde seun, Leo (ongeaffekteerd en onselfbewus deur Daniel Durant gespeel). Wanneer Ruby se vriendin haar meedeel dat sy haar broer sexy vind maar dit nie aan hom kan oordra nie – want hoe verduidelik ’n mens die intieme in gebaretaal? – wys Ruby haar. Daniel se blootstelling aan die vriendin se onhandige handbewegings en bewondering is kostelik.
.........
Wat die rolprent nog ’n trappie laat styg, is dat die dowe akteurs werklik doof is. Die rolprent is gebaseer op Eric Lartigau se La Famille Belier (2014), maar dit het heftig onder kritici deurgeloop omdat die dowe karakters deur akteurs gespeel is wat kon hoor. Dit word in Coda reggestel.
...........
Wat die rolprent nog ’n trappie laat styg, is dat die dowe akteurs werklik doof is. Die rolprent is gebaseer op Eric Lartigau se La Famille Belier (2014), maar dit het heftig onder kritici deurgeloop omdat die dowe karakters deur akteurs gespeel is wat kon hoor. Dit word in Coda reggestel.
Genoeg lofsange. Stel jouself aan Coda bloot. En om ná hierdie juigwoorde blosend te waarsku om nie hoë verwagtings te koester is, is futiel. Maar wees verseker: Daar kom een keer elke paar jaar so ’n besonderse ervaring, en dit sal jou baat om Apple TV+ se intekengeld te betaal net om hierna te kyk.
Dit verryk die kyker.

