Clover Aardklop 2013: Louise Pieterse oor haar Onderro(c)k-uitstalling

  • 1

Die fotograaf-joernalis Louise Pieterse se opkomende Onderro(c)k-uitstalling by Clover Aardklop beloof om baie aandag te trek. Sy brei ’n bietjie uit oor die konsep en die werk daar ingegaan het.

Goeiedag, Louise. Hoe’s dinge?

Ontstellend goed! Ek is druk besig met die laaste voorbereidings vir Aardklop, maar ek is baie opgewonde dat die tyd nou so naby is! 

Jou Onderro(c)k-uitstalling vind binnekort by die Clover Aardklop-kunstefees plaas. Vertel ’n bietjie meer van wat presies die konsep behels?

Dit is heel eenvoudig. Ek neem ikoniese foto’s uit die musiekgeskiedenis en herskep hulle met plaaslike musikante.  


Inge Beckmann as Alice Cooper

Waar het jy die idee gekry hiervoor?

Ek en ’n vriend het eendag gesit en debatteer oor die standaard van plaaslike musiek. Hoe meer hy dit probeer afbreek het, hoe meer wou ek dit opbou. Ons begin toe die plaaslike mark vergelyk met dié van oorsee. Toe ek later by ’n brainstorming session is van ’n tydskrif waar ek gewerk het, het die debat weer opgevlam en ek het dit toe verder gevoer en die konsep as ’n maandelikse foto-feature voorgestel. Die plan was toe om een foto per maand vry te stel, maar die tydskrif is toe ongelukkig van kant gemaak – maar nie my idee nie!

Hoe het jy te werk gegaan om te kies watter ikoniese foto’s jy wou herskep?

Die hele proses het twee kante toe gewerk. Óf die foto was bloot so ikonies ek moes dit doodeenvoudig herskep, óf ek het (in ’n paar gevalle) wel eers besluit watter musikant ek wil doen en dan ’n ikoniese foto van hulle gaan soek. 


Francois van Coke as Johnny Cash

Hoe het jy besluit watter plaaslike rock-figure jy vir watter foto’s wil gebruik?

Elke fotopaar het op een manier of meer ’n ooreenstemmende verhaal. Byvoorbeeld, Inge Beckmann is vernaam vir haar besonderse verhoogpersoonlikheid, nes Alice Cooper, en Francois van Coke wat dieselfde idee oordra as die een van Johnny Cash op sy bekende middelvinger-foto. Ander musikante doen vir plaaslike musiek wat die musikant op die oorspronklike foto vir hulle eie musikale omgewing gedoen het, byvoorbeeld Kurt Darren wat vir Elvis uitbeeld.

Hoe het die gesprekke met die figure hieroor verloop? Was hulle onmiddellik in op die idee, of moes jy ’n bietjie oorreed?

Dit was nogal nice om almal se reaksies te sien as ek hulle gevra het! Almal was baie opgewonde oor die konsep en wou dadelik weet wanneer ons dit kan doen! My gunsteling-reaksie was vir seker toe ek vir André Kriel (Black Cat Bones) vra of hy van Led Zeppelin hou en hy onmiddellik antwoord met: "MEER AS LUG!"


Andrew Davenport as Bob Dylan

Hoe lank het dit jou altesaam geneem om dié foto’s te skep?

Ek werk nou al omtrent ’n jaar daaraan. Dit klink dalk baie lank, maar om hierdie klomp musikante se skedules te koördineer was nag! Op die ou einde moes ek maar wat ek noem ’n "guerrilla style of shooting" aanneem. As iemand ’n show het, dan neem ons die foto sommer op die verhoog of backstage. Ons het selfs Piet (Botha) se foto in die parkeerterrein agter Café Barcelona gedoen!

Jy is, sover ek verstaan, ’n betreklik onlangse bekeerling tot die dokumentering (grotendeels deur foto’s) van die gebeure op die plaaslike musiektoneel. Wat het jou hierna gelok? Wat geniet jy die meeste daarvan?

Die musiek is soveel meer as net musiek. Daar word musiek gemaak in ’n taal waarop ek trots is en deur mense wat my omstandighede verstaan. Musiek is vir my ’n baie persoonlike ervaring en daarom spreek plaaslike musiek ekstra hard tot my! Die hele rock-gemeenskap voel baie soos een groot familie en elke dag is ’n nuwe avontuur. 

Wat hoop jy neem mense weg van die uitstalling nadat hulle dit besoek het?

Die standpunt wat ek inneem met hierdie uitstalling, is dat plaaslike musiek enige dag op dieselfde vlak is as internasionale musiek. Mense besef dit nie aldag nie en ek wil graag my deel doen om daardie bewussyn te skep.


Piet Botha as Willie Nelson

Kan jy in hierdie stadium iets verklap oor jou toekomstige projekte?

Ek het wel begin dink aan my volgende projek ... Natuurlik gaan dit weer musiekgedrewe wees, maar hierdie keer voorspel ek baie aksie en grootskaalse produksiewerk.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top