Na-aap is ’n vertaling en verwerking van Franz Kafka se aangrypende "A Report to an Academy" waarin ’n aap, Rooi Piet, wetenskaplikes by ’n konferensie toespreek oor die verloop van sy lewe. Hy vertel van sy reis per skip van die oerwoude van Afrika na Hamburg, Duitsland, en hoe hy sy ingehokte bestaan oorleef het deur menslike gedrag te bestudeer en na te boots. Reney Warrington het gesels met regisseur Jaco Bouwer.
Kafka? Jy is nogal braaf om sy werk aan te vat?
Ja, ek was braaf om Kafka aan te vat en as ek nou terugkyk, dink ek dit was net plein stupid – mens kan ’n hele leeftyd verdwaal in Kafka se wêreld. Soms voel ek soos ’n hond wat sy eie stert probeer vang in my poging om dieper te grawe. Ander kere, na ure se werk en repetisie, voel ek dat ons weer uitkom waar ons begin het. In hierdie opsig voel ek dan wel dat ons reg doen aan Kafka en dat hy saam met ons is in hierdie skeppingsproses.

Dit is ’n eenmanstuk gebaseer op ’n Kafka-kortverhaal, maar daar is choreografie en interaktiewe elemente by betrokke. Verduidelik?
Van ’n eenman-vertoning na ’n "vyfman-vertoning” agter die skerms! Nee ek grap. Ek wil nie te veel weggee voor die vertoning nie, maar ek dink dit is my poging om uiting te gee aan Kafka se storie binne ’n eietydse estetika. Binne die huidige raamwerk van voorstelling, veral op platforms van moderne media, waar die onderskeid tussen die oorspronklike en voorstelling nie altyd so duidelik is nie, maak dit die natuur en die herskepping (kopie) daarvan moeilik identifiseerbaar. In ’n poging om getrou aan Kafka en die aard van sy werk te bly, het ek sekere tematiese keuses gemaak en as vertrekpunt gebruik: die beperktheid van sintaksis en die ingehoktheid van taal, vergelykings tussen kind- en aapwees en hoe ons deur kondisionering en onder die vaandel van beskawing deur na-aping taal en gebare as tekensisteme aanleer. Hierdeur gebruik ek dan vorme van "live sampling", "tracking" en "capturing" om die vasgevangenheid en na-aping van die stem en die beeld uit te beeld.
Dit kyk ook hoe kultuur, beskawing en konvensie die natuur verwring en hoe die mensdom weens aangeleerde gedrag nooit werklik vry kan wees nie. Dit klink na ’n swaar/ernstige stuk, wat nie veel hoop het vir die mensdom nie. Lees ek die blurb verkeerd?
Ja, dit is ernstige temas wat aangespreek word, maar mens moenie vir Kafka altyd te ernstig opneem nie. Hy is heeltyd besig om met ons die gek te skeer, in sy sinspelings tussen skyn en reëel. Ek probeer dan ook humor in te werk in die stuk as ’n manier om om te gaan met die eksistensiële vrae wat in die stuk gevra word.
Die kunstefeeste trek baie voete en pers. Bevorder dit kuns/kultuur/teater?
Ja. Die feeste is omtrent die enigste platforms wat teater aan die lewe hou. Ek is baie dankbaar daarvoor, maar soms voel ek dat werke dan net ’n lewe binne die feeste het en dat alles, vanaf die ontwikkelingsproses tot die eindproduk, agv die afwesigheid van ander befondsing baie tydelik en sporadies is. Dit skep ’n sekere frenetiese en maniese manier van werk, en mens kan dit soms ook voel in die eindprodukte vanaf ontwerp tot spel.
En is daar ’n lewe na die feeste vir die verskillende produksies? Waarheen gaan Na-aap ná Aardklop?
Ek is in die proses van onderhandelinge, maar Na-aap gaan moontlik volgende jaar na die Woordfees en KKNK. Ek sal ook graag ’n speelvak in die Kaap wil doen volgende jaar.

| Lokaal: Laerskool Mooirivier | Duur: 60 min | Ouderdom: A | |
| Taal: Afr. | Prys: R 90.00 |
| 24/9/2013 - 9:00 | 25/9/2013 - 12:00 | 26/9/2013 - 17:00 | 27/9/2013 - 12:00 |
| 28/9/2013 - 17:30 |


Kommentaar
'Braaf' is nie die Engelse 'brave' nie, dis 'dapper'.
Ek't vergeet om by te voeg, Kafka se storie was 'Ein Bericht für eine Akademie'.
Môre, Jan Rap. Dankie vir die insette. Klink of jy deel was van die onderhoud. 🙂
Nee, maar ek het Afrikaans gehad in die dae toe die onnies nog slae uitgedeel het.
Ja, ek is self met 'n bordpasser bygekom. Nie dat dit gehelp het vir die streke nie. Ek het bloot St 7 Tik dadelik gelos! Dankie tog daarvoor.