Geon Nel is Die goëlaar

  • 0

In Die goëlaar is die karakters getraumatiseer na 'n oorlog en het hulle 'n behoefte om met afgestorwe geliefdes te kommunikeer. Die prikkel van die toneelstuk lees so: "Daniël kan hulle help – hy praat met die afgestorwenes. Oftewel, dit is wat hy hulle laat glo, maar eintlik is dit oëverblindery. Of so het Daniël geglo … ’n Magiese verhaal vol truuks en illusies met kulkunstenaar en akteur Geon Nel as Daniël."

Naomi Meyer het al voorheen vir Geon Nel in sy hoedanigheid as towenaar dopgehou en kry nou die kans om hom uit te vra hieroor – en oor sy hoofrol in Die goëlaar.

Hallo Geon, ek weet jy is waarlik ’n goëlaar, net soos wat die Clover Aardklop-produksie waarby jy vanjaar betrokke is, verklap. Maar vertel ons eers van jou ander talente, want van jou weet ek jy is ook danser en akteur.

Ek is nou al vir ’n paar jaar ’n voltydse akteur, poppespeler en kulkunstenaar – ek weet nie of ek myself ’n danser kan noem nie. Die naaste aan dans wat ek die afgelope paar jaar gekom het op die verhoog, was met Balbesit wat ons onlangs gedoen het. Ek weet ook nie of ek dit juis “dans” sou noem nie. Maar ja, as ’n produksie vereis dat ek moet dans, dan kan ek sekerlik mense flous om te dink dat ek kan dans! 

Die afgelope paar jaar was ek by verskeie produksies betrokke as akteur (oa Romeo en Julia, Die Storm, Kringe in ’n bos en meer onlangs Balbesit, waarvoor die hele cast ’n Kanna gewen het vir beste akteur). Ek het drama studeer by die Universiteit Stellenbosch en het my honneursgraad in spel daar verwerf.

Ek het ook n paar jaar gewerk by die satiriese program ZANews as poppespeler, waar ons ook ’n SAFTA gewen het vir beste ensemble.

As kulkunstenaar eet die kinders uit jou hande; ek het jou al sien optree in biblioteke en teaters. Hoe het die samewerking tussen jou en Hugo Theart-hulle van TEATERteater begin?

Ja, dit is vir my ongelooflik lekker om te sien hoe die kinders dit geniet. Hulle glo nog aan regte-egte towenaars, en dit maak die lewe vir my ook bietjie meer pret!

Ek het al ’n paar keer saam met Marthinus Basson gewerk aan produksies, en ek het vir Hugo ontmoet in een van hierdie produksies waarin hy ook gespeel het (Die Storm). Ek kan nie presies onthou wanneer ek dit vir hom genoem het nie, maar ek het begin praat oor die idee om kulkuns en teater saam te smelt en ’n toneelstruk daaruit te skep. Hierdie idee het so ’n paar jaar rondgeswem in ons koppe, tot ons besluit het die tyd is nou reg om dit aan te pak. Hieruit het die Woordfees-kindervertoning en Die goëlaar gespruit; al twee is vir ons sover eksperimente om te kyk wat moontlik is met die vermenging van kulkuns en teater.

Is toorkunsies alles sommer maar net oëverblindery?

Dit is nogals ’n vraag wat ek baie kry, en ja, dit is als oëverblindery en truuks! Geen bose magte word ingespan nie!

Waar het jou eie belangstelling hierin begin? Kan jy die dag onthou waarop jy besluit het dis wat jy gaan doen om jou brood en botter te verdien?

Sjoe, ek was seker so nege jaar oud toe ek die eerste keer daarmee begin het. Ek kan nog goed onthou dat ek ’n vertoning van Martino gesien het en dit my onmiddellik gefassineer het. My ma het daarna vir my ’n hele biblioteekboek afgerol en in ’n lêer gesit en dis hoe dit begin het. Ek kan nie onthou dat ek ooit regtig ’n besluit geneem het dat dit een van my beroepe gaan word nie; dit het so te sê vanself gebeur. Ek was na skool vir twee jaar Londen toe, en ek dink dis daar waar die idee van kulkuns as ’n beroep my die eerste keer regtig bygeval het.

Wag ’n bietjie, is dit waarmee jy jou brood en botter verdien? Of is jy net ’n vermaaklikheidskunstenaar, ’n entertainer in ’n bedryf waar mens al jou talente gebruik om kos op die tafel te kry?

Op die oomblik is kulkuns nie al hoe ek my brood en botter verdien nie. Ek wissel maar af tussen akteur wees, kulkunstenaar en poppespeler. Dis maar ’n moeilike bestaan somtyds in die vermaaklikheidsbedryf, so ’n mens moet maar so veelsydig as moontlik probeer wees om kos op die tafel te kry.

 

 

Hoe sou jy Die goëlaar beskryf?

Ja, ’n mens sou dit as ’n magies-realistiese toneelstuk kon beskryf. Dit handel maar oor hierdie karakter wat probeer sin maak uit die dood en wat daarna kom. Ek wil nie te veel verklap nie, maar die atmosfeer en beligting van die stuk is veronderstel om die paar kulkunsies en illusies soveel meer trefkrag te gee. Dit gaan maar meer om karaktervorming en om ’n interessante storie te vertel en dit dan in te kleur met ’n paar kulkunsies. So ja, magies-realisties klink vir my reg.

Wat wil jy self vanjaar by Aardklop gaan kyk?

Daar is ’n hele paar produksies wat ek wil sien, maar dié wat ek nou aan kan dink, is macbeth.slapeloos, Land van Skedels, Na-Aap, Sfeer, The Three Little Pigs en Wie drink wat. Ek is self ook nog betrokke by ’n ander produksie, Oorsee.

 

 


 

Lees 'n onderhoud met Christine Truter, regisseur van Die goëlaar.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top