Cloud Atlas: Wat ’n fliek!

  • 0

Cloud Atlas

Regisseurs: Lana en Andy Wachowski, Tom Twyker

Rolverdeling: Tom Hanks, Halle Berry, Hugh Grant, Jim Broadbent, Susan Sarandon

Sjoe, wat ’n fliek! Dis min dat ’n film werklik die beskrywing “epies” verdien, maar hier is dit sowaar in die kol.

Daar is verskeie storielyne wat in verskillende tydperke afspeel: die transatlantiese slawehandel van die 1850’s; ’n jong komponis in 1936 op die vooraand van die Tweede Wêreldoorlog; ’n verhaal in 2012 wat fokus op korporatiewe korrupsie; Nieu Seoel, ’n hipertegnologiese stad in die 22ste eeu; en ’n nedersetting op ’n ander planeet baie ver die toekoms in.

Die verskillende storielyne word aangebied asof jy na spelende kinders op ’n mallemeule sit en kyk; dieselfde gesigte kom telkens by jou verby, maar met elke omwenteling is hulle wat tyd en ruimte betref, op ’n ander plek in die storie. Ongelukkig het ek nie die boek gelees nie; dus het ek gesukkel om tydens die kyk, die storielyne aanmekaar te las, maar die belang van die film lê in sy filosofiese inhoud. As jy fyn luister na die dialoog, veral tydens die ondervragingstonele wat soos ’n goue draad deur die film loop, maak alles uiteindelik op ’n vreemde manier sin – jy verstaan sonder dat jy werklik kan uitspel wát jy verstaan.

Die fliek is nie maklik te kategoriseer nie. Ek sou dit eerder tussen die kunsflieks as onder hoofstroomvermaak plaas, want dit vereis ’n gesofistikeerde en geduldige oopkop-kyker. Maar dat drie briljante regisseurs hulleself hier ten volle uitgeleef het, is seker.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top