Close
Met Eden Dambrine en Gustav de Waele
Regisseur: Lukas Dhont
Slegs op iTunes
Hierdie Belgiese rolprent in Frans en Nederlands het in 2022 die Grand Prix by die Cannes-filmfees gewen. Dit is ook vir ’n Oscar benoem as beste buitelandse rolprent en het daarna op feitlik elke rolprentfees benoemings of pryse ontvang. Maar dit het gelei tot ’n fel debat oor die artistieke waarde van Close en wat dit tot die rolprentbedryf, en jeugfilms in die besonder, bydra – spesifiek verhale oor die verwerking van smart, die ontdekking van seksualiteit en die skade wat wankommunikasie en emosionele verwarring kan aanrig.
Ook die verantwoordelikheid van die regisseur. Het Lukas Dhont daarin geslaag om sy tema met fyn insig en verantwoordelikheid oor te dra? Of is daar gapings en regisseursmisgissings in die verhaal?
Dit is ’n veelbesproke rolprent wat uiteenlopende reaksie tot gevolg gehad het, ten spyte van die talle pryse. Ook die intense spel van twee dertienjarige seuns, en die wyse waarop jong gemoedere trauma verwerk, het reaksie uitgelok.
Dit is onmoontlik om die rolprent verder te ontleed sonder om sekere geheime te verklap. Hier volg dus ’n aantal plot spoilers. Indien jy nog nie die rolprent op iTunes gehuur het nie, of, na aanleiding van bogenoemde beskrywings, dit graag nugter en onbevooroordeeld sou wou sien sonder om te weet watter pad die narratief volg, lees liewer die res van die resensie nadat jy daarna gekyk het. Die resensie moet ongelukkig belangrike wendings verklap om die volledige prentjie te probeer gee.
...........
Twee dertienjarige seuns, albei op die rand van die ontdekking van vriendskap, nuwe ervarings, tragedie en die uitpluis van seksualiteit, is in ’n kokon van vriendskap toegespin. Hulle is nader as broers aanmekaar en doen alles saam. Die rolprent se gevierde uitbundige fietsrytonele kry later, in retrospektief, ’n ironiese, veelvlakkige betekenis.
.............
Twee dertienjarige seuns, albei op die rand van die ontdekking van vriendskap, nuwe ervarings, tragedie en die uitpluis van seksualiteit, is in ’n kokon van vriendskap toegespin. Hulle is nader as broers aanmekaar en doen alles saam. Die rolprent se gevierde uitbundige fietsrytonele kry later, in retrospektief, ’n ironiese, veelvlakkige betekenis.
Aanvanklik beeld die regisseur, Lukas Dhont, hul verhouding uit as vriende en maats wat nie sonder mekaar kan bestaan nie. Waar die een gaan, gaan die ander. Leo is meer geneig tot die konvensionele roete van inpas en aanvaarding. Die kunstige Remi onttrek hom aan die samelewing en wrede aantygings wat gemaak word. Hy is ook meer bewus van die wyse waarop hul vriendskap ontwikkel, het beter insig in sy eie gevoelens, en ervaar vrees vir die gemeenskap se siening daarvan.
Op skool plaas veral die meer volwasse en selfversekerde Leo (’n briljante debuut deur Eden Dambrine) dikwels sy kop op sy vriend Remi (’n ewe uitstekende Gustav de Waele) se skouer. Dit ontstel die res van die klas. Daarom begin hy aan sogenaamde “manlike” sportsoorte deelneem om in te pas. Remi verkies egter om in sy musiek weg te kruip.
Twee tonele bring ’n waterskeiding. Die eerste is wanneer Remi uit die bed klim waar hulle saam as maatjies slaap en sy matras op die vloer gooi en daar slaap, terwyl Leo dit nie verstaan nie. Maar daar is veel erger gevolge.
Aanvanklik verdra die leerders die seuns se gehegtheid aan mekaar as blote vriendskap. Maar dan steek boeliegedrag en homofobie kop uit. Die vraag ontstaan egter, en dit is die rolprent se mees pertinente vraag: Is die outjies bloot goeie vriende wat mekaar as pantser teen die nare werklikheid daarbuite gebruik? Of is daar meer?
Vergelyk die tonele waar hulle dikwels, met hul gewone werkersklas-ouers se medewete, bloot langs mekaar lê en in verwondering na mekaar staar. Hulle is nog nie emosioneel in staat daartoe om hul vriendskap te verstaan nie. Maar ná ’n stoeitoneel trek Remi terug en raak afsydig.
Beweer die rolprent in die subteks dat die ander skoolseuns se aanmerkings die vriendskap besmet het?
Albei besluit om hul vriendskap af te koel en nuwe vriende te maak, maar besef onteenseglik dat hulle nou twee eilandjies geword het terwyl die see van ’n antagonistiese samelewing hulle skei.
Hierna ’n verbysterende toneel. Dit tref die kyker soos ’n bom. Remi pleeg selfdood. Daar is geen briefie, geen verklaring, geen gesprek met Leo en geen verduideliking nie. Hy neem sy eie lewe.
Die res van die rolprent ontleed hoe Leo Remi se dood probeer verwerk. Hy was nog nooit in aanraking met die dood nie, en om op so ’n weerlose ouderdom op dié manier daarmee gekonfronteer te word, is om emosioneel te sterf. Hy is vir die res van sy lewe gekneus vanweë onbegrip en vooroordele.
Die rolprent pak dan nog ’n kwessie aan: Het hierdie twee seuns te vroeg in hul lewens ’n wedersydse gevoel ontdek wat verby vriendskap gestrek het? Was hulle nog te onvolwasse en onvoorbereid daarvoor? Of het ’n wrede gemeenskap hulle verwerp, misverstaan en beletsel?
Daar word eintlik geen antwoord gebied nie, behalwe dat Leo noue kontak met veral Remi se ma het, wat Leo se bedroefdheid verstaan en daarmee identifiseer, maar geen haat of verwyte na sy kant slinger nie. Tog wonder die kyker: Was sy volkome bewus van hoe diep die vriendskap was? Was dit blote onskuldige gehegtheid aan mekaar (iets wat Leo self probeer uitpluis gedurende die laaste deel van die aandoenlike maar ook ontstellende rolprent)? Neem Leo nou Remi se plek in haar lewe in?
Sou Leo se gesiggie in die slottonele, nadat hy gebreek het, aandui dat hy op ’n vroeë ouderdom reeds begin het om die dood te verstaan en vrede te maak met die verwoestende gevolge daarvan, naamlik om voort te gaan met die lewe selfs al kan jy nie meer voortgaan nie? Of is die rolprent eintlik maar net ’n suiwer, ongeskonde ode aan ’n teer vriendskap wat in ’n tragedie verander as gevolg van vooroordeel en die norme van die samelewing?
Dit is vrae wat die kyker vir hom- of haarself moet uitpluis. Daar is miskien net een fietsrytoneel te veel waar die seuns, en later die eensame Leo, deur die veld of blomme jaag.
En tog: Gaan die rolprent nie uiteindelik oor die dood van onskuld en jeugdigheid nie? Die skok van die werklikheid skop dikwels eers later in die tienerjare in, terwyl hierdie een dit vroegtydig, dalk te vroeg, byhaal. Is enige mens ooit “volwasse” genoeg of “gereed” vir so ’n verlies?
Sommige kykers mag vind dat hulle die rolprent nie enduit sal kan kyk nie; dat dit net te realisties is.
.........
Feit bly staan: Dit mag een van die mees aandoenlike en intense films weet wat jy nog gesien het. Maar dit laat letsels. Realisme word hier tot die uiterste gevoer.
............
Feit bly staan: Dit mag een van die mees aandoenlike en intense films weet wat jy nog gesien het. Maar dit laat letsels. Realisme word hier tot die uiterste gevoer.
As daar ooit ’n rolprent was wat geen antwoorde verskaf op die vrae wat dit vra nie, is dit hierdie een, want daar is moontlik nie antwoorde nie.
Letsels mag op die oppervlak heel, maar nie in die siel nie.


