Cloete Breytenbach (1933–2019): die fotograaf wat die lensdigter genoem is.

  • 1

Cloete Breytenbach (foto: Naomi Bruwer)

Die ding met die fotograaf Cloete Breytenbach op ‘n verslagsending was dat hy altyd die regte skoot kon neem al het jy, die verslaggewer, ewe wysneusig probeer om “hoeke” vir hom voor te sê.

Hy sou dan, stil-stil, mond kopknikkend gepers, vriendelike oë na jou gemik, maak soos jy, onnosele verslaggewer, gevra het. Dán het hy die regte ding gedoen: sy hoeke self gekies en dan sommer so geklik-klik-klik.

So sal hy seker deur die meeste oudkollegas onthou word – die ou met die glimlag, sonder woorde; die ou wat jou storie deur sy fotografiese deelname kon red.

Aanvanklik persfotograaf vir Die Burger en Cape Times  het hy in koerantjoernalistiek die gesogte “go to”-vryskut geword. Kalm, gemaklik, nie baie woorde nie, skewe glimlag, goeie begrip van die storie.      

Hy het agter oorloë aangevlieg, in gevaarsituasies beland, kon die rook en brande, dood en afgryse van mense op die slagveld op film vaslê. Sy foto’s uit die Savimbi’s Angola-versameling toon die vreeslike kante van oorlog: die doodmaak, en die lewe-soek van gewone mense in oorlogsones; aangrypend ook die foto’s van kindersoldate, byna te klein vir die groot wapens wat hulle moes dra. Dis moontlik oor hierdie “menslike” raaksien dat hy as die “lensdigter” beskryf is.

Sy Distrik Ses-reeks foto’s het nie net die fotografiese inkyk in die mense van daardie buurt vasgelê nie, maar ook bygedra tot ‘n sterk beeldende geskiedenis van daardie hartseer verlede.

Die Guggenheim in New York het werk van hom: foto’s van hoofman Albert Luthuli. ’n Jaar gelede is ‘n besonderse uitstalling van sy werk in Portugal gehou. Boeke van sy foto’s is gepubliseer.

Dikwels moes Cloete ook die goedige spot aanhoor van die Drie Grotes: die Breytenbach-broers, die een so sonderlik, en aantreklik, as die ander. Jan Breytenbach, soldaat, stigter van die gevreesde/beroemde 32 Bataljon in die sg Grensoorlog. Breyten, digter, aktivis, Afrikaanse wêreldling. En dan Cloete, soms sinies, die ou wat ‘n slu grap op ‘n sagte manier kon vertel.

Fotograwe het ‘n eie oog. In ons land was en is daar uitstaande fotograwe, en van hierdie panteon sal Cloete Breytenbach deel wees.

Hy was al in sy leeftyd ‘n ikoon – en hy sou kopskud, effens vererg wees oor hierdie beskrywing. Feit bly staan: Hy was, en bly, ‘n ikoon in die beelde wat hy geskep het.

Cloete is op die nanag van 31 Mei vanjaar na hartomleiding oorlede. Sy dogter het na berig word vertel dat hy selfs na die operasie gerusstellend geglimlag het.

  • 1

Kommentaar

  • Hierdie is 'n raakvat penskets van Cloete. Ek het hom ook so geken. Ons het vir 'n ruk kantore naas mekaar gehad en ek het veel te wete gekom van almal wat hy ken en geken het. Sy opregte belangstelling in die mens het my altyd getref.
    'n Gunsteling tema in ons gesprekke was altyd sy uitwys van foto's wat hy geneem het en David Goldblatt "gemis" het. Dit was nou die kere wat hulle saam op dieselfde plek was. Die een, my gunsteling, is 'n bejaarde vrou met 'n pikante hoedjie op die kop wat by 'n musiekwinkel inglip om net weer 'n paar note te druk.
    Ek het nooit vir David gevra nie, maar ek is seker dat Goldblatt dit self sou sien as "the missed opportunity". Ek het gehou van die idee dat Cloete hier 'n "uitklophou" geplant het.
    In ons laaste gesprekke het hy my altyd gevra waar ek dink hy in die kanon van groot Suid-Afrikaanse fotograwe sou inpas. Martie se huldeblyk help met die antwoord: Eensoortig - in eie klas.
    Cloete, jy het jou merk gemaak en jou nalatenskap is bevestig - eiesoortig, sonderling in ons geledere.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top