Citybooks gaan nou in Afrikaans met stede om

  • 0

Die Vlaams-Nederlandse Huis deBuren in Brussel neem jou op reis na verskillende stede met hul luisterverhale: Radioboeken en citybooks. Twaalf van hierdie verhale, oorspronklik in Nederlands, is in Afrikaans vertaal deur Rentia Bartlett-Möhl. Sy beantwoord enkele vrae oor die projek.

Goeiedag, Rentia. Geluk met die totstandkoming van Afrikaanse vertalings vir die citybooks-projek. Kan jy kortliks verduidelik wat die projek behels?

Dankie, Henry. Die projek behels twaalf luisterverhale in Afrikaans – elkeen 30 minute lank. Elkeen is vanuit Nederlands na Afrikaans vertaal, is deur sensitiewe en ervare stemme voorgelees, en kan gratis afgelaai en na geluister word.

 Waar het die idee en motivering om hierdie radioboeke in Afrikaans te vertaal vandaan gekom?

 Ná my studies aan die Universiteit van Utrecht het ek ’n sesmaande-internskap in Brussel gedoen by die uiters opwindende kultuurhuis deBuren wat literêre projekte regoor Europa en ook in Suid-Afrika organiseer.

deBuren het reeds ’n projek in Suid-Afrika gedoen – citybooks Grahamstad, asook ’n reeks Radioboeke. Ingrid Winterbach, Ronelda Kamfer, Toast Coetser en ook ’n paar Engelse Suid-Afrikaanse skrywers het reeds vir hulle luisterboeke geskryf.  Omdat die projekte in Suid-Afrika so goed verloop het en al die Suid-Afrikaanse radio- en stedeboeke tot dusver nog die meeste aflaai-sukses van al deBuren se luisterverhale geniet het, het ons tydens my internskap besluit om twaalf van hul beste luisterverhale na Afrikaans te vertaal.

Dit is moeilike verhale, baie literêr en kompleks, so dit was vir my nogal ’n uitdaging. ’n Mens moet baie van die agtergrond van die kultuur waaruit jy vertaal weet om stories korrek te interpreteer en dit in ’n ander taal om te skryf. Ook is Afrikaans en Nederlands so na aan mekaar. Ek kan Nederlands praat en het vir meer as twee jaar in Nederland en België gewoon, so ek het later begin dink dat sekere sinne wat ek vertaal reg klink in Afrikaans – terwyl dit eintlik Nederlandisties was. Die nuwe Afrikaans Nederlandse Woordeboek – ANNA – het my besonder baie gehelp, asook Amelia de Vaal, wat ons redigering gedoen het en my op ’n paar valkuile gewys het.

Van die beste “voorlesers” in Afrikaans is ingespan om die radioverhale op te neem – Richard van der Westhuizen, Lochner de Kock, Ruda Landman, Rika Sennett, Hannah Borthwick en Marcel van Heerden is betrek.  Hoe is daar op hulle besluit en wat was hul reaksie op die ervaring?

Ek het met Margot Luyt wat voorheen by RSG gewerk het, gaan gesels en sy het my raad gegee met stemkunstenaars. Omdat ’n ateljee in Johannesburg bereid was om die opnames vir ons teen ’n spesiale bedrag te doen, moes ek stemme in Johannesburg gebruik. Ek het maar my kans gewaag en akteurs gekontak wat ek gedink het die regte sensitiwiteit en ervaring het om die verhale voor te lees. Dit was belangrik om nie net stemme te gebruik wat advertensies kan doen nie, maar spesifiek akteurs met ervaring met die lees van literatuur. Al die stemme wat ons gebruik het, het ongelooflik goed by die verhale gepas.

En die terugvoering? Ongelooflik positief! In Johannesburg leef die meeste akteurs maar van advertensies en sepies. Ek het die gevoel gekry dat die akteurs so verlig was om uiteindelik weer iets literêr te kan doen. Ook was dit baie intieme opname-sessies. Net ek, die akteur en die klankman was elke keer teenwoordig. Dit het meegebring dat ons baie vryheid gehad het en kon eksperimenteer met die interpretasie van die verhale. Van die verhale – byvoorbeeld “Die Vurk as mens”, wat Rika Sennett ongelooflik mooi voorgelees het, behels baie klankimprovisasie. Ook Lochner de Kock het verskeie Vlaamse dialekte nageboots in sy voorlesing van Peter Holvoet Hanssen se “Die missie in Oostende”. Dit was ’n verrykende ervaring en ek het net weer besef literatuur moet hardop gelees word, dit moet gehoor word!

Wat moet ’n mens weet van die skrywers wat deelgeneem het en gaan deelneem aan die projek en hoe hulle stede “ontleed”? ’n Mens kan maar aanvaar die verhale dien nie bloot as publisiteit vir die stede nie, of hoe?

Ons het spesifiek Nederlandse skrywers gekies wat al ’n klein bietjie meer bekend in Suid-Afrika is, of ten minste wat ons dink Suid-Afrikaners meer van behoort te weet. Skrywers soos Adriaan van Dis, Arnon Grunberg, Kees ’t Hart, Joke van Leeuwen, Peter Holvoet Hanssen en Menno Wigman het almal al as gasskrywers die Woordfees op Stellenbosch besoek. Ons verwag nie dat Suid-Afrikaners al iets van hierdie skrywers weet nie, maar hoop dat hulle nadat hulle een verhaal in Afrikaans gehoor het, nuuskierig sal wees om méér van hul werk te lees. ’n Skrywer soos Arnon Grunberg is wêreldbekend – veral in Duitsland kry sy werk uiters goeie aftrek. Ons wil hê sy werk moet ook in Suid-Afrika gelees word. Lina Spies is juis besig om sy bekende boek Tirza te vertaal. Sy boeke is skreeusnaaks en uiters droog. Dalk gee sy verhaal “Klag” wat ons vertaal het ’n goeie voorsmakie.

Die skryf van ’n stadsverhaal is beslis nie noodwendig ’n lofsang in die naam van die stad of ’n manier om toerisme aan te wakker nie. Skrywers moet omgaan met die stad, die goeie en slegte kante daarvan beskou en nadink oor wat die ruimte – wat verlede, hede en toekoms van die stad insluit – kan beteken.

In 2013 beplan deBuren om skrywers op Stellenbosch los te laat. Dié dorp word in ’n mediavrystelling beskryf as ’n “studentedorp in ’n lugbel”. Waar kom dié beskrywing vandaan en hoe vermoed jy sal die skrywers dié dorp ervaar en, as’t ware, ontleed?

Toe Stellenbosch as onderwysinrigting ontstaan het, was dit meer as net ’n plek waar studente opleiding ontvang het. Dit was ’n plek waar Afrikaners probeer het om ’n eie selfstandige (en miskien, geïsoleerde) kultuur op te bou. Of hierdie isolasie ’n goeie of ’n slegte ding is, kan ’n mens natuurlik lank oor debatteer. Stellenbosch is vandag nog ’n universiteitsdorp in die vrugbare Jonkershoekvallei in die hart van die Wes-Kaapse wynland, wat oor jare heen stadig en min verander het. ’n Dorp met ’n rustige bekoring – strate wat mekaar reghoekig kruis, witgekalkte huise, kabbelende waterslote van die stroompies van die Eersterivier langs die strate. Maar dit is ook ’n dorp wat ek dink nuut oor haar beeld sal moet dink as sy méér as net ’n geïsoleerde idilliese hawe binne die demokratiese Suid-Afrika wil wees. Of miskien is sy dit reeds? Ons wil graag dat skrywers nadink oor die beeld wat hierdie dorp in mense se geheue het en oor wat daarmee kan of moet gebeur. Dat hulle krities met die Stellenbosch-ruimte moet omgaan.

Marlene van Niekerk, wat ook een van die stedeboeke gaan skryf, het reeds laat weet dat sy ’n essay van Stellenbosch in die komies-satiriese trant gaan skryf. Verder het ons ook ’n dokumentêre fotograaf wat ’n reeks van 24 stadsportrette gaan neem – en hopelik sal hy méér as net die mooie berge en ou geboue vasvang. Die honneursstudente van die departement joernalistiek gaan ’n reeks van 24 een minuut lange film clips oor Stellenbosch vervaardig wat ’n 24-uur dag in die dorp gaan weergee. Die idee is ’n samewerkende kunswerk van woord, beeld en klank – met Stellenbosch as onderwerp.

Die verhale kan gratis afgelaai word van citybooks se webwerf af. In hoe ’n mate dink jy weerspieël dit die moontlike toekoms van radioverhale en ook harde of sagte kopieë van literatuur?

Die projek gebruik beslis media op ’n baie boeiende manier. Een ding wat my baie opgewonde maak oor veral die webblad as medium waar ’n mens die luisterboeke kan aflaai, is dat dit iets soos ’n gedeelde werkruimte skep. Waar verskillende tale, verskillende kunstenaars en verskillende media interaksie met mekaar het. deBuren het ’n wyd verspreide vertalingstelsel. Op één blad kan na vyf verskillende stedeboeke van vyf verskillende skrywers in Engels, Nederlands, Frans en Duits, asook die taal van die stad waar dit afspeel, geluister word. Noudat van daardie boeke ook in Afrikaans vertaal is, neem Afrikaans deel aan die gesprek. En nie net kan die verhale geluister word nie, maar ’n mens kan ook na baie unieke foto’s van elke stad kyk – wat telkens deur ’n opkomende fotograaf geneem is. Of ’n mens kan kyk na kort film clips van die stad en sien wat elke uur van die dag op ’n gewone werkdag daar gebeur.

Vir my wat mal oor boeke is en ure in biblioteke kan deurbring, is die luisterboeke definitief nie ’n vervanging van die harde kopieë van literatuur nie. Maar dit skep wel ’n alternatief. Elke verhaal is maar 30 minute lank. Vir besige mense met talle werktake en besige skedules is dit ’n lui en maklike manier om met nuwe literatuur van opkomende én meer gevestigde skrywers kennis te maak. Of om ’n ander taal te leer deur na die vertaling te luister. Dis telkens ’n verhaal wat byvoorbeeld in die motor of trein op pad werk toe of op ’n oefenfiets in die gym geluister kan word. Of natuurlik in die donker voor slaaptyd. Die idee is dat jy na die stad verplaas word deur na ’n verhaal daaroor te luister sonder dat jy jou huis verlaat.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top