
Chromatique
Met Wilken Calitz
7 Maart 18:00
Eikestad-nuus Klankkamer: Boektent
US Woordfees 2014
Vrydag 7 Maart tydens vanjaar se US Woordfees het die talentvolle Wilken Calitz sy gehoor se musiekvermoëns getoets met ‘n verskeidenheid verskillende klanke geïnspireer deur verskeie persoonlike ervarings, herinneringe en komposisies.
Chromatique, soos die naam van die vertoning lui, is nie ‘n fraaie Franse naam nie, maar verwys na ‘n chronologiese toonleer, waar alle note – die wit én die swart – in een stuk gebruik word. Mens kan maklik daardeur geflous word, want in kuns beteken “chromatiese kleure” nét skakerings van grys (wit en swart, dus), en Wilken se eie komposisies vir talle snaarinstrumente is juis kleurvol. Van klanke geïnspireer deur Kayamandi, tot ‘n treinrit met vertraging van Kaapstad na Mosambiek, “Nkosi Sikelele”, ‘n rit in die Franse Alpe, die teenstrydighede van ‘n stad soos Kaapstad, Ierse dansliedjies en selfs die middelste beweging van Philip Glass se vioolkonsert, word ‘n hele spektrum van kleure in klanke geverf.
Wat Chromatique so besonders maak, is die vindingryke gebruik van instrumente. Wilken se broer Wietsche is ‘n elektroniese ingenieur en dit was sy idee om ‘n orrel met pedale wat hulle in ‘n pantjieswinkel gevind het, ‘n “oorgaan-oorplanting” te gee. Die pedale van hierdie instrument is uit die orrel gehaal en gekoppel aan ‘n synthesizer wat ‘n verskeidenheid klanke kan voortbring. Die gevolg is ‘n eksperiment waarin al die klanke onder die son op die synth se geheuebank gelaai kan word en deur die orrelpedale opgeroep word. Verder gebruik Wilken ‘n looping-pedaal wat verskillende klanke oor mekaar kan opneem en ‘n vrolike geroesemoes van chromatiese klanke en ritmes tot gevolg het.
Vir hierdie vindingrykheid verdien die Calitz-broers beslis erkenning. Maar Chromatique is nie net kreatief en vernuftig nie. Wilken bewys daarmee dat hy verskeie snaarinstrumente uitstekend kan beheers en as enkeling ‘n hele verhoog kan volmaak. ‘n Uitstekende debuut!

