Christopher Torr en Laurika Rauch se “Hot gates” in Engels en Afrikaans: ’n vergelykende studie

  • 0

Foto van Laurika Rauch: verskaf

1. Inleiding

In 1995 het die plaaslike kabaretkunstenaar en sanger Laurika Rauch ’n konserttoer onderneem en in Kaapstad vir die eerste keer die nuwe lied “Hot gates” aan die Suid-Afrikaanse gehoor bekendgestel. Haar liedjieskrywer-eggenoot Christopher Torr het die lied spesiaal vir haar gekomponeer, en dit was van die begin af baie gewild. Die lied bestaan hoofsaaklik uit plekname van dwarsoor die wêreld, benewens ’n koorgedeelte wat as ’n refrein herhaal word en ook as ’n finale koorstrofe, met geen ander taalkundige elemente aanwesig nie. Daar is 58 plekname in die teks, wat uiteraard buitengewoon is, en die “vreemde” komposisie bring onmiddellik die volgende vraag na vore: Waaroor gaan die lied? Vertel die plekname ’n storie? Indien “Hot gates” as ’n musikale kunswerk beskou word, wat word deur die lirieke uitgebeeld? Dit gaan dus uiteindelik oor die betekenis van eiename, in hierdie geval plekname.

Die Afrikaanse weergawe van die lied, ook met 58 plekname, is in 2008 uitgereik. Dieselfde vrae duik uiteraard op, ten spyte van die wysigings wat Torr aangebring het. Net een nuwe Suid-Afrikaanse pleknaam verskyn in die Afrikaanse weergawe, terwyl nege ander nuwe plekname uit verskillende lande hulle verskyning maak. Die Afrikaanse weergawe is op ’n CD-album 16 jaar later (2011) uitgereik – Torr en Rauch het waarskynlik tot die slotsom gekom dat ’n Afrikaanse weergawe ook suksesvol kan wees.

2. Plekname in liedere

Plekname, en ook ander eiename, kom dikwels in liedjies voor. Dis baie duidelik dat plekname in liedjies nie net ’n kliniese verwysingsfunksie het wat gelokaliseer en op ’n wêreldkaart geïdentifiseer kan word nie. Dis ook algemeen bekend dat digkuns dikwels in musiek omskep word (Simpson 1970:26) en baie liedjies word as liriese digkuns beskou. Daar is dikwels ’n ooreenkoms tussen digkuns en die lirieke in liedjies. ’n Baie bekende kunstenaar is die onlangse Nobelpryswenner Bob Dylan. Nie net is hy ’n begaafde liedjieskrywer nie, maar hy is ook ’n digter. Hy het self die volgende uitlating gemaak: “I’m a poet and I know it.” Ook op ’n ander album (1963) het hy gewoon ook die volgende gesê: “Anything I can sing, I call a song. Anything I can’t sing, I call a poem” (Neethling 2016:312). Daar is dus ’n ooreenkoms tussen digkuns en die lirieke in liedjies.

Daar is ook talle voorbeelde van plekname in liedtitels. Omdat Engels ’n wêreldtaal is, kom dit dikwels voor, en hier volg ’n paar lukrake voorbeelde, veral ou bekendes:

Uit die Amerikas: The old Kentucky home; New York, New York; Blue Hawaii; Sending postcards from LA; It never rains in southern California; California Blues; Streets of Philadelphia; Brownsville girl; If you ever go to Houston; Mississippi; Blueberry Hill; Hotel California; The girl from Ipanema; Don’t cry for me Argentina.

Uit Europa en die Verenigde Koninkryk: Tulips from Amsterdam; Arriverderci Roma; Galway Bay; The flower of Scotland; Mull of Kintyre; Cliffs of Dover; Barcelona; The streets of London.

In Afrikaans verskyn dit minder dikwels, ook omdat die luisterliedjie betreklik laat ontwikkel het. Tog wissel dit van die baie ou (bv Daar doer in die Bosveld) tot meer onlangse liedjies (bv Die Paarl is ’n wonderlike plek); Skipskop; Pretoria; Ver in die ou Kalahari; Beautiful in Beaufort-Wes; Op Blouberg se strand; Gee jou hart vir Hillbrow; Die trein na Matjiesfontein; Aggeneys; Karoonag; Hemel op Tafelberg; Victoriabaai; Na Mosselbaai; Stellenbosch die roep my; Hanoverstraat

In al die bogenoemde gevalle, Engels en Afrikaans, word ’n bepaalde lied dikwels met ’n spesifieke sanger verbind wat dit bekendgestel het. Sentimente soos heimwee, verlange, en nostalgie speel dikwels ’n kenmerkende rol in baie van die liedjies. Liedjieskrywers of komponiste het reeds baie lank gelede besef dat plekname dikwels betekenisvol is.

Die term luisterliedjie kan as volg gedefinieer word: “Naam vir ’n ligtemusiekliedjie waarin die liriek poëtiese elemente bevat wat deur die musiek gedra word, en wat soms ’n boodskap oordra of ’n klein verhaal vertel” (Labuschagne en Eksteen 1992). Al die liedjies hier bo genoem voldoen waarskynlik aan hierdie definisie. Of die dramatiese “Hot gates” as ’n “ligtemusiekliedjie” beskou kan word, is debatteerbaar, gewoon omdat die lied oor die algemeen gaan om tragiese en moeilike omstandighede wat die mensdom oorval het.

In die geval van “Hot gates” behoort dit vir almal wat daarna luister of geluister het, duidelik te wees dat die groot aantal plekname van oor die hele wêreld heen wat in die lied figureer, of dit nou die Engelse of die Afrikaanse weergawe is, geen geografiese verband met mekaar het nie. Al wat die plekname aan mekaar koppel, is die tragiese of opspraakwekkende gebeure in of naby die genoemde plekke. Dit skep uiteraard ’n andersoortige lied wat ’n veel groter uitdaging bied, nie net aan die komponis nie, maar ook aan die luisteraar.

3. Pleknaamnavorsing

Die studie van plekname is baie gewild en daar bestaan ’n groot aantal veelsydige pleknaamnavorsers. Omdat “Hot gates” so besonders is vanweë die groot aantal plekname, is die beskikbare navorsing dikwels nie van toepassing nie. Die meeste navorsers stem wel saam dat elke pleknaam ’n storie vertel. Betreffende “Hot gates” met sy baie plekname, is dit onmoontlik om elke pleknaam se storie te vertel. Daar is gewoon nie in hierdie bydrae spasie om al 58 “stories” breedvoerig te vertel nie, en enige bydrae oor die plekname in “Hot gates” sal waarskynlik enige navorser dwing om ’n seleksie van die plekname te maak ten einde hulle besondere agtergrond uit te beeld. Net ten opsigte van gebeure in bepaalde plekname in “Hot gates”, is die enigste logiese kernvraag wat gevra moet word: “Wat het daar gebeur?”

’n Begrip wat wel sinvol toegepas kan word op die ontleding van plekname soos, ook dié in “Hot gates”, is die agtergrondbeskrywing van elke gekose pleknaam in sowel die Engelse as die Afrikaanse weergawe. In Engels staan die bekend as “descriptive backing”. Ten opsigte van die sogenaamde agtergrondbeskrywing verwys Meiring (1993:274) na die samevattende inhoud van al die opvattings en konnotasies wat op die naam betrekking het, en sy verwys na die subjektiewe inhoud daarvan omdat individuele ondervindings en kennis mag verskil. In die geval van “Hot gates” speel die komponis Torr se kennis, persepsies en assosiasies dus ook ’n rol in die interpretasie van die twee liedere wat hy geskep het.

Sonder hierdie konnotasies, opvattings, persepsies en assosiasies noem “Hot gates” ’n groot aantal plekname wat op ’n wêreldkaart gelokaliseer en geïdentifiseer kan word (met miskien die uitsondering van een fiksionele voorbeeld, naamlik Armageddon) en niks meer nie. “Hot gates” sou dan nie nou nog bestaan en na 16 jaar steeds erkenning geniet nie. Soos reeds hier bo aangedui, bestaan daar ander konnotasies of bybetekenisse ten opsigte van elke naam in “Hot gates”.

4. Die oorsprong van die titel van die lied

Die titel van die oorspronklike Engelse weergawe in 1995 was “Hot gates” en daar bestaan ’n duidelike verwysing in ’n Engelse gedig van TS Eliot met die titel “Gerontion” waar Torr waarskynlik die titel gevind het:

Foto van TS Eliot: Wikipedia

I was neither at the hot gates
Nor fought in the warm rain
Nor knee deep in the salt marsh, heaving a cutlass
Bitten by flies, fought. (Sharpe 1991)

Die betekenis van die woord gerontion is “the little old man”. Die ou man, waarskynlik ’n voormalige bootsman of ’n sakeman aan die einde van sy loopbaan, besin oor sy moontlike toekoms en sy verlede, en besef dan met angs en gekrenktheid dat hy eintlik ’n baie lae profiel sonder enige hoogtepunte gehandhaaf het. Hy is blind, en leef nou in ’n verwaarlooste huis wat nie sy eie is nie (Salingar 1970:335–7). Ten opsigte van die bepaalde aanhaling het die literêre kritikus Sharpe (1991:61) soos volg gereageer: “His sullen negatives obtrude upon a curiously detailed evocation of long-forgotten wars (‘hot gates’ translates Thermopylae […]).”

Eliot verwys dus spesifiek na die stryd wat plaasgevind het in Thermopylae, ’n bergpas in Griekeland wat beroemdheid verwerf het vir die heroïese verdediging deur Leonidas en sy 300 Spartane teen die Perse onder aanvoering van Xerxes in 480 vC. Thermopylae is die finale pleknaam in “Hot gates”, maar dien dan ook as titel in sy vertaalde vorm. Met die titel van die lied “Hot gates”, sowel as die laaste pleknaam in sy vertaalde vorm, verskaf dié pleknaam ’n sterk leidraad oor die aard en toon van die lied: Baie plekname verteenwoordig “brandpunte” wat op die een of ander wyse die loop van die geskiedenis verander of sterk strydpunte tot gevolg gehad het.

Dit is nie duidelik of Torr wel soos hier bo beskryf op die titel vir sy komposisie afgekom het nie. Omdat Thermopylae in die Engelse én die Afrikaanse weergawes verskyn, het Torr skynbaar nog nie op ’n nuwe of ander titelnaam besluit nie. Op die 2011-musiekalbum van Rauch staan die snit bekend as “Hot gates in Afrikaans”. Indien ’n Afrikaanse weergawe ’n Engelse titel dra, sou dit waarskynlik bevraagteken kan word. Die omstandighede is egter wel buitengewoon.

5. Digterlike kenmerke van “Hot gates”

Liedere kan as liriese digkuns beskou word en daarom gebruik liedjieskrywers steeds bepaalde tegnieke wat by digkuns opvallend is. By die aanhoor van “Hot gates” se musikale komposisie word die luisteraar bewus van die simmetrie van elke reël wat ’n metriese eenheid met ’n sewelettergrepige struktuur vorm wat noukeurig uitgevoer word. Torr maak ook gebruik van ’n rymende koeplet, of rympaar, waar die finale lettergreep van elke reël moet rym met die finale lettergreep van die volgende reël en dit geskied regdeur die vertolking van beide die Engelse en die Afrikaanse weergawes. Die rymlettergreep se struktuur in albei liedere verskil deurlopend en dit illustreer Torr se kreatiwiteit. Dit geskied ook in die koor/refreingedeeltes en verhinder herhaling en eentonigheid. Enige begaafde sanger, soos Rauch, kan die ritme van enige gegewe reël aanpas deur ’n bepaalde lettergreep te verkort of te verleng, om ook sodoende ’n ekstra lettergreep te akkommodeer. Slegs in ’n paar gevalle is dit nodig om die droewige en hartseer uitroep “o” (in Engels en Afrikaans) in te voeg wat dan ’n bepaalde lettergreep verteenwoordig. Voorbeelde hiervan is die volgende:

Strofe 2: Sarajevo o Saigon (Engels en Afrikaans)
Strofe 6: Nagasaki o Versailles (Engels en Afrikaans)

In strofe 2 word die pleknaam Waco gedupliseer om die bepaalde ritmiese effek te skep en vol te hou. Die effek in Engels is anders as in Afrikaans. Dit sal later verduidelik word:

Waco Waco Bethlehem (Engels en Afrikaans).

Om die ritme (simmetrie), rym en ander digterlike eienskappe te beklemtoon, kan die verskillende strofes bekyk word:

Strofe 1

Engels 
London Paris Rome Berlin
Barcelona Washington
Moscow Beijing Tokyo
Jerusalem Jericho

Afrikaans
Londen Rome Lissabon
Amsterdam Parys Hongkong
Moskou Teheran Riad
Jerusalem Islamabad

Waar dieselfde pleknaam gebruik is, en die skryfwyse of spelling aangepas moes word, is dit in die volgende voorbeelde gedoen: London > Londen, Paris > Parys en Moscow > Moskou. Rome het dieselfde vorm, maar verskillende uitsprake met net een lettergreep in Engels maar twee in Afrikaans. Hongkong word soms verkeerdelik as twee woorde in Afrikaans geskryf. Dis ook duidelik dat Rauch die vierlettergrepige Islamabad effens inkort om by die sewelettergrepige struktuur van die reël in te pas. Beide weergawes het die vierlettergrepige Jerusalem as eerste komponent.

Strofe 2

Waco Waco Bethlehem
Srebrenica Sebokeng
Sarajevo o Saigon
Hiroshima Rubicon

Waco Waco Bethlehem
Srebrenica Sebokeng
Sarajevo o Saigon
Hiroshima Rubicon

Hierdie strofe is onveranderd gelaat in die Afrikaanse weergawe. Dis ook duidelik dat Torr doeltreffend gebruik maak van alliterasie en assonansie. In hierdie strofe is dit veral die alliteratiewe /s/ in Srebrenica, Sebokeng, Sarajevo en Saigon wat opval.

Strofe 3

Waco Waco Bethlehem
Srebrenica Sebokeng
Sarajevo o Saigon
Hiroshima Rubicon
Dunkirk Dover Normandy
Frankfurt New York Lockerbie
Amajuba Bellevue
Chappaquiddick Waterloo

Weenen Dover Tripoli
Frankfurt New York Lockerbie
Amajuba Timboektoe
Chappaquiddick Waterloo

Omdat Timboektoe in die Afrikaanse weergawe verskyn, is die aanvaarde skryfwyse en spelling toegepas. Beide Weenen en Tripoli, twee nuwe name in die Afrikaanse weergawe, het slegs een skryfwyse.

Strofe 4

Bucharest St Petersburg
Heilbron Hobhouse Gettysburg
Belfast Budapest Bagdad
Berchtesgaden Stalingrad

Boekarest St Petersburg
Heilbron Hobhouse Gettysburg
Belfast Boedapest Bagdad
Berchtesgaden Stalingrad

Die vierde strofes is ook dieselfde, behalwe dat Boekarest en Boedapest op die Afrikaanse skryfstyl en spelling toegepas is. Bagdad word in die Afrikaanse weergawe op ’n Afrikaanse uitspraak gebaseer. In hierdie strofe is dit die alliteratiewe /b/ wat opval in Bucharest/Boekarest, Belfast, Budapest/Boedapest, Bagdad en Berchtesgaden, asook die alliteratiewe /h/ in Heilbron en Hobhouse. Die alliterasie kom nie as oorbodig voor nie. Wanneer Rauch die plekname sing, kom dit voor asof almal uitstekend pas en hoegenaamd nie voorspelbaar is nie.

Strofe 5

Carthage Dresden Babylon
Sharpeville My Lai Boipatong
Delville Wood El Alamein
St Helena Mitchell’s Plain

Warskou Dresden Babilon
Sharpeville My Lai Boipatong
Delvillebos El Alamein
St Helena Mitchell’s Plain

Warskou is ’n nuwe naam wat op die Afrikaanse skryfstyl en spelling toegepas is, terwyl die Engelse Delville Wood in die Afrikaanse weergawe deur Delvillebos vervang is, en die Engelse Babylon deur Babilon. /b/ as aanvangsklank kom weer voor in Babylon/Babilon en Boipatong. Dit bly ook interessant om te sien hoe die eindrym op skrif anders lyk ten opsigte van uitspraak.

Strofe 6

Balaklava Austerlitz
Belsen Buchenwald Auschwitz
Nagasaki o Versailles
Armageddon Thermopylae

Balakava Austerlitz
Belsen Buchenwald Auschwitz
Nagasaki o Versailles
Armageddon Thermopylae

Hierdie strofe is ook onveranderd gelaat in die Afrikaanse weergawe. In albei weergawes is dit weer die herhaling van /b/ as aanvangsklank, gevolg deur verskillende vokale: Balaklava, Belsen, en Buchenwald. In die laaste reël “dwing” die twee lang name, Armageddon en Thermopylae Rauch om agt lettergrepe te gebruik, maar sy doen dit eintlik onopsigtelik.

Wat uit bostaande blyk, is dat tien nuwe name in die Afrikaanse weergawe toegevoeg is. Eerstens het Lissabon, Amsterdam, Hongkong, Teheran, Riad en Islamabad in die eerste strofe van die Afrikaanse weergawe vir Berlin, Barcelona, Washington, Beijing, Tokyo en Jericho vervang. In die derde strofe vervang Weenen, Tripoli en Timboektoe vir Dunkirk, Normandy en Bellevue. En dan, in die vyfde strofe, vervang Warskou vir Carthage. Dis interessant dat ses van die tien nuwe name in die eerste strofe van die Afrikaanse weergawe verskyn, maar die keuses funksioneer effektief.

Dis nie duidelik hoekom Torr juis hierdie tien nuwe name gekies het nie. Hy het verduidelik (persoonlike kommunikasie, 19/2/20) dat hy moes werk met twee beginsels, naamlik aksent of uitspraak (“accent” or “pronunciation”), en rym indien ’n nuwe naam aan die einde van ’n reël verskyn. Volgens Torr het hy dikwels baie lukraak ’n nuwe pleknaam gekies, maar dan moes hy as ’n ervare komponis die name om die nuwe naam herrangskik ten einde aan die sewelettergrepige simmetriese reëlstruktuur en ook aan die vasgestelde rympatroon te voldoen. Hy het dit ook duidelik beklemtoon dat die Afrikaanse weergawe nie ’n vertaling was nie, maar suiwer ’n weergawe (“version”).

Baie van die oorspronklike name in die Engelse weergawe is in die Afrikaanse weergawe in dieselfde strofe onveranderd behou. In sommige gevalle moes ’n Engelse pleknaam net ’n aanvaarbare Afrikaanse spelling kry. Dan lyk die Afrikaanse weergawe, ten spyte van Torr se opmerking, plek-plek wel na ’n vertaling. Dit is egter veral in die koorgedeeltes dat die Afrikaanse weergawe ’n nuwe en unieke struktuur verkry.

’n Belangrike faset ten opsigte van die vergelykingsperspektief is dat die koorgedeeltes wat later herhaal word, soos in ’n refrein, uiteindelik in ’n bepaalde dramatiese koorgedeelte in beide weergawes kulmineer wat tot ’n toepaslke einde lei. As ’n liedjieskrywer en komponis het Torr hier getoon hoedat die musikale aspek uitstaan. In albei weergawes word die refreinteks (sonder name) gekenmerk deur insinuasies van moontlike oorlogsituasies waarby onder andere perderuiters en soldate asook familielede betrokke is. Dit is uiteraard moontlik dat daar meer as een interpretasie kan wees ongeag die komponis of digter se eie assosiasies. Die beelde in die Engelse weergawe kom ooreen met die Bybelse beskrywing van die finale konfrontasie tussen die Bose magte en die “Ruiter op die wit perd” met sy leërs uit die hemel (Openbaring 20:11). Hier onder kan die ooreenkomste en verskille gesien word. Die melodie in die twee weergawes is dieselfde.

Engels
I can see a fiery, fiery glow
Even as the sun is sinking low
I can see a horseman on the run
O my daughter, o my son

Afrikaans
Sien jy hoe die bloedrooi son verdwyn?
Hoop ’is net die donder wat so dreun?
Sien jy daardie ridder op die plein?
O my dogter, o my seun

Hierdie koorgedeelte word drie keer tussen die strofes herhaal. In die eerste drie reëls van die twee weergawes verander die aantal lettergrepe na nege, maar keer weer in die laaste reël na sewe (soos in die pleknaamteks) terug. Net na die laaste strofe verander die musikale begeleiding en toon asook die teks:

There’s another song that will be sung
There’s another bell that must be rung
There’s another city I’ve been told
Where the streets are paved with gold
There’s another city I’ve been told
Where the streets are paved with gold

Hoor hoe lui die klokke, keer op keer
Môre sal ons nuwe liedjies leer
Liedjies van ’n stad soos die van ouds
Maar die strate is van goud
Liedjies van ’n stad soos die van ouds
Maar die strate is van goud

Met die eerste oogopslag is dit duidelik dat die twee weergawes in die sanggedeeltes dramaties van mekaar verskil, veral ten opsigte van die persoon aan die woord. In die Engelse weergawe is dit van begin tot die dramatiese einde die eerstepersoonspreker wat die situasie beskryf en die oorgelewerde verhale gehoor het. Daarteenoor, in die Afrikaanse weergawe, verskyn die tweedepersoon-enkelvoud-voornaamwoord “jy” as ’n aanspreekvorm met vrae wat volg. Die aangesprokene word aan drie waarskynlik metaforiese vrae blootgestel. Persoonlike interpretasie speel hier ’n rol en die verwysings kan vir verskillende toehoorders/lesers verskillende betekenisse inhou, betekenisse wat nie noodwendig die liriekskrywer se doel was nie. Die frase bloedrooi son mag ’n sinspeling wees op die groot hoeveelheid bloed wat verspil word, maar ook op die Engelse fiery glow (Openbaring 20:19) wat verwys na die oordeelsdag en die vuurgloed. Daar is ’n positiewe noot in die bloedrooi son wat verdwyn en die ridder wat op die plein verskyn. In die Engelse weergawe is ’n perderuiter ter sprake wat óf op die vlug slaan óf triomfantelik tot die stryd toetree, terwyl ’n ridder, waarskynlik ’n soldaat met wapenrusting aan, of dieselfde ruiter op die wit perd wat as ’n held beskou word, op die toneel is in die Afrikaanse weergawe. Die derde reël in die Afrikaanse teks kan geïnterpreteer word as dat die gedreun hopelik deur die donderweer veroorsaak word en nie deur bomwerpers of ontploffings nie. In die konteks van Openbaring word die stem van God as ’n gedreun soos van donderweer opgeteken. Dit pas ook in die hele slotsimboliek van die finale oorwinning en aanbreek van ’n nuwe bedeling. Die laaste reël in albei weergawes is identies en treffend: Met die “o” wat as ’n droewige en ongelukkige maar hoopvolle versugting gebruik word ter wille van die ritme, en ook om die erns van die situasie uit te beeld, kan dit ook suggereer dat gesinne uitmekaar gespat het as gevolg van die dikwels sinlose doodslag. Wie se familiebande hier ter sprake is, naamlik dogter en seun, kan maar net by bespiegeling bly, behalwe om te vermoed dat hulle tot die fiksionele spreker behoort. Die dogter en seun kan ook dui op ’n geestelike verwantskap tussen gelowiges wat aangemoedig word om uit te sien na die nuwe bedeling.

Soos hier bo aangedui, verander die laaste gedeelte van die musikale begeleiding van sleutel en die twee tekste verskil grotendeels ten opsigte van die inhoud. Dit sal aan die einde van hierdie bydrae deeglik behandel word.

6. Plekname met assosiasies en konnotasies

Die totale aantal plekname in die Engelse weergawe is 58. Die aantal wat behoue gebly het in die Afrikaanse weergawe is 48, met die toevoeging van tien nuwe name. Al is die nuwe name nou bekend, is dit waarskynlik ten opsigte van die vergelykingsperspektief nie belangrik dat dié tien name nou voorkeur geniet nie. Baie van die plekname weerspieël insidente wat oor die hele wêreld weergalm het, en ’n aantal besondere plekname wat in albei weergawes verskyn, sal beskryf word. Dat elke pleknaam ’n bepaalde storie of ’n aantal stories bevat, is gewis waar, maar elkeen se storie of stories kan nie in hierdie bydrae vertel word nie. Die reaksie van die liedjieskrywer (in Engels) oor die motivering van die keuse van veral die nuwe tien name is veelseggend:

I didn’t select the new ones because of some particularly nasty/evil incident. So there is no real point in hunting for something atrocious with regard to the choice of each new name. One of the ten new Afrikaans towns introduced was Hong Kong, which has been in the news recently. (Torr 2020)

Torr se opmerking kan dalk vertolk word as dat nie al die plekname in die Engelse of die Afrikaanse weergawes noodwendig ’n “Hot gate” verteenwoordig nie. As ’n geskikte titel vir die lied soos ontleen aan die gedig van Eliot, is dit egter gepas.

Torr het aangedui dat aksent/uitspraak en rym ’n baie belangrike rol gespeel het, en dat die struktuur van die nuwe naam hom dikwels genoop het om ander dorpe en stede in te bring ten einde die gepaste rym en uitspraak te verkry.

Slegs sekere plekname sal nou ten opsigte van relevante gebeure omskryf word.

Hoofstede in albei weergawes, soos London/Londen, Paris/Parys, Rome, Berlin, Moscow/Moskou, Washington, Beijing, Tokyo, Amsterdam, Teheran, Riad en Islamabad, verskyn almal in die eerste strofe (Engels of Afrikaans). Torr voer aan dat hulle uiteraard aanvanklik as onskadelik voorkom (sy woord is “innocuous”), maar soos die lied vorder, word al die plekke gekoppel en geassosieer met wat Torr noem “the darker side of human nature”. Dis nie die plekke en stede wat so sleg daaraan toe is nie, dis die mense wat daarin of daarnaby woon. In bepaalde ander kontekste kan dieselfde plekke en stede iets totaal anders verteenwoordig. In die Afrikaanse weergawe verskyn die hoofstad van Portugal, naamlik Lissabon, as ’n nuwe naam wat wel die volgende beleef het wat nie goed bekend is nie. Op 1 November 1756 het ’n katastrofiese aardbewing tydens kerktyd groot dele van Lissabon vernietig en daartoe gelei dat ’n derde van die stad se inwoners hul lewens verloor het (sien “Geestelike waardes”, Die Burger 28 Maart 2020). Dit is waarskynlik dié insident wat Torr geïnspireer het om Lissabon te kies, alhoewel die lang geskiedenis van hierdie hoofstad ook dalk tot ander negatiewe gevolgtrekkings kon lei.

Vanaf strofe twee beweeg die lied na minder bekende plekke. Die pleknaam Waco in Texas word herhaal. Waco was in 1993 die toneel van die massamoord op kinders saam met hulle ouers deur die Messias van die Orde van David, David Koresh. ’n Koerantbeskrywing (Newsweek, 3 Mei 1993) doen soos volg verslag:

In the end, the anguish was mainly for the children. Altogether, at least 20 of them apparently perished with their parents. Seven had been sired by Koresh, the failed messiah. They were to be the first-born of a new Davidic line, heirs of his polygamous kingdom. An additional 21 children left the compound during the 51-day siege; most are now orphans.

Die herhaling van die naam in Engels laat Rauch toe om dit te sing asof dit klink na “Awake awake o Bethlehem”. Hierdie buitengewone kreatiwiteit skep ’n dubbelsinnigheid in die interpretasie wat aangrypend beklemtoon word deur die gebruik van die pleknaam Bethlehem wat ook die geboorteplek van die ware Messias in die Christelike geloof is, en gebore is uit die afstamming van Dawid. Hierdie kontras tussen die twee plekke as verteenwoordigend van die oorsprong van die mislukte en die ware Messias onderskeidelik word dan verder geneem as ’n oproep tot die ware Messias en/of sy volgelinge om in te tree en sulke tragedies af te weer of om ten minste bewus te wees van valse profete. Die herhaling van Waco in die Afrikaanse weergawe het ook ’n ander funksie: Dit is gewoon gebruik om aan die ritmiese lettergreeppatroon te voldoen, alhoewel die verband tussen die valse en die ware Messias ook beklemtoon word.

Omdat Torr ’n Suid-Afrikaanse liedjieskrywer is, maak hy ook gebruik van Suid-Afrikaanse plekname. Twee bekendes word in die vyfde strofe in een reël gebruik. Die Sharpeville-voorval het dwarsdeur die land en die wêreld weerklink. Die township naby Vereeniging was die toneel van ’n oproer in Maart 1960 waartydens die polisie op ’n skare swart demonstreerders geskiet het en meer as 60 is gedood. ’n Paar jaar later in 1992 is Boipatong, ’n ander township naby Vanderbijlpark, geruk deur ’n sinlose slagting van talle onskuldige slagoffers toe ’n aantal ongeïdentifiseerde moordenaars links en regs in die donker geskiet het (South African History Archives 2014). Daar was baie spekulasie dat die IVP (Inkatha-vryheidsparty) vir die slagting verantwoordelik was. Boipatong beteken toevallig “die plek waar mense wegkruip”. (Plekname in die Sothotale eindig op ng.)

Die name van die twee Suid-Afrikaanse brandpunte word netjies geskei deur My Lai, die naam van ’n nedersetting in Suid-Viëtnam waar op 16 Maart 1968 ’n massamoord van ongeveer 347 gewone burgers deur Amerikaanse soldate gepleeg is tydens die Viëtnamese oorlog. Nadat die voorval in 1969 deur ’n voormalige dienspligtige openbaar gemaak is, het ’n krygshof ’n ondersoek van stapel gestuur. Slegs een Amerikaanse soldaat, lt William Calley, is skuldig bevind, maar die skuldigbevinding is later teruggetrek (Webster’s Family Dictionary 1992). Die voorkoms van hierdie drie plekname in een reël beklemtoon die benarde toestand van onskuldige burgers wat deur magte vermoor is waarteen hulle geen verweer gehad het nie.

Daar is ’n hele aantal ander Suid-Afrikaanse plekname, of name met ’n Suid-Afrikaanse konneksie. wat in albei weergawes voorkom, soos Sebokeng (“die plek waar mense byeenkom”), Amajuba, Bellevue, Heilbron, Hobhouse, Mitchell’s Plain (die korrekte skryfwyse is eintlik Mitchells Plain) en Delville Wood / Delvillebos. Die nuwe een in die Afrikaanse weergawe is Weenen. Op 17 Februarie 1838 het 10 000 Zoeloes die Voortrekkers by die Bloukransheuwel aangeval en meer as 500 het gesterf. Weenen is ’n naburige dorpie in KwaZulu-Natal en is so genoem ter herdenking aan die treurspel, en daar is ook ’n monument ter nagedagtenis aan hierdie gebeurtenis opgerig. In die geskiedenisannale staan die insident bekend as die Bloukransmoorde of die Bloedbad van Weenen. “Ween” (om te huil) is ’n tradisionele en Bybelse Afrikaanse werkwoord waarskynlik ontleen aan Nederlands (Bloukransmoorde sj).

Heelwat plekname in “Hot gates” het hulle oorsprong in die Tweede Wêreldoorlog. Dis geen verrassing nie en die tragiese verloop van die oorlog, wat oor ses jaar gestrek het (1939–1945), het oor verskeie landsgrense plaasgevind. Die volgende name weerspieël massavernietiging op groot skaal: Dunkirk, Dover, Normandy, Austerlitz, Belsen, Buchenwald, Auschwitz, Hiroshima en Nagasaki.

Dunkirk in Frankryk (wat beteken “die kerk in die duine”), het sy naam gekry omdat die dorpie waarskynlik rondom ’n kerk ontwikkel het wat in die 7de eeu in die duine van St Eloi gebou is. Gedurende die Tweede Wêreldoorlog was dit in 1940 die toneel van die heroïese ontruiming van meer as 300 000 Geallieerde troepe wat deur die Duitse soldate omsingel is (Moore, WG 1971).

Die konsentrasiekampe van die Nazi’s was ook berug tydens die Tweede Wêreldoorlog. In die twee weergawes van die lied kom dieselfde name voor, byvoorbeeld Belsen, Buchenwald en Auschwitz, met Warskou, die konsentrasiekamp in Pole, wat in die Afrikaanse weergawe bygevoeg is. Die Amerikaanse skrywer en joernalis Adam Kirsch (2015) het hom soos volg oor konsentrasiekampe uitgelaat:

[T]he Nazi concentration camp stands as the ultimate symbol of evil. The very names of the camps – Dachau, Belsen, Buchenwald, Auschwitz – have the sound of a malevolent incantation. They have ceased to be ordinary names – Buchenwald, after all, means simply “beech wood” – and become portals to a terrible other dimension. (The New Yorker, 6 April)

Dit is ’n uitstekende voorbeeld van die sogenaamde agtergrondbeskrywing wat die pleknaam of -name kategoriseer en ’n totaal ander dimensie toevoeg. Die verskriklike lyding, en selfs dood, veral ten opsigte van die Jode, is welbekend en al dikwels in rolprente en realistiese dokumentêre vasgelê.

El Alamein is nog ’n Afrikanaam, maar van Noord-Afrika. In Egipte het ’n stryd tussen die geallieerdes en Duitsland in Oktober en November van 1942 naby die El Alamein-treinstasie plaasgevind. Onder aanvoering van luitenant-generaal Bernard Montgomery is die Duitsers verhoed om verder in Egipte in te beweeg. Suid-Afrikaners was ook by die stryd betrokke (Military Journal History 2004, 13(2)).

Die laaste twee insidente, toe die Tweede Wêreldoorlog al feitlik tot ’n einde gekom en Duitsland reeds op 8 Mei 1945 oorgegee het, het aanleiding gegee tot twee atoombomme wat deur die VSA oor die Japannese stede Hiroshima en Nagasaki ontplof is na toestemming deur die VK verleen is. Japan wou nie toelaat dat die Geallieerdes Japan binneval nie. Die laaste stuiptrekking van die Tweede Wêreldoorlog het dus in hierdie ongelooflike tragedie ontaard. Op 6 Augustus 1945 is Hiroshima gebombardeer, met 129 000 burgerlikes wat omgekom het, en op 9 Augustus 1945, drie dae later, was Nagasaki aan die beurt met 226 000 sterftes (Atomic bombings of Hiroshima and Nagasaki sj).

’n Baie interessante voorbeeld kom in strofe drie van beide weergawes voor. Die drie plekname in dieselfde reël, Frankfurt (in Duitsland), New York (in die VSA) en Lockerbie (in Skotland), laat ’n luisteraar wonder oor watter wandade dalk in hierdie drie plekke gepleeg is. Frankfurt en New York is twee groot moderne stede in verskillende kontinente, met Lockerbie, geografies gesproke, as’t ware in die middel. Wanneer die verband en die werklikheid tussen die drie plekname ondersoek word, is dit skrikaanjaend. Torr slaag daarin om die ongewone verband tussen die name op ’n unieke wyse te versinnebeeld wanneer die terroristiese aanval na vore kom soos Matthews (1993:520) dit beskryf. Die Pan Am-vlug 103 het op 22 Desember 1988 in Frankfurt opgestyg om Amerikaners vir Kersfees huis toe te neem na New York. Maar om 19h19 het ’n bom bokant Lockerbie in Skotland aan boord ontplof. Die vliegtuig het in vlamme uitgebars en op die dorpie Lockerbie afgepyl en in ’n straat geval, en ’n verdere ontploffing wat vlamme 300 meter in die lug opgeskiet het, het gevolg. Veertig huise is verwoes en niemand op die vliegtuig of in die huise het dit oorleef nie, en 270 mense het gesterf. Frankfurt as die vertrekpunt van die ramspoedige vlug met New York as die helaas onbereikte bestemming is albei by die afgryse van die ontploffing oor Lockerbie betrek.

Ook die volgende twee plekname, net twee reëls na die Lockerbie-verwysing, is interessant indien die agtergrondbeskrywing uitgelig word. Dit is Chappaquiddick en Waterloo. Op 19 Julie 1969 het die ambisieuse Ted Kennedy met sy motor van ’n brug by Chappaquiddick in Massachusetts in die VSA afgery. Saam met hom was sy minnares Mary Jo Kopechne wat in die rivier verdrink het (Matthews 1993:389). Dit het uiteraard groot konsternasie in die politieke konteks in die VSA veroorsaak.

Die pleknaam Waterloo verwys na die Stryd van Waterloo. Waterloo is ’n dorp suid van Brussel in België. Napoleon Bonaparte, wat Frankryk verteenwoordig het, het teen die Hertog van Wellington, wat Europa verteenwoordig het, oorlog gevoer. Dit was op 18 Junie 1815 en Napoleon en sy troepe moes uiteindelik die aftog blaas.

Die waterverwysing in die naam Waterloo, wat by Chappaquiddick aansluit, het nou hier ook betrekking: Het die vooruitstrewende Kennedy sy politieke Waterloo teëgekom toe hy in die water beland het? En selfs heelwat later in ’n totaal ander konteks het die Chappaquiddick-insident weer kop uitgesteek in Suid-Afrika toe ’n nuusbrief met die titel Fast Facts van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Rasseaangeleenthede in 1995 gepubliseer is. In ’n artikel deur Paul Pereira met die titel “The ANC’s Chappaquiddick?” het hy die fatale insident van 28 Maart 1994 geëvalueer toe ’n optog deur die Zoeloes in die Johannesburgse stadskern in ’n tragedie verander het toe die wagte by die ANC se hoofkantoor, Shell House, op die marsjeerders losgebrand en ’n groot aantal Zoeloes doodgeskiet het (Die Burger, 20 September 1995). Torr het waarskynlik doelbewus die plekname Chappaquiddick en Waterloo naas mekaar in strofe 3 gebruik ten einde aan te dui hoe plekname konnotasies bykry wat aanvanklik nie bestaan het nie.

Kunswerk van Waterloo: Wikipedia

Op daardie stadium was die gemoedere tussen die ANC en die ander groepe onstuimig, en sommige joernaliste het gewonder of the Shell House-insident ’n groter effek op die ANC sou hê. ’n Totaal onbekende pleknaam, Chappaquiddick uit die VSA, het selfs in Suid-Afrika weerklank gevind 16 jaar na die oorspronklike insident.

Soos “Hot gates” vorder en ’n mens weer by veral die koorgedeeltes aan die onuitwisbare herinneringe van die verwoesting, onrus en menslike lyding uitkom, is dit duidelik dat Torr met die lied alle luisteraars wou herinner aan watter gruwelike en afskuwelike misdade in oorlogsituasies gepleeg word, asook aan kleiner insidente met uiters tragiese gevolge.

Die voorlaaste pleknaam in die lied is Armageddon. Dit is die enigste pleknaam in die lied wat nie op ’n wêreldkaart verskyn nie. Baie Christene verwys na die Bybelboek Openbaring 16:16, waar die naam Armageddon wel verskyn. In die Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT) lui die inskrywing onder “Armageddon” soos volg: “1. Slagveld waar die eindstryd tussen God en die magte van die Bose beslis sal word. 2. (fig.) Groot oorlog, wêreldramp. Vgl. Openb 16:16.”

Die posisie Armageddon net voor en saam met Thermopylae in die lied rig waarskynlik ’n waarskuwing dat die ware stryd tussen goed en kwaad nog voorlê en dat die mensdom hulle daarvoor moet staal.

Wanneer die slotkoorgedeelte deur Rauch in Engels gesing word, word dit met oorgawe gedoen. Dit volg net na die reël wat bestaan uit “Armageddon Thermopylae” en die musiektoon verander, maar nie die melodie nie. Ter wille van ’n volledige verduideliking volg die laaste strofe weer:

There’s another song that will be sung
There’s another bell that must be rung
There’s another city I’ve been told
Where the streets are paved with gold
There’s another city I’ve been told
Where the streets are paved with gold

Hoor hoe lui die klokke, keer op keer
Môre sal ons nuwe liedjies leer
Liedjies van ’n stad soos die van ouds
Maar die strate is van goud
Liedjies van ’n stad soos die van ouds
Maar die strate is van goud

Deur hierdie koorgedeelte klink dit wel of daar ’n beter middel tot versoening of verbetering is, en dit sal uitgebeeld word as ’n nuwe lied, met ander woorde ’n ander boodskap as wat die sombere “Hot gates”-lied tot dusver voorhou. Dit is wel ironies, maar tog ook hoopvol. In die Engelse weergawe begin die musiek aanvanklik met wat klink soos ’n onheilspellende aftelklok om die wêreld voor te berei op al die katastrofes wat gaan volg. Hierdie aftelklok verskyn nie in die Afrikaanse weergawe nie. Aan die einde egter beskik albei weergawes oor ’n baie sterker en meer positiewe beginsel met verwysing na “another song” in Engels, terwyl die Afrikaanse weergawe melding maak van die meer gemoedelike “nuwe liedjies” wat aangeleer gaan word. In die Engelse weergawe is dit steeds die eerstepersoon-voornaamwoord in Engels, I, wat voorkom in “I’ve been told”, terwyl die Afrikaanse weergawe weer suggereer dat eers gebruik gemaak word van die tweedepersoon-enkelvoud wat ander aanspreek totdat dit in die volgende reël oorslaan na die gemeenskaplike ons, die eerstepersoon-meervoud.

Dis asof die ander lied en/of liedjies in die Engelse weergawe en in die Afrikaanse weergawe, ’n nuwe en ’n beter lewe belowe, ’n lewe sonder onenigheid en tweedrag, waar vrede sal heers. By implikasie word daar verwys na die Bybelse Nuwe Jerusalem

(Openbaring 21). Die ironie is: Is dit net in die hiernamaals, in ’n ander wêreld moontlik?

Gaan daar nooit vrede op die aarde wees nie? Die strydlustige Jerusalem van die eerste strofe waarvan die geskiedenis oor meer as 4 000 jaar strek (Jerusalem sj) word sterk gekontrasteer met die geïmpliseerde Nuwe Jerusalem in die laaste koorgedeelte.

Dit is redelik duidelik dat beide weergawes van “Hot gates” baie gewild is onder Afrikaanse luisteraars. Torr is ’n vernuwende en talentvolle liedjieskrywer en komponis, en sy begaafde vrou Rauch ’n ewe talentvolle liedjievertolker. Engelbrecht (1995) het Torr se reputasie as ’n liedjieskrywer in die musiekwêreld wat sy inspirasie uit die mitologie en klassieke verhale van dood, lyding en bevryding kry, as “fenomenaal” beskryf. Hy beskik oor die vermoë om homself uit te druk deur gebruik te maak van ’n vars en moderne idioom. In beide weergawes is die musikale begeleiding behartig deur Peter McLea. In die Afrikaanse weergawe het Singkronies as agtergrondsangers opgetree en hulle verskyn op die album met die titel Tweeduisend-en-tien! wat vroeg in 2011 verskyn het. Die bestaande musiekvideo van die Engelse weergawe is uiters doeltreffend in terme van Rauch se vertolking. Sy word gerugsteun deur die gesigsuitbeelding van verskeie onbekende karakters wat dikwels die bepaalde etnisiteit uitbeeld van die mense wat geassosieer is met die pleknaam waaroor sy sing en waar die misdade gepleeg of tragiese voorvalle voorgekom het (sien ook http://www.youtube.com/user/laurikarauchofficial).

Die bestaande weergawes gaan waarskynlik nog baie lank gesing (en na geluister) word, omdat hulle twee boodskappe bevat: ’n nare herinnering aan die mensdom wat aan afskuwelike misdade skuldig was en weer sal wees, maar soos die vreugdevolle klok teen die einde van die Engelse weergawe te kenne gee, asook in die Afrikaanse weergawe, kan daar dalk eendag ’n ewigdurende vreedsame en blye samesyn sonder wrywing wees, al is dit in ’n andersoortige bestaan.

Bibliografie

Atomic bombings of Hiroshima and Nagasaki. S.j. (9 Junie 2020 geraadpleeg).

Bloukransmoorde. S.j. (9 Junie 2020 geraadpleeg).

Die Bybel in Afrikaans. 1982. Kaapstad: Bybelgenootskap van Suid-Afrika.

Engelbrecht, T. 1995. Pop-Opskop. Beeld, 6 September.

Ford. B. (red.) 1970. The modern age, James to Eliot. [The Pelican guide to English literature, 7]. Harmondsworth: Penguin.

Hough, C en D Izdebska (reds). 2016. The Oxford handbook of names and naming. Oxford: Oxford University Press.

Jerusalem. S.j. (9 Junie 2020 geraadpleeg).

Kirsch, A. 2015. Two new histories show how the Nazi concentration camps worked. The New Yorker, 6 April.

Labuschagne, FJ en LC Eksteen. 1992. Verklarende Afrikaanse Woordeboek. Pretoria: JL van Schaik.

Matthews, R. 1993. The illustrated history of the 20th century. Londen: Grenville Books.

Meiring, BA. 1993. The syntax and semantics of geographical names. In Hattingh (red.) Training course in Toponymy for Southern Africa.  Pretoria: Universiteit van Pretoria

Moore, W.G. 1971. The Penguin encyclopedia of places. Harmondsworth: Penguin Books

Neethling, B. 2016. Names in songs: A comparative analysis of Billy Joel’s “We didn’t start the fire” and Christopher Torr’s “Hot Gates”. In Hough en Isdebska (reds) 2016:310–29.

Neethling, SJ. 1995. Connotative toponyms: Christopher Torr’s “Hot Gates”. Nomina Africana, 9(1):56–67.

Odendal. FF (hoofred). 1988. Verklarende Handwoordeboek van die Afrikaanse Taal (HAT). Johannesburg: Perskor Uitgewery.

Pereira, P. 1995. The ANC’s Chappaquiddick? Fast Facts. Newsletter of the South African Institute for Race Relations: Johannesburg

RRV. 2020. Geestelike waardes-rubriek. Die Burger, 28 Maart.

Salingar, LG. 1970. TS Eliot. Poet and critic. In Ford. B. (red.) The modern age, James to Eliot. [The Pelican guide to English literature, 7]. Harmondsworth: Penguin. 330-49

Second battle. S.j. (9 Junie 2020 geraadpleeg).

Sharpe, T. 1991. TS Eliot: A literary Life. New York: St. Martin’s Press.

Simpson, L (red). 1970. An introduction to poetry. Londen: Macmillan.

Torr, C. 2020. Persoonlike kommunikasie, 19 Februarie.

Violence in the time of negotiations: The Boipatong massacre. 2014. South African History Archives. (20 Junie 2020 geraadpleeg).

Webster’s Family Dictionary. 1992. New York: New York Arrow Trading Company.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top