Die sanger Christoff Beukes tree eersdaags op by die Festival voor het Afrikaans in Den Haag. Hy beantwoord enkele vrae.

Goeiedag, Christoff. Hoe gaan dit?
Heel goed, dankie. Ek het so pas ’n Guitar World-artikel gelees oor die "Top 50 pedals of all time" ... Ek het 7 uit 50 gescore ... gehoop om beter te doen ... bevestig net my amateurstatus as versamelaar.
Jou webwerf verklap dat jy binnekort ’n paar optredes in Nederland gaan doen. Kan jy uitbrei op wat daartoe gelei het en wat die vooruitsigte is?
Ek het geen idee wat om te verwag nie, maar is baie opgewonde oor die vooruitsig. Dis ’n Afrikaanse fees in Den Haag, Festival voor het Afrikaans. David Kramer is oa op die program, en dit maak my hart bly. Ek is einde verlede jaar deur een van die organiseerders uitgenooi.
Jou debuutalbum, Geraamtes van ’n Droom, is in 2010 vrygestel. Hoe het jy jou toetrede tot die plaaslike musiekbedryf beleef, en hoe ervaar jy dit sedert die album se vrystelling?
Nie so seker of ek ooit amptelik toegetree het nie. Ek het op eie stoom die album gedoen, en doen alles sedertdien self. Ek het vir ’n kort rukkie ’n publisiteitsbeampte en agent aangestel, maar dit was ’n mors van tyd en geld.
Jou musiek is in die algemeen “gritty”, selfs intens by tye. Hoe het jy hierdie styl ontwikkel?
Weet nie so mooi nie ... Dis maar net ek en die kitaar meeste van die tyd. Die liedjies op die album is baie persoonlik – ampter te. Met die maak van die album het ek die luxury gehad om ’n 7-stuk-orkes te hê en bietjie die aandag van die woorde af weg te vat. Anders sou dit geklink het soos ’n Katolieke confession: "Father, I have sinned ..." Ek luister ook nogal woes wyd, van Beach Boys tot Black Label Society in een dag. Op die oomblik is Dinosaur Jnr op hoë rotasie. J Mascis is die koning van fuzz – hy laat die dudes van Black Keys en ander fuzz-dissipels soos kleuters klink! ’n Mens is seker die som van jou invloede en met stukkies van jouself ingemeng.
In 2012 is ’n video op YouTube gelaai waarin jy jou weergawe van “Die Stem” uitvoer op die deuntjie van “House of the Rising Sun”. Watter behoefte het daartoe gelei dat jy besluit het om “Die Stem” te herskep, en waarom spesifiek op hierdie deuntjie?
Ek het aanvanklik die liedjie opgeneem om die album af te sluit, begrafnismusiek vir die geraamte van ’n droom, maar het toe besluit om dit af te laat – dit was net na die “De la Rey”-waansin en ek wou nie daarmee verwar word nie. Dis veronderstel om ironies te wees, maar my ondervinding is dat die meeste mense net die letterlike uit dinge neem. Hopelik kan niemand my met ’n nasionalisties Afrikaner verwar as hulle die video kyk nie.
Op daardie noot: die verse van jou lied “Donker Dag” volg die akkoordprogressies en melodie van Guns N’ Roses se “November Rain” nogal naby. Hoe werk die proses by jou om inspirasie uit hierdie soort liedjies te put en jou eie “spin” daarop te sit?
Enige ooreenkomste is onbewustelik. Ek het nog nooit geskryf om ’n klank of kunstenaar na te boots nie. Maar as jy ’n vergelyking hoor, dankie – dit beteken ek's in goeie geselskap! Soos ek gesê het, mens is seker maar die som van jou invloede.
In die groter groep Afrikaanse liedjieskrywer/sangers wat hul met akoestiese musiek bemoei, is dit soms moeiliker as in ander genres om uit te staan bo die res. Hoe pak jy die proses aan in hierdie opsig en op watter eienskappe van jou musiek probeer jy die klem plaas?
Ek het my persoonlike mylpale wat ek uit ’n musikale oogpunt wil bereik en dinge wat ek wil probeer. Verder as dit dink ek nie juis nie. Ek probeer om my musikale instink te volg en hopelik lei dit my op die "regte" pad – wat dit ook al mag wees ...
Dis geen geheim dat die Afrikaanse musiekmark nie die maklikste is om te “break” nie. Hoe voel jy hieroor en oor die Afrikaanse musiekbedryf in die algemeen?
Wat my aanbetref het die helfte van die Afrikaanse musiekmark niks met musiek te doen nie. Naas Japan het ons seker die grootste karaoke-bedryf in die wêreld! Vir die res ... solank ouens bymekaarkom met kitare en dromme om daai oerinstink van in ’n band wees te bevredig, dink ek nog baie opwindende dinge gaan gebeur!
Jy het al op verskeie plekke in die land opgetree. Saam met toere kom daar natuurlik altyd stories - waar geniet jy dit die meeste om op te tree? Enige plekke waarheen jy nié sal terugkeer nie?
Ek het gelukkig meer goeie as slegte ervaringe gehad. As ek ’n plek moet uitsonder... Het nog altyd net great shows in Bloemfontein gehad – die Aasvoëlklub is seker een van my gunsteling venues in Suid-Afrika.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Christoff Beukes in?
Naby: as alles volgens plan verloop, gaan ek ’n tweede Afrikaanse album hierdie jaar maak. Ook dreig my ou band, Soul Picnic, om uit die dood uit op te staan. Ek doen ook tans ’n show saam met ’n Ier wat ons noem Irish Boereblues! Kyk uit daarvoor!
Verder ... wie weet? World Domination – of dalk die grootste fuzz pedal versameling in die suidelike halfrond?
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

