Christof Heyns in herinnering

  • 4

Christof Heyns (regs) saam met sy vrou Fearika en sy kleinseun, Isak Rust. (Foto: verskaf)

Maandag het ek in die bos by Nuweland gaan stap. Dit was net meer as ’n week na my vriend Christof se dood, tydens ’n staptog teen ’n berg by Stellenbosch. Ons het mekaar ons hele lewens lank geken. Sy pa was predikant van Ysterplaat en myne van Langa toe ons gebore is. Ons ouers was lede van ’n eetklub van meesal jong Kaapse pastoriegesinne. Voor ons regtig herinneringe kon versamel van daardie tyd, is ons weg uit die Kaap. Maar ons het later jare altyd gepraat van ons tyd saam in doeke. Ek het hom eers weer raakgeloop as student aan die Universiteit van Pretoria. Hy het Radio Tuks en Regshuis begin. Soos hy baie ander dinge begin het.

Die stap by Nuweland was ’n soort bedevaart. Ons het dikwels teen berghange fietsgery of gestap en dan het hy my van sy idees vertel. Of ons het saam dinge uitgedink. Dit is byna ondraaglik om te dink dat ek en baie ander vriende en kollegas nou alleen moet verder.

Die fokus van Christof se werk was die reg op lewe. Hy was versot op die lewe en het syne daaraan gewy om alle mense se reg om te lewe te bevorder. Sy pa was ’n teologieprofessor wat vir ons met sy effense Hollandse aksent in die klas gesê het: “Menere (ja, ons was destyds net ’n groep menere), die liefde is ’n ruimteskeppende gesindheid!” Christof het dit so gestel: Dis om vir iemand ’n gap te gee.

Hy was ’n mens van groot idees en die daad by die woord sit. Van my beste tye was toe ek saam met hom aan ’n projek kon werk. Hy het regte as loopbaan gekies omdat hy op skool reeds vir homself uitgemaak het dat die bevordering van menseregte die mees effektiewe manier vir ons tyd was om die lewe te bevorder en die wêreld ’n beter plek te maak. Hy het vas geglo dat dit moontlik is en het ’n baie goeie begrip gehad van wat dit verg aan die bou van institusies en die aanvaarding van verdrae. Hy kon baie opgewonde raak oor ’n boek wat hy ontdek het, en het dan sommer ’n klomp kopieë daarvan gekoop en hulle links en regs uitgedeel. In die maande voor sy dood was dit Humankind – a hopeful history deur die jong Nederlander Rutger Bregman wat hy by almal aanbeveel het. Dit het sy onwrikbare oortuiging gesterk dat mense die potensiaal het om beter, meer lewensbevorderende maniere van saamleef uit te werk.

*      *      *

Christof Heyns is op 28 Maart 2021 oorlede. Hy het die Sondagoggend saam met sy oudste broer Stephan teen die hange van die berge naby Stellenbosch gaan stap en het waarskynlik aan ’n hartaanval beswyk. Hy het die laaste jare groot plesier daaruit gekry om tyd in Stellenbosch deur te bring, die dorp waar hy as laerskoolkind gewoon het.

Die 62-jarige Christof was professor in menseregte aan die Universiteit van Pretoria en ’n vennoot van Stias, die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie. Na hy in die 1980’s ’n meestersgraad in die internasionale reg aan Yale-universiteit in die VSA behaal het, promoveer hy in 1992 met ’n regsfilosofiese studie oor burgerlike ongehoorsaamheid onder Johan van der Vyver by Wits. Sy mees onlangse werk het weer by hierdie tema aangesluit – as lid van die Menseregtekomitee van die Verenigde Nasies het hy ’n leidende rol gespeel in die proses wat gelei het tot die publikasie van ’n algemene riglyn van dié internasionale liggaam oor die reg op vredevolle (en minder vredevolle) byeenkomste. Die proses wat gelei het tot die aanvaarding van hierdie kommentaar, meesterlik bestuur deur Christof, is ’n teksboekvoorbeeld van hoe ’n mens ’n groep kundiges uit verskillende lande en met verskillende ideologiese oortuigings sover kan kry om mekaar sodanig te vertrou dat konsensus uiteindelik bereik kan word.

Hierdie werk was maar een faset van ’n loopbaan wat deur baanbrekerswerk gekenmerk was. In die middel-1980’s was hy ’n medestigter van die Sentrum vir Menseregte aan UP. In 1991 bring hy saam met kollegas die All African Moot Court Competition tot stand. Spanne van al die regsfakulteite in Afrika ding jaarliks mee deur ’n menseregtesaak voor ’n paneel van hoofregters uit Afrikalande te verdedig. Die publikasie wat die verrigtinge van een van die eerste kompetisies boekstaaf, dra ’n tipies Christof-titel: From human wrongs to human rights. Die kompetisie dien terselfdertyd die doel om die beste ontluikende regsbreine in Afrika te werf vir ’n meestersgraad in menseregte en demokratisering wat deur ’n vennootskap van Suid-Afrikaanse universiteite aangebied word. Vandag beklee alumni van hierdie program belangrike posisies op die kontinent en in wêreldliggame gemoeid met die bevordering en toepassing van die beginsel van die oppergesag van die reg en menseregte. Heelwat van hulle het sedert Christof se dood hulde gebring aan sy rol in hulle lewens en loopbane op die Facebookbladsy wat die Sentrum vir dié doel opgerig het.

In die middel-1990’s stig Christof saam met kollegas ’n studentevrywilligerorganisasie, die Southern African Student Volunteers (Sasvo), wat jongmense die geleentheid bied om ’n tasbare bydrae tot die bou van ons nuwe demokrasie te lewer. Die idee vir hierdie inisiatief is in 1994 tydens ’n fietsrit gebore toe Christof vir my in die Soutpansberg kom kuier het. Ons het albei as studente aan sendingwerkerskampe deelgeneem en het gepraat oor hoe bemagtigend dit was om self dinge te moes beplan en vaardighede soos messelwerk te leer. Jongmense moes die geleentheid kry om fisies by te dra tot ons nuwe demokrasie, het Christof gevoel. Die energie en Building Africa Ourselves-gesindheid van die studente wat in spanne na die uithoeke van die land en selfs na ander SADC-lande toe is om klaskamers te bou, tuine aan te lê, wiskundeklasse te gee, gemeenskapsteaterproduksies te inisieer, vigs te bekamp en menseregte te bevorder, het plaaslike gemeenskappe geïnspireer en leerders besiel met die idee dat hulle beter verdien en tot beter in staat is. Dit het ook die kinders van apartheid ’n geleentheid gegee om vriendskappe te smee rondom saamwerk aan projekte. Dit bly een van die groot teleurstellings dat Christof se voorstel dat Sasvo ’n permanente restitusieprojek in die wieke van die WVK moes word, nie aanvaar is nie.

Die Skole-Skynhofkompetisie wat elke jaar sy finale ronde in die Konstitusionele Hof hou, is ook deel van sy nalatenskap.

Na ’n termyn as dekaan van die Regsfakulteit aan UP word Christof aangewys as die spesiale rapporteur van die Verenigde Nasies oor buitegeregtelike moorde en arbitrêre doodslag. In ’n dokumentêre film oor sy pa, Johan Heyns, ’n voormalige moderator van die NG Kerk wat in 1994 in sy huis doodgeskiet is, verduidelik Christof dat sy belewenis van die moord op sy pa ’n motiverende faktor was in die werk wat hy vir die VN in dié verband gedoen het. Deur sy toedoen word die tema van robotoorlogvoering en wapens sonder menslike beheer op die agenda van die VN geplaas. ’n Leidende nuwe boek getiteld Alston and Heyns on Unlawful Killings: A Compendium of the Jurisprudence of the United Nations Special Rapporteurs on extrajudicial, summary or arbitrary executions from 2004–2016 is pas gepubliseer. Philip Alston was sy voorganger as VN Spesiale Rapporteur.

*   *   *

Sedert die nuus oor Christof se ontydige dood bekend geraak het, het mense oor die hele wêreld hulde gebring nie net aan ’n mens wat begeesterd sy bydrae gelewer het om menseregte en demokrasie te bevorder en uit te brei nie, maar aan ’n buitengewone vriend wat ons lewens op ’n diep en beduidende manier geraak het. Hy het ons aangespoor om die tyd uit te koop en sonder verskonings te leef. Sy entoesiasme was ’n natuurkrag. Hy het hom nie aan bande laat lê nie. Met hom was die lewe ’n avontuur, en waar daar ’n tekort aan vaardigheid was, kon mens steeds ver kom met die louter genot wat geput word uit die aanvaarding van die uitdaging.

Een van sy groot liefdes was musiek – met ’n besliste voorkeur vir musiek met elektriese kitare daarin. Hy het kitaar gespeel en gesing saam met verskillende bands met name soos The Hip Replacements, die Outlaws, en Stadig die Somer. Bob Dylan, Leonard Cohen, Koos du Plessis en Valiant Swart was boaan sy lys van gunstelinge.

Hy was ook ’n entoesiastiese fietsryer en stapper. Dit was vir hom heerlik om elke dag op die proefplaas naby hulle huis te gaan stap. Nog een van sy groot idees het hy so gekry – die plan om Future Africa te bou, die verbeeldingryke projek van die UP wat gehuisves word in ’n asemrowende nuwe gebou op die proefplaas teen Lynnwoodkoppie. Sy uitnodiging het altyd gestaan: Kom slaap oor dan gaan stap ons vroegoggend. Dit was kosbare gesprektyd.

Sy ander passie was om branders te ry met sy surfski. Hy het altyd gesê kinders moet kan surf en kitaarspeel; die res sal vanself kom. Desembers was dit strand toe en dan is hy die see in met wie ook al lus was vir die branders. Sy vrou Fearika se familie aan moederskant, die Streichers van die Overberg, het ’n lang verbintenis met Stilbaai, en die Heynse het ook sinoniem met vakansies op Stilbaai geword. Christof was ’n krag wat almal aangetrek het en gou is die kitare uit of het ’n mens ’n roeispaan in die hand. Hy, ’n ware workaholic, het by sulke geleenthede gereeld gesê: “Nee man, werk is overrated!”

Sy lojaliteit aan sy vriende was legendaries. Hy het tyd gemaak en aandag gegee. Van die gedeelde avonture het later neerslag gevind in kortverhale. Dit was ’n ander belangstelling – kreatiewe skryf. ’n Paar van sy kortverhale is gepubliseer, soos “Begrafnis op Stilbaai” op LitNet. Hierdie verhaal verwys na sy betrokkenheid by die openbaarmaking van videogetuienis oor die 2009-moorde deur regeringsoldate op Tamil Tigers in Sri Lanka.

Die beplanning van dokumentêre films was nog een van sy passies. Hy was nou betrokke by die film oor sy pa wat onlangs op TV uitgesaai is as deel van die reeks Die Afrikaanse leiers. Hy het ook ’n film beplan oor Jan Smuts, een van die groot inspirasies vir sy denke en werk.

Die laaste jaar van sy lewe kon Christof nie uitgepraat raak oor sy kleinseun Isak Rust nie. Hy was in totale verwondering oor die vreugde en vernuwing wat die klein lewetjie gebring het. Vir sy vriende was dit ’n groot plesier om hom te sien groei in die nuwe rol van oupa. En dis dan ook hier waar ’n mens die hartseerste raak oor die verlies. Sy kleinkinders en ons kleinkinders gaan hom slegs uit ons onthou ken. Een van die laaste video’s wat hy met vriende gedeel het, was van hom wat ’n boom snoei en Isakkie wat kraai van die lag elke keer as hy knip en ’n tak waai. Die titel van die video was “Hoekom ek my hele boom afgekap het”.

My diep meelewing gaan aan Fearika, sy dogter Willemien en haar man Arné Rust, sy seun Adam, sy dogter Renée, sy kleinseun Isak, sy ma Renée, en sy broers Stephan en Johan-Dirk en hulle gesinne.

 

 

  • 4

Kommentaar

  • Avatar
    Andries Bezuidenhout

    Dankie hiervoor, Murray. Jy's die regte persoon om oor Christof te skryf. Sasvo het so 'n belangrike rol in soveel van ons se lewens gespeel en die Sentrum was 'n hawe in 'n vyandige see.

  • Liewe Murray - hartlik Dankie vir die sielvolle oordenking van ‘n besondere lewe. Dit was soos om saam met jou en Christof te stap op julle lewenspadjie. Kan net dink hoe julle twee siele met mekaar kon resoneer. Jou woorde drup van weemoed en dankbaarheid, en het my in trane gehad. Dankie, my broer.

  • Dankie, Murray, vir die manier waarop jy hierdie met ons deel! Groot meegevoel met Fearika, die kinders en familie. Dit was 'n groot voorreg om Christof te ken.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top