Begrafnis op Stilbaai

  • 1

Buite sy hotel in Colombo is daar die geel "M"-boë van ’n McDonalds. Tuk-tuks met skril toeters maak vir mekaar plek in die vinnige verkeer. Mense op die straat verkoop aartappels, garagedeure, stoele. Die oseaan is turkoois in die agtergrond tussen die palmbome en die vervalle koloniale geboue en moderne toringblokke. Die koel lug uit die hotel wat saam met hom by die voordeur uitkom word onmiddellik verseng deur die tropiese hitte. Ryp mango’s se geur hang in die lug.

"This way please, down paradise road," sê ʼn jong vrou vanaf een van die advertensieborde. Haar wit glimlag is net so natuurlik en spontaan as die van die mense in die strate. "Sri Lanka – where dreams come true", lees ʼn ander bord met President Rajapaksa se alomteenwoordige gesig daarop. Daar hang ʼn string blomme om sy nek.

Die jong vroue agter die McDonalds toonbank praat ’n mengsel van Sinhalees en Engels. Die een wat hom bedien, is sprankelend, met ’n rooi kol op haar voorkop. ʼn Glimlag verlig haar gesig as hulle oogkontak maak. Sy deel haar skoonheid met hom – en almal wat in die omgewing is – met die grootste gemak. Hy het nog sy rugsak op, en skuif dit elke nou en dan om die sweet te laat verdamp. Hy neem die papiersak met ’n hamburger en chips by haar. Die tee is in ʼn polistireen beker. Hy neem ʼn ekstra sakkie suiker. Dit is sy eerste warm kos in dae. "A souvenir  from Sri Lanka," sê sy as sy hom ’n komplimentêre pakkie gedroogte mango’s  en nog een van haar stralende glimlagte gee vir die pad wanneer hy uitstap.

"'C' is vir Ceylon, waar ons tee vandaan kom", kom sy ma se alfabetrympie die soveelste keer die afgelope paar dae in sy gedagtes op. Dit, en die vae wete dat sy oupa se oupa hierdie strate as krygsgevangene tydens die Anglo-Boereoorlog gesien het.

Hy het twee weke gelede in Colombo aangekom, en so onopsigtelik moontlik ʼn geleentheid na die noord-ooste gesoek. Na ’n transaksie in sy hotelkamer het ʼn vragmotorbestuurder hom drie dae gelede, agter op die oop bak, onder ’n klomp seile, tot naby die Nanthikadal-strandmeer geneem. Volgens onbevestigde gerugte het die 25-jarige burgeroorlog ’n paar dae tevore in daardie deel van die land tot ’n einde gekom.

Die ander korrespondente in Colombo het die regeringsverbod op buitestanders in die oorlogsgebied gehoorsaam, maar hy het die kans gewaag. In sy gesin het sy ma se raad na sy eerste paar skooldae ’n staande uitdrukking geword: "Jy moet jou handjie opsteek dat hulle jou kan raaksien." Sy ma, haar siekte ten spyt, was die een wat hom oorreed het om te kom.

In Londen, by World News Television, het hy die besonderhede van sy kontakte vir sy missie in Sri Lanka gekry. Dit is die eerste keer dat hy as solo-korrespondent vir die stasie gaan optree. Sy skakelpersoon by WNT is Conrad Abrahams, ʼn uitgeweke Suid-Afrikaner wat onder die apartheidsbewind verslag gelewer het en verskeie kere aangehou is. Hy het die land verlaat toe die nuwe regering ook die pers aan bande begin lê het. "The old story – the revolution consumes its children," het Conrad eenkeer na ʼn paar biere gesê, sy skouers gelate opgetrek. "Dis soos die lewe: dis kak, maar dis ok."

Conrad was lugtig oor sy planne om na Sri Lanka te gaan. "War reporting is different from the royal weddings you have covered so far, my broer. If you have to do it, move in, get what you need to tell the story, and get out. Your job is to make what you see the world’s problem. Trust me, if you make it your own problem, it will fuck you up like you won’t believe. Big time, bru, big time. Sometimes the messenger ends up shooting himself. I would have started with a place like Pakistan if I were a laaitie you. I know the government of Sri Lanka says there were zero civilian casualties, but anytime anyone says zero anything it is bullshit. Do me a favour, at least do the safety training the station offers before you go."

Nadat hulle deur ’n tweede padblokkade op die A9 snelweg na die Noorde is, waar die militêre polisie met flitse onder die vragmotor geskyn het, het die bestuurder langs die pad gestop. "Too dangerous." Nog 500 dollar, en hulle het verder gery. Naby middernag het hulle buite Kilinochchi gestop. Hulle het by ’n paar bome water afgeslaan. Die vragmotorbestuurder het sigarette uitgehaal, hom een aangebied, en sy vuurhoutjie gedeel. Hulle hande skuur teen mekaar en hy voel vir ʼn oomblik asof daar ʼn band tussen hulle is. Hulle het ʼn tyd afgespreek vir die terugtog, en hy is met sy GPS alleen verder deur die bosse, na die sogenaamde "No fire zone" by Vuvuniya. Oral was daar militêre bewegings aan die gang. Krygswet geld, en oortreders word na bewering op die plek geskiet. Hy het sy gesig met "black is beautiful" gesmeer om by die nag in te smelt.

Toe die son die volgende oggend oor die strand opkom, het hy laag in ʼn gekamoefleerde tentjie onder ’n bos mangobome gelê en uitkyk oor die see en die strand waar die regeringstroepe duisende voortvlugtende Tamil-burgerlikes – en ʼn groot deel van die opposisie Tamil Tigers vegters – ’n week tevore vasgekeer het. Daar was wilde gerugte van ʼn menseslagting van burgerlikes gedurende die afgelope week op hierdie sewe-kilometer strook sand. Bewerings doen die rondte in Colombo dat die Tiger-leierskap geskiet is nadat hulle hulself onder ʼn wit vlag oorgegee het. Daar word gesê hulle is geskiet op bevel van die President of sy broer, die Minister van Verdediging, maar niemand weet wat die waarheid is nie.

Deur die lens van sy video-kamera begin dit wat werklik hier gebeur het - en steeds besig is om te gebeur - stadig vir hom duidelik word. Sy asem raak rukkerig, soos wanneer hy by ʼn hoë gebou afkyk. Links voor hom op die sand  lê honderde kaal vroue-lyke in rye, sommige met hulle broekies op hulle enkels, in die vroeë oggendlig. Dit moes in die nag gebeur het. Die meeste het gapende kopwonde, ander slym met wit poeier om die mond, en blink kolle wat net semen kan wees op hulle bene en mae. Die poeier moet van die sianiedpille wees wat die Tamil Tigers en hulle meelopers aan hulle dra vir ingeval hulle gevang word.

Aan die regterkant van die strand lê hoofsaaklik mans, seker naby ’n duisend, sommige met blinddoeke oor hulle oë, party met stukke wit lap in hulle hande. Van hulle leef nog en kreun. Daar is ʼn lae dreuning, soos die van brommers. In die middel van die strand tussen die twee groepe is daar diep kraters in die sand, en onderdele van mense lê rondgestrooi. ’n Deel van ʼn arm hier, ’n been of ’n kop daar.

Luidrugtige soldate stap op en af met die strand, skiet nou en dan na ’n beweging onder die lyke. High fives in die rondte.

Tussen die lyke deur word vyf geblinddoekte, kaal mans deur ʼn groep soldate na ʼn oop kol op die strand skuins voor sy tent gebring. Hulle hande is agter hulle rûe vasgemaak. Die gevangenes word vorentoe gestoot. Hulle rem en leuen agteroor terwyl hulle voete hoog en onseker voor hulle uit trap. Sy zoemlens fokus op een wie se tone soos voelers voor hom uitgesprei word telkens wanneer hy sy voete lig, asof hy bang is om op ʼn landmyn te trap. Hulle word afgedruk om in ʼn ry op hulle knieë te staan. ’n Gevangene met ’n digte bos swart hare kry ’n skop teen die rug en word iets toegesnou. Hy sit meer regop.

Die soldate skree oor en weer. Sommige kry hulle selfone reg om af te neem. ʼn Soldaat staan agter die ry gevangenes, lig sy AK 47, maar laat dit dan weer sak. Hy staan kop onderstebo. Die ander lag en jou hom uit. Een wat skynbaar in bevel is, kom nader, slaan die soldaat met sy oop hand agter die kop en stamp hom eenkant toe. Hy roep ’n ander soldaat nader, een met ’n baard en ‘n helmet. Dié trek gesigte vir een van die selfoonkameras, draai dan om en stap na die gevangenes. Hy skiet die eerste een in die ry, van agter deur die kop. Dit is ondramaties, sy liggaam vlieg nie vorentoe soos in die films nie; hy verslap net ’n oomblik, en verstyf dan om agtertoe te val, ongemaklik gebalanseer op die vasgebinde arms. In die tent voel hy hoe sy eie liggaam onwillekeurig in konvulsies gaan. Sy tong lê swaar in sy mond, asof hy seesiek gaan word.

Die gevangene wat vroeër die skop gekry het val stadig na agter wanneer sy beurt kom, sy blinddoek afgeskiet, sy kop nou ’n halwe, leë dop. Wat ʼn oomblik tevore nog sy hare en brein en skedel was, is ’n bloedige V-spoor voor hom oor die wit sand. Die man langs hom se maag werk met ’n bruin boog na agter net voor hy ook geskiet word. Die soldaat met die baard sit sy stewel op die laaste man se bors nadat dié geval het. Hy hou sy wapen regop langs hom terwyl hy vir die kamera poseer en vir die fotograaf beduie om al vyf sy trofeë ook in die skoot te kry. Die soldate lag en skree vir mekaar, en neem beurte om soos grootwildjagters afgeneem te word. Sporadiese skote klink op aan alle kante op die strand.

Die middag dring dit stadig tot hom deur dat hy die videomateriaal via sy satelliet-telefoon in gekodeerde epos na World News Television moet stuur. Gewone SMS-boodskappe is geblok deur die regering. Die ooreenkoms is dat die kanaal die materiaal wat hy stuur sal terughou totdat hy veilig uit die land is, of totdat hulle bevestiging kry dat hy dit nie terug gemaak het nie. Hy kan sy kodes nie onthou nie, maar kry dit uiteindelik op ʼn stuk papier. Hy sluit ʼn boodskap in: "Tell the world what is happening here if I don’t get out." Met alles in hom wil hy nie nou hier, op hierdie strand, in hierdie land wees nie. Hy voel of hy versmoor in die tent.

Trekkers met sleepwaens en vragmotors kom om lyke op te tel en weg te ry. Die gety kom in en trek van die liggame die see in. Skuins voor sy skuilplek steek ’n kind se voorarm loodreg bo die sand uit. Die hand is oopgesper, met die vingers na agter, asof om iets af te weer. Die branders spoel teen die arm aan, en uiteindelik verdwyn die vingers onder die stygende water. Die son bak van tussen die yl wolke neer. Die hitte in die tent tussen die bosse is versengend. Die seelug en die vrot, soet reuk van mango’s en van lyke wissel mekaar af.

Direk regs van sy skuilplek loop ’n riviertjie na die see. Waar die strand begin, het takke en blare ’n wal gemaak wat die water opdam. Hy skarrel vinnig uit, terwyl hy heen en weer kyk, en skep van die water in sy bottel in drink dit in die tent, saam met van die energiestafies wat hy saamgebring het. Die water maak hom naar.

Twee liggame, die van ʼn man en ʼn vrou, kom stadig met hulle gesigte na onder afgedryf in die rivier. Haar sari is helder blou en groen. Die liggame steek vas teen die wal van takke, en word op hulle sye gedraai en teen mekaar aangedruk, die arms stokkerig by mekaar verbygesteek asof in ’n lomp omhelsing. Maaiers op hulle oë en tandvleis. Dit lyk of die wal van takke enige oomblik onder die nuwe gewig gaan breek, maar die takke hou. Die wind stoot in sy rigting.

Nadat die gety gedraai het, verrys die kind se hand weer bo die water, die vingers nou verstar in ʼn klou. Honderde lyke lê in ’n krom streep agtergelaat op die hoogwaterlyn. Daar is stootskrapers op die strand wat die getuienis van wat hier gebeur het op ’n hoop begin stoot en op die vragmotors gooi, waar die liggame met seile toegemaak word.

Een van vragmotors lyk soos die een wat hom opgelaai het. Hy wonder vir ’n oomblik vaagweg wat sal gebeur as die soldate hom betrap en ondervra oor hoe hy hier uitgekom het – hoe lank sal dit neem voor hy die man wat hom hierheen gebring het uitwys. Deur die zoemlens sien hy dit is inderdaad dieselfde vragmotorbestuurder wat sigaret in die mond met ʼn vol vrag van die strand af ry.

In die namiddag is daar ’n reënbui, en as die son weer oor die see skyn, besef hy waarom die strand so bekend lyk. Soos by Stilbaai se hoofstrand is die strand voor hom wit en lank en oop met ʼn rivier aan die regterkant, en rotse aan die linkerkant. Daar is selfs ʼn rots wat soos die gebreekte Preekstoel-rots lyk. Dieper die see in, agter die laaste ry lang branders, is daar ook ʼn rif onder die water waar dieper branders breek. Net, waar die swemmers by Stilbaai gewoonlik op hulle handdoeke uitgestrek is, is waar die lyke nou hier voor hom lê. Die son begin sak. Die skuim in die see voor hom is pienk van die bloed.

Hy verlaat homself op die GPS om sy pad terug te kry. Toe hy laatnag by die bome aankom waar hy 24 uur vroeër afgelaai is, is die vragmotorbestuurder reeds daar. Die man sê vir hom om weer onder die seile, wat nou nat is, te lê. Die bak is skoon maar die reuk van die vrag van vroeër die middag is steeds alomteenwoordig. Net wanneer hulle gereed is om te ry, doem ʼn man uit die bosse op in die ligte van die voertuig. Hy dra ʼn kind in sy arms wat in ʼn bloedige wit doek toegedraai is. Die bestuurder klim uit. Die man sê iets van ‘hospital’. Die bestuurder skud sy kop driftig, klim weer in en sit die vragmotor in rat. Die man bly staan. Uiteindelik klim die bestuurder weer uit, skree op die man, en beduie dan moedeloos dat hy agter moet opklim. "If they catch me they will kill me," sê hy voor hy die deur toeslaan en met ʼn ruk wegtrek. Die man hou sy dogtertjie vas, praat met haar in ʼn sagte stem, maak kloekgeluide en soen haar in haar nek. Die vragmotor dreun deur die nag.

Hy word wakker. Die kind het ʼn stewige, taai greep op sy duim gekry. Haar sagte bruin oë kyk reguit vir hom, maar sy maak geen geluid nie. Dit is asof hy haar enigste skakel is met die buitewêreld. Met die lewe. Hy sit sy ander hand oor haar klein vuisie. Hy voel haar warm asem teen sy gesig, en raak weer weg.

Die enjin se dreuning verander en hy word wakker. Die vragmotor is besig om af te trek. Die kind se oë staar nou voor haar uit, langs hom verby. Daar hang ʼn string spoeg tussen haar mond en sy nat duim. Die spoeg blink in die lig uit die kajuit en hy sien daar is ʼn dun strepie bloed in die middel. Dan breek die string. As die man orent kom glip die kind se vingers moeiteloos van sy duim af. Haar arm bly reguit uitsteek. Die man verdwyn met die kind in sy arms in die nag. Hy vee sy duim aan sy hemp af, ruik daaraan. Sy vinger ruik soos ʼn baba se spoeg.

Die bestuurder praat op sy selfoon. "Yes dear. The people had a lot of furniture to move. I think around six o’clock. No, they did not pay in Rupees – dollars, hard cash. We can now get out."

Die vliegtuig se enjins sny terug. "Cabin crew, 10 minutes to landing, crosscheck ..." kom dit oor die luidsprekers. Daar is ʼn laaste gewerskaf, trollies wat vasgegrendel word, en dan word dit stil. Die ligte in die kajuit word gedoof. Hulle sweef geluidloos en gewigloos in na Heathrow. Die vlerke strek weerskante asof eindeloos uit in die oggendskemer. Die vliegtuig kantel skerp na regs, en hang skuins oor die groot stad. Die huise onder hulle is netjies in rye, die motors se ligte weerkaats op die nat paaie in die vroeë oggend. Mense op pad werk toe. Dit is asof die aarde nie nader kom nie, en hy wens dat hy altyd in die maag van die groot tuig kan bly. Hier kan niemand hom kry nie; hoef hy vir geeneen te vertel waar hy was en wat hy gesien het nie. ‘n Staat van staatloosheid. Die geborgenheid van geen verwagtinge.

Die romp ontsluit en die vliegtuig sidder as die wiele uitgelaat word. Ligte vlieg verby die venters. Die vliegtuig tref die grond, hop en voel of dit gaan skeeftrek. Die kajuit kreun en een van die oorhoofse pakruimtes vlieg oop. Die wiele is weer op die grond, en die enjins blaas na agter. Sy momentum druk hom teen die sitplekgordel, wat rem teen sy maag. Hy dink aan die geblinddoekte man op die strand wat voete voor hom uit van sy lot teruggedeins het. Uiteindelik kom die vliegtuig onder beheer. Die ligte gaan aan. "Welcome to London, where the local time is 6.20 am."

Hy sit sy selfoon aan terwyl die vliegtuig na die terminaal ry. Daar verskeie SMS boodskappe van sy predikant-broer uit Suid-Afrika oor sy ma. Die laaste een, ʼn paar uur tevore gestuur, lees "M vanoggend 5.21 weg". Een van die eerstes sê: "M op haar laaste".

Hy druk die instapkaart vir sy vlug na Suid-Afrika terug in sy kamerasak, draai om, en gaan staan in die tou vir paspoortbeheer. Hy het geen idee wat hy gaan doen nie, maar hy het absolute sekerheid dat hy nie kans sien om nou huis toe te gaan nie. Hy vat die blou Piccadilly-lyn na die middestad. As hy by die roltrappe van die stasie uitkom sien hy die Pavilion Hotel, en neem ʼn kamer.

Dit voel of hy nie skoon kom onder die stort nie. Hy borsel sy tande. Hy sit op die toilet om soveel moontlik van die afgelope paar dae uit sy lyf te kry, maar niks gebeur nie. Hy borsel weer sy tande, en smeer sy hande en dan sy hele lyf met die hotel se lyfroom. Hy klim ʼn tweede keer in die stort. Die water brand hom, en as hy die warm water kraan toedraai slaan die koue water sy asem weg. Hy ruik aan sy duim; die reuk van baba spoeg is steeds daar.

Die hotel het sagte, wit duvets. Hy gaan lê nat op die bed. Die nuus kom aan op die televisie. Hulle wys die beeldmateriaal wat hy verfilm het. "Our undercover reporter has captured the dramatic story of what really happened in Sri Lanka during the last days of the civil war. It is slowly transpiring that this could be the largest carnage of civilians in the world during the last 30 years." Soos wat hy verwag het, is die laaste beeld wat hulle wys, dié van die kinderhand wat onder die water op die strand verdwyn.

Dan is President Rajapaksa op die skerm. "We fought a brave battle and we won in dignity. In a time where terrorists hold the world to ransom, Sri Lanka has proven that terrorism can be beaten. The friends of the terrorists are now trying to fabricate propaganda to claim victory from the grave. These videos are fakes, the work of supporters of the terrorists."

Hy kry nie die afstandbeheer om die lugreëling te laat werk nie. Die sweet tap hom af. Hy gaan staan op die balkon maar besef hy is kaal en loop weer terug in sy kamer. Hy val in ’n droomlose slaap, en word eers wakker as dit reeds skemer is. Hy haal die botteltjies whiskey en gin en wyn uit en sit dit in ʼn ry bo-op die yskas. Sit hulle dan weer, een vir een, onoopgemaak terug. "Hierdie gaan nie so maklik weggaan nie," sê hy vir homself. Die nuus oor Sri Lanka is nou ook die hoofnuus op CNN, BBC en Al Jazeera.

Die nag is ’n eindelose flikkering van onsamehangende beelde. 

Hy swem stroomop in ’n groen rivier. Hy weet hy moet wegkom van die strand waar soldate na oorlewendes soek, maar hy bly op dieselfde plek, terwyl hy die liggame wegdruk wat teen hom aandryf sodat hulle verby kan spoel. Hy voel iets wat teen hom aanskuur, en teen sy bors tot ruste kom. Hy gryp dit en lig dit uit die water. Dit is die kind se hand, die vingers in ʼn klou. Hy skreeu en gooi dit van hom weg, maar dit kom weer in die stroom afgedryf. Dan voel hy warm asem teen sy gesig.

Hy is ʼn paar jaar oud. Hy lê op sy rug in sy ma se arms en kyk op na haar gesig. Sy blaas in sy nek en trek gesigte om hom te laat lag. Die groen en bruin van haar irisse laat dit lyk asof daar blaartjies in haar oë is. Sy tel hom op en hou hom teen haar bors en klop hom saggies op die rug. Sy soen hom op die voorkop. Terwyl sy vir hom glimlag, begin haar kop soos ʼn ballon opstyg. Hy gryp na waar die toutjie moet wees, maar sy styg al hoër; haar kop word ʼn planeet, voordat sy vervaag en dan stadig in die uitspansel verdwyn, die heelal word. Hy roep na haar. Hy word wakker met die eggo van sy stem in sy ore wat deur die leë ruimte weergalm.

Hy gaan staan in die donker op die balkon en kyk af na die sypaadjie. Hoe ver moet ʼn mens val om nie net in die hospitaal te eindig nie? Is vier verdiepings hoog genoeg?

Die oggend kom uiteindelik. Hy stuur ’n SMS-boodskap aan sy broer: "Sal nie betyds kan maak – gaan aan asb." Sy broer skryf dadelik terug: "Dit sal werklik jammer wees. Die mense kom van ver."  Hy trek sy klere van die vorige dag weer aan.

Die stasie vra hom om te kom vir ʼn "debriefing" en ’n "welcome back".  Conrad is nie daar nie, hy is op ʼn missie na Pakistan. Die hoof van World News Television oorhandig sy betaling aan hom, kontant in ʼn bruin koevert, saam met ʼn bonus, en ʼn versoek om in kontak te bly. "So much is happening, we need people like you who can get the story and come back, no fuss." Hy vra of hulle die geld eers kan hou, en of hulle hom van die funksie sal verskoon. Hy dwaal deur Londen se strate. Hy sien die "M’s" van McDonalds naby Piccadilly Circus en gaan staan. "M is vir Ma, wat kos aandra."

Hy koop ’n hamburger en chips, maar wanneer hy begin eet word hy geweldadiglik naar. Hy hang aan die tralies van ʼn heining terwyl hy dit uitbrul. Die konvulsies duur voort lank nadat daar niks meer oor is om uit te kom nie. Stukke droë mango wat nou uitgeswel is van sy maagsappe lê op sy skoene. Wanneer die stuiptrekkings uiteindelik bedaar, slaan die soet, vrot reuk van die mango’s op en begin hy van voor. Iemand wat verbydraf gee hom ʼn half-vol bottel water; gaan dan vinnig aan. Hy gaan sit, uitgeput, in ʼn park.

Wanneer hy uiteindelik sterk genoeg voel om te loop voel sy kop dronk en hy kry nie sy rigting nie. Hy stap by ʼn reisagent verby, waar dieselfde vrou uit Colombo van ʼn plakkaat af vir hom glimlag en uitnooi na die paradys.

In Sussex Gardens staan die prostitute op die hoeke van die strate. Elke nou en dan verdwyn een saam met ʼn verbyganger. Hy staan nader, maar loop dan verby. Al is dit menslike kontak wat hy nodig het, weet hy dat die ontlading wat hulle bied hom nog meer verlore sal laat as wat hy reeds is. Hy koop ʼn pakkie sigarette, en vra ʼn konstruksiewerker vir vuur. Die man se hande is skurf en vol sement as hy dit bak om syne hou teen die wind.

Aan die bopunt van die straat is daar ʼn kerk van die een of ander denominasie wat hy nie ken nie. Hy is vaagweg dankbaar dit is ʼn kerk en nie ʼn winkel, of ʼn kantoorblok wat die ruimte in beslag neem nie. ʼn Plekhouer vir die onbekende god, vir ingeval hy hom eendag weer aan hierdie deel van sy skepping gaan steur. Die Ewig Ontwykende. Hy gaan sit in die skadu van een van die pilare, onder ʼn oop venster. Binne is daar die gedreun van mense wat sing. Hy kan die woorde nie hoor nie, maar erken die wysie: "Moet ek gaan met leë hande?" Nie een siel gered nie. Hy ruik die meisie steeds aan sy duim. Die deure gaan oop en die mense stroom uit, voor hulle in verskillende rigtings in die groot stad verdwyn.

Later die middag stap hy buite Paddington-stasie agter ʼn man en ʼn vrou. Dit klink of hulle Afrikaans praat. Hy raak die man aan die skouer. "Kom julle van Suid-Afrika?" vra hy. Die man draai om, slaan sy arm weg, en begin in wat nou soos Russies klink op hom te skel. Die vrou wys met haar hande na haar kop en dan na syne om te vra of hy mal is, en beduie soos iemand wat ʼn lastige hond wegjaag. Verwilderd draai hy om. Die bewegende stroom mense in die strate sleep hom saam, totdat hy iewers in ’n park uitmond waaruit hy nie weer die pad kan kry nie. Hy gaan sit, en lê later op ʼn bankie. Die skoonmakers wys hom die rigting van die hotel as dit begin skemer raak.

Hy draai om as hy die leë hotelkamer oopmaak en die groot wit bed, nuut opgemaak, en die TV sien. Hy neem sy kamerasak wat by die deur staan.

Daar is ʼn YMCA verder af in die straat. Hy teken in en stap dan weer uit, na die Teems. Op die brug gaan hy staan en kyk na die skepe wat onder hom deurvaar. Hy skakel sy kamera aan. Hy merk al die leërs in die kamera se geheue, en druk die "delete"-knoppie. Hy hang die kamerasak oor die kant, en werk uit wanneer hy moet los dat dit nie op ʼn boot se dek sal val nie. Uiteindelik besluit hy om die kamera op die brug te los, in die hoop dat iemand anders dit sal kry en iets nuttigs daarmee sal doen.

In die YMCA is daar ʼn slaapsaal met bunkbeddens teen die muur. Die meeste mense slaap in hulle klere, sommiges met skoene aan, op die dun matrassies. Dit snork uit elke hoek. Hy vind ʼn slaapplek op ʼn onderste bed. Bo hom slaap ʼn ou man by wie se mond spoeg uitloop, en wat prewel in sy slaap. Die man lê op sy sy, met sy arms voor hom uitgestrek. In die nag word hy wakker. Iets drup op sy bors deur die matras van die ou man se bed bo hom, maar hy bly lê. Die volgende aand kom hy vroeër en kry hy een van die boonste slaapplekke. Die gesnork word ʼn stroom wat hom saamsleep as ʼn onrustige slaap tydelike verligting bring. Wanneer hy wakker word, voel dit asof hy vir ʼn tyd lank dood was. Sy baard voel lank en jeuk. Hy ruik homself.

Hy kry ʼn koppie koffie in die kombuis en gaan sit buite in die son. ʼn Verbyganger staan onseker nader, met ʼn noot in die hand. Hy buk by die koppie, sien die koffie daarin, en stap dan verward verder.

Twee weke later kom hy in Suid-Afrika aan. Hy huur ʼn motor in Kaapstad, en die Sir Lowrey’s pas neem hom oor die Hottentots-Hollandberge na die Overberg, oor die Breederivier by Swellendam.

By Riversdal besluit hy om die grondpad langs die Goukourivier na Stilbaai te neem. Hy neem die afdraai na Blombos. Aan sy regterkant is daar ʼn laning sipres bome, met ‘n verwaardelose begrafplaas daaragter. Op een van die grafte is daar vars, wit daisies, maar die ander is vervalle en windverwaaid. Die teer kom tot ʼn einde. Sy motor laat ʼn stofwolk agter.

Dit is ʼn grou dag. Dit lyk asof dit wil reën, maar niks gebeur nie.

Die pad gaan op en af. Hy stop bo op die bult waarvandaan mens die groot kuil onder jou sien waar die bevaarbare deel van die rivier begin. Verskillende strome kom deur die biesies van hoër op hier bymekaar.

Sy selfoon lui. +44. Dit is Conrad. "Howzit, and congratulations, the station is nominating you for the 'Investigative journalism of the year' prize. 'Advancing the cause of human rights', is what they say – 'Exposing the killers'. Lank bucks. Not bad for a SA boytjie."

Hy bly lank stil as Conrad klaar gepraat het. "Are you there?" hoor hy oor die foon. Dan vind hy sy stem: "Tell them I don’t want their prize, Conrad. I was an idiot to stuble into that hell-hole. I should be punished! I saved no one. What happened there should not be remembered by anyone. Anyone!" Hy bly stil, stotter dan as die onredelike woede verder van hom besit neem. Hy praat bo-oor Conrad as dié anderkant begin. "Conrad, listen to me. Tell the station to wipe out all the footage I sent them – all that fucking porn. Everything! Its my footage, I can tell them to do it!" Hy skree nou. "Tell them to wipe it out! Everything!"

Hy gooi die telefoon neer en hyg na sy asem. Hy klim uit, slaan die deur toe, en loop tot by die reëling langs die afgrond. Hy vee vies die trane uit sy oë. Hy trek sy maag- en rugspiere saam, hurk met sy een hand op die reëling, en druk dit wat in hom opwel terug. Hy kan nie nou oorgee nie, dink hy, dit sal hom binneste buite dop. Uiteindelik staan hy op stap terug na die motor. Hy kry die telefoon onder die passasiersitplek.

"You still there?"

"Sure bra, I’m still here."

Stilte. Dan praat Conrad weer.

"Listen, its OK. I was worried that you may feel that way. I will tell them you don’t want to be nominated. They will understand. We’ll take care of everything. It’s OK pal, I’m with you in this."

Hy knik sy kop en sit die foon af. Hy draai die sleutel en volg die rivier. Langs die pad is daar die dam waar hy en sy pa altyd geswem het as hulle hier fiets gery het. Hy was sy gesig. Trek dan sy klere uit, en dryf gewigloos in die water. Hy sit op ʼn klip en wag dat die son hom droogbak.

Oral langs die rivier is daar boorde olyfbome. Hy herken die skerp draaie, die reuk van die stof, die gevoel van die vier wiele wat elkeen op sy eie hop oor die klippe en deur die gate. By die kampplek oorkant die rivier is daar niemand nie. Dit moet laaggety wees, die sandbanke steek bo die water uit. Gewoonlik speel die kinders van die karavaanpark op die sandbanke gedurende die vakansie. Hy dink aan hoeveel miljoene liters water in en uit die rivier moes gegaan het sedert hy weg is, twee keer per dag, en hoe hierdie oer-ritueel van die aarde aangaan, wat ook al die mense met die wêreld doen.

Dan is hy op die nuwe baksteenpad, en in die dorp.

Hy ry op in Waterkantstraat, met die hawe voor hom, die mond van die rivier aan sy linkerhand. Die kort vuurtoring op die punt van die breekwater is geroes. Dan draai hy in by die motorpad van hulle vakansiehuis waar sy ouers die laaste jare permanent gebly het. ‘n Onopsigtelike plek, nie veel anders as die huise langsaan nie, maar vir hom die magnetiese Suid.

Sy pa is alleen in die huis. Hy is op pad hawe toe. "Pak jy solank af, Bok het gebel om te se hulle het mosselkraker gekry, ek gaan haal dit dan braai ons vanaand." Hy is skielik alleen tussen die vier mure van sy ouerhuis, maar dit voel asof hy ʼn indringer is. Hy soek na bewyse dat hy hier hoort, dat daar ʼn tyd was toe hy deel van ʼn wêreld van onskuld was.

Teen die mure is sy ma se skilderye en in die kombuis is daar foto’s van die vakansies wat hulle as gesin hier deurgebring het. Daar is ’n foto van hom as jong seun wat langs sy ma staan, elkeen met ’n kwas in die hand. Sy skildery is ’n kleiner weergawe van hare. Daar is ʼn swart en wit foto van haar as student op Stellenbosch, waarop sy soos ʼn sigeuner lyk. Mens kan op die verskillende foto’s sien hoe sy ma van ’n mooi jong vrou na ’n statige ouer dame ontwikkel het. Sy pa en hy en sy broer op Skulpiesbaai staan elkeen met ’n kolstert wat by hulle portuur pas, hulle oë onder die slaprandhoede toegeknyp teen die son.

Nog ʼn foto van hom en sy broer, die keer by die Palinggat, halfpad tussen die brug en die riviermond. Die palings is in ʼn oop gat in die grond, wat met ondergrondse kanale aan die rivier verbind is. Die palings het helder blou oë. Hy onthou hoe hy gedink het dit lyk of dit met batterye werk.

Die tannie wat mense daar rondwys het vertel die palings swem aan die einde van hulle lewens met die Goukourivier uit en dan langs die kus op tot by ʼn bepaalde plek aan die kus van Mosambiek, waar hulle eiers lê en doodgaan. Slegs enkele kleintjies kry op hulle eie weer die pad terug Stilbaai toe, vind die rivier en swem op tot by die vars water van Palinggat, waar die nuwe geslag hulle lewens deurbring totdat dit hulle beurt kom om weer die tog Mosambiek toe aan te pak. Sy pa het droog gevra waarom hulle nie soos almal tevrede is om op Stilbaai af te tree nie. "Offisieel die veiligste dorp in Suid Afrika – die enigste plek waar hulle die aantal polisiebeamptes moes verminder."

Langs die stoof staan haar botteltjies speserye, gerangskik in die volgorde Parsley, Sage, Rosemary and Thyme. "Wie is ek nou om met Simon and Garfunkel te stry?", het sy laggend gesê.

Bo die vuurherd is ʼn aanhaling uit Psalm 23, wat waters waar rus is belowe, en ʼn stok en ʼn staf wat jou beskerm teen onheile wat jy nie hoef te vrees nie. Sy oupagrootjie het dit uit hout gekerf, toe hy ʼn krygsgevangene op Ceylon was. Langsaan is daar ʼn swartbordjie waarop hulle elke jaar een of ander vakansiewysheid geskryf het. Sy ma sʼn van die vorige Kersfees is nog daar in haar presiese handskrif: "Al is daar geen Vader Kersfees nie, is daar steeds presente." Dit som omtrent alles op wat hy oor godsdiens van haar geleer het, dink hy. En dit is al waaraan hy dalk nog kan glo.

Hy onthou hoe hy vir sy ma gesê het dit wat in die Bybel staan, klink vir hom na net ʼn klomp stories. "Natuurlik is dit stories," het sy gesê, "maar dit is nie net stories nie. Stories is jou beste vriende."

Daar staan ’n nuwe skildery op die esel in die woonkamer. Dit is van Stilbaai se hoofstrand, Lappiesbaai. Daar is twee dowwe figure op die strand. Die Preekstoel lyk soos die dag toe die storm die boonste deel van die klip afgebreek het – die stukke lê nog daar. Hy en sy het dikwels op die duine gesit en gesels, en hy het gesê hy wil ’n skildery van haar hê van daardie toneel, uit daardie hoek gedoen. Haar handtekening en die datum – die dag toe hy na Colombo gevlieg het – is in haar sterk, regop skrif onderaan.

Sy pa kom terug. Die mosselkraker is skoongemaak, en toegedraai in ou koerante. Hy was die laaste bloed en slym af in die wasbak in die opwaskamer. Sy pa lyk ouer as toe hy hom ʼn maand gelede gesien het, maar sy oë is helder. "Ja, dit was ’n groot gedoente gewees. Jou broer het omtrent konsert gehou." Hy lag vir sy eie beskrywing. "As dit van hom afgehang het, gaan almal wat daar was, reguit hemel toe, en hoe gouer hoe beter. Ek dink hy het sommer genoeg vir my begrafnis ook gesê, twee vir die prys van een, julle moet maar die prekery skip as my beurt kom." Voorheen sou hy gedink het sy pa gebruik die lighartigheid om ʼn stekie in te kry teen sy broer se oordrewe vroomheid. Nou klink hy nie meer so veroordelend nie, eerder asof hy net dinge vir hulle al twee bietjie makliker wil maak. Hulle altwee lag, dit voel makliker as om te huil.

Sy pa wys na die nuwe skildery. "Ek hoop daai huurkarretjie van jou het genoeg plek dat ons die skildery kan insit, die goed is deesdae so klein," sê sy pa.

Hulle moet die grootvaderklok op ʼn sleepwa sit vir iemand wat dit na sy broer op Stellenbosch gaan neem. Die klok het gestaan in al die huise waar hulle gebly het, en elke nuwe kwartier van hulle lewens aangekondig asof dit ʼn spesiale geleentheid was. Dit het nou gaan staan – sy pa het dit nie weer opgewen na sy ma se dood nie. Hulle beloof ʼn paar manne van die straat elkeen R 20 om te help om dit uit te dra. Hulle stap in gelid, drie aan elke kant van die klok, nou op sy rug gedraai met die glaskant bo, by die deur uit. Die uurwerk is uitgehaal en lê eenkant in koerantpapier toegedraai soos die vars vis wat jy by die hawe koop, met die gewigte se kettings wat uithang soos derms. "Hoe voel dit dan nou asof ons reguit begraafplaas toe moet loop met hierdie kis?" vra die een draer.

Hy sien die weerkaatsing van sy gesig in die glaspaneel van die klok. Dit lyk asof sy onder die glas lê en vir hom kyk.

Sy pa pak effens onhandig ’n skinkbord. "Kom ons sit op die stoep." Hy gooi vir elkeen twee lepels suiker in, gee die koppie tee aan. Hy onthou die suikerwater wat hy gekry het, die vakansie toe hy leer fietsry het op die Wesstrand se strate, wat toe nog ongeteer was. Hy het aan die onderkant van ʼn bult koers verloor en oor ʼn klip geval. Sy pa het net gelag toe hy hom gevra het om al die klippe uit die strate te haal. "Jong, dis hoekom jy moet leer fietsry. Jy moet by die klippe verbykom."

Die lug is koel en hy hou die warm koppie tussen sy handpalms vas. Die see strek voor hulle uit; diepblou teen die horison, waar die groot see is, turkoois in die middel, in die baai, en bruin nader aan die land, by die mond. "Daar was groot reëns op Riversdal," sê sy pa, "Jy kan in die see sien hoe die rivier afgekom het. En laasnag hoor ek dit het reeds op Elfuurkop by Swellendam gesneeu."

Hulle loop af na die rivier toe. Die deinings van die see kom by die mond in. Hulle hoor hoe die reuse branders op die rotse breek by Morris-punt, anderkant die hawe. Die geswolle rivier het tot by die brug opgedam voor die mond by die see, sy walle nou tot by die pad langs die rivier opgestoot.

Soos altyd trek hulle hul hemde uit en hou dit bo hulle koppe terwyl hulle rugslag deur die monding swem. Die water is koud en die stroom vloei sterk. Sy pa lyk klein langs hom. Dit is asof net sy kop en sy hand bo die water daar is, en niks hulle bymekaar hou nie. Die water het sy hare platgekam en sy bles het groter geword. Is dit al wat oorgebly het van die eens magtige man wat die deur tussen my en die buitewêreld so streng bewaak het? wonder hy. Die wind waai nou koud deur die verweerde, leë kosyne.

Daar lê boomstompe wat met die rivier afgespoel het op die sand en takke dryf by hulle verby. Hulle kom by die ander kant uit, en vryf met hulle hande die water van hulle lywe. Hulle stap oor die strand, wat leeg is behalwe vir ʼn jong paartjie wat mekaar omhels, in ʼn wêreld van hulle eie. Die twee het sopas geswem, en het helderkleurige handdoeke om hulle onderlywe gedraai. Daar lê knikkers op die sand. Klein, harde sade van ʼn tropiese boomsoort uit Mosambiek wat dié tyd van die jaar deur die warm suidwaartse seestroom langs die kus van Afrika afdryf en presies hier op Stilbaai se strand uitspoel – en nêrens anders nie. Die wolke is dun getrek deur die blou lug. Die herfsson weerkaats op die water waar die branders terugtrek. ʼn Blouvlagstrand, wat aan die hoogste standaarde van die suiwerheid van die water en hoe skoon die strand is, voldoen.

Dan sien hy dit. Die klein handjie wat tussen die seeskuim en knikkers op die hoogwaterlyn lê, die vingers nou in ʼn vuis gebal. Die see is rooi, met die branders wat pienk skuim voor hulle uitjaag. Sy pa vra wat verkeerd is. Hy beduie woordeloos na die verskrompelde hand. Sy pa neem ʼn stok en lig dit op. Dit is ʼn stuk dryfhout. Hy wil sy pa vertel, maar weet nie waar om te begin nie. Sy tong lê weer swaar in sy mond.

Hulle loop verder. Twee vaal strandlopertjies hardloop voor hulle uit. Die branders vee die voëltjies se miniatuurspore uit, maar laat ʼn ry vormlose gate half vol seewater in die sand waar hy en sy pa getrap het.

Sy pa vertel hom van sy ma se laaste weke, na hy haar kom groet het op pad Sri Lanka toe. Sy het kort na hy weg is die pille gelos en in die laaste dae gewerk aan die skilderye wat sy nog wou klaarmaak. Hulle het nog ʼn keer op die strand kom stap, maar sy was te swak. Sy pa het langs haar gesit en haar hand vasgehou die laaste oggend. Haar asemhaling het al vlakker geword, tot sy ʼn diep teug geneem het, dit ingehou het en toe stadig uitgeblaas het. Sy het die asem nie meer nodig gehad nie.

Hy vind dit moeilik om te konsentreer, en as sy pa klaar is, vra hy hom om dit weer te vertel. Sy pa, wat altyd van nature so ongeduldig was, vertel alles weer, rustig, terwyl hulle oor die dowwer-wordende strand stap. Hierdie keer neem hy dit in. Sy pa se stem is sagter as wat dit altyd was, gerusstellend.

Hulle kom by dit wat oor is van die Preekstoel, ’n natuurlike omdraaipunt. As hulle terugstap vertel sy pa hom van hulle lewe voor die kinders gebore is. Sommige van die stories het hy al gehoor, maar hy luister ewe aandagtig na alles. Hoe sy ouers mekaar in Amsterdam ontmoet het en verlief geraak het, en besluit het om daar te bly as gevolg van die destydse politiek in Suid-Afrika. Hy vertel hoe dit gekom het dat hulle ʼn paar jaar later besluit het om na Suid-Afrika terug te kom. Een Sondag het hulle Uys Krige se gedig Tram-ode gelees. Sy pa dra dit voor: "Daar's ’n hawe in die vaal mis, Amsterdam. Die herfsson gooi ’n goudvlek teen die tram. God, dit moet nou lente wees in Swellendam." Die Maandag het hulle hul kaartjies terug na Suid-Afrika bespreek.

Sy pa vertel hom ook van die begrafnis. "Dit was ʼn wind-stil dag toe ons haar as gaan strooi het by die brug. Die as het oor ’n groot oppervlakte van die rivier geval. Die wit-grys kol as het eers bo-op die roerlose wateroppervlakte gelê. Die volgende oomblik het dit alles, tegelykertyd, net verdwyn. Soos ’n skool tropiese vissies wat, asof op ʼn teken, saam na ʼn voorafbepaalde bestemming vertrek het."

Hy dink aan haar as wat skaars twee weke gelede afgedryf het in die soutwater van die riviermond waardeur hulle nou net geswem het. Wat word van sulke as in die see? Toe hulle kinders was, was daar poeierkoeldrank met die instruksies op die pakkie: "Just add water for the coolest cooldrink." Het sy op ʼn manier weer herleef toe haar as met die water meng, haar liggaam weer reg gerangskik deur die strome? Sou mens haar liggaam se buitelyne uit die buitenste ruimte in die oseaan kon sien – met die getye wat haar deeltjies soms nader aan, soms verder van mekaar bring? Tref vloede en oorloë die aarde wanneer die stukkies as ver uitmekaar is? Kom die blaartjies in haar oë ooit partykeer weer bymekaar, al is dit net vir ʼn vlietende oomblik in die see se gemaal, en skryf iemand dan iewers in die wêreld ʼn gedig sonder dat hy weet hoekom?

Toe hulle weer by die rivier kom, vra hy: "Dink jy ma was tevrede met my?" Dit is asof sy pa geweet het die vraag kom, maar hy antwoord eers nadat hy sy hemp uitgetrek het en terwyl hy oor die see kyk. "Ek weet julle was baie na aan mekaar, dalk die naaste van ons almal, maar dat jy soms gevoel het sy verwag te veel van jou. Een van ons laaste gesprekke het juis oor jou gegaan. Sy het gesê jy wou nou weliswaar nooit luister nie en jy doen dinge op jou eie manier, maar jy gaan dit juis om daardie rede nog ver bring, as jy jouself nie verongeluk met waar jy infoeter nie. Sy het jou, as mens dit van ‘n ma teenoor ‘n seun kan sê, op haar manier bewonder. Sy het net gewens dat jy weer sal skilder, want sy het gesê jy sien dinge raak wat ander mense nie sien nie."

Sy pa bly weer stil. Hulle is beide bewus daarvan dat die versweë helfte van die vraag nog nie beantwoord is nie. Dan sit sy pa sy hande op sy skouers en kyk hom vol in die oë: "Ja, en ek, ek voel ook so. Jy vat kanse wat jy nie moet nie, maar ek is ook trots op die man wat jy geword het."

Sy liggaam ruk. Die wal wat hy so lank in stand gehou het, breek. Die volle verskrikking wat in hom opgedam het vloei nou uit. "Dis alles reg, toemaar my seun," sê sy pa. Hy voel die hitte van die ouer man se arm om sy skouers, dan ’n effense klop op die rug. "Ek weet, die lewe is nie maklik nie. Maar jy sal reg wees daarvoor, so reg as wat mens maar kan wees."

Die koue water spoel sy gesig af as hulle terugswem Wesstrand toe. "Kom ons gaan braai die vis, jy ry al weer môre," sê sy pa. Hy kan sien sy pa wil nie na hom kyk nie. Die lug bo die Indiese Oseaan het ’n piek gloed.

Hulle stap langs mekaar op teen die bult, terug na die huis.

****

  • Lees die verhaal in Engels

https://www.litnet.co.za/a-funeral-at-stilbaai/

 

  • 1

Kommentaar

  • Ek het Christof Heyns se BEGRAFNIS OP STILBAAI baie geniet. Mens kon volkome met die karakters identifiseer en die pa-seun verhouding is baie sensitief en intelligent opgeset. Omdat ek die area ken kon ek die beskrywings wat visueel en goed geskryf is regtig waardeer. Ek sien uit na meer werk van Heyns as prosaïs.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top