Christine Falck gesels oor Deurbraak 2012

  • 0

Christine Falck, eienaar van die Aan de Braak-teater in Stellenbosch, het met LitNet gesels oor die opkomende Deurbraak-fees, wat van 27 Julie tot 4 Augustus plaasvind.

Vertel ons bietjie meer van die Deurbraak-fees. Wat is die konsep en waar is die idee gebore?

Die Aan de Braak -teater is ses jaar oud en die uitsluitlike doel van Aan de Braak se ontstaan was om aan opkomende kunstenaars 'n verhoog te bied sonder die hoë onkostes wat dit vir sulke kunstenaars meestal onmoontlik maak om 'n produksie tot uitvoering te bring.

Die Deurbraak-fees het ontstaan nadat die Dramadepartement van Stellenbosch die derdejaar- en honneurskabaret-eksamens in die teater aangebied het. Ek het vier jaar gelede besluit om hierdie fees met afgestudeerde studente te doen om aan hulle blootstelling te gee, soos aan die pers, media, teaterkundiges, feesdirekteure en almal in die bedryf. Ek nooi dus hierdie teaterkundiges juis om geleenthede vir hierdie kunstenaars te skep.

Jy sê die produksie het by KKNK 2012 gedebuteer. Hoe was die ervaring?

Die ABSA KKNK het hierdie jaar besluit om die Deurbraak-doelstelling saam met my te laat leef deur 'n spesiale venue tydens die fees te skep wat hulle ook Deurbraak noem! Dit was op sigself natuurlik 'n deurbraak! Ek het die Deurbraak-venue gekoördineer en dit was 'n baie, baie groot sukses! Ons is reeds besig met volgende jaar se beplanning vir die ABSA KKNK, waar my eie Deurbraak-produksie weer met 'n nuwe produksie sal debuteer. Daar sal ook ander produksies volgende jaar aangebied word, deur landwye opkomende kunstenaars.

Watter kunstenaars neem almal aan die vertoning deel? Het die organiseerders klem gelê op enige spesifieke kunstenaarsgroeperinge met die reël van die produksie?

Daar word 'n regisseur deur my aangewys (Riaan Visman is die regisseur van Deurbraak 2012) asook 'n musikale regisseur (Lucas Heinen). Die groep kunstenaars skryf dan elk hul eie kort kabaret met 'n eie song of parodie en dan is dit die regisseur en musikale regisseur se moeilike taak om al hierdie (10) verskillende kunstenaars se werk saam te vat, sodat dit 'n skouspel van teater verskeidenheid raak!

Watter soort vertoning kan verwag word? Met ander woorde, hoe lyk die balans tussen musiek, teater ensovoorts?

Dis 'n wonderlike teaterverskeidenheid, met woordkuns, sang, drama en 'n fantastiese orkes wat almal begelei.

Watter soort ervaring kan teatergangers verwag van die fees?

Die teaterganger kan met die huidige Deurbraak verwag om op 'n heerlike reis te gaan en verskillende emosies te ervaar, maar met 'n goeie gevoel die teater te verlaat!

 


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top