Christa van Staden: Telegram die beste geselstoep vir gebruik deur leerders en studente

  • 0

Agtergrondfoto: elCarito op Pixabay

Liné Loff gesels met Christa van Staden oor haar jongste artikel in LitNet Akademies, “Telegram, Signal of WhatsApp? Keuse van ’n geskikte toep om mobiele leeromgewings vir Suid-Afrikaanse hoëronderwyskontekste te skep”.

Hallo, Christa. Jou mees onlangse artikel is verskriklik interessant en baie aktueel, veral nadat daar tydens die COVID-19-pandemie in baie gevalle op geselstoeps staatgemaak is vir noodafstandonderrig. Sal jy asseblief kortliks verduidelik waaroor jou navorsing gegaan het?

Hallo Liné, baie dankie vir die geleentheid om oor die artikel te gesels. Dit is so lekker om terugvoer op die artikel te kry. Ek het WhatsApp in 2015 in afstandhoëronderwys as tweede leeromgewing vir studente gebruik. Alhoewel ek dit bruikbaar gevind het, was daar beperkings wat die bruikbaarheid van die toep beïnvloed. Groot dokumente moes op ander maniere gedeel word, ek kon nie my persoonlike kontaknommer wegsteek nie en die studente het dikwels tussendeur gesels as ons besig was om ’n probleem op te los. Die belangrikste beperkings was egter dat boodskappe nie geredigeer kan word nie en dat boodskappe na ’n kort tydperk nie meer uitgevee kon word nie.

Toe Facebook in 2021 vereis het dat WhatsApp-gebruikers se inligting met hulle gedeel word, het ek besluit om ’n ander toep te gebruik. Signal is die veiligste, maar Telegram bied soveel funksies waarmee die beperkings van WhatsApp oorkom kan word. Hoe meer ek Telegram gebruik het, hoe meer het ek besef hoe bruikbaar dit is. Dus het ek besluit om die drie toeps, naamlik Telegram, WhatsApp en Signal, met mekaar te vergelyk. In die artikel gebruik ek skermskote om die ooreenkomste en verskille uit te lig. Die bevinding is dat Telegram die geskikste toep vir hoër onderwys is; ’n bevinding wat deur Unisa en Radio Oranje se oorskuif na Telegram ondersteun word.

Vir persoonlike gesprekke verkies ek Signal, dus gebruik ek beide op my eie slimfoon. Ek het WhatsApp egter van my persoonlike slimfoon verwyder omdat ek nie vir Meta toegang tot my persoonlike inligting gaan gee nie. Die soort data wat WhatsApp insamel en met Meta deel, is goud werd vir kuberdiewe. En ek sien nie kans vir die drama as ek die slagoffer van identiteitsdiefstal sou word nie.

As jy deur ’n universiteit genader sou word om ’n aanbeveling te maak ten opsigte van watter geselstoep die beste sal werk vir dosente, tutors of adminpersoneel om met hul studente te kommunikeer, watter toep sou jy aanbeveel en waarom?

Na afloop van die navorsing kan ek Telegram met ’n geruste hart aanbeveel.

Ek sou universiteite aanraai om Telegram te gebruik omdat dit ’n bruikbaarder toep as Signal en WhatsApp is. Unisa het reeds die stap geneem. Die kanaalfunksie (lesers kan hier klik om my voorbeeldkanaal te toets) is ’n wenner wat Telegram bo die twee ander toeps laat uittroon. ’n Onbeperkte aantal studente kan ’n kanaal volg, die plasings word in chronologiese volgorde op die tydlyn geplaas, en statistiek is by elke plasing beskikbaar. Sodoende word toegang tot gedeelde inligting bevorder, terwyl een van die frustrasies van die twee ander geselstoeps oorkom word, naamlik dat studente tussenin kan gesels as ’n probleem bespreek word. Dit is voordelig dat kommentaar op elke plasing op een plek gelees kan word. Indien die kanaal met ’n groep gekombineer word (lesers kan hier klik om my voorbeeldgroep te toets), word die plasings in die kanaal outomaties in die groep gedeel. Studente kan dan kommentaar op die plasings in die kanaal lewer, maar ook gewoonweg in die gekombineerde groep (wat tot 200 000 studente kan hanteer) gesels. Sodoende kan die dosent moniteer wie na die plasing gekyk het, maar studente kan ook gemaklik in die groep met mekaar gesels om by mekaar te leer.

Professionele leeromgewings kan geskep word omdat foutiewe plasings geredigeer en – indien nodig – van die tydlyn verwyder kan word sodat die res van die groep dit nie kan lees nie. Die bruikbaarheid daarvan wil ek tong in die kies aan die hand van twee berugte vrouens – wat per ongeluk seksueel eksplisiete video’s van hulself in WhatsApp-groepe gedeel het – verduidelik. Die een het ’n video in ’n kleuterskool se WhatsApp-groepie vir ouers geplaas en die ander een in ’n skool se WhatsApp-groepie vir netbalouers. Beide se verleentheid kon gespaar gewees het indien die video’s spoorloos uitgevee kon word soos in die geval van Telegram, wat gebruikers na ’n lang periode toelaat om so ’n plasing op sy eie skerm, maar ook op die tydlyn, te verwyder. Ek het nog nie van so ’n geval in hoër onderwys gelees nie, maar ek verstaan dat studente gedurende die pandemie wel eksplisiete plasings in WhatsApp-groepe gemaak het. Dit is ’n groot probleem as plasings binne ’n uur of twee permanent raak en nie meer verwyder kan word nie. Aangesien ongevraagde plasings verwyder kan word, kan dit dosente aanmoedig om Telegram te gebruik. Dit is ook voordelig dat baie groot dokumente (2 GB) direk in Telegram gedeel kan word, aangesien alles so op een plek beskikbaar gemaak kan word.

Telegram is ook bruikbaar omdat dosente kan kies om met behulp van ’n gebruikersnaam eerder as ’n telefoonnommer te kommunikeer en hulle telefoonnommers kan wegsteek.

Telegram is wel nie so veilig soos Signal nie, maar beslis veiliger as WhatsApp, wat gebruikers se persoonlike inligting met Meta (die Facebook-groep se nuwe naam) deel. Volgens Burgert Senekal – een van my navorsingsvriende met kennis oor die veiligheid van die drie toeps – is dit nie sinvol om die veiligste toep te kies nie, aangesien mense daagliks toeps soos WhatsApp, Facebook, Instagram, Google en so meer op hulle fone gebruik, wat baie persoonlike inligting insamel. Ek beveel dus eerder aan dat dosente en studente in aanlyn veiligheid opgelei word.

Jou navorsing is gedoen met die oog op die hoëronderwyskonteks. Sou die bevindinge ook van belang kon wees vir laer- en hoërskole, waar daar al meer klem op kommunikasie tussen ouers, onderwysers en leerders gelê word?

Ek sou Telegram beslis ook vir skole en kleuterskole aanbeveel. Soos bo genoem, is dit voordelig dat kanale vir amptelike inligting geskep kan word, dat daar gemoniteer kan word wie elke plasing gelees het en dat kommentaar op plasings op een plek gelees kan word terwyl waardevolle statistiek oor die reikwydte van elke plasing verkry kan word. Dit is ook bruikbaar omdat 2 GB media en dokumente in Telegram-groepe en -kanale gedeel kan word, sodat alles op een plek beskikbaar kan wees. Onderwysers en leerders moet egter in aanlyn veiligheid opgelei word omdat mense heeltemal te veel persoonlike inligting in geselstoeps deel.

Was daar enige verrassende feite waarop jy afgekom het tydens jou navorsing oor hierdie onderwerp?

Telegram het my verras met funksies wat nie deur die twee ander toeps gebied word nie, omdat ek aangeneem het dat alle geselstoeps soortgelyk is en ek enigeen kan kies. Daar is so pas nog funksies vrygestel wat my opgewonde maak:

  • Premium-lede kan dokumente van tot 4 GB deel (teen R89 p/m), maar die 2 GB vir gewone lede is meer as voldoende.
  • Gebruikers kan lêers vir hulle kontakte, groepe en kanale skep en gesprekke so organiseer onder afdelings wat hulle self skep, byvoorbeeld skool, studente, persoonlik, personeel, ensovoorts.
  • Administrateurs van openbare groepe kan nuwe nou lede keur. Sodoende kan dosente seker maak dat slegs hulle eie studente tot ’n groep toegelaat word.
  • Die nuwe iOS-funksie (Apple) kan teks in foto’s herken.
  • Boodskappe kan in die toep in ’n verskeidenheid tale vertaal word.
  • QR-kodes kan vir jou profiel of groep of kanaal geskep word om met ander te deel.

Ek vermoed Telegram gaan WhatsApp se monopolie verbreek, soos wat WhatsApp BlackBerry Messenger (BBM) s’n verbreek het, maar dit gaan tyd neem. Nuwe tegnologie word nie meteens aangeneem nie; dit syfer stadig in sosiale omgewings in. Die oorskakeling na ’n nuwe tegnologie word egter deur persepsies van bruikbaarheid, insetverwagting en werksverrigtingverwagting beïnvloed, daarom kan die opneem van Telegram deur werkswinkels bevorder word.

Is jy op die oomblik besig met enige nuwe navorsing waaroor jy iets wil vertel?

Ek het op die oomblik verskeie ysters in die vuur.

Eerstens is ek en Liezel Nel van die Universiteit van die Vrystaat besig met ’n duo-etnografie waarin ons by mekaar leer oor die voordele en beperkings van WhatsApp as mobiele leeromgewing. Beide van ons het dit tydens ’n noodtoestand gebruik toe daar skielik na aanlyn onderwys oorgeskakel is, maar in verskillende kontekste, naamlik afstandhoëronderwys en noodafstandonderwys. Dit is ’n interessante metodologie, soveel anders as tradisionele navorsingsmetodes. Ons is ook besig met navorsing oor die leer wat tydens noodafstandonderwys in ’n WhatsApp-groep plaasgevind het.

Tweedens stel ek intens in begaafdekindonderwys belang. Aangesien navorsing daaroor bykans doodgeloop het na die oorskakeling na inklusiewe onderwys, is ek besig met ’n reeks artikels oor die begaafde seun wat onderpresteer – gebaseer op die bevindinge van my MEd. Die eerste een handel oor die moontlike verband tussen onderprestasie van begaafde seuns en hulle verhouding met hulle pa’s.

Laastens broei navorsing in my agterkop oor geskikte toeps vir kleuters. Aangesien ek drie dae per week voldag na my kleinseun (pas 2 jaar oud) kyk, is ek intens bewus van ’n behoefte aan geskikte toeps vir die ontwikkeling van jong breintjies.

Lees ook:

Telegram, Signal of WhatsApp? Keuse van ’n geskikte toep om mobiele leeromgewings vir Suid-Afrikaanse hoëronderwyskontekste te skep

Tussen verskeie vure: WhatsApp-privaatheidsinstellings, enkripsie en alternatiewe boodskaptoepassings (Telegram en Signal)

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top