Chris Barnard gegroet

  • 16

Op Woensdag 6 Januarie 2016 is afskeid geneem van Chris Barnard tydens ’n gedenkgeleentheid by die huis wat hy en Katinka Heyns op Onrus gedeel het.

Hy is op 28 Desember 2015 oorlede.

’n Eenvoudige gedenktafel met skulpe, blomme en twee foto’s van hom is onder ’n noem-noemboom naby ’n voëlbadjie ingerig.

Net buite die muur is ’n boom geplant vir Chris. Almal is genooi om ’n beker water op die boom te gooi.

Oral is suurlemoene en sonneblomme neergesit.

Sy boeke is ook op verskillende plekke neergesit.

Voor die tyd het Katinka ’n aantal kerse aangesteek.

Ons is genooi om ons plekke in te neem onder sambrele wat in die tuin staangemaak is.

Katinka het gesê dat Chris se menslike stem stil is, maar sy skrywerstem sal bly voortbestaan in sy stories.

Die sambrele is aanvanklik opgesit om almal teen die versengende son te beskerm, maar teen die tyd dat met die verrigtinge begin is, het ’n ligte stuifreëntjie uitgesak.

Katinka het opgemerk dat Chris die reën sou verwelkom het.

Sy het ons vertel van Chris se liefde vir die Bosveld, veral die bome. Hier staan sy met die peul van ’n doringboom.

Die hele natuur was sy kerk, het sy gesê.

Katinka het Chris in die teater ontmoet.

Toe sy saam met Koos Roets ’n dokumentêr oor die see wou maak, het hulle vir Chris genader om die verteller te wees.

Chris het gesê hy is nie juis ’n seemens nie. Hy hou van dinge wat stilstaan, soos bome, maar Jan Rabie, hý was nou ’n seemens. So het Katinka vir Jan ontmoet.

Uiteindelik het Chris en Katinka tog liefgeraak vir die see, deels omdat Jan hulle allerlei geleer het. Chris en Katinka het later langs Jan en Marjorie ingetrek – regoor die poel wat nou bekend is as die Jan Rabie Getypoel.

Chris se hart het egter altyd teruggehunker na die Bosveld, dit is hoekom hulle huis “Hier en daar” heet. Chris was hier én daar tuis.

Katinka het ook vertel van Chris se laaste aantal dae in die hospitaal. Hy wou dat sy ’n rok vir Kersfees koop, wat sy toe gedoen het. Sy het dit op Kersdag aangetrek, maar onder die beskermende klere wat hulle in die intensiewesorgeenheid moes dra, kon hy dit nie sien nie. Toe Chris vra, het sy die plastiekoorstuk uitgetrek en vir hom gedans sodat hy die rok kon sien.

Hier wys sy vir ons: sy dra die einste rok.

Braam de Vries het daarna die woord gevoer. Braam het staaltjies van die Sestigers vertel, onder andere van ’n kaalswemmery in Chris-hulle se swembad. (Dit was darem donker én donkermaan, het Braam vinnig bygevoeg.)

Braam en Chris het saam by Die Vaderland gewerk.

Pieter Spaarwater, wat tóé al net soos Chris gelyk het, was ’n kollega by Die Burger. Pieter kon Woensdag se geleentheid bywoon. Hy lyk nog steeds soos Chris gelyk het voor hy oorlede is en Chris en Pieter is op grond hiervan soms met mekaar verwar.

Braam het ook vertel hoe Chris vir Cobus Rossouw bewonder het. Chris het Pa, maak vir my ’n vlieër, Pa daar in Die Vaderland se kantore sit en skryf en het van die begin af gesê Cobus moet die hoofrol speel, wat toe ook gebeur het.

Frederik de Jager het toe die woord gedoen. Hy het Chris leer ken as redakteur, maar het later ’n vriend geword. Frederik was die redakteur van Moerland, Oulap se blou, Boendoe en Die Wonderwerker.

Chris kon baie ernstig voorkom, vertel Frederik, maar as jy hom geken het, kon jy sien daar is altyd ’n skalkse laggie te bespeur – soos op die foto voorop die klein huldigingspamflet wat aan die gaste uitgedeel is.

Die huldigingspamflet het heelwat foto’s en baie interessante stories oor Chris bevat.

Cobus Rossouw het ook gesels oor die jare toe hy in Chris se toneelstukke gespeel het.

Pas ná Cobus klaar gepraat het, word die reën skielik harder. Katinka sê daar en dan dat sy dink Chris, wat ’n hekel aan aan lang toesprake had, hiermee vir haar probeer sê genoeg is genoeg; dus nooi sy ons om ’n kers te kom aansteek vir Chris, ’n wyntjie te drink en saam te eet.

Eduan Naudé en Katinka steek kerse aan vir Chris.

Braam de Vries steek ’n kers aan.

Pieter Fourie steek ’n kers aan. Links van hom is Marieta Nel, regs is Cobus Rossouw.

Marieta Nel, Sandra Kotzé en Cobus Rossouw

Hannie de Vries

Hannie vertel dat sy al ’n bak lasagne reg gehad het, want Chris en Katinka sou kom kuier. Toe is hy in hospitaal toe.

Almal het stories oor Chris. Hier wys Johan Barnard, Chris se seun, ’n boodskap op Facebook. Dit lees: “Die oom wat Danda geskryf het, is oorlede en my hart is seer – kinderboek oor ’n seun en sy dinge wat ek vir my seuns kon lees en wat ons almal ewe veel geniet het. Dankie Chris Barnard. Rus in vrede.”

So lyk Johan Barnard.

Chris se jongste seun, Simon, was ook daar.

Verskeie skrywers, letterkundiges, vriende en famille het die geleentheid bygewoon. Craig Chapman het gesorg vir die kos.

Petra Müller

Karina M Szczurek

Pieter Fourie

Annari van der Merwe

Marieta Nel

Estelle Spaarwater

Hannes Naudé

Gretha Naudé

Sandra Kotzé

Francis Galloway

Flick du Toit

Rebecca Koroko, Mike Kolokole, Stanley Nselema en Sharon Nselema

Gerhard Barnard

Brian Verwey

Douw Steyn

Rudi en Lynette Labuschagne

Eduan Naudé, Anneke Weidemann en Annchen Weidemann

Justa Niemand

Zahn du Toit en Morgan Hyett

Nog eens Morgan

Sami en Lana Naudé

Cobus Rossouw skryf ’n finale boodskap.

Onthou: die skrywer se stem leef voort in sy boeke, sê Katinka.

Chris Barnard se ATKV-skrywersalbum bevat ’n volledige oorsig oor sy werk.

As julle nie sy styl ken nie, klik hier om een van sy laaste gepubliseerde werke te lees. Dit is die verhaal die “Die agtuurtrein” wat in Mooiloop (LAPA Uitgewers) gepubliseer is.

Om vir Chris Barnard self oor sy romans te hoor praat, klik hier. Dit is ’n onderhoud wat ek kort na die verskyning van Boendoe met hom gevoer het.

  • 16

Kommentaar

  • Philippus Janse van Rensburg.

    'n Liefde vir bome, vir die wasigheid van die vertes, die Laeveld en die Platorand. 'n Liefde vir die ráák woord. Dinge wat ek gedeel het met hom, sonder om voorbarig te wees, of aanmatigend. Ja, een van ons, dis hý!

  • Heinie Heydenrych

    Uiters aandoenlik. Ek dink Chris sou dit só wou gehad het.
    Terwyl ek alles gelees het het hierdie woorde deur my kop gegaan: Vriendin, plant vir my 'n bloukappie.
    Francis sal dit verstaan.

  • Dit is nie net die stem in sy werk wat sal voortleef nie, maar ook die stem wat hy in my en sy ander lesers wakker gemaak het. Afrikaans is armer sonder hom.

  • Rudi van Onselen

    Die voorreg gehad om vir Katinka en Chris te ontmoet in die vroeë 90s, ek was toe ’n jong konstabel verbonde aan die toe Genl Johan Coetzee SAPS en nou heet hy Sophiatown SAPS. Die egpaar het hulle tuinier as vermis aangemeld ... Nooit geweet of die tuinier gevind was al dan nie. Dankie vir die deel van hierdie eerbewys aan ’n groot boom van die letterkundige kunste van Afrikaans ...

  • Rina Nienaber

    Pragtige huldeblyk aan 'n letterkundige reus. Ek onthou vir Chris as 'n man met 'n heerlike, droë sin vir humor. Dankie dat ons in hierdie groet op Onrus kon deel.

    Met lof
    Rina

  • Andriette Jooste

    Pragtig! Sonneblomme, suurlemoene, kerse, reën. Al die mooiste dinge wat 'n aardse Mens sou waardeer. Martie vd Linde, ek sien jou hand in hierdie diens. Lus om Al Chris se boeke te lees. Mooi loop Katinka.

  • Begin vandag weer aan Chriskras lees, en dan Mahala, dan volg Danda, en so tot ek almal weer gelees het. Dan gaan ek die hele Amalia weer kyk ... Gaan jou mis, jy was een van die heel eerste Afrikaanse skrywers waarvan ek bewus geraak het. En toe loop my pad so dat ek vir jou en Katinka en Simon leer ken, wat ’n voorreg, dankie dat jy my vertel het dat Pietpatat ’n Tiptol is ... Elke liewe een wat ek sien, laat my altyd dink aan ’n groot skrywer wat moeite gedoen het om my te bel en van tiptolle, bottergatte en Pietpattatas te vertel ... Vaarwel.

  • Matthys Strydom

    Aandoenlik, die verslag oor Woensdag se funksie op Onrus, met treffende foto's. Chris het 'n groot bydrae gelewer tot my liefde vir my taal en letterkunde - dit wat die bliksems nou weer, soos die Engelse destyds, probeer doodmaak. Dit sal weer misluk.

  • Corlia Fourie

    Ek en Chris het in die sewentigerjare 'n tyd lank in dieselfde gebou in Markstraat, Braamfontein, Johannesburg gewerk. Hy vir Die Huisgenoot en ek vir Sarie. Teetye het Chris gewoonlik vertel dat hy geen idee het wat om vir sy weeklikse rubriek, Chriskras, te skryf nie. As jy hom in die gang raakgeloop het, het hy gewoonlik bedruk gelyk - hoewel die glimlag ook altyd naby was. Maar as dit spertyd was (nie voor die tyd nie) het hy gaan sit en skryf en in sy gepubliseerde rubrieke was daar nooit enige teken van die moeite en die kopkrap wat dit hom gekos het nie. Weet enigiemand of die roman waarmee hy besig was toe hy 'n ruk gelede op sy plaas aangeval is ooit gevind is? Die storie was op sy rekenaar, maar ek dink nie hy het 'n afskrif gehad nie. Hoe jammer!

    • Izak de Vries

      Hallo Corlia, volgens Braam de Vries was daar nie 'n ander afskrif van die roman nie.
      Dankie vir die wonderlike insae in sy skryfwyse!

      • Corlia Fourie

        Ek het gelees Braam vertel dat Chris so vinnig stories kon uitdink, maar ek het dit nie so ondervind nie. Chris het baie lank gedink, herdink en weer gewerk aan goed wat op die oog af taamlik "maklik" gelyk het. Ek het net Markstraat en Braamfontein se geboue in my vertelling verwar. Nasionale Tydskrifte (nou Media 24) se kantore was eers in Markstraat in die middestad en daarna in De Kortestraat in Braamfontein. Ek en Chris was daardie tyd die Johannesburgse verteenwoordigers van ons onderskeie tydskrifte. Ek, vir die grootste deel, die enigste Noordelike verteenwoordiger van Sarie en Chris het darem hulp gehad; Kobus Louw, wat later TV-reekse soos "Dokter-Dokter" geskryf het (deur Manie van Rensburg verfilm) was sy regterhand. Kobus is jonk dood.
        Chris het ook vir my (wat toe nie wou fiksie skryf nie) en Koos vertel hoe belangrik titels is. Chris het dikwels ritse titels op my en Koos getoets. Ons klomp ('n paar Wits-lektore ingesluit) het ook minstens een keer per maand rolprente wat deur die Publikasieraad verbied is, by Chris se huis - hy was toe nog met sy eerste vrou, Annette Barnard, getroud - gekyk. (Daardie tyd het die Publikasieraad prente met bedtonele of vloekwoorde sonder meer verbied of versnipper.) Chris was soms net 'n bietjie benoud dat ons betrap sou word en dat hy dan die voorblad van die Afrikaanse Sondagkoerant sou haal, maar as ek reg onthou, was daar dikwels ook van die koerant se mense wat saamgekyk het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top