Daar is ’n baie belangrike dimensie van China se wisselwerking met Afrika wat dikwels oor die hoof gesien word. Dit is die simbiotiese verhouding wat Chinees-georganiseerde misdaad met strukture in Afrika het en die rol wat die militêr-industriële kompleks daarin speel. Elemente van Chinees-georganiseerde misdaad is teenwoordig in bykans elke land in Afrika, veral waar die Afrikaland oor ’n kuslyn beskik en ’n myn of ontginningsbedryf teenwoordig is.
Chinese misdaadgroepe is nie die enigste buitelandse kriminele strukture in Afrika nie, maar hulle het wel ’n paar nismarkte. Dit sluit in die beheer en uitvoere van perlemoen, wat deur die wet op mariene lewende hulpbronne beskerm word. Perlemoen is ’n lekkerny en afrodisiakum onder die Chinese bevolking. Chinese misdaadgroepe is die grootste kopers en handelaars in die smokkel van ivoor, haaivinne en renosterhorings. Dié diereprodukte is onwettig om mee handel te dryf. Verder is Chinese groepe kopers van onwettig gemynde goud en diamante wat deur ambagsmynwerkers (artisinal miners) gemyn word. Werkers wat wettig in myne werk, word ook omgekoop om minerale aan Chinese handelaars te verkoop.
Markte soos perlemoen lyk dalk klein, maar in Suid-Afrika alleen neem die Chinese jaarliks meer as 525 ton teen ’n gemiddelde straatwaarde van USD $75 per kilo. Dit is amper USD $40 miljoen per jaar. Wat dit baie meer kommerwekkend maak, is dat die betaling aan plaaslike verskaffers gemaak word in die vorm van aflewerings van tik (metamfetamien). Tik word saam met mandrax (metaqualoon) regoor landelike gebiede in Afrika verkoop. Terwyl Chinese groepe die virtuele monopolie op tik het, ding hulle met Pakistani’s en Indiërs mee vir die verkope van mandrax. Afrika is ’n vrugbare grond vir die verspreiding van dwelms. Die Wes-Indiese Yardies en die Nigeriese clans oorheers die Wes- en Sentraal-Afrikaanse heroïenmarkte, terwyl die Colombiane ’n houvas op die verspreiding van kokaïne het. In Suider- en Oos-Afrika het die Chinese ’n direkte verbinding na die Goue Driehoek-fabrieke (Golden Triangle Factories) van die Mekong Delta.
Sedert die 1950’s produseer die Goue Driehoek opium op ’n groot skaal. Meeste van die wêreld se heroïen is ook afkomstig van die Goue Driehoek. Die Italiaanse Mafia-families gebruik die kontant wat deur dwelmhandel gegenereer word as ’n reusegeldwassery vir hulle onwettige rykdom. Groepe van al die lande is betrokke in die lotery-, dobbel- en gelduitleen-besighede. Ten opsigte van mensehandel is dit hoofsaaklik die Chinese wat onwettig met mense handel dryf. Van hulle eie burgers word na die buiteland gestuur om as slawe vir die Snake Head- georganiseerde misdaadgroepe te werk.
Chinese wat hulleself aan kriminele aktiwiteite skuldig maak, doen dit nie in ’n private hoedanigheid nie, maar is deel van goed-georganiseerde triades. Dié triades se oorsprong strek terug na die Han-Chinese se stryd teen die Qing-vorstehuis in die 1700’s. In vandag se tyd is die Han-Chinese die grootste etniese groep in China, en die grootste etniese groep in die wêreld. Triades is bedrywig regoor China en is deel van die politieke en sosiale samestelling van die land.
Triades het regoor die wêreld versprei nadat China die setel van Taiwan in 1971 in die Verenigde Nasies (VN) oorgeneem het. Van die triades het hulle kriminele aktiwiteite ook na Afrika geskuif. Dit was as gevolg van China se sluit van verhoudinge met verskeie Afrikalande en geleenthede wat in die Afrikamark ontstaan het. Die triades was gereed en gewillig om die belange en besigheidsaktiwiteite van die Chinese Kommunistiese Party (CKP) in Afrika te help uitbrei. In die vroeë jare het lede van die triades aan Chinese installasies soos spoorweë en hawens gewerk. Op hierdie manier het hulle toegang tot die onwettige verkryging van minerale soos goud en diamante en natuurlike hulpbronne verkry. Dit het hulle baie aantreklik gemaak vir Chinese militêre maatskappye wat in Afrika se hulpbronne belanggestel het.
Die Chinese intelligensiediens trek ook voordeel uit die teenwoordigheid van triades in Afrika. Dié diens gebruik ekonomiese spioenasie om invloed in die buiteland uit te oefen. Eerstens word agente gewerf, veral geleerdes en wetenskaplikes, wat na die buiteland gestuur word om inligting en tegnologie te koop. Tweedens word Chinese maatskappye wat oor die verlangde inligting en tegnologie beskik, gebruik om maatskappye in die buiteland te koop. Derdens word Chinese frontmaatskappye gebruik om inligting en tegnologie aan te koop. Triades word ingespan om inligting uit die plaaslike gemeenskappe te versamel wat baie waardevol vir die intelligensiediens is.
Intelligensie-agentskappe binne die weermag is direk gekoppel aan die militêr-industriële kompleks. Dié militêre industrieë is die ekonomiese ruggraat van China se buitelandse beleggings. Na China se oopdeur- internasionale ekonomiese beleid in die 1990’s afgekondig is, het die weermag se begroting van die nasionale begroting afgeneem. Dit het die leierskap van die weermag aangespoor om ander militêr-industriële maatskappye soos China Xinxing, Poly en Songhai te stig wat voordeel uit die opening van China se internasionale ekonomie getrek het.
Samewerking tussen triades en militêre maatskappye maak dit makliker om die politieke gekonkel van Chinese beleggings te verbloem. Dit word agter ’n front van tussengangers sonder militêre verbintenisse geplaas. Die triades genereer aansienlike bedrae geld op hulle eie en is nie finansieel afhanklik van maatskappye om kriminele aktiwiteite te loods nie.
Chinees-georganiseerde misdaad neem toe in intensiteit in Afrika en word in ’n ernstige lig beskou. ’n Onlangse voorbeeld is die smokkel van Malawiese burgers na Suid-Afrika om dwangarbeid te verrig. Sewe Chinese burgers is skuldig bevind aan ontvoering en die dryf van handel in mense. Die vonnis kom bykans ses jaar nadat die sewe burgers gearresteer is by ’n fabriek in Johannesburg.
Wydverspreide korrupsie in sommige Afrikastate vergemaklik die aktiwiteite van Chinese kriminele triades deur wetstoepassing te verswak en onwettige aktiwiteite ongestraf te laat voortgaan. Die geïsoleerdheid van Chinese burgers in Afrika maak dit verder moeilik vir plaaslike wetstoepassers om kriminele organisasies wat binne die gemeenskap opereer, te infiltreer. Die toegeeflike of ondoeltreffende strafregstelsel in Afrikalande skep ook ’n laerisiko-omgewing vir georganiseerde misdaad. Triades benut globale voorsieningskettings en digitale tegnologieë om hulle reikwydte uit te brei en onwettige aktiwiteite te diversifiseer. Dit skep ’n volgehoue en ontwikkelende uitdaging vir regerings in Afrika om dié misdaad hok te slaan.
Bibliografie
Cusef Blog. 2023. Exploring the ethnic groups of China. 20 Februarie. https://www.cusef.org.hk/en/cusef-blog/exploring-the-ethnic-groups-of-china (13 November 2025 geraadpleeg).
Ekanem, S. 2025. As Africa deepens ties with China, a shadow economy of scams, crime and exploitation is rising. https://africa.businessinsider.com/local/lifestyle/as-africa-deepens-ties-with-china-a-shadow-economy-of-scams-crime-and-exploitation-is/2f31mqz#:~:text=Analysts%20highlight%20a%20combination%20of,cultural%20exchange%20and%20economic%20partnerships (13 Oktober 2025 geraadpleeg).
Global Initiative. 2025. Mapping organized criminal economies in East and Southern Africa https://globalinitiative.net/analysis/mapping-organized-criminal-economies-in-east-and-southern-africa/ (18 Oktober 2025 geraadpleeg).
Ngcobo, K. 2025. Chinese nationals jailed over kidnapping and forced labour in South Africa. 10 September. https://www.bbc.com/news/articles/c20v3n7wllzo (17 Oktober 2025 geraadpleeg).

