China se verenigde-front-strategie in Afrika

  • 0

China se gebruik van ’n verenigde front om individue en organisasies in Afrika te beïnvloed hou groot voordele vir die land in. Dié front is veral doeltreffend om ondersteuning vir die belange en doelwitte van die Chinese regering te kweek, terwyl die land se teenstanders in Afrika geïsoleer word.

1. Inleiding

’n Kernelement van China se pogings om invloed in Afrika uit te oefen is die skepping van ’n positiewe beeld van, en ondersteuning vir, die Chinese Kommunistiese Party (CKP). Die politieke strategie wat bekend staan as die Verenigde Front (VF), mobiliseer individue en organisasies om die belange van die CKP te bevorder en teenstanders te isoleer.

Die teikengroepe van die VF sluit in afgetrede regeringsamptenare, akademici, sakelui, burgerlike organisasies, die jeug, die media, dinkskrums, staatshoofde, invloedryke organisasies, openbare intellektuele, politieke partye, die privaatsektor, regslui en vroueregtegroepe. Slegs ’n klein aantal van die organisasies het direkte skakeling met die CKP, wat hulle verbintenis met die party minder voor die hand liggend maak. Die aktiwiteite van die VF het ten doel om die CKP se oorlewing te verseker en Chinese ekonomiese en militêre mag wêreldwyd uit te bou. Afrika is China se grootste bron van ondersteuning en Chinese uitgangspunte, posisies en ervaring word hartlik ontvang.

Die CKP maak staat op ’n strategie wat oorwegend partygesentreerd is om regeringsamptenare in Afrika te werf en op te lei in die beginsels en die beleid van die party. Teenstanders wat krities staan teenoor China se beleid word geteiken en daarvan weerhou om politieke magsposisies in plaaslikeregeringstrukture te vervul. Verder is die VF getaak om openbare mening te beïnvloed deur middel van verhoogde betrokkenheid in opvoedkundige instellings, navorsingsentrums, kultuurorganisasies en mediamaatskappye. Die doel is om ’n positiewe beeld van China uit te straal en die Weste se pogings om China in ’n slegte lig te stel, teen te staan.

Waarnemers uit Afrika beskou China se partygesentreerde strategie as een waar die CKP hulle blind staar teen onstabiele en onbekwame regerings in Afrika. Dikwels word outoritêre regerings ondersteun om politieke solidariteit te verkry en word lande wat hulleself daartoe verbind het om demokrasie te bevorder, nie oorweeg nie. Die publiek se interpretasie van nuus en belangrike gebeure word ook van die werklikheid verdraai. Dit alles om misinformasie te versprei en die geloofwaardigheid van die CKP te versterk.  

2. Die masjinerie van die VF

Die VF koördineer etlike duisende individue en organisasies om China se vriendskapskring uit te brei. Die poging is om individue en organisasies wat onpartydig staan te oorreed om vriende te word, onbetrokkenes op ’n afstand te hou en vyande te verdeel. ’n Belangrike doel van die VF is om te verseker dat die CKP se mag nie ondermyn word nie. Van die hooftake sluit in die bevegting van ideologie wat nie in staat is om die denkrigtings van teikengroepe te beïnvloed nie. Die ideologie moet in staat wees om rigting aan die oortuigings van teikengroepe te gee en moet as rigtingwyser vir aksie dien. Van die ander bedreigings wat beveg word, is die bevordering van Westerse demokrasie, waardes en sosiale orde, neoliberalisme, die Westerse benadering tot joernalistiek en die bevraagtekening van China se politieke sisteem. Al die faktore is vervat in die dokument “Communique of the current state of the ideological sphere” wat in 2013 verskyn het. Dit is ’n jaar na Xi Jinping, die president van China, aan bewind gekom het.   

Die VF se werksdepartement (United Front Work Department, of UFWD) en die Chinese publiek se politieke konsulterende konferensie (Chinese People’s Political Consultative Conference, of CPPCC) is die twee hoofliggame wat histories met die VF verbind is. Die twee liggame werk saam met kultuur-, opvoedkundige en politieke organisasies in 39 Afrikalande. Die UFWD maak staat op inligting van die CKP se internasionale skakelkantoor (International Liaison Department, of ILD) om met politieke partye in 51 Afrikalande te skakel. Dan is daar ook China se assosiasie vir internasionale vriendskaplike verhoudinge (China Association for International Friendly Contact, of CAIFC) wat help met militêre diplomasie. Joernalistieke opleiding word aangebied deur die China Joernalistieke Vereniging wat elke jaar honderde joernaliste uit Afrika in China oplei. Die opleiding word gekoördineer deur die Federasie van Afrika-joernaliste.

Die struktuur van die VF bestaan uit vele lae. Die binnekern is saamgestel uit leiers wat die verskillende dele van die VF bestuur. Die eerste laag bestaan uit die party, staat en veiligheidsagentskappe wat operasies onder die sambreel van die VF uitvoer. Die tweede laag bestaan uit die teikengroepe. Die UFWD is in 12 internasionale kantore georganiseer. Die 9de en 10de kantore koördineer die programme van die VF in Afrika, asook die sake van Chinese wat in Afrika woonagtig is. 

Tabel 1: China se Verenigde Front (VF)

China se Verenigde Front (VF)

Teikengroepe van die VF

Toepassers van die VF se aktiwiteite

Rolspelers wat die VF se aktiwiteite lei

Universiteite en navorsingsinstellings

CPPCC

Die sewe lede van die politburo se staande komitee

Kultuur-, politieke en opvoedkundige instellings

UFWD

Die 25 lede van die politburo

Publieke en private organisasies

Die staatsraad van die CKP

Die staatsraad

Prominente leiersfigure

Die ministerie van nasionale veiligheid

Die VF se klein leierskapsgroep

Wetgewers

Die Nasionale Volksweermag (PLA) en ander sekerheidsagentskappe

Ander CKP klein leierskapsgroepe

Regerendeparty-leiers

Die ministerie van buitelandse sake

Die PLA

Nieregeringsorganisasies, burgerlike gemeenskappe en dinkskrums

Die ministerie van wetenskap en tegnologie

 

Joernaliste en openbare figure

Die ministerie van verdediging

 

Wetenskaplikes, onderwysers, opvoeders, en intellektuele

Die ministerie van onderwys

 

Kulturele en tradisionele leiers

Die CKP se departement van inligting en kommunikasie

 

Godsdienstige gemeenskapsgroepe

Die CKP se internasionale skakelkantoor

 

Vooraanstaande elite van China, Taiwan, Hongkong en Macau wat oorsee woon

Die Nasionale Volkskongres

 

Internasionale rolspelers wat China se aktiwiteite in Afrika ondersteun

Die buitelandse skakelkantoor vir Chinese aangeleenthede

 

Die kantoor vir China-Taiwan- aangeleenthede

 

Die kantoor vir Hongkong-, Macau-aangeleenthede

 

Streeks- multilaterale forums soos die forum vir China-Afrika-samewerking (FOCAC)

 

3. Hoe lyk die werk van die VF?

China se entstofdiplomasie tydens die Covid-pandemie word hier as voorbeeld genoem. In Desember 2020 is 50 diplomate van Afrika uitgenooi om die Chinese farmaseutiese maatskappy Sinopharm te besoek. Die doel van die besoek was om eerstehands waar te neem hoe die entstof vervaardig word en vrese van die Weste te besweer dat die entstof nie aan internasionale voorskrifte voldoen nie. Ruanda se ambassadeur het verklaar dat hy baie gerus gevoel het om die hele proses vir die vervaardiging van die entstof waar te neem. Sierra Leone se ambassadeur het China geprys vir die moeite wat die land doen om Afrika ’n veilige plek te maak. Teen Februarie 2021 het ongeveer 40 Afrikalande entstof van China bestel. Suid-Afrika se president, Cyril Ramaphosa, het ryk lande beskuldig van die opgaar van entstof vir hulle eie behoeftes en die niebeskikbaarstelling daarvan aan armer lande. Die stelling is deur die direkteur-generaal van Afrikasake in die Chinese ministerie van buitelandse sake ondersteun. Die Chinese media in Afrika het die geleentheid aangegryp om stories te publiseer oor die skokkende entstofgaping tussen ryk en arm lande. Die stories het die veiligheid van Westerse entstof bevraagteken en is so opgestel dat dit die persepsies van Afrikane en leiers in Afrika beïnvloed het. Dit is ’n voorbeeld hoe die VF nuusgebeure gebruik om die guns van plaaslike bevolkings te wen en die Chinese regering in ’n positiewe lig te stel.  

In dié voorbeeld was daar verskeie instellings wat China se boodskap bevorder het. 

  • Die PLA het met weermagamptenare van Afrikalande vergader om China se ervaring in die bevegting van die pandemie te versterk.
  • China se ministerie van buitelandse sake het diplomate van Afrikalande uitgenooi om Sinopharm te besoek.
  • Jack Ma se Alibaba-groep, wat geen direkte verbintenisse met die CKP het nie, het Chinese entstof en mediese toerusting aan Afrikalande versprei. Jack Ma is ’n Chinese besigheidsmagnaat, belegger en filantroop. Hy is die medestigter van die Alibaba-groep, ’n multinasionale tegnologiese konglomeraat.
  • Die Chinese staatskoerant, die People’s Daily, het verskeie stories oor China se befondsing en konstruksie van die Afrika-sentrum vir Siektebeheer (African Center for Disease Control, of ACDC) gepubliseer. Dit is om China se kennis en vooruitgang in mediese navorsing aan die wêreld bekend te stel.
  • Die China-Afrika Mediese Samewerkingsforum, ’n suborgaan van FOCAC, het uitruilbesoeke vir joernaliste uit Afrika gefinansier wat die sukses van Chinese entstof aan die publiek bekendstel. Die doel hiermee was om negatiewe narratiewe van die Weste oor die doeltreffendheid van die Chinese entstof teen te staan.

Ten spyte van China se aansprake oor die sukses en bevordering van die entstof is slegs 21% van die entstof teen die middel van 2022 voorsien. Afrika het minder as die helfte van China se wêreldwye aflewerings ontvang. Dié voorbeeld wys dat die VF daarop floreer om China se uitgangspunt ten opsigte van ’n spesifieke situasie te versterk. Die doel is om ’n positiewe indruk van die CKP te skep en teenstanders te neutraliseer. Tot vandag toe bestaan die indruk dat China meer entstof aan Afrikalande voorsien het as enige ander land in die wêreld.  

4. Die vorming van die media-omgewing in Afrika

Die CKP se vermoë om inligtingsnetwerke in Afrika te beïnvloed speel ’n groot rol in die werk van die VF. As voorbeeld word genoem dat die mediasentrum van China in Afrika ’n 18-maande-opleidingsprogram aanbied vir joernaliste uit Afrika. Dié opleiding word in verskeie Chinese instellings voltooi en is ’n belangrike medium om teikengehore in Afrika te bereik. Die Nairobi-gebaseerde China Global Television Network (CGTN) het 150 joernaliste wat elke maand 1 800 stories publiseer. Dit is China se grootste nuusagentskap in die buiteland. Xinhua het die grootste aantal buitelandse joernaliste wat dekking aan Chinese nuusgebeure gee. Die ooreenkoms wat Xinhua met die Nation Media Group, een van verskeie in Afrika, het, gee dit toegang tot agt radio- en televisiestasies in verskeie dele van Afrika. Teen die einde van 2023 het Xinhua meer as 28 miljoen intekenaars op sosiale media gehad en 11 miljoen daaglikse kykers.

5. Gevolgtrekking 

’n VF-veldtog maak gebruik van verskeie metodes om positiewe indrukke onder teikengroepe te skep. Van die metodes is in die afdelings hier bo genoem. Dit het ten doel om beleid te beïnvloed en opponente te diskrediteer. Hoe meer plaaslike rolspelers China se belange bevorder en ’n negatiewe indruk van China se teenstanders uitbeeld, hoe meer skep dit ’n positiewe indruk van die boodskap wat China verkondig. ’n Belangrike gevolg is dat dit China se internasionale beeld bevorder en die beeld van mededingers neutraliseer. Beatrice Marshall, ’n Keniaanse joernalis wat opleiding in China ondergaan het, beweer dat mediamaatskappye in Afrika vrye wil het om die Chinese boodskap oor te dra. China plaas geen verpligting op mediamaatskappye in Afrika om Chinese belange te bevorder nie. Samewerking met China versterk Afrika se agentskap en skep ’n omgewing waarby beide partye baat. Van die voordele sluit in die opdoen van kennis, ondervinding in joernalistieke praktyke, die standaardisering van reëls en prosedures, beter koördinasie tussen nuusagentskappe, die nastrewing van strategiese litigasie, en die deel van belange. Al die faktore dra by tot ’n bestendige groei in navorsing en die totstandkoming van nuwe nuuskanale. In die laaste aantal jare is inisiatiewe soos die Afrika-China-verslaggewingsprojek (Africa-China Reporting Project) die Afrika-China-navorsingsprojek (Africa-China Research Project) geloods.

Daar is inderdaad groter belangstelling om die kapasiteit van nuusagentskappe in Afrika uit te bou met die hulp van China. Die VF speel ’n groot rol in al die aktiwiteite. Die verskillende organe van die VF, die groot aantal organisasies tot die liggaam se beskikking, en inherente probleme wat buitelandse nuusagentskappe ondervind om netwerke binne die VF te identifiseer, maak dit ’n formidabele middel om invloed uit te oefen. Dit is egter belangrik dat Afrikane die invloed waarneem en modereer. Van die metodes wat Afrikane kan volg, is om te belê in die bemagtiging van die gemeenskap, veral die media, sosiale bewegings en onafhanklike organisasies. Dit alles om die doelwitte, eienskappe en metodes van rolspelers binne die VF te verstaan. Dit sal groter bewustheid, insig en ooreenkomste vir samewerking tussen Afrika en China skep.

Bibliografie

Digichina.stanford.edu. 2013. Communiqué on the current state of the ideological sphere (Document No 9). 22 April. https://digichina.stanford.edu/work/communique-on-the-current-state-of-the-ideological-sphere-document-no-9  (30 Junie 2024 geraadpleeg).

Marshall, B. 2017. Yesterday once more: CGTN Africa’s Beatrice Marshall on BRF. 15 Mei. https://news.cgtn.com/news/3d4d444f34677a4d/index.html (4 Julie 2024 geraadpleeg).

News.cgtn.com.2021. China's vaccine map: China works to fill “shocking” vaccination gap between countries. 12 April. https://news.cgtn.com/news/2021-04-12/China-works-to-fill-the-shocking-vaccination-gap-between-countries-Zn0buGW48M/index.html (1 Julie 2024 geraadpleeg).

Ohlberg, M. 2022. United Front work and political influence operations in Sub-Saharan Africa. https://www.nbr.org/wp-content/uploads/pdfs/publications/sr100_politicalfrontlines_june2022.pdf  (3 Julie 2024 geraadpleeg).   

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top