China se strategie om die medialandskap in Afrika te verander

  • 0

1. Inleiding

Die Chinese Kommunistiese Party (CKP) stel groot bedrae beskikbaar aan mediamaatskappye in Afrika om die Chinese boodskap, beleid en norme op die kontinent te bevorder.

China se grootste mediakonglomeraat, Xinhua, het 37 kantore in Afrika. Dit verdwerg enige ander mediamaatskappy in Afrika en die res van die wêreld, en is ’n dramatiese toename in die aantal kantore wat twee dekades gelede bestaan het. StarTimes, ’n ander reuse-mediamaatskappy, is China se grootste speler in Afrika se digitale mediabedryf en die tweede grootste naas Suid-Afrika se DStv. In die laaste jaar het StarTimes 10 000 satellietskottels in 20 Afrikalande geïnstalleer. Dit verbind kykers met Chinese digitale TV en brei die land se media-invloed in Afrika verder uit.

Verskeie van Afrika se jong joernaliste ontvang opleiding in China en word gefinansier deur Chinese mediamaatskappye. In Kenia, byvoorbeeld, word 500 joernaliste deur Chinese media-agentskappe in diens geneem. Díe joernaliste publiseer elke maand 1 800 stories en artikels.

Dié toename in Chinese beleggings is alles deel van ’n globale strategie om invloed in ontwikkelende lande te verkry en die medialandskap te verander. Die CKP beskou die media as ’n middel om China se “storie” te vertel en die party se beleid te bevorder. Dit is verder ’n middel om teenstanders te diskrediteer sonder om militêre geweld te gebruik. Die Chinese militêre strateeg, Sun Tsu, se konsep van die wen van veldslae sonder om in ’n fisiese konfrontasie betrokke te raak, word hiermee opgeroep. Die konsep word dikwels deur CKP-propagandiste gebruik om aanvalle van die media op teenstanders te beskryf.

Die inmekaarstrengel (embedding) van die CKP se media met agentskappe in Afrika loop die risiko om die inligtingslandskap te verdraai en Afrikane se menings oor ’n verskeidenheid van vraagstukke te verander. Dit sluit in maniere van regering, die gemeenskap en die ekonomie. Die dilemma vir media-agentskappe in Afrika is dat hulle positief oor die Chinese boodskap verslag moet doen. Dit is om finansiering vir projekte te ontvang en as aansporing om joernaliste na China vir opleiding te stuur. Negatiewe beriggewing oor die bou van die Keniaanse standaardspoorlyn (Chinese-built Standard Gauge Railway) het gelei tot die kansellasie van fondse en advertensies in Kenia se Standard Group-koerant. Die Chinese ambassade en besighede in Kenia het al hulle kommunikasie met dié koerant gestaak na aanleiding van die negatiewe beriggewing. Dit is eers ná ’n maand weer hervat ná positiewe berigte oor die bou van die spoorlyn gepubliseer is.

Die praktyk van onkritiese verslagdoening ondermyn tradisies van onafhanklike en ondersoekende joernalistiek in Afrika. Die vorme van verslagdoening bestaan reeds sedert die sestigerjare in Afrika. Mediapenetrasie hou verder die gevaar in dat die openbare mening ten gunste van China kan swaai.

Joernaliste van Afrika is tans die gesig van die Chinese boodskap. Dit is ’n verskuiwing van drie dekades gelede toe slegs Chinese joernaliste uit Afrika verslag gedoen het. China se veldtog om gesoute joernaliste uit Afrika vir indiensneming te werf, is ’n aaneenlopende proses. Dié joernaliste word gelok met hoogs aantreklike indiensnemingspakkette. Nadat die joernaliste aangestel is, word hulle eers na China vir opleiding gestuur. Die China-Afrika Media Samewerkingsforum bring joernaliste uit China en Afrika gereeld bymekaar om oor gemeenskaplike internasionale kwessies verslag te doen.

2. Middele wat die medialandskap beïnvloed

China gebruik ’n verskeidenheid middele om die medialandskap in Afrika te penetreer. Die China-Afrika Media Sentrum stel joernaliste aan uit Afrika, waar hulle verslag doen oor hoëvlak CKP-aktiwiteite. Die Gordel-enpadinisiatief- (GPI-) joernaliste skryf slegs oor die bou van infrastruktuur en ander ekonomiese programme. Dié joernaliste skakel verder met joernaliste in Suid-Amerika en Asië oor GPI-ontwikkelingsprojekte.

Die Voice of China-onderneming word gebruik om China se kommunikasie met mediakanale in Afrika te fasiliteer. Die onderneming staan onder direkte beheer van die CKP se Propaganda Departement. Die doelwit van die onderneming is om Chinese media-agentskappe saam te voeg binne ’n enkele medium en rigting aan die verspreiding van die Chinese boodskap te gee. Die toestaan van fondse is die middel om ondersteuning van plaaslike nuusagentskappe in Afrika te verkry. Nuusagentskappe in Afrika sukkel byvoorbeeld met swak toerusting, lae besoldiging en klein begrotings. Positiewe beriggewing is die sleutel om finansiële ondersteuning van China te verkry. Die CKP se Propaganda Departement voorsien ook gratis toerusting, onderhandel met regerings vir die deel van mediategnologie en koop aandele in gevestigde mediamaatskappye. Volgens Bob Waseka, ’n joernalis van Kenia wat ekstensiewe opleiding in China ondergaan het, is daar ook die idee van free junkets. Dit behels dat joernaliste van Afrika vir opleiding na China gestuur word om ’n positiewe beeld van die land in Afrika te skep. Die reise is ten volle betaal, joernaliste word in die beste hotelle onthaal en begeleide toere word onderneem om meer van China, sy mense en kultuur te leer.

3. Wat is Afrikajoernaliste se standpunt? 

Die CKP se absolute beheer van die staat, regering, weermag en gemeenskap is nie gewild onder Afrikane nie. 71% van Afrikane verkies demokrasie. Daar is ook nie eenstemmigheid oor die rol wat die Chinese media in Afrika speel nie. Volgens Boniface Otieno van The Nation Media Group is artikels wat deur Afrikajoernaliste geskryf word onderhewig aan streng sensuur en regulasies. Artikels moet in die eerste plek die beeld van China bevorder en tweedens die belange van die CKP beskerm. Beatrice Marshall, ’n veteraan-nuusanker van CGTN, het egter ’n ander mening. Sy beweer dat joernaliste van Afrika wat vir Chinese nuusagentskappe werk, die vryheid het om hulle storie te vertel. Die stories word vanuit hulle eie perspektief geskryf en het ten doel om oplossings en voorstelle vir Afrika se probleme te vind. Dit is in teenstelling met die aanvallende en aggressiewe benaderings wat deur Westerse joernaliste gebruik word.

In aansluiting hiermee, is 81% van Afrikane nie ten gunste van eenpartyregerings op die kontinent nie. Dit beïnvloed die vryheid van joernaliste om ondersoekende joernalistiek uit te voer sonder beperkings van regerings. Ander faktore wat met mediavryheid in verband staan, is dat 80% Afrikane outoritêre regerings en 82% militêre regerings verwerp. Dit is in ten spyte van die feit dat Chinese invloed in Afrika op ’n hoogtepunt van 63% gestaan het teen die einde van 2022. Volgens Afrobarometer, ’n onafhanklike pan-Afrika, onpartydige navorsingsnetwerk, wat openbare mening op ekonomiese, politieke en sosiale aangeleenthede ondersoek, het China se gewildheid in Afrika geen invloed op die sterk aanvraag na demokrasie en aanspreeklikheid vir aksies nie.

4. Die CKP se mediabeleidsraamwerk

Die CKP se beleid ten opsigte van media-ontwikkeling, -propaganda en -bestuur is veelsydig. Dit is in ooreenstemming met die Chinese weermag (PLA) se kognitiewe oorlogvoering wat teikengroepe se makro-raamwerk deur middel van propaganda wil verander. Op die manier herken, identifiseer en verstaan teikengroepe (in die geval van Afrika, die lesers en kykersmark) hoe die Chinese boodskap oorgedra word. Die CKP se Nasionale Kongres vergader elke vyf jaar om meganismes in te stel wat China se internasionale aansien kan verhoog. Tydens die kongres word ’n beleidsraamwerk deur die Sentrale Propaganda Leierskapsgroep (Central Leading Group on Propaganda) opgestel wat China se ideologie en kultuur internasionaal kan bevorder. Media en kommunikasie val onder die kultuurdimensie van die groep se werk.

5. ’n Blik op die horison

Die CKP se beleggings in Afrika skep nuwe kanale vir die insameling, verwerking en verspreiding van nuus en boodskappe. Die doeltreffendheid van die Chinese boodskap het egter gemengde resultate. Ten spyte van groot blootstelling aan die Chinese media, sukkel die oorgrote meerderheid Afrikalande met plaaslike politieke onrus, onstabiliteit en oorgang na demokrasie. Afrikalande wat die Chinese boodskap aanvaar is dié lande wat politieke solidariteit toon. Dan is daar ook honderde joernaliste wat in China opgelei is en die Chinese mediamodel aan Afrikalande oordra. Belanghebbende groepe in Afrika se media moet ongestoord voortgaan om hulle eie belange te beskerm sonder om vryheid van spraak en integriteit aan China af te staan. Dit sal Afrika se nuusagentskappe beskerm en afhanklikheid van China verklein. Die oproep vir Afrika is om Chinese disinformasie te verwerp en objektiewe kanale vir die verspreiding van nuus te skep.

Tabel 1: Instrumente van China se media-invloed in Afrika

Qiushi (Kennis en waarheid)

  • China se top-ideologiese joernaal.
  • Publiseer gesaghebbende kommentaar deur seniorparty-leiers.

People’s Daily

  • Het ’n daaglikse, internasionale sirkulasie van 3 miljoen uitgawes.
  • Die CKP se hoofinstrument vir die publisering van buitelandse beleid en kommentaar.

China Daily

  • Die mondstuk van die CKP se Departement van Kommunikasie.
  • Publiseer vir teikengroepe in Afrika vanuit sentrums in Johannesburg en Nairobi.

Xinhua

  • Word gekontroleer deur die Staatsraad, ’n subdepartement van die CKP.
  • Die gesig van China in die wêreld, met 170 internasionale nuuskantore, in samewerking met verskeie internasionale nuusagentskappe en kommunikasie in agt internasionale tale.
  • Sirkuleer inhoud wat eksklusief gerig is op seniorparty- en regeringsamptenare. Die inhoud is nie vir die publiek beskikbaar nie.

CGTN & CGTN Afrika

  • Word gekontroleer deur die CKP se Departement van Kommunikasie.
  • Die hoofkantoor is in Nairobi met ander kantore in Lagos en Kaïro.
Bibliografie 

Afrobarometer.org. 2023. Africans want more democracy, but their leaders still aren’t listening. PP85-PAP20-Africans-want-more-democracy-but-leaders-arent-listening-Afrobarometer-Pan-Africa-Profile-18jan23.pdf (15 September 2024 geraadpleeg).

Eisenmann, J. 2023. China’s Media Propaganda in Africa: A Strategic Assessment. 16 Maart. China’s Media Propaganda in Africa: A Strategic Assessment | United States Institute of Peace (usip.org) (16 September 2024 geraadpleeg).

McCormick, A. 2019. ‘Even if you don’t think you have a relationship with China, China has a big relationship with you’. 20 Junie. https://www.cjr.org/special_report/china-foreign-journalists-oral-history.php (14 September 2024 geraadpleeg).

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top